19 Oktober 2010 ~ 1 Kommentaar

ʼn Eeue-oue tradisie op Orania aan die roer

Geskryf deur Ebert Terblanche

Vivat, Crescat, Floreat!  Met hierdie seën word ons begroet in die Cantus-tradisie .  Leef, groei en gedy!

ʼn Letterlike vertaling van die Latynse Cantus, sou “om te sing” beteken.  In ʼn sekere Afrikaanse agtergrondskets word die Cantus  opgesom as “ ’n Avontuur waar eeue-oue liederekuns, humor, vriendskap en kwinkslae beleef word op ʼn nuwerwetse, dog elegante en entoesiastiese wyse – met ʼn polsende, aansteeklike kameraderie en geesdrif altyd naby die oppervlak aanwesig.”

Die Cantus het oorspronklik in Duitsland ontstaan waarna dit in Vlaandere ʼn eg Dietse (Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse) karakter gekry het.  In 1987 het die Studenteraad van die Potchefstroomse Universiteit op besoek aan Vlaandere hierdie tradisie beleef en dit na Suid-Afrika gebring waar dit spoedig onder Afrikanerstudente pos gevat het en tot ʼn landswye beweging gegroei het.

Die Cantus is geen gewone sangaand nie.  Dit word op ʼn besonderse tradisie-vaste wyse gestruktureer en gaan met groot agting vir dissipline en huldeblyk aan ons tradiesies, ons lewenswyse en ons kultuur gepaard.  Die Praeses (voorsitter ) voer die oppergesag tydens elke Cantus en liedere word alleenlik op sy velle instruksie gesing.  So luidrugtig en meelewend moontlik, want anders sal die hoon van die Sedemeester jou te beurt val.   Ons skop af met ons Volksliedere, insluitend dié van ons stamlande (De Vlaamse Leeuw van 1845 en Wilhelmus van Nassouwe van 1568), daarna volg liedere vir gesellige samesang, liedere van ander tale en volke en laastens is daar die liedere van studentepret, liefde, jolyt en heimwee.

Natuurlik is al hierdie gesing  ʼn sware las op die stembande van die Commilitones (aanspreekvorm vir die deelnemers aan die Cantus), maar die vure in die kele mag alleenlik op bevel van die Praeses geblus word.  Bier word as voorkeurvog ingespan (ter ere aan ons Dietse tradisie natuurlik) met gemmerbier of kruiebier vir diegene wat in geheel wil of moet onthou.  Soos die eeue-oue reëls duidelik stel: “Het drinken in gemeenschap was ten allen tijde één der middelen om de kameraadschap te bevorderen; het mag echter niet het enige doel van het clubleven zijn.  Het bier is één van de bestanddelen van de Cantus, niet het hoofdbestanddeel.

Die gesing word verder afgewissel met onder andere kunstige items, sowel as humoristiese optredes, waarby die hele Corona (vergadering) betrek word.

Die Cantus-tradisie maak ook ruimte vir ons jonger Volksgenote deur die Cantili.  Voorskoolse- en laerskoolkinders wat nie so swaar wil sing aan Wilhelmus van Nassouwe nie, kan deur die Cantili hierdie kultuur-ervaring beleef terwyl hulle Wieliewalie sing.

Orania is bevoorreg om  oor sy eie Cantusgilde en lokaal te beskik.  Die Kleine Reus is ons Gilde-lied en sy woorde is as volg:

Die Kleine Reus

Wie is hierdie Dietse jonge?

Wie is hierdie Geusekind?

Wie is hierdie Boere-penkop?

tot vrye Staat verbind

Koor:

Hy is de Leeuw van Vlaandere

se troue kameraad

Wilhelmus van Nassauwe

slaag met hom beraad

Wie is hierdie kleine kêrel?

Wie is hierdie kloeke kan?

Wie is hierdie flukse kêrel?

met die Vryheidsplan

Koor:

hy is die drang na Vryheid

die Kleine Reus is hy!

hy is die daad tot Vryheid

die Kleine Reus is hy!

Ons volgende Cantus op Orania vind gedurende die Desember vakansieprogram plaas en almal is welkom om daarby in te skakel.  Raadpleeg gerus Orania se vakansieprogram vir meer besonderhede.  Die Suid-Afrikaanse Cantus Gilde se webwerf kan besoek word by www.cantus.co.za vir besonderhede oor gildes regoor Suid-Afrika.

Deel/Stuur
Tags: , ,

Een Reaksie op “ʼn Eeue-oue tradisie op Orania aan die roer”

  1. Jaco Engelbrecht 25 Oktober 2010 at 21:54 Permalink

    Baie dankie vir die blog-skrywe.

    Het dit terdeë geniet.


Lewer Kommentaar

*