16 Januarie 2014 ~ 8 Kommentare

Laat Sharon ons van pragmatisme leer

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Die afgelope naweek is een van die grootste leiers wat Israel nog opgelewer het, Ariel Sharon, oorlede. Sy dood is ‘n soort anti-klimaks nadat hy vir sowat agt jaar in ‘n koma was. Sharon het op 4 Januarie 2006 ‘n beroerte gehad. Op daardie stadium was hy op die kruin van sy politieke loopbaan.

Wat Sharon se loopbaan merkwaardig gemaak het, was sy sterk verbintenis tot ‘n volhoubare Israel. Hy het reeds in 1948 as jong soldaat naam gemaak in die Onafhanklikheidsoorlog. Sharon word vandag nog beskou as een van die beste bevelvoerders wat die Israelse regering ooit opgelewer het. Hy was nie net ‘n goeie bevelvoerder nie, maar ook ‘n uitmuntende militêre strateeg wat lof verdien vir vele van Israel se militêre suksesse.

Sharon was vir die grootste deel van sy loopbaan ‘n voorstander van die oprigting van Israelse nedersettings in die Palestynse gebiede van die Gaza-strook en die Wesbank. Kort nadat Sharon in 2001 Eerste Minister van Israel geword het, het hy egter ‘n ander deuntjie begin sing. In 2004 kondig hy die onttrekking van Israel uit die Gaza-strook aan. Volgens alle verwagtinge was sy plan om gedurende 2006 met onttrekkings uit die Wesbank te begin. Sharon se patriotisme teenoor en liefde vir Israel kan nie betwyfel word nie. Hy is egter as ‘n verraaier uitgemaak omdat hy besette dele van die Wesbank aan die Palestyne wou teruggee.

Kyk ons na die Israel van vandag besef ons dat ‘n volhoubare Israel sal afhang van vrede met die Palestyne en vrede met die Palestyne sal net moontlik wees indien Israel uit groot dele van die Wesbank onttrek. Daar is natuurlik ander vereistes soos dat die Palestyne alle aanvalle op Israel moet staak, ook, maar die hoof struikelblok vir vrede is tans die groot aantal Israelse nedersettings in Palestynse gebiede.

Wanneer ‘n mens buite die praktiese politiek staan en nie self vir die oplossing van moeilike vraagstukke verantwoordelik is nie, is dit maklik om suiwer beginsels te handhaaf. Sharon se lewe is ‘n voorbeeld daarvan. Voordat hy Eerste Minister was, was dit maklik om ‘n voorstander van Israelse nedersettings in Palestynse gebiede te wees, terwyl jy ook ‘n permanente oplossing vir die Israel-Palestynse vraagstuk wou sien gebeur. Toe hy Eerste Minister word, het dit hom gedwing om nuut na die vraagstuk oor nedersettings te kyk.

Die Israelse voorbeeld herinner ons tog aan die Afrikaner van die 1980’s. Die meeste Afrikaners het in daardie jare nog geglo dat die Afrikaner vir altyd beheer oor die hele Suid-Afrika sou behou. Geen plan wat die opoffering van dele van Suid-Afrika voorgestel het ten einde vir die Afrikaner ‘n volhoubare tuiste te verseker, het steun geniet nie.

In 1994 het ons, ons Vryheid verloor. In ons strewe na selfbeskikking sal die Afrikaner meer pragmaties en minder kieskeurig moet wees.

Deel/Stuur

8 Reaksies op “Laat Sharon ons van pragmatisme leer”

  1. Abel 20 Januarie 2014 at 23:08 Permalink

    Ek stem vir ‘n mate van pragmatisme in die aanpak van geo-politiese probleme.
    Maar pragmatisme in die politiek kan slegs binne streng gedefineeerde grense afgebaken met basiese beginsels beoefen word.
    Voorbeeld: Dit sal onwys wees om om praktiese redes swart arbeid vanaf Gauteng in te voer en verblyf te verskaf vir lang tydperke op Orania, net om te bewys jy is nie rassisties nie!
    Samewerking met direkte omgewing kan egter tot oplossings lei.

  2. Jaco Kleynhans 21 Januarie 2014 at 08:15 Permalink

    Abel. Ek stem heeltemal met jou saam!

  3. Revat = HY KOM ('n verbuigde vorm van my naam) 21 Januarie 2014 at 15:51 Permalink

    Dag Jaco,

    Jy het nou iets in my wakker gemaak. NEDERSETTINGS! Is dit nie miskien ons oplossing rondom Orania nie? Nedersettings wat deur ekonomies kragtige groepe rondom Orania tot stand gebring kan word wat dan elk ‘n antal volhoubare ondersteunings-projekte insluit.

    Hier dink ek bv. aan die vervaardiging van bv. andersoortige en ekonomies bekostigbare permanente ‘tent’-skulings wat permanente werksgeleenthede sal skep en moontlik ook uitgevoer kan word. So ‘n hoof-projek kan dan aan ‘n paar ondersteunende projekte gekoppel word. Hier dink ek bv. aan om metaangas uit riool-afval te vervaardig om diesel te vervang en ons eie krag op te wek (die newe vloeibare produk is verder ‘n uitstekende bemestingstof).

    Kyk ‘n mens wat in Ethiopi-e aan die gang is rondom die uitbreiding van hulle bosbou, kan met plaaslike kundigheid in die middel van ne^rens ook so ‘n projek van stapel gestuur word. Kosproduksie is natuurlik ‘n ander moet-he^ opsie. Die lys is seker eindeloos, want wat van skole, klinieke, opleidingsentra,ens.

    Ek is seker dat wanneer die kundiges onder ons hieroor begin dink, verskeie uitmuntende volhoubare nedersettings gestig kan word.

    Innige groete,

    Revat.

    Verskoon indien daar tikfoute is, want my bril het gebreek.

  4. G.P. Botha 22 Januarie 2014 at 08:24 Permalink

    P.W.Botha was ook pragmaties destyds toe hy afgewyk het van die beleid van afsonderlike ontwikkeling en gesonde magsdeling as sy nuwe beleid aanvaar het.

    • Jaco Kleynhans 22 Januarie 2014 at 08:40 Permalink

      PW Botha en selfs Vorster se afwyking het min met pragmatisme te doen gevat en veel eerder met ‘n visieloosheid. Almal van ons weet waarvoor Verwoerd gestaan het. Ek weet egter nie veel waarvoor Vorster en Botha gestaan het nie. Orania staan vir Afrikanervryheid. Onbeskaamd. Dit beteken egter nie dat ons pad na vryheid nie met pragmatiese optrede besaai mag wees nie.

      • G.P. Botha 22 Januarie 2014 at 09:02 Permalink

        Beteken dit dat afgewyk gaan word van die beginsel van volkseie arbeid?

        • Jaco Kleynhans 22 Januarie 2014 at 09:20 Permalink

          Nee glad nie. Sou ons dit doen is ons gedoem. Ek sien pragmatisme nie as die afwyking van enige van ons beginsels nie, maar eerder die realiteitsbesef dat bande gesmee en verhoudinge gebou moet word, waar ons nie in die verlede sou dink ons dit moes doen nie.

          • G.P. Botha 22 Januarie 2014 at 09:39 Permalink

            Dan is dit reg so Jaco.As ons afwyk van volkseie arbeid kan ons maar Orania toemaak.


Lewer Kommentaar

*