31 Januarie 2014 ~ 6 Kommentare

Konsentrasie nodig om impak te maak

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Gedurende die 1990’s is daar gereeld na Afrikaners as onmisbaar verwys. Ten spyte van grootskaalse emigrasie na lande soos Australië en Nieu-Seeland was veral Afrikaner dokters, ingenieurs en sakemanne belangrik vir die volhoubaarheid van gemeenskappe, groot maatskappye en selfs die hele Suid-Afrikaanse ekonomie. Afrikaners het belangrike rolle in byna elke sektor van die ekonomie vertolk en sou  jy in 1994 alle Afrikaners uit die Suid-Afrikaanse ekonomie moes onttrek, sou alles waarskynlik platgeval het.

Afrikaners maak vandag ongeveer 5% van die Suid-Afrikaanse bevolking uit en is van alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika dié een wat die meeste oor die lengte en breedte van die land versprei is. Selfs in stede soos Pretoria en Bloemfontein waar daar redelike groot konsentrasies van Afrikaners voorkom en waar Afrikaans steeds ‘n openbare teenwoordigheid het, maak Afrikaners steeds ‘n klein minderheid van die totale bevolking uit. Byna in elke dorp en stad in Suid-Afrika daal die persentasie Afrikanerinwoners.

Daarmee saam moet en sal Afrikaners se onmisbaarheid ook begin verdwyn. Daar bestaan geen twyfel oor die hoë vlakke van opleiding, vaardighede en entrepreneurskap wat steeds vandag onder Afrikaners teenwoordig is nie. Ten spyte daarvan dat Afrikaners uit die staatsdiens en semi-staatsinstellings gedwing is en dat Afrikanerjongmense toenemend sukkel om weens diskriminerende regeringsbeleid toegang tot werksgeleenthede in die formele sektor en veral groter maatskappye te kry, speel Afrikaners steeds ‘n belangrike rol in die land se ekonomie. Hierdie rol is vandag egter minder werd as wat dit 20 jaar gelede was.

Ja voortdurende emigrasie van sommige van die besopgeleide en mees bedrewe Afrikanersakemanne, vakmanne en professionele persone dra by tot die laer vlak van impak wat Afrikaners maak, maar die realiteit dat ons voortdurend, waar ookal ons woon, ‘n kleinerwordende minderheid is, is selfs belangriker.

Die Duitssprekende Suid-Tirolers in die Noorde van Italië is een van die besopgeleide en mees entrepreneuriese volkere in die wêreld. Hulle is ‘n klein volkie van 350 000 mense. Die provinsie Suid-Tirool presteer beter as die res van Italië op byna elke ekonomiese terrein. Hierdie volk maak maar 0,5% van Italië se bevolking uit en sou hulle soos Afrikaners regoor die lengte en breedte van hul land versprei moes gewoon het, sou hul impak baie kleiner gewees het. Een suksesvolle ingenieur of een bekwame dokter in ‘n plattelandse dorp waar munisipale dienste in duie stort, werkloosheid styg, ondernemings maand na maand sluit en misdaad hoogty vier kan hoe goed wees, maar hy sal baie min impak aan die omstandighede om hom kan maak.

Afrikaners kan hoe briljant ook wees, en baie van ons mense is tereg briljant en slaag in moelike omstandighede om bo uit te kom, ons impak in Suid-Afrika sal bly afneem omdat ons demografies ‘n kleiner en kleiner deel van die land sal uitmaak. Die enigste manier om dit teen  te werk is deur te konsentreer. Fisies te konsentreer en ‘n gebied of gebiede te beset waar Afrikaners ‘n groot genoeg deel van die bevolking uitmaak om wel ‘n groter impak te maak. Konsentrasie sal deel van ons strategie moet word indien ons die Afrikaner se voortbestaan wil verseker.

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Konsentrasie nodig om impak te maak”

  1. Ben le Roux 31 Januarie 2014 at 11:48 Permalink

    Ek hoor van mense in Australië, waar die ma weier dat haar kinders, tuis,iets anders as Afrikaans praat!

    Ons moet ruimte skep vir hul terugkeer! Orania blyk daai ruimte te kan wees. Kom ons bou en bou en bou aan hom!

  2. Frik Lotz 31 Januarie 2014 at 13:57 Permalink

    Kom ons gaan stem hierdie verkiesing in ons duisende vir die VF Plus sodat die Afrikaner se saak sterker gemaak kan word. Laat ons die VF Plus se hande versterk om hoop te gee vir die Afrikaner en ook as inspirasie te dien vir ander minderheidsgroepe om ook hul reg op selfbeskikking op te eis.

  3. lieven 1 Februarie 2014 at 21:33 Permalink

    Dankie vir n mooi naadenker! ek hoop dat orania die jaar stewig gaan groei en dat julle jul betalinde lede kan verduble julle sit daad by die woord .Ek het maar min vertoue in die vf veral na ek oorlede prof se boek “dis nou ek” gelees het dink daar aan om FN te stem?

  4. Deon 9 Februarie 2014 at 00:23 Permalink

    Goeie dag
    Ek wil graag na orania toe trek, Ek wil net weet op grond waarvan word n mens toegelaat om daar te woon. Ten opsigte van vermoe, geloof, waardes, en word n mens se agtergrond werklik regverdig nagegaan om te bepaal hoekom sekere omstadighede is soos dit is?
    Laat ek n baie kleinlike voorbeeld gebruik, Ek het al op die blog gesien, dat n dame n man aantree oor hoe hy spel. Ek het std7 skool verlaat en kollage toe gegaan ek moes als in engels doen of nie leer nie, my spelfoute sal dit toon, ek is n baie goeie aambagsman, so ek kan nie kersvashou by n kantoordame se spel vermoe nie. My punt is, is dit die algemeene gevoel oor als soos geloof, hoe jy is hoe jy dink en ooptree, het die mense wag die kuer prosses doen ook so n regiete ruglyn?

    Dankie :-)

    • Jaco Kleynhans 9 Februarie 2014 at 12:22 Permalink

      Deon,

      Afrikaners wat hulself verbind tot Afrikanerselfbeskikking kan in Orania kom woon. ‘n Verbintenis tot die Christelike geloof is nodig. Vir die Afrikaner se voorbestaan is dit nodig dat ons ons taal en kultuur moet beskerm en is dit dus goed dat elkeen van ons daarna streef om beter te spel.

      Besoek gerus Orania en kom kyk vir jouself of jy hier sal tuisvoel. Ons diskrimineer nie teen mense se opvoedingsvlak of enige soortelyke maatreels nie. Die vraag is eerder wat kan jy bydra?

      • Deon 9 Februarie 2014 at 17:23 Permalink

        Jaco,
        Ek was al in orania, ek weet ek kan n goeie bydra lewer met tyd, ek werk aktief daaraan.
        My siening van Orania is so, dit is n heel ander land, ek het daar gesit by n oop hek met n vier foet draad heining en ek was veilig, ek moes gewoont raak daaraan om nie gevaartes te soek soos in gauteng nie, dit was so rustig en anders, soos wat die oumense vertel het. Dit is iets om op trots te wees, dit het my geskok om te sien mense lewe so rustig en vreesloos.
        Ek doen in elkgeval self my dinge, ek verkies dit so, ek voel my vermoe word nie kans gegun om te groei nie as gevolg van my vel.
        En ek dink ook die bybel leer n mens baie sterk waardes, ek gaan nie kerk toe nie, ek het my redes en dinge wat my pla. Ek glo sondag is die Here se rusdag en, maandag staan Hy op en kyk dan, hoe ons, met ons medemens werk, want soms is mense net goed op n sondag.
        Maar nou ja, baie dankie vir jou boodskap.
        Lekker dag.


Lewer Kommentaar

*