26 Januarie 2011 ~ 4 Kommentare

Konserwatisme as lewensbeskouing

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Tydens ‘n skemerkelkie-gesprek met ‘n mede-Oraniër, wat polities nog soekende is, het hy my gevra wat ek as konserwatief beskou en hoekom ek dit as my lewens- en wêreldbeskouing betrag en glo dat Orania en die Afrikaner se strewe dit as fondasie behoort te hê.

Konserwatief is natuurlik, soos liberaal, ‘n woord wat verskillende betekenisse vir verskillende mense het. Dit kan vir sekere mense vertolk word as bedoelende om teen verandering te wees, om verkramp, selfs rassisties  te wees en die verlede te wil terug hê in die konteks van Suid-Afrika. Net so word liberaal in Suid-Afrika dikwels verstaan as links, ‘n gebrek aan waardes, selfs om ten gunste van losbandigheid te wees, terwyl dit in die klassieke sin ‘n redelik sentristiese beleid is, in ekoenomiese opsig selfs regs van die middel.

Daarom is dit belangrik om te verduidelik wat konserwatief vir my beteken en hoekom ek dit aanhang.

Oor konserwatisme is daar al dik boeke geskryf en dit is onmoontlik en ook nie die bedoeling nie om hier ‘n in-diepte verhandeling oor dit te gee. Dit gaan hier oor die kernbeginsel wat ek vervolgens bespreek.
Die groot beginsel van konserwatisme is nie om teen verandering per se te wees nie, maar om na die geskiedenis te kyk om te sien wat werk en waarde het, en wat onwerkbaar is en dus verwerp is.
Die groot maatstaf van konserwatisme is die toets van die tyd. Dit is dus meer as net ‘n politieke siening, dit is ‘n lewens- en wêreldbeskouing wat ook van toepassing op die politiek is.
As die toets van die tyd as maatstaf gebruik word, dan kan ons vasstel dat daar sekere waardes is wat deur al die eeue as reg, goed en waardig om na te strewe beskou is. Uit die aard van die saak beroep ons ons eerste op ons Westerse en veral Christelike tradisie (met die wortels in die Jodedom van die Ou Testament).
Daar is egter ook talle waardes wat as universeel beskou kan word en wat alle kulture hoog ag. Selfs die Ou Grieke en Romeine se waardes (ons praat van die amptelike waardes wat verkondig is, nie van dit wat wel uitgeleef is) is nie so anders as die Christelike waardes nie.

Voorbeelde is die bewustheid van ‘n Hoër Gesag, respek vir ouers en ouer mense, die beskerming van die swakke, die ondersteuning van die arme, die hoogagting vir werk en skepping, die eerbieding van die huwelik, die handhawing van dissipline en orde volgens duidelike reëls. Konserwatiewes beroep hulle dus op dit wat deur die eeue die fondasie van alle min of meer gesonde, standhoudende en stabiele samelewings was en waaroor daar ook vandag nog ‘n meerderheidskonsensus bestaan. Dis net ekstremiste wat byvoorbeeld losbandigheid in watter vorm ook al as aanvaarbaar voorhou en dit as basis vir ‘n samelewing wil gebruik. Ongelukkig is ekstremiste (gewoonlik linksgesind) oorverteenwoordig in die kringe van die sogenaamde meningsvormers.

Die toets van die tyd beteken nie dat nuwe gedagtes en uitvindinge dadelik afgekeur word nie, maar wel dat hulle eers met ‘n porsie skeptisisme bejeën word. Baie dinge kom en gaan, en min het na dekades of selfs eeue nog geldigheid. Maar natuurlik kom daar van tyd tot tyd vernuwings wat die wêreld positief verander en wat gekom het om te bly. Konserwatiewes is ook bereid (of behoort te wees) om vernuwings te aanvaar, maar uit die aard van ‘n konserwatiewe word nie elke modegeur onkrities aangegryp nie.
Vir ‘n konserwatiewe is dit dus lagwekkend dat byvoorbeeld die Europese Unie by die soeke na gedeelde Europese waardes die Christendom met sy tradisie van meer as 1500 jaar eenkant los, maar “waardes” wat dateer uit die laaste 30 of 40 jaar (feminisme, gay-regte, sekularisme, totale gelykwaardigheid van almal en alles)  aangryp en daarop ‘n gemeenskaplike Europa wil bou.

Die konserwatiewe siening gaan wyer as net algemene waardes en geld ook vir literatuur, musiek, skeppende kuns, argitektuur, kleredrag ens. Vat byvoorbeeld die musiek: klassieke musiek het nie verniet die toets van 300 of meer jaar deurstaan nie. Dit is eenvoudig ‘n bewys dat dit iets is wat tydloos is en wat ‘n verryking vir die mensdom is. Ook sekere nuwe rigtings, seker ook aanvanklik met agterdog bejeën, het daardie toets deurstaan, soos Jazz of sekere groepe soos die Beatles. Maar die grootste deel van vanjaar se treffers sal volgende jaar al vergete wees en nog melodie nog teks voeg in elk geval enigiets van waarde toe.
Die kommersialisme word deur konserwatiewes ook juis daarom skepties bekyk omdat dit nie meer daarna strewe om duursame produkte of kuns van gehalte te skep nie, maar hoofsaaklik gemors voortbring wat bedoel is vir ‘n massiewe afset in ‘n baie kort tyd. ‘n Meubelstuk wat maande aan gewerk is, kan honderde jare oud word, ‘n vinnig aanmekaargeskroefde een is niks meer werd na ‘n kort ruk nie.
Dit beteken nie dat vroeër alles beter was nie. Elke tyd het sy dwalinge en mislukkings gehad wat op die ashoop van die geskiedenis beland het. Maar konserwatiewes kyk juis na dit wat oorgebly het en nou nog uitstaan na baie eeue, sowel intellektueel asook materieël. En min dinge wat as “nuut” verkoop word is werklik nuut, dit kom gewoonlik van die ashope van die geskiedenis.

Die gesegde van Paul Kruger, “neem uit die verlede wat goed en edel is en bou daarop die toekoms” is ‘n uitspraak wat tipies konserwatief is. As ons die voordeel van ‘n lang geskiedenis as verwysingsbron het, hoekom word die ou gemors soos onwerkbare ideologieë altyd weer van die ashoop gehaal, terwyl dit wat tydloos is en wat werk, verag word?

Ongelukkig is dit vir die konserwatiewe meesal net beskore om toeskouer, ten beste vermaners te wee. Selde word konserwatiewes in belangrike besluitnemingsposisies geplaas omdat hulle nie geskik is as Messias-figure nie en ook nie die massas kan en wil begeester nie. Dit is teen die konserwatiewe aard om vergesogde beloftes te maak want konserwatiewes is ook realisties en droom nie van ‘n paradys op aarde nie, maar glo aan geleidelike en stapsgewyse verbetering. ‘n Konserwatiewe kan dus nie soos ‘n Barak Obama met groot mooiklinkende, maar inherent niksseggende visioene van ‘n beter wêreld die massas begeester en op ‘n golf van optimism, mediaanbidding en verwagting in die tempels van mag inseil nie.
Eerder is dit die konserwatiewes se lot om gebroke mense en lande wat radikale rotvangers op ‘n vernietigende rit in die afgrond gevolg het, weer op te bou. En soos die geskiedenis homself telkens herhaal, kry hulle stank vir dank. Konserwatiewes spaar die geld, maar dit is lekkerder om linkses te volg wat dit op geskenke vir almal uitgee. Konserwatiewes skep stabiliteit en ‘n modus vivendi, maar linkses gooi die appelkar met idealistiese drome om.
Om op te som: konserwatiewes is nie teen veranderinge nie, maar wil veranderinge bestuur en beheer en waar nodig briek aandraai. Konserwatiewes hunker nie na ‘n beter verlede nie, soos reaksionêres, maar ook nie na die utopia op aarde nie, soos radikales. Hulle is realisties genoeg om te weet dat die verlede nie herhaal kan word nie, maar dat die foute van die verlede vermy moet word en die lesse daarvan geleer moet word om ‘n beter hede te bou wat op die bewese tradisie van die verlede rus.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Konserwatisme as lewensbeskouing”

  1. Jean Du Plessis 26 Januarie 2011 at 12:38 Permalink

    Baie goeie artikel Sebastiaan

    Ek dink veral mense wat hul volk & andere geskiedenis ken, is geneig om meer konserwatief te wees. Moet ook sê dat ek somtyds geskok is om te sien wat die kinders bv. vandag in hul CVO geskiedenis boeke leer in teenstelling wat ons in die 80’s op skool gehad het. Mens wonder soms of ons nie al in die 80’s stelselmagtig om die bos gely is nie.

    Liberale sienings kry amper elke dag net meer en meer room om die mond. In die 1800’s is Darwin se evolusie teorie heeltemal verwerp omdat dit in teenstelling met God se skepping was. Vandag word evolusie in die staat skool en veral op TV soos soetkoek aan ons jeug verkoop.

    Ek dink baie aan bv. sekere rekenaar speletjies se ontstaan. Aan die begin gaan dit oor “Knights, archers & footsoldiers” en hoe jy teen jou opponent kan oorlog maak. Tipies net soos skaak. Dan met nuwer weergawes begin daar ‘n storie lyn. Met nog nuwer weergawes vorder die storielyn so, dat jy opeindig met iets soos “world of warcraft” wat soveel liberale en satenistiese simbole het, dat dit jou naar maak. Gaan kyk maar na meeste speletjies, amper almal toon dieselfde tendens. En dit is soetkoek vir die jeug.

    Liberalisme se wêreldse dinge is in direkte aanval op ons christelike godsdiens. Dit is skokkend om te sien hoeveel mense nog gelowig is in Europa.

    Selfs in SA raak die plekke baie minder waar jy nog konserwatief kan wees en jou kinders reg groot maak. Oor ‘n julle paar jaar kan Orania miskien een van die enigste bastions wees, waar konserwatiewe denke nog gebruik en geag word.

    Soos my pa gesê het “die oorwinnaars skryf die oorlog boeke”. Ek dink ouers van vandag moet baie versigtig hierdie “nuwe” wêrelds dinge aanpak.

  2. Ben le Roux 29 Januarie 2011 at 08:01 Permalink

    Enige gemeenskap het twee teenoorstaande kragte wat op mekaar inwerk.Die behoudende en die vernuwende.Die konserwatiewe en die progressiewe.Sou enige van die twee te sterk wees dan begin die gevaarligte te flikker.Neem as ‘n voorbeeld iets uit die ou tyd uit,die opvatting dat die aarde plat is. Sou die konserwatiewes die idee kon behou dan sou die wereld stagneer en sou daar waarskynlik geen ontdekkingsreise onderneem wees nie.Aan die positiewe kant het hulle die voorstanders van ‘n ronde aarde gedwing om hulle feite en argumente onweerlegbaar te kan bewys voordat die nuwe idee aanvaar is.Aan die anderkant as die vernuwers nie in toom gehou word nie dan is dit soos ‘n weghol lorrie sonder remme teen ‘n bergpas af. Europa kon baie daarby gebaat het as die behoudende element sterker was voordat daar met ‘n multikulti oopdeur beleid begin is.Vandag pluk hulle die wrange vrugte daarvan. Hier by ons was die behoudende elemente ook te swak verteenwoordig toe daar met die oorgang onderhandel was. ‘n Gulde geleentheid om iets sinvols van ‘n koloniale konkoksie te maak het sodoende deur die vingers geglip.

  3. Rod Savage 9 Februarie 2011 at 06:09 Permalink

    I see conservatism as a stable platform ,with a steady growth and development. This provides a strong foundation for a succesfull nation. The the race for money and power forces the greedy and undesirable to rise to the top of the seething greedy masses.

  4. Hjalmar Gerber 11 Februarie 2011 at 18:59 Permalink

    Ek kan lank skryf oor die onderwerp vanuit ‘n persoonlike oogpunt, maar ek voel dit sal meer nut lewer om ‘n paar skakels vir verdere navorsing aan te beveel:

    http://mises.org/daily/910 (1965)

    en die ouer-skakel (ongelukkig meesal met ‘n Amerikaanse siening):

    http://mises.org

    Hierdie is slegs beginpunte, en dit is hoofsaaklik met ekonomiese aangeleenthede behep.


Lewer Kommentaar

*