31 Oktober 2011 ~ 7 Kommentare

Malema, nes Terre’Blanche, maak ‘n karikatuur van sy mense

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

As daar een persoon is wat blankes in Suid-Afrika koue rillings gee en hulle emosies opjaag, dan is dit Julius Malema, gunstelingvyand van die meningsvormers en liberale media (is daar enige ander media?) asook van Jan Alleman en die Saterdagmiddagbraaivleis- en politieke praatjies.

Niemand moet Malema en dit waarvoor hy staan, onderskat nie. Die kyk na die res van Afrika leer juis dat ‘n blanke minderheid nie onbeperk die grootste deel van ‘n land se ekonomiese bates kan besit nie, al het hulle dit deur eie arbeid en heeltemal wettig verkry. Die kommunistiese logika van “Ubuntu” en die Afrika-manier om alles as behorende aan almal te beskou is net te sterk.

Malema kan môre sterf en dit sal dinge nie verander nie. Sy voorgangers in die ANC-jeugliga het basies dieselfde goed gesê as hy, net op ‘n onverstaanbare wyse en met pretensieuse pseudo-marxistiese formulerings, terwyl Malema nog beter die taal van die eenvoudiges en agtergeblewenes praat.  Waar daar ‘n hoop gepeupel is, sal daar ‘n voorbok opstaan.

Dit is egter nie die punt nie. Die punt is dat Malema en sy soort eintlik hulle eie stryd bemoeilik en ons ‘n guns doen. Ek verwys nie na die effek wat radikale swart nasionalisme op die hernieude oplewing van Afrikaner-nasionalisme het nie, of na die stoot-faktor wat Orania skielik ‘n alternatief maak nie.

Ek verwys na die stereotipering van swartmense wat Malema onbedoeld bereik en veral die veranderde waarneming in die nie-Afrikaanse kringe en veral die buiteland. Na 1994 was dit onmoontlik om ons saak, dat ons vry wil wees van ‘n swart bewind wat alles doen wat in stryd met ons oortuigings is, te stel. Nelson Mandela het juis dit verteenwoordig wat die buiteland graag as die (enigste) Afrika-suksesverhaal wou sien: ‘n sjarmante, gematigde leier wat presies die beeld van die “goeie swartman” verteenwoordig, wat al die regte goed sê, wat by niemand aggressie wakker maak nie, wat versoening preek en met knipoog en laggend gemeenplase uiter wat as tydlose wysheid in die geskiedenis ingaan. Eenvoudig niemand, ook nie die verteenwoordigers van Afrikaner-belange, kon sy sjarme en sy kamstige morele hoë grond ontsnap nie. Enige poging om Mandela as iemand met ‘n terroristiese verlede en bloed aan sy hande daar te stel was van die begin af gedoem. Dit was nie toevallig nie dat die volkstaatstrewe en sy momentum voor  die 1994-verkiesing daarna soos mis voor die son verdwyn het in die algemene waarneming.

Julius Malema verteenwoordig die anti-Mandela en is tans die maklikste argument vir selfbeskikking: haatdraende, kru, ongesofistikeerde en ongekultiveerde geraasmaker, die stout en ongemanierde seun teenoor die “goeie oupa” Mandela. Juis dit maak hom die held by sy volgelinge. Malema maak van sy eie mense ‘n karikatuur en doen die saak van swart bevryding eintlik skade aan, selfs al mobiliseer hy groot getalle en lig die griewe van die armes.

Niemand in die buiteland kon verstaan hoekom ons nie deur ‘n ander volk (in hierdie geval, die swartmense van Suid-Afrika) regeer wil word nie as die verteenwoordiger die ikoniese Nelson Mandela is. Dit het soos rassisme voorgekom om nie deur ‘n wyse en gematigde leier regeer te wil word nie net omdat hy swart is. Enige poging om te verduidelik dat Mandela net ‘n seremoniële hoof is en die politiek deur meer radikale persone soos Mbeki bedryf word, of dat ons as volk ook nie deur ander blankes regeer wil word nie, was futiel.

Met Malema as die sigbaarste verteenwoordiger van die swartmense word ons saak skielik geloofwaardig. Selfs liberale Europeërs, wat swartmense per se as inherent goed aansien, ys as hulle Malema se lyftaal sien en sy uitsprake hoor. Selfs hulle wil nie deur iemand soos Malema regeer word nie en selfs hulle begryp dat “kill the Boer” en “vat alles wat die witmense s’n is” nie metaforiese en folkloristiese Afrika-sêgoed is nie.

Malema is besig om die tonne goeie gesindheid en simpatie wat ‘n Mandela en die hartseer verhaal van “300 jaar se onderdrukking” geskep het, vinnig uit te put. Dit is selfs vir optimiste moeilik om nog te glo dat Suid-Afrika die een uitsondering op die reël van Afrika-mislukking is.

Soos wat Malema besig is om die morele hoë grond van swart bevryding te laat verbrokkel, so vorder swart bevryding as regverdigbare saak agteruit. President Zuma is nie die regte persoon om dit te stop nie en sukkel ook maar met ‘n negatiewe beeld, terwyl Mandela homself uit die openbaar onttrek het.

Afrikaners moet egter nie te vroeg juig nie. Dit is nie goed genoeg dat jou vyand flaters begaan nie. Jy moet ook iets doen om self die morele hoë grond te beset. Ongelukkig het ons nog steeds ‘n groot agterstand wat ons beeld betref, weens baie suksesvolle propaganda van ons talle vyande, maar ook weens ons eie foute. Net soos Mandela se lig nog steeds skyn en nie ten volle deur ‘n Malema uitgedoof kan word nie, net so sukkel ons nog steeds met die beeld van die “lelike Afrikaner” wat deur persone soos Terre’Blanche, te reg of te onreg, oor jare gevorm is. Dit is nog steeds verbasend hoeveel buitelanders, selfs joernaliste wat eintlik op hoogte van die nuus behoort te wees, die Afrikaner net in terme van die stereotipiese “AWB-bebaarde-boepens-rassis” sien en glo dat die AWB ‘n magtige organisasie is.

Organisasies soos AfriForum en Solidariteit, in ‘n mate die VF+ (wat egter nog steeds as gebore uit die regse voor 1994-bewegings gesien word) en ook die Orania Beweging en die nuwe FAK, en leiersfigure soos Flip Buys, Kallie Kriel, Pieter Mulder en Carel Boshoff (iv) help om die negatiewe beeld te breek. ‘n Afrikaanse Mandela-figuur sien ek egter nie en geen wit persoon kan daardie emosies van jammerkry gemeng met bewondering wat ‘n charismatiese persoon soos Mandela of Obama by die buitelanders wakker maak nie, tans weergee nie. ‘n Leier met die ou boodskappe, met kwasi-fascistiese optrede, opruiende toesprake en rassistiese en Nazi-simpatieë is die laaste ding wat ons nou nodig het.

Dit is beter om geen leier te hê nie as een wat jou in die afgrond lei, óf deur verraad, óf deur uitsprake en optrede wat ‘n verleentheid vir sy volk raak. Ons het genoeg goeie mense wat leiers op hulle terreine is, organisasies wat in die regte rigting werk en ‘n ideaal wat ons saamsnoer.

Deel/Stuur

7 Reaksies op “Malema, nes Terre’Blanche, maak ‘n karikatuur van sy mense”

  1. Frits 1 November 2011 at 09:27 Permalink

    Ek het Orania begin ondersteun agv 2 dinge. Heel eerste is dit n gemeenskap wat nie net praat oor vryheid nie, maar besig is om iets draadwerkliks te doen daaraan. En tweedens hou ek van die manier hoe hulle politieke dinge benader, en n goeie beeld deur gee van die Afrikaner. Orania is n uitsteekende beeld vir die Afrikaner, en word elke dag al hoe sterker.

  2. Ebert 4 November 2011 at 01:31 Permalink

    Puik skryfwerk Sebastiaan, jou insig is foutloos.

  3. Arnold de Beer 4 November 2011 at 18:19 Permalink

    E.T het ons juis teen Malema’s probeer beskerm.
    Die derduisende ondersteuners by sy begafnis, wat seker die grootste in ons geskiedenis was,is bewys van die Afrikaner se strewe na onafhanklikheid.
    Orania was ook sy droom gewees.

  4. Atterjasie 6 November 2011 at 10:41 Permalink

    Ja Arnold, maar sy internasionale beeld was nader aan ’n Malema as ’n Mandela en dis wat die skrywer probeer oordra. Dat ’n leier wat militant, konfronterende politiek sonder oplossings bedryf nie net futiel is nie maar negatief is vir die saak en dat kleiner doelgerigte organisasies sonder die “leier” of te wel “fuehrer prinsiep” baie meer kan bereik.

  5. Sebastiaan 7 November 2011 at 08:56 Permalink

    Arnold,

    Atterjasie sê eintlik wat ek wou sê. Mnr Terre’blanche het meriete gehad en ek is, soos meeste Afrikaners, diep geskok op die wrede manier hoe hy vermoor is en dit is goed dat daar groot getalle mense by sy begrafnis was, ook ‘n groep Oraniërs. Die feit bly egter dat sy beeld, optrede, simbole en taktiek ons saak van vryheid bemoeilik het want dit het selfs konserwatiewe Afrikaners (om van ander volke nie eens te praat nie) vervreem van die AWB en die volkstaat-idee.

  6. Philip 15 November 2011 at 10:23 Permalink

    Sebastiaan, n baie goeie, eerlike skrywe. Een wat n mens verwag van Oraniërs. Stem saam met jou gevolgtrekkings en vergelykings van Malema, Mandela en Terre’Blanche. Historiese perspektief op Terre’Blanche in 20, 30 jaar se tyd sal dit duidelik uitstippel dat hy die Afrikaner ongelukkig meer skade aangedoen het as goed. Stem ook saam met Atterjasie, dat geen leier eintlik beter is as een wat negatief en bespotlik gekarikatuur word. Terre’Blanch was duidelik die beste Afrikaanse orator in ons geskiedenis. Dit gee ek hom toe, maar op n intellektuele vlak was hy nie in dieselfde liga as n Carel Boshoff nie. Malema? Hy is nie een van die twee nie. Hy is en bly maar net n verleentheid vir sy eie mense.

  7. Hannodb 19 Januarie 2012 at 21:06 Permalink

    E.T. en sy trawante het gemaak dat baie mense gesê het “As dit ‘n is wat ‘n Afrikaner is, wil ek nie een wees nie.” Die AWB was ‘n klad op die naam van regse Afrikaners, en het juis die Afrikaner in die arms van die “verligte linkses” gejaag op die stadium wat ons Afrikaner trots en solidariteit die nodigste gehad het. Dit het Orania 10 jaar gekos net om die stereotipes by mense af te breek, kosbare tyd wat beter benut kon word.

    Nou het ons al weer ‘n Afrikanerraad, en heel voor in die koor is ‘n man wat bekendheid – of liewer berugtheid – verwerf het deur ‘n professor te slaan! Behoed ons van sulke leiers, as hulle nie eers kan heers oor hulle eie humeur nie, hoe wil hulle nog ‘n toekoms vir die volk onderhandel? Wat ons nodig het om te oorleef, is Orania se opbouende kultuur, nie die AWB se skop en d**** kultuur nie.

    Jammer as ek op tone getrap het, maar ek dink die AWB moet besef presies hoeveel skade hulle gedrag aan die beeld van die Afrikaner en sy vryheidstrewe aangerig het.

    Vryheidsvlag bo!


Lewer Kommentaar

*