05 Oktober 2012 ~ 6 Kommentare

Lokalisme nou nodiger as ooit vantevore

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

In te veel gevalle word lokalisme gepredik omdat dit goed klink, maar globalisme geleef omdat dit op die korttermyn geriefliker en makliker is en ook aan mense se behoefte van “eerste wêreld standaarde” voldoen. Die belofte van globalisering is dat jy enige produk ter eniger tyd op enige plek kan kry en dit is opvallend in watter mate daardie verslawing aan die belofte maak dat mense nie kans sien om in Orania, of enige plattelandse gemeenskap, te woon nie.

Vir die boere, veral die kleiner boere en die privaat winkeleienaars beteken globalisering in praktyk groot nadele. Groot maatskappye koop massas produkte soos voedsel aan en kan die prys bepaal, wat dit vir klein produsente, met hulle ietwat duurder produksiekoste per eenheid, amper nie meer die moeite werd maak om kos te produseer nie. Die groot maatskappye met hulle verspreidingsnetwerk kan die hele proses beheer. ‘n Soort perverse logika volg wat ook aansienlike omgewingsbesoedeling meebring.

In praktyk beteken dit dat ‘n boer sy produkte weens die feitlike monopolie van groot aankopers soos landswye supermarkgroepe besonder goedkoop moet verkoop en min wins maak. Die groter boere koop die kleiner boere uit en produseer in monokulture wat aangewese is op volksvreemde arbeid en energie-intensiewe masjiene. Die produkte wat deur die maatskappye plaaslik aangekoop word, word na die groot stede se sentrale markte vervoer en dan weer deur die landswye kettingwinkels verpak en na hulle filiale landswyd versprei. Die boer koop dan sy eie produkte by ‘n kettingwinkel duurder terug, nadat dit eers honderde kilometers afgelê het van sy plaas na die stedelike mark en dan weer terug na die naaste dorp se supermark. Geen waarde is toegevoeg behalwe verpakking en die kenteken van ‘n groot supermark nie. In die proses is wel groot hoeveelhede uitlaatgasse geproduseer om die produk heen en weer te ry. Kopers laat hulle flous deur die kamstige kwaliteit van die produk in sy mooi verpakking (addisionele besoedeling), terwyl hulle dit eerder direk by die boer moes gekoop het.

Die huidige staking in die vervoerbedryf wys ons egter hoe broos daardie blink kant van globalisering is. Dorpe en stede staar ‘n tekort aan voedsel in die gesig omdat die verspreidingsnetwerk lamgelê is. Veral stede is al so afhanklik van supermarkte dat ‘n langdurige staking selfs hongersnood in dele tot gevolg kan hê.

In Orania, waar ons eintlik alles tot ons beskikking het om in talle opsigte outark te wees, is ons ongelukkig nog afhanklik van dieselfde logika. Hier is oorgenoeg landbougrond en water, maar by verre die meeste kos wat geproduseer word, word uitgevoer en noodsaaklike voedsel soos groente word net op baie beperkte skaal geproduseer (alhoewel groenteverbouing tans in beplanning is) en die supermarkte koop hulle voedsel veral by stedelike markte, pleks om dit plaaslik te soek en sodoende geleenthede vir groenteverbouing te skep. In ‘n klein mate word dit wel deur die weeklikse aandmark ondervang. Vorentoe moet daar wel ‘n behoorlike boeremark wees, waar slegs plaaslik vervaardigde produkte verkoop word.

Met tyd, en met die regte leiding, sal dinge wel in plek kom. Kursusse om mense op te lei hoe om groente te plant moet aangebied word. Grond wat onbenut lê moet verhuur word vir groenteverbouing. Winkels moet voorkeur gee aan plaaslike produkte en inwoners moet Orania-produkte eerder as produkte van elders wil koop. Daar is nog heelwat werk wat gedoen moet word, sodat ons in tye van nood selfstandig kan funksioneer.

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Lokalisme nou nodiger as ooit vantevore”

  1. Jannie 11 Oktober 2012 at 05:28 Permalink

    Goeie dag.Ek glo die fisie en positifiteit wat julle het sal vrugte pluk vorentoe.In n tyd wat ons nou bestaan gaan dinge rof en dit kantel nie na beter toe nie.Ons bly tans in JHB en dis waar dat ons betaal mal pryse vir brandstof en kosse,en dit word elke maand net duurder.As ons direk by die boere kan koop,en hulle ondersteun,sal dit beter gaan met al 2 kante.Dis regtig tyd dat ons volk saam staan en mekaar ondersteun,het sy dit boerdery of enige ander besigheid is.

  2. Tobie 16 Oktober 2012 at 11:45 Permalink

    http://en.wikipedia.org/wiki/Gush_Katif

    Gaan kyk wat het die settelaars in die 1km wye strook reggekry vanaf 1968 toe daar in alle erns begin boer is. 8500 ortedokse Jode in 17 dorpies (settlements) wat naby aan hul God lewe het reggekry wat geen Palistyn of Bedouine ooit kon regkry nie. Die area was genoem Gush Katif, ‘n sukses storie, maar ook tragies toe hul gedwing was in 2005 om uit Gaza pad te gee.

    ‘n Paar fotos van hoe dit daar gelyk het.

    http://www.think-israel.org/miskin.kfardaromhousing.html

  3. Driessen 16 Oktober 2012 at 15:29 Permalink

    10 uit 10 kry die artiekel oor “lokalisme” vir “Helaasisme” ?

    Toe ek daar by Orania ‘n draai gemaak het ‘n aantal jare gelede moes ek die Makadamianeute daar by die supermark koop . Die Supermark aldaar is juis ‘n kettingwinkel en nie eers ‘n “Orania” supermark nie .Ek het dit dat Orania nou sowat twee dekades voorgee om slegs “Lokaal” te wees …….maar helaas nou word geskryf dat “Lokalisme” nou eers oorweeg moet word ? Hoe het ek dit nou met Orania ? Die mens is van meer as ruilhandel afhanklik . Kom nou !!

  4. Driessen 16 Oktober 2012 at 23:27 Permalink

    “In Orania, waar ons eintlik alles tot ons beskikking het om in talle opsigte outark te wees ”

    Wat op aarde is outark ? Die woord is nie eers Afrikaans nie ! Outargie is selfbeskikking maar hoe beskryf julle dit ? Onhaalbaar is so ‘n gedagte …jy is en sal interafhanklik wees of sterf ..dis dit.

    Indien enigiemand meer wil weet oor die geskiedenis van die Europese ekonomie ( Die Oraninia beweging het mos as grondslag die Europese bloedlyn of nie ? ) , gaan maar na die naslaanboeke …die ruilhandel en die ontstaan van die moderne ekonomie . ( Dit is graad agt/nege inleidingswerk ..en so fundamenteel as wat kan kom ! )Onsin . Jammer !

  5. Thys Basson 21 Oktober 2012 at 10:03 Permalink

    Goeiedag Oraniërs en ondersteuners van ons vryheidsideaal

    Lokalisme is inderdaad deel van die oplossing, dit bring my by die volgende vraag: Kan ons nie ‘n projek van stapel stuur om meer Afrikanerdorpies op strategiese punte regoor Suid-Afrika te vestig nie?

    Ekvoel Afrikanerdorpies sal uiteidelik ‘n lewensbelangrike rol speel om ons volk selfstandig te maak. Vryheidsliewende Afrikaners moet gemeenskappe kan vorm waarin hulle kan saamwerk om hulle ekonomiese, politieke en veiligheidsbelange te bevorder.

    Op die oomblik is elke Afrikanervesting deel van ‘n groter munisipaliteit waarin ons mense ‘n onbeduidende minderheid is, en daar is nie volkseie strukture om ons gemeenskaplike belange te bevorder en te befonds nie. Dus is ons soos enkele atome wat ronddryf in ‘n groot oplossing, sodat ons “reaksiepotensiaal” en unieke “atoomeienskappe” heeltemal “afgewater” is. As ons iets kan doen om al hierdie verspreide atome bymekaar te bring in plaaslike konsentrasies. Kan ons effek baie sigbaarder en sterker wees.

    As ons bv nog “Oranias” in plattelandse gebiede binne die bereik van groot getalle Afrikaners kan skep, dan maak dit, dit vir hulle ook makliker om daarby aan te sluit. Ek dink veral ook aan die groot getal werklose en daklose volksgenote.

    As ons ‘n model kan ontwerp wat hierdie mense darem ‘n bietjie sekuriteit kan bied. Al is dit net om vir hulle ‘n lappie grond beskikbaar te stel waarop hulle ‘n netjiese houthuisie kan bou. En waar hulle kinders kan skoolgaan en veilig speel. En deur ‘n volksnetwerk op te bou kan mense dalk gehelp word om projekte te begin om ten minste self brood op hulle tafel te kan plaas.

    Dan het ons mos al klaar iets geweldig groots uitgerig. Ofskoon dit tot groter politieke erkenning sal lei, is ‘n oop vraag. Maar mense wat saam woon en werk is noodwendig ‘n politieke faktor. Veral ook as hulle die getalle in ‘n andersins ylbewoonde distrik kan opstoot.

    Mettertyd kan ons plaaslike munisipale verkiesings met selfvertroue aanpak. En dan die magte van derdevlakregering aanwend om ons ideale verder te bevorder.

    kan iemand van Orania dalk iets op hierdie forum skryf om te verduidelik hoe die aandeleblokskema bv werk. En hoe dit gaan met Orania se konstitisionele hofgeding met die distriksmunisiplaiteit? Is daar enige regspresedent wat hierdeur geskep is wat die agterdeur ooplos vir ander gemeenskappe om dieselfde pad as Orania te volg?

    Orania is volgens my die pionier van selfstandige plaaslike gemeenskapsvorming. Ek wil hê dat almal wat belang stel, by Orania moet kan leer. Dit sal Orania ook in die proses sterker maak, en sy rol as voorlope op die gebied verder bevestig.

    Hoe dink julle?

  6. Thys Basson 21 Oktober 2012 at 10:15 Permalink

    En ek wil graag almal bedank wat van hier af my blog http://www.afrikanervryheidsforum.wordpress.com besoek het, dit is as meer as sestig mense. As ek dalk iets daar gesê het wat Oraniërs sou kon ongelukkig maak, voel vry om verder te praat en te debatteer. Dit is immers waaroor dit gaan. Ek wil hê ons almal moet kan gesels oor sake wat ons raak, en ons gaan nie altyd almal saamstem nie, maar ons weet dat ons harte in die regte plek is, en daarom waardeer ons nogmaals mekaar se insette. En Orania beweging ondersteuners(ek is ook een, al het ek ook my eie sienings) het baie insiggewende insette om te maak


Lewer Kommentaar

*