17 September 2013 ~ 5 Kommentare

‘n Perspektief op Selfwerksaamheid

Geskryf deur Carel Boshoff

Die beginsel van selfwerksaamheid word reeds baie suksesvol toegepas in streke soos Wes-Europa en Japan.  Dit is interessant om op te let dat dit hier nie ‘n beginselsaak is soos in Orania nie, maar ‘n ekonomiese besluit. Waar ‘n onderneming met minder en beter bemagtigde werkers  besigheid kan doen, word geld bespaar en die kwaliteit van produkte verbeter.
In Orania is dit ‘n beginselsaak omdat die kultuur in Suid-Afrika so sterk gevestig is dat enige probleem wat opduik, opgelos kan word deur meer arbeiders toe te voeg.  Oor ‘n lang tydperk van die beskikbaarheid van goedkoop arbeid en arbeiders  wat nie altyd menswaardig behandel is nie, het ons verleer om te gaan sit en dink oor effektiewe bestuur en die vermindering van arbeid.  In die Nuwe Suid-Afrika is arbeid nou so ‘n groot probleem met wetgewing, stakings en vakbonde wat werkgewers so lewe bemoeilik, dat ons nou is waar die bogenoemde lande reeds was:  selfwerksaamheid is bloot goeie besigheid.

Dit is om hierdie rede dat Nigel Metal Industries (met die uitsondering van een oorgeërfde vragmotorbestuurder) slegs van volkseie arbeid gebruik maak.  Soos die Engelse sê:  the proof is in the pudding. Sonder dat ons daartoe gedwing word, kompeteer ons met maatskappye met hordes goedkoop swartwerkers op grond van kwaliteit én prys.  Ons arbeiders word meer betaal as die markstandaard en ons verhouding van arbeiders tot omset is laer as soortgelyke fabrieke.  Ek wend hier ‘n poging aan om beginsels wat ons in staat stel om in Gauteng op ‘n volkseie basis te kompeteer uit te brei na algemene beginsels wat kan dien as riglyne vir Orania en mense wat Orania se beginsels aanvaar. Dink aan die volgende:

1.    Hou die groter prentjie in gedagte
Dit is ‘n grondbeginsel van die bedryfsingenieurswese en dus voel ek dat dit krities is vir enige projek of ontwikkeling dat die groter prentjie nooit uit die oog verloor moet word nie.  Mense hou daarvan om oor te gaan tot aksie. Beplanning is vervelig vir hulle en hulle voel dikwels onproduktief as hulle daarmee besig is.

Kom ons neem as voorbeeld ‘n persoon met ‘n groot grasperk.  Hy het reeds ‘n grassnyer, dus hou hy maar aan om elke Saterdag ‘n werker te kry om sy gras te sny.  Hy oorweeg dit nou om ‘n trekkertjie aan te koop en weeg die kapitale uitleg op teen die besparings wat hy sal geniet.  Die Groter Prentjie sal in hierdie geval beteken dat hy sal moet besluit of hy so ‘n groot grasperk wil hê. As hy sy grasperk kleiner kan maak, geniet hy die besparings sonder die kapitale uitleg.

Dit is ‘n eenvoudige voorbeeld, maar illustreer dat dinge wat ons as gegewe beskou, soms ‘n beter oplossing kan bied as ons bereid is om ons nette wyer uit te gooi. Wat is Orania se groter prentjie?

2.    Meganiseer
Ek glo dat almal teen hierdie tyd vertroud is met die begrip meganisasie.  Een van die groot vrese wat tans weer in lande soos die VSA gesien word met betrekking tot meganisasie, is dat dit werk van mense wegneem en dit na robotte oorplaas.  Daar is egter ‘n fundamentele denkfout agter hierdie manier van dink – die ekonomie is nie ‘n beperkte “koek” nie.  As een persoon ‘n groter stuk koek kry, beteken dit nie hy moet dit by iemand afneem nie.

Kom ons oorweeg weer die voorbeeld van die persoon met die grasperk.  Ons neem dié keer aan dat hy wel besluit het om sy grasperk te hou.  As hy ‘n meganiese grassnyer koop, verminder hy die tyd en moeite om die gras klaar te sny.  Dit het tot gevolg dat hy die tweede tuinarbeider nie nodig het nie, dit beteken dat hy die eerste arbeider meer kan betaal,daar is dus meer geld in omloop in die omgewing, wat ‘n groter vraag na produkte skep en dit skep ‘n werk vir die tweede, oorbodige tuinwerker.  Deur te meganiseer word die totale rykdom in die gemeenskap dus verhoog.

3.    Skep ‘n veeldoelige werksspan
Ons sien te dikwels die verskynsel in Suid-Afrika dat gekwalifiseerde ambagsmanne werkloos sit eerder as om te gaan strate vee.  By Nigel Metal Industries, en ook by ons ontwikkelingsmaatskappy in Orania, Estellae Eiendomme, volg ons die beginsel dat almal in die span bereid moet wees om alles te doen.  In Nigel vee die gekwalifiseerde ketelmaker smiddags voor uitskeityd sy eie area skoon en by Estella Aftree-oord help die messelaar gereeld die sement meng.

Werkers moet ook bemagtig word om verskeie take te kan verrig: In ons fabriek is daar geen werker wat net een masjien ken of net een taak kan verrig nie.  Dit verminder die totale aantal werkers wat benodig word en bemagtig hulle om meer te wees as ‘n outomaat wat vyf weke verlof per jaar kry.  Aangesien hulle reeds oor verskillende vaardighede beskik, kan hulle maklik iewers anders ingespan word en word die hoeveelheid personeel wat in moeilike ekonomiese toestande afgedank moet word verminder.

4.    Skep stabiliteit
‘n Werknemer wat sukkel om verblyf te kry, of ongelukkig is in sy omgewing, lewer dikwels swak werk, het ‘n hoë afwesigheidskoers en is meer geneig om te bedank of te dros.  Deur ‘n langtermynverhouding met werknemers te smee word hulle menswaardigheid opgebou en word hulle die geleentheid gegun om te ontwikkel na iets meer as wat hulle was.  Benewens hierdie sosio-ekonomiese invloed van stabiliteit kry die werkgewer ook die maksimum opbrengs op die belegging in die werker so opleiding wat hy gemaak het.  Met laer afwesigheidskoerse kan die besigheid meer voorspelbaar presteer en die lae personeelomset maak dat ‘n spangees onder die werknemers posvat en ‘n lojaliteit teenoor die werkgewer opgebou word.

In Nigel kry ons dit reg deur huise bekostigbaar beskikbaar te stel, afleggings en korttyd te vermy en werklik belang te stel en deel te neem in die lewens van werknemers.  Die resultaat is dat personeel uit hul eie kom met beter werksmetodes of geldbesparingsmetodes.
Orania, met sy besonder gesonde gemeenskapstrukture, skep ‘n omgewing wat baie geskik is vir die kweek van langtermynverhoudings met werkgewers.  Die helfte van die stabiliteit word reeds geskep deur kerke, instellings soos Elim, skole waar ryk en arm elke pouse saamspeel en ‘n baie betrokke gemeenskap.  Dit is dus vir werkgewers in Orania baie makliker om lojaliteit by hulle werkers te kweek.

5.    Verminder hantering
Die mees primitiewe manier van meganisasie was om ‘n wiel onder iets swaar te sit, of gravitasie te gebruik om ‘n voorwerp te skuif.  Met robotte en rekenaars word sulke eenvoudige beginsels deesdae dikwels vergeet.  Groot besparings in mannekrag kan egter hier gemaak word sonder enige besonderse kapitale insette.  Navorsing toon dat die effektiwiteit wat gewen kan word tydens materiaalhantering baie hoër is as wat gewen kan word met die werklike werk wat waarde toevoeg.
Die grootste besparings kan dikwels gemaak word tydens die beplanningsfase.  ‘n Eenvoudige voorbeeld hiervan is supermarkrakke wat effens afwaarts loop.  As ‘n produk voor uitgehaal word, skuif die tweede produk vanself vorentoe, ens.  Dit beteken dat daar nie konstant ‘n persoon moet rondloop en produkte vorentoe skuif nie.

Indien hierdie beginsels gehandhaaf word, kan Orania met sy reeds suksesvolle selfwerksaamheidsbeginsels, groter doeltreffendheid bereik.
(Carel Boshoff het op Orania grootgeword. Hy is tans ‘n honneursstudent in Bedryfsingenieurswese.)

Deel/Stuur

5 Reaksies op “‘n Perspektief op Selfwerksaamheid”

  1. Ben de Klerk 18 September 2013 at 00:55 Permalink

    Met sulke jong ingenieurs wat die Orania-beginsels kan toepas—kan ons n toekoms bou!! Mooi so Carel

  2. Ludwig 18 September 2013 at 13:48 Permalink

    Sou jy sê mense behoort so ver te gaan dat die ingenieur van Estellae Eiendomme ook die behoort te messel?

  3. Carel 18 September 2013 at 15:30 Permalink

    Oom Ludwig. Die kort antwoord is: as daar nie veel ingenieurswerk is nie en die messelwerk is agter, definitief.

    Spesialisering lei tot baie groter produktiwiteit. Die probleem wat ek hier aanspreek gaan oor die tendens dat bv. ‘n sweiser niks doen wanneer daar nie sweiswerk is nie. By ons fabriek in Nigel beteken die veeldoeligheid dat ek in die afgelope nege maande tyd spandeer het op die buigpers, die guillotine, die sweismasjien en die draaibank. Op die oomblik het ek egter heelwat kantoorwerk, en is dus nie direk in die fabriek nie. Intussen het ons het ‘n eenmalige bestelling gekry met min sweiswerk en baie draaiwerk. Een sweiser beman dus nou ‘n draaibank, terwyl die ander sweiser die lae volume sweiswerk wat wel nodig is doen. Dis nie ideaal nie, maar oor die loop van die jaar beskou kon ek en die sweiser die werkslading van ‘n ekstra pas-en-draaier tussen ons verdeel.

    • Johan 30 September 2013 at 21:09 Permalink

      Hallo Carel, dit was lekker om te lees van julle doen en late hier in Nigel. Ek ondersteun jou uitkyk en het in my loopbaan ook die sogenaamde “multi skilling” (verskoon die engelse bewoording) bevorder. Ek woon in Nigel en is ‘n afgetrede meganiese/vervoer ingenieur wat nou vanaf ‘n kantoor by my huis ‘n ander beroep volg en dit baie geniet. Ek wens jou en jou span alle sterkte toe en mag julle baie sukses behaal en nog baie meer mense van geleenthede voorsien om ‘n earlike beroep te be oefen. Groete, Johan. (Ek gaan dit oorweeg om ‘n draai by julle te kom maak om hand te skud?)

  4. Simon 19 September 2013 at 00:07 Permalink

    Dankie vir die “regte wêreld” voorbeeld met die gebruik van volkseie arbeid. Te veel maal hoor mens allerhande verskonings oor hoekom dit nie kan werk nie.

    In terme van oorvleueling van take (veeldoeligheid) maak dit sin sover daar oorvleueling in vaardigheid is. Nog ‘n voorbeeld, ‘n elektrisiën kan gewoonlik net so goed IT infrastruktuur kabels aanlê soos die IT mense maar die IT infrastruktuur mense kan nie noodwendig altyd die elektriese bedrading en koppeling doen nie tensy hul agtergrond ook elektronika insluit in welke geval daar weer ‘n oorvleueling van vaardighede sal wees en niks daarmee fout is om dit so aan te wend nie.

    Ek is ook nie so seker of een van b.g. voorbeelde noodwendig ‘n natuurlike aanvoeling vir messel sal hê nie (miskien wel met uitsondering)


Lewer Kommentaar

*