20 Oktober 2017 ~ 3 Kommentare

Kursus Komdo 7728: ‘n SAW eksperiment met onbedoelde gevolge.

Geskryf deur Manie Opperman

 

 

Vooraf

Onlangs het ek in my kluis op ‘n pakkie briewe afgekom wat ek presies 40 jaar gelede aan my vrou vanuit die destyds operasionele gebied van Suidwes –  Afrika se grens met Angola geskryf het. Skielik het ek besef dat ek nooit die briewe sedert ek dit geskryf het, weer gelees het nie. Nogtans weet ek nou dat die drama en trauma van die enkele maande grensdiens ‘n permanente effek op my lewe en sienswyses gehad het. So ook, glo ek, het dit die lewens van my destydse makkers beïnvloed.

Kursus Komdo 7728 was een van ‘n paar buitengewone operasionele opleidingskursusse wat deur Danie Theron – Krygskool aangebied is. Dit was bevorderingskursusse tot ‘n hoër rang vir offisiere en onderoffisiere. Alle range was studente wat as infanterieskutters aangewend was. Die program het behels 1 maand op Oshivello in Ovamboland vir teoretiese en praktiese gevegsopleiding, met vereiste fisiese kondisionering, gevolg deur een maand aktiewe optredes van soek – en vernietigoperasies teen Swapo – insypelaars. Ek was 37 jaar oud met ‘n vrou en 4 kinders en was ‘n korporaal in Winterbergkommando onder bevel van Kommandant Antoon Lombaard. Hy het die vorige soortgelyke kursus in 1977 vir hoër offisiere deurloop en het kontakte met Swapo gehad. Sy entoesiasme het my geinspireer om saam met sy seun Antonie (Pyp), ‘n dienspligtige van Regiment Piet Retief, op die kursus te gaan. Twee ander lede van ons kommando, Hannes Schwarz en Harry Light, het ook gegaan.

Alhoewel daar baie grensverhale geskryf is, is hierdie my storie en ek gebruik die inhoud van bogenoemde briewe, alhoewel gesensor, as prikkels vir my geheue.

Oshivello

27 Oktober 1977

Liefling

Ek skryf solank ons briewe nie gesensor word nie. Ons is gisteraand uit P.E. weg met die trein. Gisteroggend moes ons medies ondersoek word en het ook ‘n klomp inspuitings gekry. My arm is nou nog seer. Die ondersoek was maar baie oppervlakkig.

In ons groep is daar 10 mans van wie ek die tweede oudste is. Die ouer man is 51 maar hy praat asof hy vol moed is. Twee mans was reeds op die grens en neem dit maar ernstig op.

 

 

28 Oktober 1977

Ons het gisteraand omtrent 12 – uur by Danie Theronkrygskool aangeland nadat ons goed drie uur lank op die stasie moes wag vir vervoer. Daar was glo ‘n misverstand en die luitenant wat die oorsaak was, het glo ‘n klomp diensbeurte as straf gekry.

Sowat disorganisasie het ek lanklaas gesien. Al die vorms wat ons op P.E. Kommandement ingevul het, moes ons weer hier oor invul. Ons is met gewere en 7 magasyne elk en seiluitrusting uitgereik. Ons kos tot dusver was nie sleg nie. More oggend 6 – uur vlieg ons Grootfontein toe.

30 Oktober 1977

Ons het gisteraand met ‘n troepevliegtuig op Grootfontein aangekom na ‘n vlug van 2 ½ uur. Verder is ons met 2 oop vragmotors Oshivello toe waar ons kwart voor een aangeland het. Die kamp met tente tussen die bome, die warm son het my vir die eerste keer regtig huis toe laat verlang. Ek is altyd dors.

Ons groep is omtrent 130 man van wie die meeste onder 30 jaar oud is. Ek hoop maar ek gaan bybly met al die rondhardlopery. Gelukkig is ons 10 man van die OP saam in 2 tente. Gisteraand het ons braaivleis gehad. Sowat bier en koeldrank drink het ek lanklaas gesien. Op die ou end was dit ‘n algemene singery. Ons is nogal ‘n interessante groepie bymekaar. Dit lyk of ons goed sal klaarkom. Pyp Lombaard trou 31 Desember. Hannes Schwarz van Fort Beaufort en Harry Light is ook in ons tent sodat ek darem ‘n paar mans ken.

Liefde, Jou Man

Majoor Badenhorst was Kompaniebevelvoerder en 2I B Kaptein Potgieter. Daar was ook 2de Lt Swanepoel , Stafsersant Saayman en kpl Swart. Almal Staandemaglede verantwoordelik vir die opleiding. Die effek van vinnige oorplasing vanuit ‘n familie- opset en werksomgewing  na ‘n plek waar ons fisies en geestelik vir oorlog voorberei word, was drasties.. Die program, wanneer ons in die kamp was, het begin met vroeg opstaan, oefeninge, ontbyt, lesings en sporadiese toetse. Die handleiding (Seksie- en Peletonbevelvoerders BM en Komdo Tein Plattelands) is vir die kursus saamgestel. Om te slaag moes ‘n student 50% gesamentlik behaal in ‘n eksamen wat 40% teorie en 60% prakties was. Daar was ook klassifikasieskiet met R1 asook sneldood en Boslaanoefeninge. Handgranaatgooi en gebruik van geweergranate en opstel van pootjiefakkels en Claymoremyne was opwindend.

Die opset was nie bevordelik vir die memorisering van so ‘n klomp werk nie en snags was daar partykeer tyd vir leer, maar dikwels was daar nagoefening dan moes daar ook wagdiens gedoen word. Gelukkig was daar baie demonstrasies.

Verbasend was daar nie ongelukke nie omdat al die opleiding met lewendige ammunisie gedoen is.  ‘n Instrukteur  is beseer deur ‘n handgranaat se ontsteker. Die instrukteurs het baie grensondervindinge gehad. Ek het gehoor waar ‘n instrukteur ‘n student waarsku: “As jy dit doen gaan, Swapo jou doodmaak!”  Ons is deur ‘n inligtingsoffisier ingelig oor terroristetaktiek, uitrusting en die gebruik van spoorkaarte. Beleefde hantering van die Ovambo – bevolking was belangrik.

9 November 1977

Liefling

Ek het gister sommer 2 briewe ontvang. Dankie vir die nuus en foto’s. Met myself gaan dit goed. Ek het egter nog nooit in my lewe so aanhoudend warm gekry soos nou nie. Dan moet mens nog in staat wees om met jou vol uitrusting deur die bosse te hardloop. My krag hou maar my stamina wil partykeer opraak. Ek is darem nie al een wat dit veeleisend vind nie. Die man van 51 jaar bly by alles en wil nie enige hulp aanvaar nie. Nogal verbasend. Hy spog hoe suksesvol hy met vroumense is. Hy het  dogters van 17 jaar en 20 jaar wat ons gesien het toe hulle afskeid van hom geneem het. Die manne terg hom baie oor wat hulle met sy dogters gaan doen as hulle terug is.

Ek is baie bly vir die ekstra eetgoed wat ek saamgebring het. Ontbyt en aandete is goed maar smiddae net tee en beskuit.

Gisteraand was betaalaand. Ek het ‘n paar rand gekry waarmee ek koeldrank gekoop het. (Waarvan ek ±6 ‘n nag drink) Ons het vanaand weer ‘n nagoefening, dus groet ek maar.

12 November 1977

‘n Tweede week is verby en dit is Saterdag. Hierdie week was nogal ‘n rugbreker. Die hitte bly verskriklik en vang baie van ons kwaai want ons is feitlik die hele dag in die veld. Donderdag het ons seksie ‘n roetemars van 22 km deur die bos voltooi nadat ons die oggend 2.4 km met uitrusting gehardloop het. Dit is interessant om die vermoeidheid op elke man se gesig te sien, die rooi oë en hemde wat wit van salpeter is. Die gevegsopleiding waar jy met jou uitrusting in die bos moet hardloop, platval, skiet, opspring, platval en skiet en so aan is seker die uitputtendste. Gelukkig is ek besig om fikser te word, want vanaand het ons 5 km gehardloop en ek kon dit darem klaarmaak. Ons het nou ‘n sjef gekry sodat die kos heeltemal goed is. Die kleurlingkok het my na jou etes laat verlang. Omgekrapte mae (Jippo guts) is algemeen.

13 November 1977

Vanoggend het ons ‘n kerkdiens gehad en daarna ‘n lesing oor makkerhulp. Moreaand kom ons nie terug kamp toe nie maar gaan in die veld slaap. Ons word met rantsoenpakke uitgereik. Van die manne kan ‘n blikkie kondensmelk op eenslag uitdrink. Ons het elkeen ‘n klein Bybel van die Gideons ontvang.

 

18 November 1977

Vanaand is die eerste keer hierdie week dat ons in die kamp slaap. Ons is feitlik dag en nag in die bos besig met oefeninge en het snags wanneer ons kans kry sommer met stewels aan op die grond geslaap. Om alles te kroon het ons een nag nat gereën. Die haakdorings versuur ‘n mens se lewe. Ek weet nie hoe ons klere hou nie. Ons sien af en toe kleinwild en verder is daar ‘n trop olifante hier naby. Die swartes lyk nog redelik wild en baie dra pyl en boog.

Ons opleiding nader nou die einde. Ek moet sê ek het geweldig baie geleer. Volgende week moet toetse afgelê word en prakties is baie belangrik. Ons moet studeer, maar raak maklik bo-op die boeke aan die slaap.

Ek dink nie daar is iemand wat nie skrikkerig voel oor wat vorentoe gaan gebeur nie.  Sommige is meer as net skrikkerig. Ons vind die omstandighede baie anders  as hoe ons dit vir ons self voorgestel het. Die voorkoms van baie mans het nogal ingrypend verander. Party se familie sal seker 2 keer moet kyk om hulle te herken. Ek het heelwat gewig verloor. Die SAW het in ‘n paar weke meer reg gekry as die “Weight Watchers” in maande. Vanaand is dit ons seksie se beurt om kos in te skep en daarna die groot potte uit te skuur. Hier doen ons al die werk self.

23 November 1977

Dankie vir die koeldrank, lekkers en tydskrifte. Prof Marais en Piet van Lill was Maandagaand hier en het dit vir my gebring. Ek het ook vir Rudolph van den Berg van Regiment Piet Retief wat langs ons kamp lê, gesien.

Fase 1 is nou afgehandel. Ons het Dinsdag en Woensdag toetse afgelê.Baie aandag word nou gegee aan voorbereiding vir die tweede deel van die kursus wat waarskynlik iets gaan wees om te onthou.

Ons ry in oop vragmotors gepak met sandsakke na ons bestemming. Die rit sal waarskynlik die hele dag duur, maar gelukkig pla die son my nie meer baie nie.

Prof Eddie de Jager en Janette Smith van Fort Hare het vir my geskryf en sterkte toegewens. In ‘n brief van my Pa en Ma skryf Pa dat hyself so iets soos ek sou wil doen vir die ondervinding. Ma sê sy is seker ek geniet die veldlewe baie.

Voor ek vergeet: my testament by Barclays is nog geldig. Saterdagaand het ons ‘n braaivleis gehad. Die manne was uitbundig en het die instrukteurs met kamoefleer-verf swart gesmeer. Sondagoggend moes ons hardloop om die gevolge van die partytjie uit te sweet.

Oor ‘n uur word ons finaal geinspekteer. Ek voel soos ‘n pakesel met al die ammunisie en ander uitrusting. Ons is swaarder bewapen as die groepe voor ons.

Liefde

Jou man.

 

Operasioneel

Vir die opsfase het ons seksie bestaan uit ons 4 vriende van Winterberg asook ‘n Lt. Aucamp, Bennie Schoeman, die ou man en nog twee ander. Hannes Schwarz is as seksieleier gekies. Hy het hom baie goed van sy taak gekwyt en was deurgaans onvermoeid en baie  versigtig. Sy werk by Natuurbewaring het goed te pas gekom. Onder sy leiding het ons nooit op patrollie verdwaal nie. Hannes het ‘n kitaar met fase 1 saam gehad en het, as daar geleentheid was, vir ons gespeel. ‘n Populêre versoek was “Don’t cry for me Maria”. Ek moes my R1 verruil vir ‘n swaarloop R1 met 15 magasyne. Vanaf Oshivello het ons met Unimogs na ‘n basis by Mahanene gery. Daarvandaan is ons na tydelik peletonbasisse ontplooi. Ontploffings en masjiengeweer-sarsies in die verte het sporadies voorgekom. Ons was nou in ‘n oorlogsgebied.

4 Desember 1977

Liefling

Dit is nou 1 ½ maande dat ek van die huis af weg is. Ons leef so afgesonder dat ek nie eens altyd kan sê wat die datum is of watter dag van die week dit is nie. Dit is baie droog en water is maar skaars. As ek sou sê dat ek nou dors was soos nooit te vore is dit nie ‘n oordrywing nie. Van ons lede het al begin water uit staande poele drink. Ek het die water eers in my Dixie op my kleinstofie gekook. Ons moet lang distansies loop en die voortdurende waaksaamheid eis van ons almal sy tol. Humeure is maar baie kort en geduld met foute min. Gelukkig is ek ook minder agterlosig as normaalweg. Wanneer ons by Ovambostatte verbyloop ignoreer hulle ons.

Na hierdie ondervinding dink ek gaan ek en jy ‘n lekker luuksevakansie hou, al is dit net ‘n paar dae. (Net nie kamp nie, want ek het nou vir ‘n tyd lank genoeg daarvan gehad.)

5 Desember 1977

Liefling

Ek het vandag 4 van jou briewe ontvang plus die kinders s’n. Dit het wonders vir my gemoedstemming gedoen. Eintlik het ek gister vir jou geskryf want ons het ‘n blaaskans in die basis gekry. Ook geleentheid om te was, skeer en klere te was. Ons sal seker (sensor) of so weer uitgaan.

Ons seksie bestaan uit ‘n uiteenlopende groep wat agtergrond en geaardhede betref. Belgies, Afrikaners, Engelse en vèrlangs Italiaans. Ek is bevrees dat die ou man van 51 miskien homself ooreis het. Hy lyk nader aan 70 en vang partykeer snaakse goed aan. Hy is ons medic maar ons het onderling ooreengekom dat ons mekaar eerder gaan help indien nodig.

Pyp Lombard het vandag 12 briewe gekry.  Meeste van sy verloofde. Sy troukaartjie is ook daarby ingesluit. Sy gemoedstemming het baie verbeter.

Vlieë is seker een van ons grootste plae. As ek op patrollie loop irriteer hulle my deur in my oë of neusgat te probeer inkruip of oor my neus te loop en weier om weggejaag te word. As jy probeer luister, raas hulle so dat jy nie veel meer kan hoor nie.

Ek weet nie of ek weer geleentheid gaan hê om vir die kinders te skryf nie.

Liefde

Die  brief van 5 Desember is dan die laaste in die pakkie. Die gevoel van “Min Dae oor” het begin posvat. Ons was nou gehard, goed opgelei en die skrikkerige gevoel het by sommige plek gemaak vir arrogansie. Ek het ‘n student van ‘n ander seksie hoor kla: “ Hierdie kursus is kontak geguarentee. Ons het nog net twee weke oor en niks het gebeur nie.” Op een van ons vele patrollies teen die Angolese grens het ek ‘n student hoor skreeu in Afrikaans: “Swapo julle is lafharte!” Sommige het gespog dat hulle oor die grens in Angola ingeloop en gaan broek losmaak het.

Na 5 Desember is ons peloton ontplooi in ‘n tydelike basis naby die grens en het daarvandaan patrollies gedoen. Saam met ‘n ander seksie is ons getaak om die nag van 9 Desember hinderlae  te stel op ‘n moontlike insypel roete van Swapo.  ‘n Instrukteurkorporaal was saam met ons seksie. Die seksies se ligging was naby mekaar. Ons seksieleier het elkeen se posisies aangedui en wagbeurte en skootsvakke toegeken. Ons was met toutjies aanmekaar vas sodat waarskuwing stil gegee kon word indien nodig.

Ons het ten volle geklee met ons wapens gereed die nag deurgebring. Die nag het sonder voorval verloop, maar die wind het sterk gewaai. Die oggend ligdag is ‘n veiligheidspatrollie van 2 man gestuur om ons direkte omgewing te ondersoek terwyl ons in posisie lê en wag het. Met hulle terugkoms het die seksieleier aan die basis gerapporteer. Opdrag om gereed te maak om uit te beweeg is gegee. Opeens was daar ‘n paar oorverdowende ontploffings naby ons, gevolg deur die geknetter van outomatiese wapens. Oor die radio het die aanliggende seksieleier geskreeu “kontak” en dat hy verliese het. Die instrukteur by ons het die radio oorgeneem en die seksieleier probeer kalmeer op ‘n manier wat my altyd sal bybly. Ons het gereed gemaak om hulp te verleen. Die 81mm mortiergroep by ons tydelike basis het nou begin reageer deur ‘n rookmortier in die omgewing van die kontak te plaas wat waarskynlik voorkom het dat die seksie heeltemal uitgewis is.  Die vyand het oor die grens onttrek gevolg deur die doef doef doef van 81 mm mortierontploffings terwyl ons in enkelgelid in die rigting hardloop. Dan beweeg die ontploffings verder in Angola in en hou aan vir ‘n rukkie op die spoor van die vyand.

Dit was alles so vinnig en verby. By ons aankoms het ondersteuning uit die peloton-basis per Unimog ook arriveer. Dit was vir my ‘n traumatiese ervaring. Die nutria liggame het nog in gelid gelê soos hulle op kort afstand met groot vuurkrag getref is. Uit die seksie van 10 man was daar 5 ongevalle. 3 Gesneuwel en 2 gewond. Een van die gesneuweldes hoef nie daar te gewees het nie. Hy was van Piketberg en het die vorige dag vir my gesê dat hy net saamgaan vir die ondervinding. Hy was deel van die peloton HK.

Ek het die vyand se stellings bekyk: ‘n L-vormige hinderlaag naby aan die seksie s’n. Die manne het in die hoek ingeloop. Die grond was losgemaak waar elke aanvaller  gelê het. Hopies patroondoppies het daar gelê,  AK47 en RPD.  ‘n RPG 7 is ook aangewend om die skok effek te vergroot. Met die uitbeweeg het die seksie se verkenner enkele meter vanaf sy aanvaller gekom en het hom waarskynlik te laat gesien. Ook die draer van die swaarloop R1 het gesneuwel.

Dit kon net sowel ons gewees het. Ons veiligheidspatrollie sou egter die vyand gesien het. Die vyand het ons seksies se optredes lankal dopgehou en waarskynlik daarvolgens  hulle beplanning gedoen.

Die gebeurtenis het ons geskok. Hoë offisiere het ons besoek en ons het by die oorlewende lede verneem wat plaasgevind het. Na al ons opleiding het menslike gedrag klaarblyklik die oorsaak vir die tragedie gewees.

Ons seksie het steeds ons opdragte getrou uitgevoer maar verdere maatreëls is getref vir veiligheid. Patrollies was nou meer in peloton verband, ons het oop ruimtes (Soshonnas) vermy of daar oor gehardloop. In plek van 2 sandsakke by jou kop, wanneer jy in ‘n tydelike basis is, word behoorlike 2 manloopgrawe gegrawe met claymoremyne voor die loopgrawe gestel. Handgranate word gedra. “n Duitse herdershond word ingespan vooraan patrollies. Seksies bid eers voor hulle uitgaan. Van die manne het kamoefleernet in die hande gekry en soos poncho’s aangetrek. Net die R1 se loop het uitgesteek. Ons tydelike basis het ook nou ‘n 50 Browning in die ingang monteer. Die reënseisoen was op hande en reënbuie het begin val wat veroorsaak het dat o.a. Pyp Lombaard ‘n nag in sy loopgraaf in water deurgebring het.

Ander korttermyn gevolge was van die manne kry nagmerries en skreeu in hulle slaap. Een man dink hy sien ‘n beweging in die nag en begin skiet. Die hele peloton begin op aangewese skootsvakke skiet. Nog een kruip weg toe hy op patrollie moes gaan. ‘n Ander een skreeu in die middel van die nag en hardloop uit die tydelike basis. Daar was nog moontlik ander langtermyn gevolge.

Hierdie gebeurtenis het nie verhoed dat ons seksie opdragte uitgevoer het nie, wat hoofsaaklik patrollies was. Dit was nou werklik min dae en my opleiding het ek afgesluit met terughandiging van uitrusting. Die opleiding het gestrek to 21 Desember 1977. Met die terugvlug vanaf Grootfontein kon ek op Pretoria Watertkloof afklim waar my familie vir my gewag het. Ek was R456.72 ryker weens betaling vir die kursus.

 

 

Afloop

Ek het by my eenheid verneem dat ek die kursus geslaag het en tot sersant bevorder is. Ons gesneuweldes se name verskyn op die Herdenkingsmuur by die Voortrekkermonument. Hulle het die hoogste prys betaal. Ek gee erkenning aan die studente van Kurses 7728 wat opgeoffer het. In die besonder onthou ek my makkers van ons seksie: Hannes, Pyp en Harry en die ander wat met my alles deurgemaak het en oor die jare steeds vriende gebly het.

Danie Theron Krygskool se evaluering van Kursus 7728 het ek nooit verneem nie en ook nie of daar met die eksperiment voortgegaan is nie. Die ondervinding wat ek opgedoen het, kan geen teoretiese handboek bewerkstellig het nie. Ek is steeds dankbaar teenoor die Krygskool en instrukteurs wat dit vir my moontlik gemaak het.

 

 

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Kursus Komdo 7728: ‘n SAW eksperiment met onbedoelde gevolge.”

  1. Karen Janse van Rensburg 24 Oktober 2017 at 12:17 Permalink

    Dankie dat oom Manie hierdie met ons gedeel het. Ek het hierdie skrywe baie waardeer! Julle het so hard gewerk en bitter baie opgeoffer om ons land en geliefdes te beskerm.

  2. Werner Ernst 28 Oktober 2017 at 11:05 Permalink

    Oom Manie, baie dankie dat oom dit met ons deel. As ons weer kom kuier en in die veld soek na rotstekeninge sal ek daaraan dink.

  3. Andre van Rooyen 31 Oktober 2017 at 08:16 Permalink

    Mooi!


Lewer Kommentaar

*