20 Maart 2017 ~ 0 Kommentaar

ʼn Saterdag-skryfskool met die begaafde professor Nico Luwes

Geskryf deur Hannes Snyman

Dis vroeg en die lugversorger dreun reeds eentonig voort. Die lug binne die ouditorium is ʼn welkome lafenis na die bedompige Karoo-lug buite.

ʼn Konstante instroming van gretige leerders kom die ouditorium binne. Hulle vriendelike groet bring ʼn meer ontspanne atmosfeer saam met hulle.

Ek het daardie oggend die voorreg gehad om deel te wees van ʼn produk van die Orania Kunste Raad, ʼn Toneelstuk-skryfskool wat aangebied is deur die bekende en befaamde Professor Nico Luwes. Prof. Luwes het reeds vele toneelstukke agter sy naam en meer vakkennis as menige kenner in dieselfde vakgebied. Iets wat vir my baie duidelik geword het, is dat jy nooit sal ophou leer in hierdie bedryf nie. Daar is elke dag ʼn nuwigheid en hoër trappie om te klim.

Die ingehoue verwagting waarmee ek vanmore opgestaan het, het veroorsaak dat ek vroeg my stoel gekies het waar ek die beste uitsig gehad het en duidelik alles kon hoor.

Baie keer gaan ons van die standpunt uit dat ons reeds alles van hierdie kuns oor die jare in ons vol geheueToneelspel gestoor het en niks nuuts meer kan leer nie. Ons liasseer elke stukkie inligting sodat niks verlore mag gaan nie. Elke nou en dan haal ons stukkies van hierdie kennis uit, stof dit af, poets dit en voeg nog ʼn stukkie van die legkaart by. Die menslike strewe na volmaaktheid is so diep gesetel dat alleenlik wanneer die tydelike vir die ewige verruil word, dit die einde van die soektog sal wees.

Die talentvolle woord-gebruik en oordrag van nuwe inligting is so passievol gedoen dat jy daar en dan wil wegval en skryf, skryf tot jou vingers eelte het. Ons het behoorlik aan sy lippe gehang. Dit was vir my persoonlik ʼn reuse sprong in my naïewe klein leke-skrywers-wêreldjie. Die woorde van die Psalmdigter ‘my beker loop oor’ was verseker deel van ons almal na hierdie wonderlike sessie. Met oogklappe aan het ek vele projekte aangepak, maar helaas die klein prentjie waarin ek geleef het, het verander in ʼn lewendige en pragtige wêreld.

Die melodramatiese beskrywing van ʼn klassieke drama soos ‘Romeo and Juliet’ het die sluier gelig van ʼn blyspel waarvan ek net die oppervlakte gesien het. Die oppervlakkige wyse waarop ek na hierdie toneelstuk gekyk het, het ʼn wending geneem van ‘verdoemde liefde’ tot ‘die liefde se oorwinning oor familietwis’

Hierdie volgende vertelling van prof. Luwes het my ʼn ander kyk gegee na my besoeke aan toneelstukke en ek het verwonderd gestaan oor die nuanses wat ek nooit raakgesien het nie.

Die absolute gemak waarmee prof. Luwes sy kennis oorgedra en die borrelende vreugde en passie waarmee hy dit gedoen het, spreek uiteraard van sy absolute liefde vir dit wat hy doen. Wanneer jy na hom luister, kry fiktiewe karakters skielik ʼn skaduwee, jy kan die stem van die karakter hoor dreun deur die klowe of die sagte fluistering versigtig hoor kruip na jou oordrom. Die kleredrag, aanhangsels, ekstras en optrede bring die karakters na die tong van die toeskouers. “Ag shame of jou ongeskikte buffel” ensovoort bring ʼn welkome reaksie van die skare en twee of drie vinnige aantekeninge in die redakteur se notaboek.

Prof. Luwes is al ʼn huishoudelike naam in die kunste en daarom was dit ʼn verskriklike voorreg om te kon deel wees van sy fantastiese skryfskool. Sy kennis van gehoorstimulering word in meeste kringe as ʼn gawe gesien en daarom kan dit slegs verfyn word, as hierdie talent jou slaap en opstaan is. Die Skryfskool-inligting het hy met kwinkslae en grappe geanker om ʼn ewige afdruk in my geheue te maak sodat ek weet ek sal maklik daarheen kan terugkeer en dit oproep soos dit nodig word. My idee van toneel skryf was gegrond op die feit dat dit die akteur se werk is om te sorg dat die skryfstuk ʼn sukses moet wees. Min het ek geweet hoe ver dit van die waarheid is. Ek was nie bewus daarvan dat die skrywer die wêreld in soveel besonderhede moet skep dat die regisseur en die akteurs die skrywer se droom moet inneem en dit hulle eie moet maak vir die tydperk van die optrede nie. Dit is ‘n visuele skepping van ʼn wêreld met sy eie taal, rede, vrede en gebeurlikhede, soos wat J.R.R. Tolkien die “Lord of the Rings” en “The Hobbit” reeks geskep het in ʼn nuwe en onbekende wêreld. Sulke toneelstukke het die gawe om ons te trek uit die donker wêreld waarin ons leef en om ons te plaas in ʼn droomwêreld waar ons vir oomblikke kan wegkruip en ons ore kan sluit vir al die pyn, haat en nyd van die werklikheid.

Ek wil prof. Luwes bedank dat hy tyd afgestaan het uit sy besige skedule. Ons, by name Orania en sy mense, besef nie die goue muntstuk wat ons toegedeel is nie, nie voordat ons na die keersy kyk en ons voorregte raaksien nie. Orania Kunste Raad, en in besondere Stefnie Muller se harde werk agter die skerms is prysenswaardig en dui op die strewe van ons eie mense om elkeen ʼn kans te gee op die ontdekking en ontwikkeling van talente waarvan ons nooit bewus was nie.

 

 

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*