22 Januarie 2014 ~ 9 Kommentare

Laat ons nou nie ook Oikofobies raak nie

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Oikofobie‘n  Jong en begaafde Nederlandse skrywer het behoorlik die kat in die hoenderhok losgelaat met twee opspraakwekkende boeke wat die afgelope twee jaar uit sy pen verskyn het. Thierry Baudet publiseer gedurende 2012 die boek De Aanval op de Natiestaat waarin hy ‘n sterk argument lewer vir die behoud van die nasiestaat in Europa. Baudet se boek lewer ‘n kritiek op toenemende pogings van die politieke elite in Europa om die nasiestaat af te breek deur landsgrense meer irrelevant te maak en sodoende een groot Europa te verwesenlik.

Vanaf 1 Januarie vanjaar kan burgers van Bulgarye en Roemenië, beide redelike arm Oos-Europese lande, sonder enige toestemming in ander lidlande van die Europese Unie gaan werk. ‘n Groot meerderheid van Nederlandse burgers is ten sterkste hierteen gekant omdat dit werksgeleenthede van Nederlanders ontneem en salarisse afdwing wat weer tot ‘n swakker lewenstyl kan aanleiding gee. Ten spyte van die groot teenstand onder gewone Nederlanders, steun die oorgrote meerderheid van politici in Nederland egter wel die verdere oopgooi van Nederland se reeds byna onsigbare landsgrense.

Baudet vra in sy boek die belangrike vraag oor of die wêreld werklik meer vry en veilig sal wees indien die nasiestaat wat op ‘n basis van gedeelde waardes en ‘n gesamentlike kulturele identiteit gebou is, stelselmatig afgebreek word.

In opvolg op hierdie belangrike vraag skryf Baudet in sy onlangs gepubliseerde boek, Oikofobie, oor die rede waarom daar so ‘n aanslag op die nasiestaat in Europa is. Oikofobie volgens Baudet, is ‘n angs vir die eie. Oikofobie staan teenoor xenofobie wat ‘n angs vir mense anders as jy beteken. Een van die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog, asook die aftakeling van kolonialisme is dat Europeërs ‘n vrees vir hul eie identiteit ontwikkel het. In Nederland speel dit af deur die drang na globalisme. Die aantal Nederlanders wat hul kinders na Engelse skole stuur, iets wat enkele dekades gelede nog totaal ongehoord was, styg skerp en Nederlanders probeer toenemend “globaal” oorkom.

Terwyl ons as Afrikaners nog debatteer oor patriotisme word patriotisme in Europa gelykgestel aan rassisme en Naziïsme. Baudet skryf dat Oikofobie daartoe lei dat Nederlanders hul waarde in die wêreld gering skat en dat hulle voortdurend daarna streef om deur goeie gebruik van Engels ‘n mate van aanvaarding te kry en afstand van hul eie identiteit te skep.

Volgens Baudet is daar drie oorsake van Oikofobie naamlik die uitdagings wat ‘n toenemende multikulturele samelewing in Nederland vir sy burgers inhou. Verdere redes vir Oikofobie is die globalisme wat deur Europese integrasie aangedryf word en die moderne kunste.

Die Afrikaner beleef vandag ook toenemend ‘n soort Oikofobie. Veral in die media moet ons gedurig Afrikaners hoor wat probeer om tog nie te Afrikanerrig oor te kom nie. Die drang om in ‘n globale wêreld aanvaar te word laat mense selfs verengelsing op hulself afdwing. Ook die moderne Afrikaanse musiek, boeke en teater lewer ‘n groot bydrae hiertoe. Net ‘n besef dat jy ten spyte van ‘n liefde vir identiteit steeds suksesvol kan wees, sal hierdie probleem kan teenwerk. Afrikanerorganisasies sal op moderne wyses ons mense weer trots op hul Afrikaneridentiteit moet maak.

Deel/Stuur

9 Reaksies op “Laat ons nou nie ook Oikofobies raak nie”

  1. Anthony Schlemmer 22 Januarie 2014 at 10:47 Permalink

    Ek weet nie wat ons gaan doen nie, maar op die oomblik verloor ons die stryd…..Of so wil dit voorkom.

  2. william 23 Januarie 2014 at 08:30 Permalink

    Dit is nie n skande om trots op jou eie nie,maar dit moet nie wees ten koste van ander nasies nie. Die natuur leer ons dat soort soek soort.Ons moet opstaan en weer trots wees om Afrkaans te wees.

  3. Sebastiaan 23 Januarie 2014 at 16:15 Permalink

    Uitstekende artikel. Suid-Afrika en die Afrikaner is altyd deur Europa beinvloed, gewoonlik met ‘n sekere vertraging in tyd. Ek beleef die verskynsel van “oikofobia” oftewel selfhaat by elke Europese besoek en lees dit toenemend in die Afrikaanse media. Die vraag is: wanneer gaan die pendulum swaai? Vir linkses is daar nooit ‘n “genog!” nie. Pragmatiste sal op ‘n stadium enige beweging, links of regs, wat te vêr loop en sy aanvanklike ideale in ‘n onverbiddelike ideologie laat verander, briek. Fanatici wil egter net verder en verder gaan. Maar die goeie nuus is, as ‘n ideologie op sy felste is en geen ander opinies meer duld nie, as ‘t ware totalitêr raak (en die gelykstelling met enige “oikofilia”/selfliefde aan rassisme, nazisme ens is ‘n totalitêre reaksie), dan is die val van so ‘n onbuigsame ideologie naby. Ook kommunisme se val was onverwags, maar dit is voorafgegaan deur talle burgers wat onder die radar gebly het maar die stelsel en heersende ideologie begin bevraagteken het, al het die elite nog bankvas agter die ideologie gestaan.

  4. Gawie 24 Januarie 2014 at 22:27 Permalink

    Ek sien Stratfor, die geopolitiese intelligensiefirma wat strategiese analise aan verskeie rolspelers verskaf, stel ‘n sterk opkoms van nasionalistiese en “ekstremistiese” partye vir 2014 in die vooruitsig vir Europa.

    Dit wil dus voorkom asof die Europese maghebbers meen dat die pendulum alreeds besig is om te wil swaai en hulself daarop voorberei.

  5. Ben le Roux 28 Januarie 2014 at 16:39 Permalink

    Die ironie hiervan lê in die nasiestaat self. Hulle was juis die produk van die proses wat nou teengestaan word. Kleiner etniese groepies se taal en kultuurgoed was onderdruk en mettertyd vernietig om plek vir vandag se nasiestate te maak.

    In Dan Sleigh se boek “Afstande” kla Nagri die Jood reeds oor die tweeduisend jaar gelede:”Dit is die veroweraar se manier:verwoes heilige plekke, sleep jong mense weg na ‘n vreemde land, ontken hulle bestaan en geskiedenis, belet hulle taal dat hulle geen troos of hoop daaruit kry nie. Ignoreer versoeke, beledig hulle gedurig, verwyt en beskuldig hulle, hou hulle verneder, klein en altyd bang vir die oorwinnaar se geweld.”

    Die skrywer kla maar in dieselfde trant as Nagri. Die aanslag kom ook maar net van dieselfde oord, naamlik van politici af wat ‘n groter magsbasis soek. Om leier van ‘n eenvormige Europa te wees lyk aanlokliker as om leier van ‘n ‘klein’ land in Europa te wil wees.

    Die groot verloorders is etniese verskeidenheid en die individu se houvas op die politici!

    • Ebert 29 Januarie 2014 at 08:07 Permalink

      Interessant Ben,

      Dit wys seker dat nie alle nasiestate dieselfde is nie.

      Aan die een kant is daar die nasiestate soos Frankryk en Spanje waar kleiner kulture verdelg is sodat ‘n “verenigde nasie” gevorm kon word. Tale soos Oksitaans in Frankryk en Aragonees in Spanje moes die knie buig en het vir alle praktiese doeleindes vanuit die sfere van invloed verdwyn.

      Aan die ander kant is daar nasiestate wat onstaan het nadat hulle afgeskei het vanaf groter ryke na ‘n uitgestrekte stryd of wanneer die agteruitgang van daardie ryk die moontlikheid vir afskeiding geskep het. Hierdie tipe state het grootliks onstaan vanuit die solidariteit wat aanwesig was onder inwoners van ‘n spesifieke gebied wat oor ‘n gedeelde kultuur en herkoms beskik het. Voorbeelde hiervan is Nederland wat van Spanje afgestig het, moderne Griekeland wat vanaf die Ottomanse ryk weggebreek het, talle Oos-Europese lande wat deel van die Sowjet-Blok was, Oostenryk en Hongarye wat eens deel van die Heilige Romeinse Ryk was, die Balkanlande wat deel van Yugoslawië was, Israel wat deel van die voormalige Palestina was(Jordanië vorm vandag die ander deel van die voormalige Palestina).

      Die politici wat laasgenoemde geskep het, het nie ‘n groter magsbasis probeer skep nie maar het hulle verset teen die groter magsbasis wat op hulle afgedwing was uit ander oorde.

      Wat interessant is, is dat lande wat nie ryke besit het nie, meestal groter ontverming vir die lot van minderhede koester as ander lande wat van tyd tot tyd geswig het voor die versoeking om empaaier te bou. Die beste voorbeeld hiervan is sekerlik Switserland (wat eers deel van Frankryk was en later deel van die Heilige Romeinse Ryk voordat dit onafhanklik geword het).

      • Ben le Roux 29 Januarie 2014 at 10:35 Permalink

        Kom ons noem hulle Volkstate!

  6. Dr. Krispien 6 Maart 2014 at 16:59 Permalink

    Ek wil graag aanbeveel ook n’bietjie die werk van Roger Scruton te studeer. Hy was die man wat as eerste die begrip uit die psychologie ‘oikophobia’ (oikos = oud-grieks = huis, huishouding of huisgesin)in verband met die ontwikkelinge in die EU gebruik het. Dit lyk vir my dat daar Baudet nie so reg recherche gedoen het of afgeskryf het.
    Groete

    • Jaco Kleynhans 6 Maart 2014 at 17:02 Permalink

      Thierry Baudet het onder Scruton studeer en hulle het al meermale saamgewerk. Ons lees ook graag Scruton se werk by die Orania Beweging.


Lewer Kommentaar

*