08 Mei 2017 ~ 2 Kommentare

Met ’n hamer onder die enjinkap

Geskryf deur Carel Boshoff

Round The Camp Fire

Ons almal weet, veronderstel ek, dat ’n hamer ’n buitengewoon handige ding is. Toe ek en die seuns byvoorbeeld vroeër vanjaar by Majuba moes tent opslaan, kort na donker en in gietende reën, het die afwesigheid van ’n lekker tenthamer wat saam met die braaivleisrooster op die stoep bly staan het, nogal skerp reaksie uitgelok.

En luidrugtig, tot die mate dat die kampeerders langsaan ons mettertyd te hulp gesnel het – seker maar om die kêreltjie wat op sy foon gespeel het toe hy moes inpak se lewe te red. Die ding is: as ’n mens eers een van daardie winkelhaak tentpenne met ’n nat klip in die donker probeer inslaan het, waardeer mens ’n hamer – enige hamer – heeltemal anders as wanneer jy dit nog nie gedoen het nie.

Nou kan ek my voorstel dat Jan Spies êrens al ’n storie kon vertel het van ’n moedelose en gefrustreerde reisiger, iemand wat dalk ook nie so kundig is nie, wat onder beproewende omstandighede langs die pad met motormoeilikheid gekonfronteer word – en geen ander gereedskapstuk as ’n hamer byderhand het nie.

hammer3.jpg245bfd5c-2227-480e-8d2f-a0669fc9ef5bLarge

Ek kan my dit voorstel, want ek het self as student nie met ’n nuwe kar gery nie en moes soms maar so onderweg onderhoudswerk doen. Nou het my kundigheid en geduld my natuurlik nie toegelaat om onder sulke omstandighede met ’n hamer onder die enjinkap los te trek nie, en daarvoor is ek vandag nog dankbaar. Maar ek het dikwels daaroor gefantaseer, gedink hoe ek veral die ou Citroëntjie se dubbelkeël vergasser wat so geneig was om te verstop, sou bydam. As die een keël se sproeier verstop is, wou die enjin nie onder 3000 rpm loop nie en as die ander een s’n verstop is, nie daarbo nie. In elke geval het jy gewens dat jy eerder nie ’n vriend, of erger nog: ’n vriendin by jou gehad het nie!

Die punt is natuurlik dat mens gereedskap moet gebruik vir die werk waarvoor dit gemaak is. Op die oog af vanselfsprekend goeie raad, maar dit word nie altyd ewe getrou gevolg nie. Veral nie op die ietwat meer gesofistikeerde terrein van intellektuele “gereedskap” nie. Ek het twee voorbeelde in gedagte en ek hoef hulle eintlik net te vermeld om ’n oortuigende punt te maak.

Dit is die soort denkbeelde wat mense wat die waarde daarvan ingesien het, dikwels so inspireer dat hulle dit tydig en ontydig wil gebruik, ook wanneer dit omtrent so ontoepaslik soos ’n hamer onder die enjinkap is. Die een is die sogenaamde normaalkurwe of klokgrafiek (ek het onlangs ’n deftiger naam daarvoor gehoor, maar kan dit nie meer onthou nie), en die ander is die sogenaamde 80-20 beginsel.

Nou haas ek my om te bevestig dat beide hierdie instrumente hulle toepassing het, maar dat hulle dit verloor as hulle op die verkeerde tyd en plek ingespan word. Om byvoorbeeld te redeneer dat ’n gemeenskap met ’n klokgrafiek beskryf moet kan word – min regtig rykes en min regtig armes met die meeste in die middel tussen die twee – hou nie rekening met die werklikheid nie. Óf die hele gemeenskap word nie in berekening gebring nie, soos in ou apartheidsdenke, óf die middelpunt lê nie waar die meeste van ons dit sou verwag nie.

Hoewel, selfs as mens die middelpunt sou rondskuif om jou voorskriftelike beskrywing te probeer pas, hou dit nog nie rekening met die feit dat die oorwig van elke funksionele gemeenskap arbeiders is wat nie sonder meer tot die professionele middelklas, waaruit die voorspraakmakers vir dié teorie meestal kom, behoort nie. Teen die tyd dat die parameters vir die grafiek só aangepas is dat die data wel ’n eweredige klokgrafiek oplewer, vind mens jouself waarskynlik nie meer in die parameters terug nie en sou dit nuttiger gewees het om die werklikheid van ’n grafiek wat taamlik skeef na die een kant toe trek, onder oë te sien.

Dieselde geld vir die 80-20 beginsel. Die teorie is dat 20% van mens se inset gewoonlik 80% van die resultaat lewer en 80% van jou geswoeg net 20% van die resultaat. Die gevolgtrekking: konsentreer op die belangrikste 20%. Weereens nie sonder meriete nie – in die regte konteks. Bestuurders byvoorbeeld, wat sekerlik nêrens naby die middel van die klokgrafiek van enige gemeenskap lê nie, kan dalk bekostig om só daarna te kyk.

My diepsinnige broer Wynand sê egter noudiedag toe ons daaroor gesels: “Ja … ek het ook al daaroor gedink. Wanneer ek my koeie melk byvoorbeeld. Dan het mens kans om te dink. Ek het ook al agtergekom dat mens 80% van die melk in die eerste 20% van die tyd uitkry. Maar as mens jou elke keer net met daai 80% tevrede stel, is jou koei binnekort droog. Dan kry jy nul persent. ’n Mens moet maar jou werk doen, die lekker én die sleur.”

Wat meer kan ek sê? Hou maar die hamer vir die kap!

 

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Met ’n hamer onder die enjinkap”

  1. Ebert 9 Mei 2017 at 10:18 Permalink

    Dankie Carel, dit laat my dink aan iemand wat gewaarsku het dat as ‘n hamer jou enigste stuk gereedskap is, jy geneig is om alle probleme vir spykers aan te sien. Die bedoeling natuurlik om ons aan te moedig om die waarde daarvan in te sien om ewig ‘n student te bly.

  2. Willem 18 Mei 2017 at 19:14 Permalink

    Carel dit laat my dink aan ‘n kollega wat 2 citroens gehad het om sodoende een aan die gang te hou. Dit was ook die voertuie wat die ligste op brandstof was wat hy ooit besit het. As die een voertuig nie op blokke was nie, was beide op blokke.


Lewer Kommentaar

*