17 Mei 2013 ~ 7 Kommentare

Mediaverklaring: Groter steun vir Orania in Europa

Geskryf deur Jaco Kleynhans

‘n Afvaardiging van twaalf lede van die Orania Beweging, insluitende die President, Onderpresident en Uitvoerende Hoof van dié organisasie, het sopas van ‘n suksesvolle 22 dae besoek aan vyf Europese lande teruggekeer. Volgens Jaco Kleynhans, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, neem steun vir Orania sterk toe in talle Europese gemeenskappe en is konkrete steun vir projekte in Orania tydens die besoek verwesenlik.

“Die Orania Beweging ontvang die afgelope paar jaar finansiële ondersteuning vir maatskaplike projekte van organisasies in Nederland, België en Italië. Die afgelope vyf jaar kon openbare behuisingsprojekte wat tans 8% van Orania se inwoners huisves, deur middel van hierdie ondersteuning ontwikkel word. Hierdie organisasies het tydens vanjaar se besoek bevestig dat hulle steeds by projekte soos behuising, onderwys en maatskaplike dienste in Orania betrokke sal wees. Europeërs met wie ons oor steun vir ons maatskaplike projekte vergader het, het aangedui dat hulle hou van die Orania-model om Afrikaner-armoede te takel. Dit is veral Orania se fokus op selfstandigheid eerder as afhanklikheid wat hulle geprikkel het.”

Die groep Oraniërs het tydens vanjaar se toer ook op ekonomiese ontwikkeling gefokus. “Ons ontvang toenemend navrae van Europeërs wat graag in die Orania-ekonomie betrokke wil raak. In Nederland het ons met parlementslede gesels oor die moontlike werf van beleggers in Nederland. Ons ambassadeur in Duitsland, mnr Aaron Kahland, het die groep Oraniërs ook aan moontlike beleggers bekendgestel. In Suid-Tirool in Italië het ons met dié semi-outonome provinsie se Kamer van Koophandel oor moontlike handelsbande en potensiële projekte om hernubare energiebronne in Orania te ontwikkel, gesels. ‘n Kenner van sonenergie in Suid-Tirool beplan om binnekort ‘n verslag saam te stel oor die ontwikkeling van ‘n klein sonenergieprojek in Orania. Ook in Suid-Tirool is daar met die grootste landbou-organisasie oor die opleiding van Orania se kleinboere gesels. Daar word beoog om ‘n aantal kleinboere uit Orania na Suid-Tirool vir opleiding te stuur. Ons het ook met die premier van Suid-Tirool ontmoet en groter samewerking tussen Orania en die regering van Suid-Tirool word nou in die vooruitsig gestel.”

Openbare geleenthede is in België, Italië en Switserland toegespreek en mense het sover as 300 kilometer gery om na die sprekers uit Orania te kom luister. “‘n Bekende sakeman van Switserland en uitvoerende hoof van ‘n maatskappy met meer as 3000 werknemers, dr Daniel Model, het ons by sy Modelhof-instituut ontvang. Mense van regoor Switserland en die suide van Duitsland het die byeenkoms bygewoon en daar is ernstig oor ekonomiese samewerking gesels. Ons ervaring was dat daar toenemend in Europa steun is vir gemeenskappe wat deur selfstandige ontwikkeling hul taal, kultuur en tradisies wil behou. Talle organisasies, politieke partye en invloedryke persone met wie gesprekke gevoer is, het aangedui dat hulle bekommerd is oor die druk wat demografiese veranderinge op minderhede plaas. Orania se model van groeiende selfbeskikking in ‘n ylbevolkte deel van Suid-Afrika is positief ontvang. Orania se verwerping van geweld, rassisme, isolasie en ander soortgelyke eienskappe, wat soms gemeenskappe wat na selfbeskikking strewe kenmerk, is ook verwelkom.”

Deel/Stuur

7 Reaksies op “Mediaverklaring: Groter steun vir Orania in Europa”

  1. tulp 17 Mei 2013 at 11:43 Permalink

    Dit lyk baie goed, Jaco. Ons hoop ook, dat die Europeeërs metterdaad met geld sal kom om in Orania in te set. Sodoende sal daar meer plek kom en moontlikheid vir behoeftige Afrikaners in die plakkerskampe om Volkstaat toe te trek en daar n nuwe lewe te begin bou. Ons denk vooral aan moeders wat alleen is en kinders he en sukkel om te oorlewe. Ook denk ons vir jong mans en vrouens wat gestrand is in SA en nie geld en kanse he in SA nie en nie uit die donker gat uit kan klim nie. Dai Afrikaners moet Orania toekom, waar hulle n nuwe lewe kan opbou, werk kry, werk maak, familie stig en help verder die Volkstaat bou.

  2. Rudolf 17 Mei 2013 at 13:40 Permalink

    Puik artikel.

    Maak mens baie opgewonde om te weet die wêreld begin luister na ons redes vir ons vryheidsstrewe.

    Wel gedaan Oraniërs.

    Julle hou die Afrikaner se naam hoog!

  3. Anthony Schlemmer 20 Mei 2013 at 08:58 Permalink

    Ek vertrou die steun beteken groter finansiele hulp. Steun in die sin van ‘n handruk en klap op die skouer gaan ons nie in hierdie tyd van nood help nie….

    Nieteenstaande puik artikel Jaco. Alles ‘n positiewe stap vorentoe!

    • Jaco Kleynhans 20 Mei 2013 at 09:01 Permalink

      Ons het reeds tydens die toer finansiële ondersteuning ontvang en daar is die vooruitsig vir heelwat skenkings aan Helpsaam en beleggings in die Orania-ekonomie. Die toer het juis daaroor gegaan om meer as net die handdruk en klap op die skouer te kry!

      Dankie vir die ondersteuning!

  4. E Terblanche 20 Mei 2013 at 12:11 Permalink

    Dit is teleurstellend dat hierdie mediaverklaring nie meer dekking in die media geniet het nie.

    Ek kon nie ‘n berig op Maroelamedia, Volksblad, Beeld of Rapport hieroor opspoor nie.

    Dankie aan Ditsem Vrystaat wat wel die storie gedra het.

    • Jaco Kleynhans 20 Mei 2013 at 12:20 Permalink

      Ebert jy is reg. Ek en Carel het met RSG (Monitor en Spektrum) probeer maar sonder sukses. Die koerante het gese: Dit is nie juis nuus nie! Kan jy dit glo? Maar wanneer Orania rugby speel is dit op die voorblad van Volksblad. Ek het een oggend in spitstyd (7:35 tot 7:50)’n lekker onderhoud op Radio Pretoria daaroor gehad. Verder was dit maar Ditsem, De Aar Echo en sulke kleiner pogings. Leopoldt Scholtz het geweier om ons te sien toe ons in Nederland was. Ek het net ‘n e-pos van sy vrou gekry dat hy glo baie besig is!

      • Johan 4 Junie 2013 at 12:54 Permalink

        Wel gedaan aan die lede van die toergroep! Dit is baie jammer dat RSG nie enige dekking wil verleen nie, maar ons kan maar seker probeer verstaan dat hulle in ‘n sekere omgewing opereer. Ek is seker dat noudat Radio Pretoria vanaf Junie maand op die DSTV kanaal 887 gaan uitsaai, Orania en Kleinfontein baie beter blootstelling gaan kry!


Lewer Kommentaar

*