18 November 2013 ~ 13 Kommentare

Met ope arms

Geskryf deur Carel Boshoff

In sy “Laaste Afrikanerleiers” maak Hermann Giliomee ’n sydelingse punt wat my bly boei, want dit werp lig op ’n teenstrydigheid wat ek lankal raakgesien het, maar nie geweet het wat om daarmee te maak nie.

Die teenstrydigheid is dat Afrikanernasionalisme twee gesigte gehad het – en steeds het, naamlik ’n populistiese én ’n elitistiese. Die punt wat hy sydelings maak, is dat daar ná 1948 ’n verstandhouding tussen die Afrikanerintelligentsia wat ’n verdedigbare beleid verlang het, en die Afrikanerwerkers wat beskerming teen kompeterende en goedkoper swart arbeid verlang het, tot stand gekom het. Dit het naastenby behels dat die intelligentsia hulle moreel verdedigbare weergawe van afsonderlike ontwikkeling en volledige vryheid in aparte tuislande sonder teenspraak kon verkondig solank die werkers hulle aparte beskerming geniet.

Dit verklaar my persoonlike ervaring as nuuskierige kind, naamlik dat getroue nasionaliste en ondersteuners van dr Verwoerd (wat toe al ’n paar jaar dood was), nie veel erg aan die tuislande gehad het nie. Soms het hulle eerder persoonlike bevrediging uit die mislukking daarvan geput, iets wat ek nooit kon begryp nie. Wat van dr Verwoerd hét hulle dan ondersteun as dit nie sy oplossing vir ons brandendste vraagstuk was nie?

Verwoerd, met sy politieke wortels in die Armblanke vraagstuk, sowel as sy besef van die Afrikaner/Blanke minderheid se politieke volhoubaarheidskrisis, kon daarin slaag om beide hierdie behoeftes, naamlik beskerming en staatkundige ontwikkeling oortuigend te versoen. Sy opvolgers het eenvoudig nie oor die insig en aanpasbaarheid beskik om dieselfde te bly doen nie en die twee kante van die nasionalisme-munt het uitmekaar begin dryf.

Beide kante het ten aansien van die Afrikanervolk met in- en uitsluiting gewerk. Diegene vir wie ’n aanvaarbare beleid swaarder geweeg het, was ruimhartiger na buite en kieskeuriger na binne; diegene vir wie beskerming swaarder geweeg het, was kieskeuriger na buite en ruimhartiger na binne. Die “verligtes” was meer tipies elitêr en wou nie deur agterhaalde maatreëls en agtergeblewe volksgenote gyselaar gehou word nie; die “verkramptes” was op ’n omgekeerde manier elitêr: deur die volkslidmaatskap wat mens vir beskerming laat kwalifiseer het tot enersdenkendes (sover dit wit-swart verhoudings aangaan) te beperk, hoewel ‘n populistiese appèl steeds tot beskermingsbehoewendes gerig is.

Dié teenstrydigheid het, ironies genoeg, van twee kante af bygedra tot ’n vreemde verskynsel onder Afrikaners, naamlik om die woord “Volk” (baie dikwels met ’n hoofletter) te gebruik, nie om na Jan en Alleman te verwys nie, maar as die seël van politieke en ekonomiese uitverkorenheid te plaas. Waar nasionalisme in die reël, soos vroeër ook onder die Afrikaners, ’n ideologie is wat sy nette wyd uitgooi, het dit by ons ’n ideologie geword wat mens deur sewe hoepels wil laat spring voordat jy vir aanvaarbaarheid oorweeg sal word.

Met Afrikaners aan die mag en onder die valse indruk dat hulle oor ’n veilige nasionale tuiste beskik, kon dié twee soorte nasionalisme eenvoudig ’n meer liberale en in ’n meer konserwatiewe denkstroom ontwikkel; dit is naastenby wat in ons kortstondige tweede Republiek (van 1961) gebeur het. Maar met Afrikaners wat voor die nood aan ’n nuwe nasionale tuiste en identiteit gestel word, sal so ‘n elitêre aanslag, van watter kant ookal, vernietigende gevolge hê. Dit sal so onsinnig wees as ’n Reddingsdaadbond wat net dié Afrikaners wil red wat goed genoeg is om gered te word. (Wie sal besluit? En aan die hand waarvan?)

Wie van ’n “volk-staat” durf droom, wie ’n nasionale tuiste vir die Afrikaner in die oog het en nie ’n klasgebaseerde mega-sekuriteitsoord nie, sal hieroor moet besin. ’n Volkstaat moet volksgenote met ope arms ontvang, by wyse van spreke sê: “So, jy is ’n skelm Afrikaner? Welkom, ons het net die tronk vir jou!” Of anders gestel, so moeilik as wat dit vir my sou wees om burgerskap van Israel te kry, so maklik was dit vir my klasmaat wat ’n Jood is; die Vrystaat Orania moet dieselfde houding teenoor die Afrikaners in diaspora inneem.

Verblyfreg moet gereguleer word – juis om te verseker dat die Afrikaners wat hier kom woon, ons Vrystaat se vryheid op prys stel en dat die ander wat by ons aansluit, voluit daarby inskakel. Ons bevolkingsregister moet onderhou word – enige moderne staat het dit nodig. Inburgering moet langs informele én formele weë plaasvind – die owerhede het ’n rol daarin te speel en die onderhoude wat met voornemende inwoners gevoer word maak deel daarvan uit. Maar die gedagte van “keuring”, asof ons moet besluit of die Afrikaners wat by ons wil aansluit goed genoeg is om dit te doen, pas by die nasionalisme van ons ondergang.

Die nasionalisme van ons opkoms – in die verlede en nou, die nasionalisme wat aan die derde Afrikaner beslag moet gee, het nie plek daarvoor nie, nie vir die woord nie en nie vir die gees daarvan nie. Dáárin moet ons populisties wees. Daarin staan ons digby die Reddingsdaadbond van die Armblanke-era en die denkwyse wat dr Verwoerd in staat gestel het om beide die beskerming van ons mense én ’n volhoubare staatkundige bedeling tegelyk te bedink.

Deel/Stuur

13 Reaksies op “Met ope arms”

  1. Tiaan 19 November 2013 at 21:21 Permalink

    n Volkstaat vir regte Afrikaners!
    Klink idillies, maar ja jy is reg Karel die verdeeldheid van die verlede sal ons moet agterlaat. Miskien makliker gese as gedaan veral as jy nie direk betrokke was by die politiekestryd van die 80 en vroee 90s nie. Hy wat bereid is om teen die liberalegees van ons dag, homself te ontworstel van die reenboog-etopia, en sy kant te bring in die skep van n nuwe toekoms vir ons mense, moet geakommodeer word!

    Dankie vir nog n puik stukkie werk Karel!

    Tiaan

  2. JH du Toit 20 November 2013 at 03:52 Permalink

    Uitstekend skrywe deur Carel Boshoff. Dit is hierdie oopkop benadering wat van Orania selfs ‘n nog groter sukses in die toekoms gaan maak. Terwyl ander Afrikanerbewegings sektariese verknogthede het volg Orania hierdie inklusiewe benadering. Dis wat ons so broodnodig het. Pragtig!

  3. william 22 November 2013 at 17:06 Permalink

    Een van die Afrikaner se grootste probleme is ons verdeeldheid. As ons nie uit een mond praat nie gaan ons nerens kom nie. Daar is te veel splintergroepies elkeen met sy eie agenda. Tog is die ideaal dieselfde naamlik n grondgebied waar ons ons taal kan praat, onsself kan uitleef en hoe standaarde handhaaf.

  4. Wynand 25 November 2013 at 15:13 Permalink

    Skitterend uiteengesit! Dit is die soort insig wat mens seker is jy het geweet, maar kon nog nooit die woorde daarvoor kry nie. Hierdie is nie n retoriese triomf nie, dit is n manier van dink oor Orania en die volkstaat wat vir party van ons getrouste mense moeilik gaan wees om te aanvaar – hulle is gekondisioneer om te oordeel wie as Afrikaners kan kwalifiseer en wie nie.

  5. Christo 26 November 2013 at 05:23 Permalink

    Ek sien ‘n teenstrydigheid in die twee laaste paragrawe nl “Verblyfreg moet gereguleer word vir Afrikaners wat hier wil kom woon – (met die toelatingsnorm -om te verseker dat die Afrikaners wat hier wil kom woon, ons Vrystaat se vryheid op prys stel en …. daarby inskakel.
    Aan die anderkant “die gedagte van “keuring”, asof ons moet besluit of die Afrikaners wat by ons wil aansluit goed genoeg is om dit te doen, word verwerp.
    Ek lees dit dan verder so dat nasionalisme as norm van toelating verwerp word, maar dat ons “populisties moet wees”
    Maar terselfdertyd word Afrikanerskap as toelatingsnorm aanvaar
    Die teenstrydighede wat ek sien is die volgende
    – Ek sien regulering en keuring as van soortgelyke begripsinhoud waarvan een in die gebruikte teks goedgekeur en die ander afgekeur word.
    – Het Afrikanerskap dan nie ook ‘n nasionalistiese begripsinhoud nie? As die aanvaarbare Afrikanerskap onbegrens populisties mag wees verloor dit sy onderskeidingswaarde en sal selfs mense met hul eie vyandig gesinde definierings van Afrikanerskap welkom wees – om dan van binne af verdeeldheid in te bring. Mense sou ook kon voorgee dat hulle as “Afrikaners” op Orania wil kom bly terwyl dit eintlik gaan om die relatief gunstiger lewensruimte wat Orania bied – en nie dat (Afrikaner)Adeldom sy eie verpligtinge meebring nie.

    • Carel Boshoff 29 November 2013 at 15:53 Permalink

      Christo

      Om by die tweede saak te begin: ek het my dalk nie goed uitgedruk nie. My punt is dat ons wel ‘n “populistiese” nasionalisme eerder as ‘n elitistiese nasionalisme nodig het – nie nasionalisme vs populisme nie. Bygesê dat “nasionalisme” baie betekenisse verwerf het en altyd met ‘n mate van versigtigheid gebruik moet word. Ek dink bv nie dat ons moet terugkeer na die soort nasiestaat-denke wat die ’61 Republiek se nasionalisme onderlê het nie, en dit terwyl sommige mense sal aanvoer dat juis dit streng gesproke die mees egte vorm van “nasionalisme” is. Ons speel dus ‘n bietjie met woorde, maar dit kom daarop neer dat ons volk bewustelik ons onderlinge verbintenis tot mekaar moet koester en daaraan praktiese uitdrukking gee, nie in ‘n gees van uitsoek wie goed genoeg is daarvoor nie, maar van insluit wie hulle daartoe wil verbind.

      Oor die verband tussen “regulering” en “keuring” verskil ons dalk eenvoudig; die laaste sin van die vorige paragraaf is waarop ek probeer afstuur. Ek sien ‘n duidelike verskil tussen regulering van verblyfreg en keuring van inwoners. Ons beskryf Orania graag as ‘n “doelgedrewe gemeenskap”, ‘n gemeenskap met ‘n strewe en ‘n vooruitsig. So ‘n gemeenskap kyk vorentoe en probeer almal insluit wat sy doel wil help verwesenlik, sy instink is inklusief. Dit beteken nog lank nie dat verblyfreg nie gereguleer moet word nie – eerstens ter wille van formele inskakeling of inburgering, tweedens ter wille van gewone administrasie, derdens om inderdaad te kan handel met ‘n geval waar iemand se voornemens vals was of nie stand gehou het nie sodat sulke verblyfreg onder uiterste omstandighede beëindig kan word.

      Vir my kan die voorgaande in heeltemaal ‘n ander gees as “keuring”, wat ten diepste ‘n uitsluitende of eksklusiewe gees adem, plaasvind. Dis die “super Afrikaner”-gees wat vir ons ‘n diepliggende, eksistensiële risiko inhou. Alle regulering berus nie daarop nie, maar keuring kom moeilik nie daarop neer nie. Nie dat ek oorlief is vir regulering of administrasie nie, maar ‘n sekere beperkte mate is noodsaaklik en as dit goed gedoen word, verdwyn dit op die agtergrond; dan dink mens dinge werk maar vanself so glad.

  6. Wynand 26 November 2013 at 15:37 Permalink

    Afrikaners word deur hulle (ons) self en ander herken. Piet Croucamp mag bedank as Afrikaner, dan is hy nog een. Dit is wanneer mense Afrikanerskap wil definieer om net seker te maak “ongewenste elemente” word uitgehou, dat ons in die bol trap. Ek sou dink na die rampspoedige einde van ‘n deels edele beleid (afsonderlike ontwikkeling) sou ons dit weet – want dit is hoekom die edele elemente daarvan nooit ernstig opgeneem is nie. Daarom: Ek mag dagga rook, my taal meng, nooit kerk toe gaan nie, meisies links en regs beetkry, my hare in dreadlocks dra en sê ek hou nie van Paul Kruger nie, dan is ek nog n Afrikaner.

    Na byna 20 jaar wat Sebastiaan Biehl homself as Afrikaner kom aanbied het, hoor ek nog steeds gereeld dat mense na hom as die Duitser verwys. Dis hoe dit werk.

    Daar is net een internasionale voorbeeld wat vir ons in hierdie bepaalde geval van waarde is: Israel. Ek bedoel nie in hulle hantering van Palestyne nie, maar van Jode. Hulle betaal n hoë prys vir hulle geswore inklusiwiteit, maar beskou daardie prys as die doel van hulle staatskap.

    Die “kom ons kyk wie kan ons uitsluit”-benadering het Orania al duur gekos en ons min in die sak gebring.

    • Ebert 28 November 2013 at 11:29 Permalink

      Die wat Sebastiaan as die Duitser beskryf bedoel dit seker maar tong in die kies of is kwaad omdat hy vir hulle gesê het wat hy dink. Wat my betref is Sebastiaan nog altyd net my vriend en my volksgenoot.

  7. tulp 27 November 2013 at 12:06 Permalink

    Ja, Carel, goed gezien. Dit lijkt de goede weg. Bedankt.

  8. Pieter 28 November 2013 at 17:07 Permalink

    Dis baie interessant om waar te neem hoe maklik daar met woorde en begrippe gespeel word. Die vraag wat in die huidige era gevra moet word is :”Wat was die werklike idee agter die tuislande en hoekom het dit misluk?”
    Die idee agter die tuislande was eerstens geskep sodat die inwoners self versorgend kon raak binne hulle eie gebiede. Daar is egter nie tred gehou met met wat die gekose leiers as onafhanklikheid gesien het nie,naamlik; self verreiking. Beleef ons dit nie vandag nie? Die groot fout wat Verwoerd gemaak het was om nie na Rupert te luister nie. Sy voorstel was dat nywerhede op die grense van die gebiede geskep moes word. Rosslyne in Pretoria is ‘n voorbeeld daarvan.

    Ons kan met die woord…Afrikaner… speel tot ons blou in die gesig is. Die probleem is dat ons moet ophou “Ter wille” mense te wees.Dit laat my dink aan ‘n bokser wat voos geslaan is en dan vir die helpers in die hoek sê om hom regop te hou sodat hy nog slae kan kry.Instede dat ons waar ons ookal beweeg, ons minder toegeeflik is om alles net te aanvaar en op beskaafde wyse meer eise te stel wat ons toekom.

    Orania sal in die toekoms nog baie foute maak, maar een ding is verseker; Hulle het reeds ‘n begin gemaak met groot sukses. Waar staan jy?

    Gaan lees die verhaal van Dawid en Goliat. Wat sal jy vind. Getalle en grootte is van minder belang. Dis op wie jy vertrou. Dis hoekom die Jode uitstaan bo alle nasies. Geloof en eensgesindheid onder mekaar.

  9. Simon 30 November 2013 at 02:53 Permalink

    Carel, dankie jy plaas dinge weer mooi in konteks en gee perspektief binne die raamwerk oor “regulering” vs. “keuring”.

    In jou pa se outobiografie onder “Uitstaande kwessies in Orania – Verblyfreg” skryf hy as volg:

    “Dit ontstel my dat Orania se dorpsraad ‘n keuringstelsel het wat mense afkeur en selfs inwoners kan uitsit….”

    Natuurlik kan dit van twee kante beskou word maar as mens dink Orania is vandag tot ‘n groot mate verteenwoordigend van die Volkstaat tot tyd en wyl ander substansiële groei punte tot stand kom dan gee dit miskien nuwe betekenis aan die idee van inwoners uitsit want in effek sit jy mede Afrikaners uit die volkstaat, letterlik.

    As sulke mense dan die wêreld ingaan en die groter volkstaat afmaak as ‘n klug kan jy hul ook nie kwalik neem nie en dit berokken die volkstaat gedagte skade in ‘n tyd wat die Volkstaat al die Afrikaners (wat die gedagte ondersteun) wat hy kan kry.

    Wanneer ander groei punte tot stand kom sal elk van hul, hul eie aard oor tyd ontwikkel amper soos die verskil tussen Jerusalem en Tel Aviv (soos ek verstaan uit die literatuur)en op daardie stadium sal Afrikaners hopelik ‘n keuse hê om te gaan woon in ‘n plek wat vir hulle werk.

    Tot tyd en wyl sal Orania sy plek as ‘n vang net vir die groter volkstaat moet volstaan en alles vir alle Afrikaners wat die gedagte ondersteun moet wees.

  10. anton 3 Desember 2013 at 16:32 Permalink

    In die kort tyd wat Dr Verwoerd aan bewind was, het hy hom uitgesloof vir tuislande; en hy het ook heel wat bereik. Maar…. vir sy eie mense het hy niks en kon hy ook niks bereik nie. Die konsiliasie-politiek van Vereeniging, Unie en Republiek het hom gepootjie.
    Gelukkig het sy seun Hendrik Jr.hom verbeter; hy het probeer staan op die afrikaanse TAAL en geveg vir groeipunte (oranjewerkers). Jy kan sê hy was sy tyd vooruit, maar die ontstaan van Orania en Kleinfontein het hom reg bewys.
    “Met ope arms” is pragtig ! Geen keuring of regulering nie. Almal(ook kleurlinge) wat afrikaans praat as huistaal, is WELKOM. Deur die druk van omstandighede sal daar oorals in die land van daardie groeipunte kom.
    Arm en ryk, handwerkers en breinwerkers, moet en kan saamleef : ons het tog nog wel soveel christelikheid in ons dat ‘n klassestryd nie nodig sal wees nie ?

  11. Arnold 5 Desember 2013 at 20:55 Permalink

    Daar kan nie veel bygelas word met jou siening nie Carel.
    Selfs mense wat “Goedgekeur” word, kan nie daarvan hou nie. Dit plaas enige mens in ‘n verleentheid. Hy word deur mense in ‘n “klas” ingedeel, en dit plaas ‘n soort van gevoel op daardie persoon dat hy in ‘n kategorie ingedeel is, en dat hy dus net ‘n beperkte lewens ruimte het.
    Is Einstein se kinders, of familie net so slim soos hy was???
    Was sy Pa nie dalk ‘n ou dronklap nie?? Het hy nie dalk ook die kat in donker geknyp nie? Dalk het hy sy vrou gevoeter.
    Die lank en kort van hierdie hele debat is eenvoudig. Elke mens op aarde is uniek.
    Hierdie is ‘n gevaarlikke terrein om op te beweeg, en sal altyd meer kwaad as goed doen.


Lewer Kommentaar

*