10 April 2014 ~ 5 Kommentare

‘n Onafhanklike Afrikaanse mediaskool is nou nodig

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Die tradisionele Afrikaanse media verkeer in ‘n krisis. Die groot Afrikaanse koerante se verkope daal so vinnig dat hulle nie meer vir lank volhoubare publikasies sal wees nie. Afrikaners kry eerder hul nuus op die internet en veral op webbladsye wat nie deur Naspers beheer word nie en in kleiner gemeenskapskoerante. Wat radio aanbetref verkies mense toenemend om na gemeenskapsradiostasies te luister, eerder as na die openbare uitsaaier se polities korrekte radiopoging.

Afrikaanse joernaliste is uit voeling met hul eie teikenmark. Die probleem begin reeds by ons universiteite waar joernalistiekstudente deur vêrlinkse dosente opgelei word. Stellenbosch Universiteit se joernalistiekskool is ‘n teelaarde vir linkse ekstremisme. Dit is ook die plek waar ‘n groot hoeveelheid jong Afrikaner studente as joernaliste opgelei word.

Ons probleem is nie uniek nie. Regoor die wêreld beleef konserwatiewe instellings en individue dat die hoofstroommedia deur mense links van die politieke spektrum beheer word. Daar is minstens twee redes hiervoor. Eerstens is kinders uit meer konserwatiewe huishoudings geneig om eerder beroepsrigtings soos ingenieurswese, finansiële en mediese dienste te kies. Konserwatiewe kinders kom gewoonlik ook uit huise waar die ouers een van hierdie hoogs professionele beroepe beklee of waar die ouers entrepreneurs is. ‘n Beskouing dat die geesteswetenskappe en onderwys nie die regte beroepskeuse is nie, heers dus telkemale in konserwatiewe huishoudings.

Daarteenoor sien ons dat in liberale huishoudings waar die ouers hulself in die politiek, kunste of mediawêreld bevind kinders juis ook hierdie beroepsrigtings kies. Die tweede rede waarom die media deur persone links van die politieke spektrum beheer word, is dat byna alle dosente wat hierdie studierigting by universiteite doseer, self links is. ‘n Studie in die VSA het bewys dat meer as 80% van alle universiteitdosente links van dié land se politieke spektrum is. Ook in Suid-Afrika sien ons by die meeste universiteite dat die kommunikasie en joernalistiekdosente uitgesproke links is. Selfs kinders uit konserwatiewe huishoudings word binne drie of vier jaar in linkse joernaliste omskep.

Dit alles bring mee dat talle nuuskantore vandag totaal uit voeling is met die mense vir wie hulle nuus versamel en verpak. Joernaliste word politieke kommentators eerder as verslaggewers. Joernaliste wil beïnvloed eerder as inlig. Die joernalistiek is veronderstel om een van die mees nederige beroepe op aarde te wees. Ons bespeur egter vandag toenemend ‘n intellektuele meerderwaardigheid by joernaliste. Die koerantredakteur van ouds se hoofdoel was om nuus so objektief, volledige en korrek weer te gee. Vandag wil party redakteurs eerder vir hul lesers vertel hoe hulle moet dink. Adriaan Basson van Beeld is hier seker die beste voorbeeld.

Wat staan ons te doen? Eerstens moet Afrikanerinstellings saamwerk om ‘n onafhanklike, Afrikaanse mediaskool tot stand te bring. Tweedens moet ons seker maak dat meer van ons jongmense in joernalistiek opgelei word. Vir jongmense wat tans joernalistiek studeer moet daar goeie begeleiding deur die linkse oerwoud op hul universiteitskampusse gebied word. En laastens moet ons voortgaan om meer volhoubare alternatiewe media te skep. Slegs dan kan ons ‘n balans skep wat hopelik die hoofstroommedia tot hul sinne sal bring.

Deel/Stuur

5 Reaksies op “‘n Onafhanklike Afrikaanse mediaskool is nou nodig”

  1. Sebastiaan 10 April 2014 at 17:00 Permalink

    Absoluut in die kol. Dit was hoogtyd dat iemand dit sê.

  2. Mike 15 April 2014 at 20:34 Permalink

    Wat meer kan ek sê ek stem absoluut saam Orania.

  3. Dante' Strauch 17 April 2014 at 14:46 Permalink

    Baie goeie artikel en baie goeie idee! Maar ek wonder oor die volledigheid van die teorie dat dit eintlik toevallig is dat joernalistiek en die media deur linkses oorheers word. Die aanslag is vir my net te groot en te eensydig! En soos jy tereg noem is dit nie slegs ‘n Afrikaanse probleem nie maar eintlik globaal, alle westerse lande as voorlopers. En die onverdraagsaamheid van die “liberales” is ooglopend. Enige idee wat nie in lyn met hul “vryheid, gelykheid, broederskap” wereld-beskouing is nie word verdoem. Ons is die generasie wat grootskaalse demografiese verandering in die wereld aanskou, met blankes wat in elke land op aarde ‘n kwynende persentasie van die bevolking is! En dit word net aanvaar en selfs gevier! Dit is die doel van die linkses en hul totale beheer van hoofstroom media hul wapen.

  4. Frik Lotz 18 April 2014 at 20:22 Permalink

    Orania doen baie goed en moet voortgaan met al die goeie werk. Onthou ook om te stem op 7 Mei en VF Plus sterker te maak. Gaan kyk ook vir interessantheid na http://www.opinieplatform.co.za Doen so voort, Orania!


Lewer Kommentaar

*