27 Augustus 2013 ~ 13 Kommentare

My gunsteling aanhalings oor Orania

Geskryf deur Lida Strydom

My gunsteling aanhalings oor Orania

As Orania en die Afrikaner se vryheidstryd maar altyd in jou gedagtes lê, dan kry interessante aanhalings soms nuwe betekenis. Oor die jare het ek ‘n klompie treffende aanhalings raakgelees wat waarhede só raak sê, dat ‘n mens sommer lekkerkry.

Ek wil egter begin met ‘n negatiewe spreuk wat ons onsself so maklik toevoeg: Afrikaners is hardekoppe. Afrikaners kan nie saamwerk nie. As twee Afrikaners op ‘n eiland uitspoel, stig hulle drie politieke partye.

Rêrig? Ek wil eerder sê dat Afrikaners mense is van vaste oortuiging en vaste beginsels. Hulle was nog altyd bereid om op te staan vir die saak waarin hulle glo. Miskien het hierdie eiewysheid hulle juis laat oorleef in uiters moeilike omstandighede, want hulle kon vir hulleself verantwoordelikheid neem.

Het ander volke nie ook hardekoppe nie? Ek kan aan ‘n hele paar vriende van ander kulturele afkoms dink wat maar dieselfde eienskappe het. Hulle kasty hulleself nie daaroor nie en verwys ook nie afbrekend na hulleself nie.

Ek glo dat Afrikaners, net soos ander volke, ook ontwikkel en nuwe vaardighede aanleer. Ja, daar is Afrikaners wat ook op internasionale direksies dien omdat hulle die vermoë het om saam te werk. Ons het tog ook al moderne vaardighede aangeleer. Ons verskil van mekaar, maar ons doen dit darem meestal redelik beskaafd. En, ek is dankbaar dat ons tog steeds beginselvas vir onsself verantwoordelikheid neem.

‘n Besondere gunsteling, reeds van skooldae af, is Ek meneer, jy meneer, wie sal dan die wa smeer?
Dalk was hierdie spreuk spesiaal vir Orania bedoel, want deur die harde politieke werklikheid van Suid-Afrika moes ons leer dat ons ons vryheid prysgegee het deur ander volke ons handearbeid te laat verrig. Dit is so ‘n eenvoudige beginsel wat baie van ons nog steeds sukkel om te verstaan: Arbeiders is altyd die grootste groep in ‘n gemeenskap, dorp, land. Indien arbeiders ‘n ander politieke party ondersteun, is dit die party waarvoor hulle gestem het, wat aan bewind kom en heel moontlik anders regeer as waarvoor jy gehoop het. Deur vreemde arbeid te gebruik het Afrikaners afstand gedoen van hulle regte op onderwys, besteding van belasting, mediese dienste, instandhouding van paaie, openbare vervoer, die polisiediens en alles waaroor daar daagliks gekla word. Daar is maar net een manier waarop Afrikaners weer oor eie sake sal kan besluit: Hulle moet die meerderheid in ‘n geografiese gebied vorm. Ons kan slegs die meerderheid wees as ons hande uit die mou steek en ons vry werk.

Jare gelede, toe ons net in Orania aangekom het, het ons altyd gesê: Orania, hier sit elke siel skouer aan die wiel. Daar aan die begin was dit so waar. Almal het self gewerk, daar was min mense wat gekla het oor probleme met arbeid. Tog, ter wille van ontwikkeling is dit noodsaaklik dat ons ook arbeiders in ons gemeenskap sal hê, maar dit sal jammer wees as ons swart arbeid maar net met wit arbeid vervang sonder dat ons verstaan waarmee ons besig is.

Dit raak al hoe meer die norm dat Oraniërs groter huise begin bou en weer afhanklik raak van hulp in hulle huise . Ek wonder dikwels hoe gesond dit vir ‘n volk is as kinders nie van kleins af leer om hulle eie beddens op te maak, of hulle klere van die vloer af op te tel nie. Wat egter op die ou end vir ons deurslaggewend gaan wees, is in watter mate die skoonmakers en ander arbeiders in die filosofie van Orania glo. As ‘n mens in Orania kom woon omdat jy nêrens anders ‘n heenkome kon vind nie, omdat misdaad en geweld jou weggedryf het, omdat jy nie kon werk kry nie, of omdat jy vir die gereg vlug, gaan jy dalk nie met dieselfde ywer meedoen aan die ideale van Orania nie. Ons moet nou al besef dat die keuses wat ons maak ten opsigte van die grootte van ons huise, die tipe tuine wat ons aanplant en die tipe boerdery wat ons kies, ‘n invloed het op die arbeid wat ons benodig en daarmee saam ons vryheidsideaal beïnvloed.

PK Dick het geskryf: Die werklikheid hou nie op bestaan as jy ophou om daaraan te glo nie. Dit voel soms vir my of baie Afrikaners in totale ontkenning leef van wat in Suid-Afrika om hulle gebeur. Hulle word gekaap, beroof, moet vernedering beleef, Afrikaans word uit universiteite verdryf en korrupsie vier hoogty. Al wat gebeur is dat hulle al hoe meer vasklou aan hulle werk in ‘n gemeenskap waar hulle nie meer tuis voel nie. En daagliks hoop hulle vurig: Laat dit net nie ek wees wat gekaap/geskiet/verkrag word nie.

‘n Goeie gesegde wat nou hierby aansluit, is: Die meeste van ons kan die skrif aan die muur lees. Ons neem net aan dat dit aan iemand anders gerig is (Ivern Ball). Die skrif is elke dag aan die muur in koerante, oor radio en op televisie. Hoe lank gaan ons nog ontken wat besig is om in Suid-Afrika te gebeur? Hoekom is ons bang om die werklikheid in die oë te kyk en te besluit watter oplossing ons gaan steun en dan aktief daarby betrokke raak? Op die ou end is daar drie keuses: Bly in Suid-Afrika en word geassimileer deur die groter geheel. Dan sal Afrikaners uiteindelik verdwyn. Emigreer – Afrikaners sal dan uiteindelik verdwyn. Kies Orania, die hartland van Afrikaners – kom help om ‘n nuwe tuiste te skep waar Afrikaners kan tuiskom.

Daar is ook diegene wat sê: Julle is so gelukkig, julle kon Orania toe kom. Nee, wil ek antwoord, dit het nie in ons skote geval nie. Ons het ‘N KEUSE GEMAAK. Die meeste van ons het finansieel heelwat prysgegee om in Orania te kom woon. Ons het elders groter huise gehad, luukser voertuie gery, baie meer verdien. Maar ons het ‘n bewustelike keuse gemaak dat Orania die plek is waar ons glo ons toekoms lê. Dink net, as een miljoen Afrikaners in 1991 besluit het om Orania toe te trek, dan het ons ‘n sterk ekonomie gehad, dan kon ons na hartelus werk skep, dan was ons al baie verder op die pad na ons vryheidsideaal. Daarom dat die aanhaling van Willis R Whitney vir my so treffend bly: Sommige mense het ‘n duisend redes waarom hulle nie kan doen wat hulle wil nie. Eintlik het hulle net een rede nodig waarom hulle wél kan.

Orania ‘n gek idee? Die spitsvondige Steve Jobs het op ‘n keer gesê: Die mense wat gek genoeg is om te dink dat hulle die wêreld kan verander, is die mense wat dit regkry. Steen vir steen, huis vir huis, instelling vir instelling is ons in Orania besig om die keuses vir Afrikaners te verander. Hier skep ons ‘n nuwe werklikheid, ‘n werklikheid waarin Afrikaners vry kan wees, ‘n werklikheid waarin Afrikaners tuis kan wees.

En terwyl ons oor gekheid praat, Patrick Holford het gesê: Die definisie van gekheid is om aan te hou om dieselfde te doen en dan ander resultate te verwag. As ‘n mens maar leef soos jy voor 1994 geleef het en glo dat iemand êrens iets gaan doen om alles weer te maak soos dit was, leef jy in ‘n gekkeparadys. As jy steeds dink om vinnig te ontwikkel, moet ons gebruik kan maak van ‘n klomp goedkoop arbeid, hou verby, Orania gaan nie aan jou verwagtinge voldoen nie. Daar is redes hoekom ons dinge op ‘n ander manier doen.

Steve Jobs was dalk ‘n bietjie eksentriek, maar hy het baie dinge gesê waarna ons maar kan luister. Een manier om te onthou wie jy is, is om te onthou wie jou helde is. En ‘n mens kan maar vra: wie is jou held, jou rolmodel? En wie hang jou kinders aan? Kyk na jou helde en weet dat hulle baie sê van wie jy as mens is, wat vir jou die belangrikste is, waar jy bereid is om jou geld te bestee, watter saak jy bevorder.

‘n Gesegde van prof Carel Boshoff wat ons in Orania baie herhaal is. Elke geslag neem verantwoordelikheid vir sy eie tyd. Carel Boshoff(iv) het die gedagte uitgebrei met: Hierdie is ons tyd. Ons is die geslag wat bepaalde keuses maak, wat nou nog namens ons jong kinders besluit. Hierdie is ons tyd. Wat sal die geskiedenisboeke van die toekoms sê oor ons, oor wat ons met ons verantwoordelikheid gemaak het? Gaan ons geprys word vir die goeie keuses wat ons gemaak het, of gaan geslagte vorentoe gebuk moet gaan onder die las wat ons gehelp het om te skep? Hierdie is ons tyd.

‘n Persoonlike gunsteling is ‘n uitlating van ons oudste dogter tydens ‘n televisieonderhoud. Sy het gesê: Ek wou altyd graag deel wees van ‘n groot gebeurtenis in die geskiedenis soos Jan van Riebeeck se koms na die Kaap, tot ek besef het in Orania is ons elke dag deel van ‘n wonderlike nuwe geskiedenis. In Orania is ons daagliks besig met oplossings om die toekoms vir onsself en vir ander Afrikaners te verander. Ons is daagliks besig om nuwe keuses vir onsself te skep. Hoe wonderlik is dit om deel te wees van ‘n nuwe hoofstuk in ons Afrikanergeskiedenis.

Terwyl Orania nog broos is, dink ek dikwels aan die woorde van Flip Buys: As iemand van jou verskil is dit nie nodig om van hom ‘n vyand te maak nie. Orania se vriendekring het nog baie ruimte vir groei. As ons die tipiese hardkoppigheid waarna ek hier bo verwys het, inspan om ‘n punt te maak oor hoe sleg/korrup/ onbetroubaar ander groepe is of wie almal terroriste is of wie almal boewe is, trek ons net meer vyandskap op Orania. En wat bereik ons daardeur? Dit gaan nie enige iets aan die werklikheid verander nie. Dit het wel die potensiaal om ons in die toekoms te pootjie. Kom ons benader mense wat van ons verskil net soos ons graag behandel sou wou word deur diegene wat weer van óns verskil. Met tipiese Afrikanerrespek en hoflikheid. Dit sê tog soveel van onsself.

Ten slotte die woorde van John Wooden Dis nie hoe groot jy is nie, dis hoe groot jy speel. Orania speel dikwels ver bo sy grootte. Pak op ‘n piepklein dorpie se begroting staatsfunksies aan, sorg vir sy eie armes, sorg vir uitmuntende onderwys, besit die eerste en grootste Koöperatiewe Bank in Suid-Afrika, hou ‘n eie Orania Karnaval, pak skakeltoere oorsee aan. Dan kan ek maar net afsluit soos die jonges sê: Orania kook!

Deel/Stuur

13 Reaksies op “My gunsteling aanhalings oor Orania”

  1. Anthony Schlemmer 29 Augustus 2013 at 08:54 Permalink

    Briljante artikel Lida. Ek het rerig lekker gelees. Alles is so, so waar wat jy skryf! Jy moet meer gereeld die pen opneem.

    • Lida Strydom 29 Augustus 2013 at 09:20 Permalink

      Baie dankie vir jou gawe woorde, Anthony! Om op Orania te woon bly ‘n voorreg en ‘n verrykende ervaring.

  2. Ester le Roux 29 Augustus 2013 at 12:01 Permalink

    Wie wil nie na ‘n Hartland trek met vroue soos jy daarbinne nie, Lida!Mag ons die pen inspan soos jy en en met ons wapens, pikke en grawe(en ‘n besem!)daar kom sme! En om by jou gunsteling-aanhalings te voeg: Hy/sy wie se sweet die grond benat, sal dit beerf!

  3. andre 2 September 2013 at 13:04 Permalink

    Hi Lida .Ek is so bly oor jou onderwerp want dis presies wat ek 2 weke terug ondervind het.Ek het 2 weke terug n saketoer onderneem en ondermeer wou ek orania besoek aangesien ek so baie “gehoor” het .Wel met my analitiese brein was ek absoluut verstom toe ek sien wat daar aangaan!Dit was n belewenis en dis waarvoor ek geveg het en 9 grenskampe op my stok het.My Afrikanerbloed het weer trots gevloei.So ek het aangesluit as lid en wil ek graag sake doen met oranie besigheids kamer.Ek hoop nie hulle het dieselfde houding aS Afriforum nie waar ek aan Kallie Kriel n epos gestuur het om moontlik n oplossing te vind vir moorde op ons plase wat ons lewensaar was en is nie.Tot nou te nog nie n antwoord nie!Maar daar is vining om “geloaf” te word vir maandelikse bydrae!Daarom is jou artikel so interessant saamstaan en dis tyd dat ons blankes saamstaan in besigheid,help ,ondersteun mekaar ,koop bymekaar sover as moontlik.Ek hoop en vertrou dat hierdie epos na orania kamer sal gaan want voorwaar ek is trots op julle alhoewel julle my nie ken nie.Voors[poed

    • Lida Strydom 2 September 2013 at 13:21 Permalink

      André, baie dankie vir jou positiewe kommentaar. Maar as jy wil korrespondeer of inligting benodig skryf gerus aan inligting@orania.co.za Jy behoort daar deur die regte kanale verwys te word.

      Sluit gerus ook aan by Orania Beweging se Facebookblad. Daar word heelwat inligting geplaas en daar is ook ruimte vir gesonde debat.

      Welkom in ons geledere!

  4. Rene 2 September 2013 at 13:24 Permalink

    Waarheid is nie skaam nie, Baie Dankie Lida!

  5. Revat = HY KOM ('n verbuigde vrom vna my naam) 2 September 2013 at 14:48 Permalink

    Lida, baie dankie vir ‘n goedgebalanseerde stuk. Ek is ‘n ou vir goeie inligting wat nie verdwaal in hoogdrawende redenasies nie. Miskien het ek nie ver genoeg geleer om dit te waardeer nie.

    Lida, is dit moontlik dat ek meer inligting van die Ko-operatiewe Bank kan kry? Sal dit baie waardeer.

    Innige groete,

    REVAT.

  6. Pieter de Villiers 2 September 2013 at 15:02 Permalink

    Eerstens wil ek jou herinner aan die woorde van Flip Buys hierbo.

    Vervolgens verskoon my onkunde maar die paragraaf hierbo wat volg na “Ek meneer, jy meneer wie sal die wa smeer” verstaan ek nie. In die Orania konteks is die paragraaf seker korrek, as vreemde arbeid toegelaat word is julle een van die dae in die minderheid. In die res van SA was die blanke nog altyd in die minderheid. Goedkoop arbeid het moontlik baie gehelp om die land op te bou, ons het geen keuse gehad in die opsig nie? Dit is nie ‘n skande om goedkoop arbeid te gebruik nie, dit is werkskepping, kyk in die verband na China. Ons moes net die arbeid uit ons huise geweer het, iets wat ek en my vrou al vir seker 30 jaar doen. Die blanke se kapitulering en ondergang het meer te doen met swart getalle en “Big Brother” se planne vir SA en die wereld.

    Dr Verwoerd se beleid van aparte ontwikkeling was korrek en as ons dit nie by die venster uitgegooi het nie was die situasie in SA dalk anders. Helaas ons eie mense het toegelaat dat wereld opinie die norm word en hulle het aktief gehelp om die swarte oor ons te laat heers.

    Die res van die artikel is baie interessant en gee mens iets om oor te dink. Wat jy veral raakvat is dat die mense in ontkenning leef, ek sien dit amper elke dag om my. Ek is taamlik bejaard (70) maar baie fiks en gesond en doen nog steeds ekologiese konsultasie vir bees en wildboere asook natuur reservate. My pensioen is te klein om van te oorleef selfs in Orania sal ek dit nie maak nie, anders was ek al daar. Om ‘n las vir Orania en myself te word is nie ‘n opsie nie. Sterkte.

  7. Herman Fyfer 2 September 2013 at 15:39 Permalink

    Lida,dankie vir die goed deurdagte stuk.Ek stem volkome met jou saam,indien ons enigsins van die volkseie arbeid idee gaan afwyk sal dit fataal wees.Ek is wel bekommerd dat wanneer meer van die aangrensende plase gaan aansluit by ORANIA die volkseie arbeid idee onder druk gaan kom.Ek is bereid om enige afweiking met alles in my vermoe te beveg.
    Orania ondersteuner.
    Sterkte

  8. Victor A.C. Remouchamps 2 September 2013 at 16:15 Permalink

    Ik ben werkelijk onder de indruk van dit buitengewoon voortreffelijk artikel. Mijn complimenten. Jullie hebben er een oprechte vriend bij. Hij woont dan wel net onder de poolcircel, maar zijn hart is heel dichtbij

  9. HANSIE KILIAN 2 September 2013 at 17:44 Permalink

    GAAN SO VOORT

  10. Henry 3 September 2013 at 07:29 Permalink

    Baie interresante artikels wat jy plaas,dinge wat ek van vergeet het,Geskiedenis lange jare terug geleer het,pop nou weer in my kop op ! Hou so aan met dit.!! Ek wil graag Orania kom besoek,want ek GAAN uit PTA uit beweeg,vir altyd.Ek het besluit om Kaap toe te trek,maar miskien gooi ek anker in Orania,n mens weet nooit ?
    Henry


Lewer Kommentaar

*