15 Oktober 2010 ~ 11 Kommentare

My eerste sewe weke

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Môre is dit sewe weke sedert ons permanent in Orania hervestig het.

Mense het my gewaarsku oor die dinge van die stadslewe wat ek sou mis en oor die moeilike aanpassing by die nuwe klimaat. Baie is gesê oor die karoo se stof, persepsies oor Orania en die uitdaging van ‘n nuwe leefwyse wat insluit om jou eie tuin te onderhou en elke week jou vullis te verdeel.

Wat ek egter altyd vir mense sê is dat jou ervaring van Orania in ‘n groot mate bepaal behoort te word deur jou motief – dus die rede waarom jy by Orania betrokke is. Dit bepaal ook jou ingesteldheid sou jy na Orania verhuis.

Ons gesin is al vir jare mal oor Orania. Nie net oor dit wat Orania nou is nie, maar ook oor dit wat Orania nog gaan wees. Orania is nie ‘n dorp nie. Orania is ‘n plek, nou dit ‘n klein stad of ‘n gemeenskap of instelling waar Afrikaners vir hulself ‘n toekoms skep, nie ten koste van enigiemand nie, maar ten bate van ons eie mense. Dit was nog altyd my doel en juis met daardie ingesteldheid het ek na Orania verhuis.

Ons het dus met groot planne en blink oë in Orania aangekom en sewe weke later is ons planne nog groter en ons oë nog blinker. Ja die wind waai soms meer hier as in Pretoria en die stof is meer. Gelukkig het ons in Pretoria self ons tuin onderhou en self alles in die huis gedoen, maar uitdagings en aanpassings was daar wel.

Wat ook waar is, is dat elke nuwe uitdaging en aanpassing wat Orania vir my ingehou het, ‘n uitdaging en aanpassing is wat ek nie net vir myself nie, maar ook vir my mense trotseer en oplos. Wat ons hier doen, doen ons vir veel meer as net onsself en dit geld soveel te meer vir die pioniers van Orania – die mense wat baie jare gelede reeds hier hervestig en soveel groter uitdagings te bowe gekom het sodat dit vir ons as nuwe intrekkers vandag soveel makliker is om hier aan te pas.

Orania is ‘n wonderlike plek. ‘n Plek vol simboliek, kultuur, kwaliteit, effektiwiteit en ander mooi dinge waaroor Afrikanerskap juis moet gaan. Vir baie mense sal Orania egter ‘n groot teleurstelling bly solank soos wat hul prioriteite deur die materiële en selfverryking gedryf word.

Na sewe weke bly ek eers lekker en aan almal wat so skepties en pessimisties was: Jammer maar julle was lelik verkeerd.

Deel/Stuur

11 Reaksies op “My eerste sewe weke”

  1. Eric Coetzer 25 Oktober 2010 at 11:08 Permalink

    Ek en my vrou het sowat 6 weke gelede in Orania ‘n draai gery en was heel beindruk. Kon ongelukkig nie meer tyd spandeer nie , maar ons oorweeg om terug te keer en na permanente blyplek te kyk.

    Die houthuise by die rivier is pragtig en die retaurant was so vol dat ons ongelukkig moes ry sonder om daar te eet

  2. Jaco Kleynhans 25 Oktober 2010 at 12:13 Permalink

    Beste Eric,

    Dankie vir die boodskap. Ons hoop om julle gou weer in Orania te sien.

    Groete,
    Jaco

  3. Gerhardt 26 Oktober 2010 at 04:33 Permalink

    Beste Jaco

    Orania het al my aandag. Om nie eens van die lekker koeksisters te praat nie. Ek hoor deesdae al meer mense, julle Karoo juweel bespreek. Ek is van Nelspruit en sou graag meer van Orania wil weet. Veral i.v.m skolering. Is daar enigsins iemand wat vir my die e-pos van die Hoofde van die skole kan gee? Groete aan almal

  4. Jean Du Plessis 26 Oktober 2010 at 16:22 Permalink

    Hi Jaco

    Volg al ‘n paar jaar wat in Orania aangaan. Baie goeie werk van jou kant af. Ek sien sommer dinge is besig om te gebeur in Orania en dit laat ons ouens hier vêr van julle af, nie te veel meer wonder, wat om volgende te doen nie. Hou vol met die goeie werk.
    Groetnis

  5. Sarel Roets 27 Oktober 2010 at 10:39 Permalink

    Jaco en Magdaleen.

    Ons is bly om te sien dat dit met julle goed gaan in Orania, maar nie verbaas oor al die goeie dinge wat julle regkry nie! Ek het geweet julle sal ‘n reuse bydrae lewer.

    Na ons die grond daar gekoop het voel ek hoe langer hoe meer skuldig oor ons nog nie daar bly nie. En ja, wat jy gesê het oor die pioniers is absoluut die waarheid. Hulle opofferings het dit alles moontlik gemaak!

    Ons sien uit om eendag daar by julle aan te sluit, maar die werk in die “buiteland” moet eers afgehandel word.

    Groete vir Magdaleen en die kinders

    Sarel en Yolandi

  6. Jaco Kleynhans 27 Oktober 2010 at 10:43 Permalink

    Sarel en Yolandi,

    Ons wens julle kan hier kom hervestig. Ek weet julle sal dit baie geniet. Ons hom om julle darem een of ander tyd hier te sien al is dit net vir ‘n kuier!

    Groete,
    Jaco

  7. CC 26 November 2010 at 22:59 Permalink

    So lekker om te sien hoe mense hul gelukkig in Orania vestig en daarvan hou. Ons wag nog vir ons kans om te gaan loer en n huis/ erf te kies! Ek wens elke inwoner in orania net voorspoed en geluk toe! en die wat nog dink en worstel of dit n ja is of nie, sterkte met die besluit,maar ek dink dis een van die maklikste besluite! Ons tyd kom, alles op sy tyd :o)

    Groete uit n koue UK

  8. Louise 26 Februarie 2012 at 12:04 Permalink

    Ek het die afgelope tyd toenemend begin kyk na Orania as die plek vir my nuwe begin – ‘n begin van vrede en waar ek my Afrkanerskap kan uitleef – ek beplan om binnekort my eerste besoek te bring aan Orania en sien so uit daarna – dit is jammer dat huisvesting ‘n probleem blyk te wees! Ek dink daar is baie Afrikaners wat met liefde hulle daar sal vestig – so baie van ons is moeg om vertrap en vermoor te word en te ly onder die gevreesde woord regstellende aksie! Die meeste van ons Afrikaners gee nie om om hard te werk nie – daar is geen lekkerder gevoel as om met jou hande in die grond te werk nie – ek glo daaraan dat ek my eie huis en tuinwerk doen (en dit geniet) Sien julle binnekort op Orania

  9. Trevor Kirsten 12 September 2012 at 18:11 Permalink

    Ek en my vrou is tans in ons vroeë sestigerjare. Ons tree binnekort af en sal baie graag verhuis na Orania. Ons oudste dogter is ‘n Persoonlike Assistent by een van Rustenburgse Platinum myne. Ons vrees vir haar en haar kollegas se lewens soos wat die stakings nou by die myne hand uit ruk. Dit is regtig nie meer veilig waar die ANC regering in beheer is nie. Die standaarde van onderwys in RSA is die 140ste slegste uit statistieke van 144 lande in die wêreld aangewys???
    Ons moet dringend by Orania besoek aflê om te kyk of daar nie ‘n veiliger toekoms daar vir ons is nie!

  10. Dirk 25 September 2012 at 16:32 Permalink

    Sjoe, dit lyk rooskleurig in Orania, Sal tot bereid wees om in n tent daar tekom woon totdat dinge beter is . Is daar enige hoop vir iemand ssos ek ?

  11. Frank 26 September 2012 at 13:39 Permalink

    Ek werk self aan my familie om Orania as toekoms te oorweeg… dit gebeur stadig maar seker. My broer en ek gaan binne die volgende paar maande ‘n draai maak, asook my ouers… Ek praat met almal oor Orania en as hulle nog onder die wan indruk van die negentiger jare verkeer, help ek hulle vinnig reg.

    Na jare se hoop dat dinge sal beter sal gaan in die Nuwe Suid Afrika het ek nou net weereens besef dat daar nie ‘n manier is dat Suid Afrika ‘n beter plek gaan word nie. Inteendeel is dit besig om al slegter te gaan en dit gaan so aanhou in die toekoms. Een of ander tyd moet ‘n ou die besluit maak: bly ek en pas aan, met NOG hoer mure of maak ek ‘n verandering. As mens te lank wag en nie jou besluit maak nie dan los die trein jou agter…

    Ek sien uit om te help bou aan moontlikhede vir my kultuur en hul nageslag. Ek sien uit en droom van ‘n veiliger bestaan waar jy nie soos Corrie Sanders en vele ander Suid Afrikaners afgemaai word vir ‘n simpel ou selfoon nie. Ek sien uit na ‘n plek waar ek oral welkom is, waar my velkleur nie my werksgeleenthede bepaal nie. Waar my kinders kan studeer wat hulle wil. Waar mense nog omgee.


Lewer Kommentaar

*