03 November 2017 ~ 2 Kommentare

Met Van Wyk Louw in gedagte.

Geskryf deur Ester Le Roux

Einde Oktober, verlede jaar, het ek ‘n ode aan die ontslape digter, NP van Wyk Louw geskryf. Op Swart Maandag, toe Suid Afrikaners wyd protes aangeteken het teen die toenemende plaasaanvalle – ook toenemend moorddadig van aard – het dit weer opgeduik op Facebook. Ek het gewonder watter raad hy in hierdie donker tyd vir ons volk sou hê en spesifiek, wat sy gedagtes rondom die strewe van Orania sou wees. Hy is een van ons “groter” figure – vir sommige is hy dié grootste digter en skrywer van ons volk en sy skryf- en digkuns is tydloos gewild.

Hy was uitgesproke oor die wesenlikheid van pro-aktiewe, nugtere denke in ‘n volk. In 1939 word sy bundel prosabeskouings Lojale verset gepubliseer waarin die motto saamgevat word: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.” Hy het deelnemend binne die realiteit van vraagstukke geleef, by verskeie geleenthede hom nie aan politieke korrektheid skuldig gemaak nie en ‘n “oop gesprek” aangemoedig.

Hy opper in Lojale Verset ook kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging en het dit veral teen ‘n soort selfgenoegsaamheid, “die versteende gedagte” wat elke nuwe lewensuiting in ons kultuur wil dooddruk – ‘n dooie tradisionalisme waarteen hy waarsku. Hy noem ook ‘n ander vrees wat hy het, naamlik ‘n lewe totaal buite die tradisie – die soort modernisering wat nie in kontinuïteit met die verlede, ‘n uitreik na die toekoms is nie, maar ‘n totale omwenteling of breuk is.

Uit hierdie enkele gedagtes kan mens die afleiding maak dat hy ook vandag, in 2017, ‘n duidelik geartikuleerde standpunt oor die stand van sake sou hê en gesprekvoering sou aanmoedig om positief en “buite die boks” te besin oor die strewe van die Afrikaner en spesifiek oor Orania as ‘n plek/grondgebied waar die Afrikaner ‘n meerderheid vorm en waar sy kulturele erfenis kan gedy in samehang met die breër kultuurverskeidenheid.

Hy sou sy vorige standpunte deeglik heroorweeg in die lig van hoe die “demokrasie” na 1994 ontvou het en sonder twyfel hoogs beswaard wees oor die manier waarop ‘n veronderstelde demokrasie op reaksionêre en onkapabele wyse kontinuïteit verbreek het met die bestuur van ‘n vorige bedeling, waarin strukture in stand gehou is om die behoeftes van ‘n nasie te rugsteun – wel ook met gebreke maar, terugskouend, uitsonderlik effektief in die lig van die strukturele ineenstorting wat vandag beleef word. Ook sou hy afwysend wees teenoor ‘n bestel wat kulture van hul tradisionele wortels vervreem onder die dekmantel dat dit ‘n vredevolle reënboognasie in die hand werk.

‘n Mens sou kon aflei hy wesenlik ongelukkig, selfs rebels sou wees in ons ontspoorde demokrasie en ook Swart Maandag se vreedsame optogte teen toenemende en wreedaardige plaasaanvalle van harte ondersteun het.

Ek dink dat hy tevrede, selfs versigtig optimisties sou wees met prestasies en kulturele bydraes op literêre gebied onder Afrikaners – dat dit steeds die saad dra van die “Kosbare en die Edele”. In breër Suid Afrika-verband sou hy wanhoop dat die insette effektief is om te voldoen aan die hoë kulturele en morele eis om voortbestaan in geregtigheid. Dit is juis die bestaansrede van Orania: ‘n kragdadige poging om effektief by te dra tot die verwesenliking van die skone, die ware en die goeie vir ons eie, maar ook vir ander volke en kultuurgemeenskappe hier aan die Suidpunt van Afrika.

Verskraalde wintervers aan die ontslape digter, NP van Wyk Louw

Ek wou u prys, oor ‘n feniks so verruklik uit u woorde vlieg
dit moet tog maklik wees, het ek gedink –
ek weet tog goed om God te prys en u is net ‘n mens

maar tussen die sonkol en die soelblou lug
was dit stil, soos ligjare
en in die ritseling van blare
het ek geluister vir ‘n petit début
maar het my mond voel opdroog
soos damme (nóúnog) duskant Sutherland

Eers toe dit windstil word in die winterbome
het ek moed geskep en gebid
dat in die afwesigheid van witter lig
hierdie poëties verskraalde seisoen
nie sal struikel onder die Kosbare en die Edele nie

Ek weet dat hierdie vers nie sal uitval soos u gedagtes in die veeveld
wat uit ‘n asbosskerm woorde kon hang
soos helder sterre aan die Hantam-nagte
of soos die Hubble-teleskoop
wat die skouspel van skaars komete volg op hoër, kouer paaie
of stiltes wat geen woorde weet
sugte in die skuiling van u gedenkhuis
as die yswind, buite, oor verlate liefdes huil

Al wat ek wens, is dat die suiwer draad van u geding ook my sal vasknoop aan my wete:
dit lééf en dit is Lig –
die wegloop-ooi se afgooilam

hier in mý diep-Karoo se sneeuwit duisternis

 

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Met Van Wyk Louw in gedagte.”

  1. Marieka Visagé 3 November 2017 at 22:29 Permalink

    Dankie. Ek is seker Van Wyk Louw sou u “Verskraalde wintervers” hoog op prysgestel het.

    • Ester le Roux 4 November 2017 at 02:51 Permalink

      Baie dankie, Marieka – ek waardeer.


Lewer Kommentaar

*