10 Augustus 2017 ~ 3 Kommentare

ʼn Volk staan op. Gister en vandag

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Die Helpmekaarbeweging was die eerste georganiseerde opheffingsbeweging na die Tweede Vryheidsoorlog. Dit is gebore uit die Rebellie van 1914 en 1915, toe Afrikaners wat gekant was teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog aan die kant van Brittanje en teen Duitsland, deur middel van gewapende protes hulle misnoeë daarmee gewys het. Die rebellie is vinnig onderdruk deur die regering van Louis Botha. Die rebelle is in die tronk gesit en daar is groot skadevergoedingseise teen hulle ingestel. Die rebelle se vroue moes alleen die pot aan die kook hou en dit het maar gesukkel. Spontaan het Afrikaners, familie van die rebelle en diegene wat hulle goedgesind was, bymekaar gekom en die Saamwerk-Vereniging op 8 Februarie 1915 op Bethlehem gestig, wat vinnig uitgekring het oor veral die Oranje-Vrystaat en wat die doel gehad het om gesamentlik fondse in te samel om die skuld van die rebelle te betaal. Die naam is spoedig verander na die Helpmekaarvereniging. Op bykans elke dorp is takke gestig wat aan die werk gespring het. Die beweging het landswyd uitgekring. Met die beperkte middels van daardie tyd is koeksisters en ander goed gebak, klere gemaak en verkoop asook groot fondsinsamelings gehou. Vroue het veral die leiding geneem en daar was ʼn gees van samewerking en ondersteuning vir ʼn groter doel. Die sukses was oorweldigend en die skuld van die rebelle kon nie net ten volle afbetaal word nie, daar was ʼn groot oorskot. Die beweging het op ʼn groter en meer algemene doel besluit, naamlik om die vraagstuk van arm Afrikaners (armblankes in die taal van die tyd, maar dit was hoofsaaklik Afrikaners) aan te spreek. Die NG Kerk het die leiding geneem en dit het uitgeloop op die Volkskongres oor die Armblankevraagstuk wat op 22 November 1916 in Cradock gehou is, waar die saak behoorlik ondersoek en bespreek is.

Die Ekonomiese Volkskongres het ʼn geweldige katalisator geword vir Afrikaner bemagtigingsinisiatiewe op talle terreine: die stigting van eie finansiële instellings en handelshuise, die stig van landbounedersettings vir arm Afrikaners soos Kakamas, bemagtiging deur opleiding, uitbou van ‘n eie Afrikaanse media (by name die Burger). EP du Plessis beskryf dit raak in sy boek “ʼn Volks staan op”(p.48): “Miskien van groter belang nog as die onmiddelike noodlening wat die Helpmekaar-insameling bewerkstellig het, was die geweldige sielkundige uitwerking daarvan. Opeens het Afrikaner besef dat, betreklik arm soos hy is, daar tog ʼn kapitaal-in-verstrooiing in hom opgesluit lê wat hom kon en moes help om sy ekonomiese voete te vind – mits die geld doeltreffend gemobiliseer kon word.”

Die Helpmekaarbeweging en dit wat daarop gevolg het, was egter nie genoeg nie. Veral in die 1930’s, met die Groot Depressie, het Afrikaners weer verarm, erger nog as tevore. JD Kestell het met ʼn reeks artikels in die Volksblad in 1932 die aandag daarop probeer vestig. Die volk was egter nog nie gereed nie, maar ʼn saadjie is geplant. Met die grondsteenligging van die Voortrekkermonument in 1938 was die volk grootliks verenig en Vader Kestell se pleit het nou op vrugbare grond geval. Weer is ʼn rigtinggewende kongres gehou met die naam die Eerste Ekonomiese Volkskongres, van 3-5 Oktober 1939 in Bloemfontein, waar Vader Kestell een van die sprekers was. Die kongres was baie groter en baie meer omvattend as die armblanke-konres van 1916 en het ʼn veel wyer impak gehad. Die klem was nou nie meer in die eerste plek op liefdadigheid en opheffing nie, maar op die mobilisering van Afrikanerkapitaal en ʼn volkseie kapitalisme tot voordeel van die volk as geheel. Die Volkskongres het uitgeloop op die stigting van die Reddingsdaadbond, ʼn volksorganisasie met ʼn Christelik-nasionale grondslag en die doel om Afrikaners se spaarkrag, koopkrag en mensevermoë te mobiliseer tot voordeel van die volk. Die Reddingsdaadbond het die leuse gehad: ʼn Volk red homself. Die Afrikaanse Handelsinstituut en Federale Volksbelegging is ook daarna gestig met die doel om Afrikaners op die saketerrein te bemagtig. Dit het ook uitgeloop op die stigting van groot maatskappye soos Foskor en Sasol in 1950.

Na 1948 het toenemend die staat en die staatsmaatskappye die funksie van noodverlening, opheffing en werkverskaffing vervul. Dit was baie doeltreffend en het van die Afrikaner ʼn gemoderniseerde middelklasmens gemaak, maar dit het die gees van interafhanklikheid, van saamstaan en saamwerk laat vervaag en uiteindelik tot die roemlose oorgawe van 1994 gelei.

Sedertdien het individuele oorlewing die wagwoord geword deur te verengels, te globaliseer of te emigreer en kollektiewe pogings tot ekonomiese bemagtiging het so vêr nog nie werklik momentum gekry nie. Daar is wel bemoedigende pogings, soos die talle aksies van Afriforum en Solidariteit, en natuurlik die Orania-projek, wat waarskynlik meer omvattend is as enige ander projek in die sin dat die volledige bemagtiging van die Afrikaner (al is die getalle nog klein) hier geskied, nie net ekonomies nie, maar ook geestelik en kultureel. Genoeg geld, maar ʼn verlore siel en of ʼn gebroke gees help ook niks nie. Ook hier kan ons sê, om die woorde van EP du Plessis soos bo aangehaal op vandag van toepassing te maak: belangriker as die fisiese hulpverlening aan Afrikaners in die vorm van werk, behuising en maatskaplike dienste is die sielkundige uitwerking van Orania. Meteens besef Afrikaners dat ons wel ons self kan ophef en ons eie toekoms sonder beheer oor die staat kan skep. Die Reddingsdaadbond se leuse is vandag nog net so geldig: “ʼn Volk red homself”.

 

Bronne:

EP du Plessis: ʼn Volk staan op. Die Ekonomiese Volkskongres en daarna. Human en Roussouw, Kaapstad, 1964.

Dr. Dirk Hermann: Van Helpmekaar tot Helpmekaar. Referaat gelewer tydens die Burgerraad van die Orania Beweging, 30 September 2016.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “ʼn Volk staan op. Gister en vandag”

  1. Chris Jonker 17 Augustus 2017 at 06:28 Permalink

    Absoluut! Ek het onlangs, na ‘n lang tyd in selfopgelegde ekonomiese ballingskap, ‘n toer deur Suid Afrika onderneem, waartydens ek agt van die nege provinsies besoek het (enigste uitsondering was die Vrystaat). Tydens my toer het ek ook Orania vir die eerste keer besoek en dit was voorwaar ‘n belewenis om te sien hoe my volksgenote na mekaar omsien. Ek was geskok deur die algemene verval in SA en die groeiende pessimisme van die gemiddelde Afrikaner, maar in Orania het ek absolute positiwiteit, energie en gasvryheid soos waarvoor die Afrikaner van ouds voor bekend was, ervaar. Dit laat my met hoop vir die toekoms vir ons volkie, as meer mense maar net kan besef dat ons na mekaar moet omsien. Maar helaas, ek dink dit gaan nog te goed met die meeste Afrikaners, wat van geld ‘n afgod gemaak het; hulle sal eers alles moet verloor voordat hulle die waarde van saamstaan en selfbeskikking kan ontdek.

    Sterkte met die ideale van Orania, ek oorweeg dit sterk om my daar te vestig sodra ek op ‘n permanente basis in SA is.

  2. Trevin 17 Augustus 2017 at 15:41 Permalink

    Jy’s nie alleen nie Chris. Ek en my gesin het Orania nou twee keer besoek. Dis waar die Afrikaner se toekoms le, om die res van die land te probeer red is ‘n mors van beide tyd en hulpbronne.

  3. Sebastiaan 18 Augustus 2017 at 08:24 Permalink

    Dankie vir julle positiewe kommentare en bemoediging.


Lewer Kommentaar

*