02 Julie 2018 ~ 0 Kommentaar

Kulturele kruisbestuiwing en die tannie met die pienk rok

Geskryf deur Pieter Krige

Daar is waarskynlik min geleenthede wat só duidelik ‘n groepering se kulturele goedere uitbeeld soos ‘n huweliksbevestiging. Tydens so ‘n geleentheid vind mens ‘n konglomeraat van die deursnee van ‘n groepering se eksponente. Eerstens is daar die sterk religieuse en kultiese element wat die seremoniële aard van die geleentheid bepaal en dit gee aan die geleentheid, afhangende van die bepaalde godsdienstige oorwig van die paartjie, ‘n bepaalde uitkenbare karakter. Dit is natuurlik as beide van die selfde denominasie/godsdiens is, wat gewoonlik die geval is. Indien dit oor godsdiensgrense heen plaasvind is die kultiese element van die geleentheid, gewoonlik meer verwarrend, tensy daar ooreengekom is op ‘n bepaalde seremoniële diens, en tradisioneel die vrou s’n.

 

Tweedens vind mens die uitgebreide familie-, vriende- en kollegakring, gewoonlik met hul gades of metgeselle, en tradisioneel hul kinders ook, alhoewel dit deesdae ‘n grootmensding word, só ‘n troue.

 

Derdens tref mens hierdie uitgebreide groep mense, met bepaalde belange by die egpaar wat daar voor staan/kniel/sit afhangende van die gebruik, met hul manier van dinge doen aan. En hiermee bedoel ek natuurlik hul kultuur, alhoewel die verhoudingsbande en godsdiens waarskynlik ook onder die hofie “kultuur” kan val.

 

Ek dink geen ander geleentheid bied ‘n kultuur só uitkenbaar en herkenbaar aan as ‘n tradisionele troue nie. Die Jode, as kulturele en godsdienstige groep het hul herkenbare seremoniële, so ook die Amerikaners, Duitsers, Italianers, Engelse ens. Natuurlik speel sosiale klas/kas/status ook ‘n rol, maar meermale verskil die hoëre dele van die kulturele samelewing s’n slegs van die laere dele in die hoeveelheid blink goedjies wat van die kandelare en tussen die halse hang. Hoe dit ook al sy, mens kan ‘n kultuur herken, volgens my observasie in elk geval, aan die manier hoe daardie kultuur se mense met mekaar in die eg tree, en al die gebeure rondom die bepaalde dag se verrigtinge.

 

Dit bring my by my tema van hierdie skrywe wat ek heel pretensieus en groots aanbied as: “Kulturele kruisbestuiwing” en minder pretensieus en groots “en die Tannie met die pienk rok” alhoewel die grootsheid van die rok ten nouste met die grootsheid van die tannie gelees moet word.

 

Soos ek tussen die vierde “Tant Koek se Hoenderhaan” en ‘n half geprewelde verleë poging van vier dapperes tot “Kinders by dosyne” aan my JC le Roux sit en teug, bekyk ek die Afrikaner kulturele skouspel wat voor my afspeel: Die bewende hande van die heildronkers, die onder die belt en flou grappies van die seremoniemeester, wat lyk of hy op ‘n Orkney mynpaartie tweede gekom het, die kinders wat om die tafels hol, en die mikrofoon wat heel duidelik kringfluit om die mense tog op en wakker te hou; die stoelstaan en kousband en minder en meer mollige dames wat soos ‘n losgemaal agter verlepte rose en loof aan duik; die tiener neefs en niggies wat skelm agter die lapa Camels double clutch en deodorant in hul monde spuit; die laat middeljarige ooms wat die kroeg volstaan en rugby praat; die dominee en sy vrou wat gereeld horlosie kyk soos hul wag op die “segen Vader, segen sop” en die buffet ry wat skielik te lank geword het; die studentevriend met die laptop en sy lekker speakers; en die dansbaan, wat selfs na versoek dat ander moet deelneem, toontrappend deur die bruidegom en bruid deurgetrippel word op hul “spesiale liedjie” waarop hulle gister moes besluit; die twee tannies wat skinder oor die magie wat onder die wit rok skynbaar wys. Alles dinge wat tussen die heildronke en grappies en liedjies deur as eg Afrikaner herken kan word, tot die kulturele kruisbestuiwing later die aand die teorie begin karring.

 

Ek gebruik die woord bestuiwing, omdat dit lekker by die huwelikstema inpas, maar daar is min sprake van die oor en weer wisselwerking van kruisbestuiwing, dit is eerder blatante infiltrasie, wat die aard van die een vir ewig verander, terwyl die ander onaangeraak bly. Dit is hier, ná die poeding en koek sny, dat die tannie met die pienk rok my, en waarskynlik die paar ander observeerders van menslike gedrag wat op die rant van die buitekring by dié tipe geleenthede kantel, aandag trek. Ek sê tannie, maar sy is waarskynlik nie my tannie nie, ook nie oud genoeg om my tannie te wees nie, maar êrens in haar later middeljare. Dit is sy wat hard uitroep dat almal nou moet opspring, en sy giggel en wiggel op die maat van die volksvreemde bewegings van die Macarena en daarna die Hoenderliedjie, en daarna kom die verouderende hippie-oom van die sestigs, in sy klokpypbroek en wys almal, tot almal se verlies, skade en skande, hoe Zorba nog altyd gedoen moet word…

 

Ek sluk maar diep aan die laaste borrel van my JC le Roux, en moet erken, dat alhoewel baie van hierdie gebeure wat vandag hier voor my afgespeel het, erfgoed van ander kulture is, dit darem ‘n eg-Afrikaner geur bygekry het, en hierdie eg-Afrikaner geur, het vandag ‘n pienk rok aan.

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*