27 Februarie 2018 ~ 12 Kommentare

Moet op prinse nie vertrou nie

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Dit is altyd verbasend hoe korttermyn georiënteerd mense se politieke denke is, en hoe sterk die geloof in ʼn leier is. Dit vind sy neerslag ook in belangstelling in Orania: altyd wanneer iets gebeur wat mense bang maak, byvoorbeeld die gru-moord op Eugene Terre’Blanche in 2010 en gerugte van ‘n burgeroorlog, wilde volksmoord- uitsprake van Julius Malema, aanslae op monumente, ʼn vlaag plaasaanvalle, ʼn afgradering van die land se kredietwaardigheid, gewelddadige betogings in dorpe of voor Afrikaanse skole, neem die belangstelling om na Orania te verhuis, of net navrae, geweldig toe, net om dan na ʼn kort ruk weer af te neem. Orania word altyd gesien as die laaste toevlugsoord as alle hoop verby is.

Mnr. Malema, wat soos ʼn swart Terre’Blanche elke week met die volgende dreigement kom (hy wou al die myne nasionaliseer, mnr. Zuma tot ʼn val bring, Afrikaans afskaf, alle plase beset, ensovoorts) is seker die grootste bron van kommer vir ons mense, gevolg deur mnr. Zuma. Met mnr. Zuma wat nou skielik van die toneel verdwyn het en die kollig wat van hom en mnr. Malema na die nuwe president, Cyril Ramaphosa swaai, is daar skielik weer ʼn gees van nuwe hoop en, ongelukkig ook, minder belangstelling in Orania.

Almal is seker bly dat daar ʼn nuwe wind waai na die jare van korrupsie en verlamming onder Zuma. Mnr. Ramaphosa behoort die voordeel van die twyfel te kry en hy het al ʼn paar bemoedigende aankondigings gemaak, maar ongelukkig ook ander wat ʼn mens onrustig maak, soos oor grondonteiening. Hoe dit ook al sy, dit beteken egter nie dat met ʼn president Ramaphosa skielik alle probleme op ʼn einde is nie. Dit sal, terloops, ook nie op ʼn einde wees as die DA die volgende verkiesing wen nie (onwaarskynlik, maar denkbaar).

Orania het nooit sy hoop op enige politieke leier gesit nie, maar altyd gepoog om met hulle saam te werk. President Mandela se veelbesproke besoek aan mev. Betsie Verwoerd het goeie mediadekking en erkenning aan Orania besorg, so ook president Zuma se besoek kort nadat hy president geword het en nog gesien is as iemand wat die Afrikaners goedgesind is en wat begrip vir etniese selfbeskikking het. Van geen politieke leier het egter enige tasbare steun vir Orania gekom nie, en ʼn mens sou dit seker ook nie kon verwag nie.

Mnr. Ramaphosa sal in die “best case” scenario korrupsie onder beheer kry, die staatsdiens meer effektief maak, die skuldlas verminder en die ekonomie laat groei. Dalk sal hy selfs misdaad effens kan laat daal, maar dit blyk nie sy prioriteit te wees nie. Sy magsbasis is die ANC-kiesers, dit beteken veral arm swartmense en vir hulle gaan dit in die eerste plek oor werk en beter lewensomstandighede. Dit kan bereik word deur die sosialistiese manier van herverdeling, wat kort termyn verbeterings bring maar wat in die langtermyn nie volhoubaar is nie, omdat die produktiewe, hoofsaaklik wit middelklas sal verdwyn (deur verarming en emigrasie). Of dit kan bereik word deur die langtermyn, maar meer volhoubare ekonomies-liberale pad van laer belasting, minder en meer doelgerigte besteding, uitroei van korrupsie, vermindering van skuld, terugwen van beleggersvertroue en ekonomiese groei, wat uiteindelik ook ʼn uitwerking op werksgeleenthede en lewensomstandighede sal hê. Mnr. Ramaphosa is ʼn vakbondman, maar ook ʼn sakeman en sal dus waarskynlik ʼn kombinasie van die twee strategieë toepas, as sy talle sosialistiese teenstanders binne die ANC hom sal toelaat. ʼn Goue era is egter nie te wagte nie.

Selfs al gaan dit ekonomies effens beter op die mediumtermyn, sal Suid-Afrika se probleme nie minder word nie en sal veral die Afrikaners nie op enige toegewings moet hoop nie. Misdaad en ongelykheid sal hoog bly, Afrikaners sal die sondebokke bly vir alles wat verkeerd loop. “Regstellende” aksie en swart ekonomiese bemagtiging sal ook onder ʼn president Ramaphosa voortgaan, immers het hy persoonlik geweldig daarby gebaat. Afrikaans se dae as akademiese taal is getel en ʼn (dalk) meer gesonde ekonomiese beleid gaan niks daaraan verander nie. Die demografiese verandering van stede en dorpe sal onverpoosd voortgaan en die druk op onteiening van grond sal daarmee saam toeneem. Mnr. Ramaphosa het reeds van “sy mense” gepraat wat moet baat en dit is beslis nie ons nie. En let wel, dit is die goeie scenario, dit kan net sowel wees dat mnr. Ramaphosa na aanvanklike suksesse nie meer vorder nie en dat daar weerstand in sy party opbou as die wittebrood verby is. Of dit kan wees dat die ANC na die volgende verkiesing op ʼn koalisie met die EFF aangewese is en dan nog meer links moet swaai.
Ons hoef nie te wag vir “doomsday” met ʼn president Malema nie om te besef dat Orania en ʼn eie gebied vir Afrikaners vandag so nodig is soos nog nooit tevore nie. Orania is nie die laaste toevlugsoord nie, dit is die begin van ʼn beter toekoms vir die Afrikaner. Die bou van Orania moet onverpoosd voortgaan en ons mense moet nie hulle aandag daarvan laat aftrek deur ʼn nuwe leier met allerhande beloftes en ʼn nuwe styl nie.

Deel/Stuur

12 Reaksies op “Moet op prinse nie vertrou nie”

  1. Stephan 27 Februarie 2018 at 17:49 Permalink

    Stem 150% saam met jou. Om die waarheid te se word dit vir my al hoe duideliker hoe langer ons onder swart bewind leef, dat ons vir onsself sal moet sorg. Daar is nie ‘n alternatief nie.
    Die enklawe idee vind ook al hoe groter aanklang, maar is slegs vir korttermyn sekuriteit.
    Langtermyn moet ons ons eie taal kan steun en bou en dit is slegs moontlik in eie staat.
    Die blanke is natuurlik nog die goue gans wat die belastingeiers le, maar word natuurlik ook stadigaan verwurg. Op ‘n manier sal mens hierdie eiers aan die staat moet ontneem en dit as hefboom gebruik.

  2. Marius 27 Februarie 2018 at 18:21 Permalink

    Kan hulle aanspraak maak op orania se grond as hulle die nuwe onteinings wet tapas?

    • Sebastiaan Biehl 28 Februarie 2018 at 10:32 Permalink

      Daar is nie meer regssekerheid oor grond as die regering sy sin kry nie. Wat Orania egter anders maak is dat ons ons grond self effektief bewoon en bewerk en hierop konsentreer. Om ‘n plaas te vat waarop niemand bly is die een ding, om ‘n gemeenskap saam daarme te vat is heeltemal iets anders.

  3. Theuns 27 Februarie 2018 at 19:00 Permalink

    Dis regtig jammer dat ons Afrikaners so intens glo in die “goeie/ iets goed in elkeen/ gee man kans” en stadig maar seker, volgens Ramapohosa se eie stellling,ondervind die water word stadig warmer met meer beperkings en wegneem van waardes en taal en deur belasting grootskaalse verarming. Meer mense moet erken die waarheid oor Suid Afrika is veel erger as wat enige “regse” ooit voorsien het. Orania is ‘n antwoord.

  4. Henry 27 Februarie 2018 at 20:19 Permalink

    Ek wil net graag weet hoeveel aanvraag het orania gekry van arm Afrikaners om in orania tebly? en hoeveel was goedgekeur?, want dit lyk vir net die Afrikaners wat geld het is regtig welkom. Hoekom kan ek aanlyn geld gee vir orania ma nie om aansoek doen vir verblyf nie? nie om orania se mense in die gesig tevat nie ma dis hoe orania lyk van buite af.

  5. Boerseun 28 Februarie 2018 at 10:56 Permalink

    Ek is tans ‘n tandeelkunde student aan die Universiteit van Pretoria. Ons is aan die begin van die jaar bewus gemaak dat Afrikaans as onderrigtaal totaal afgeskaf gaan word met die begin van volgende jaar. Tans is enkele van my klasse in Afrikaans, die res is Engels. Die miete dat Afrikaans as huistaal n persoon benadeel as hy/sy studeer in engels is totaal verkeerd. Ek is van die Wes-Kaap se platteland, waar daar byna geen engelse mense rondom my was nie. Dit is n klein aanpassing, ek het selfs die engelse bevoegdheidstoets ( spoed lees, spelling, woordkeuses ) geslaag terwyl van my klasmaats wat Engels as huistaal gehad het dit nie geslaag het nie. Die verskoning dat Afrikaans afgeskaf moet word omdat dit nie n wereldtaal is nie, is uiters teleurstellend en dra by tot die verkleining van ons Afrikaners.

  6. Sebastiaan Biehl 28 Februarie 2018 at 12:27 Permalink

    Van diegene wat aansoek doen vir verblyfreg is seker meer as die helfte “arm”, of dan laer middelklas en laerklas. Mense moet hulle egter kan onderhou, of deur werk of deur ‘n pensioen. U kan aansoek doen deur ‘n e-pos te stuur aan verblyfreg@orania.co.za en die vorm elektronies instuur. Tans word alle onderhoude nog persoonlik gedoen want dit is belangrik dat ons weet wie die mense is wat hier wil kom bly en dat hulle verstaan waaroor Orania gaan en dit ook ondersteun.

  7. Pieter van Niekerk 6 Maart 2018 at 14:05 Permalink

    Vir die skrander jong Afrikaner moet dit al meer duidelik word dat immigrasie nie meer ‘n opsie is nie. Dit is ‘n noodwendigheid.

    • Sebastiaan 6 Maart 2018 at 15:45 Permalink

      Jy bedoel waarskynlik emigrasie, maar ons oplossing is konsentrasie in ‘n gebied wat ons self kan beheer en kan bestuur. Emigrasie beteken die volk spat uitmekaar en elkeen krap sy eie potjie en verengels.

      • Pieter van Niekerk 6 Maart 2018 at 17:37 Permalink

        Jammer Sebastiaan, ’emigrasie’.

        In teorie vind ek nie fout met jou siening nie. Soms is die praktyk ietwat minder simplisties. Kom ons neem as voorbeeld ‘n jong man wat tans besig is met sy PhD (wiskunde). Ja, hy kan ‘n onderwysdiploma doen met die oog op ‘n wiskundepos in Orania – onderhewig aan die beskikbaarheid van poste. Gaan dit hom werklik bevredig? Ek dink nie so nie.

        Dus wat is die alternatief?

  8. willem 12 Maart 2018 at 19:45 Permalink

    Ek wil net Vra watse kerk verband is daar sterk

    • Sebastiaan 13 Maart 2018 at 12:49 Permalink

      Die APK is die grootste kerk. Ook NGkerk en Maranatha (AGS) is prominent. Ander denominasies is ook hier.


Lewer Kommentaar

*