18 Januarie 2011 ~ 3 Kommentare

Kom ons praat nugter oor selfbeskikking

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Vandag in Beeld:

Dr. Pieter Mulder, VF+-leier, skryf:

Ek verwys na Leopold Scholtz se rubriek oor Soedan (Beeld, 14 Januarie).

Dit is ’n fout om die ANC toe te laat om die Grondwet gereeld te wysig.

Dit is egter ook ’n fout om te praat van ’n finale Grondwet wat nooit gewysig mag word nie.

Teen hierdie agtergrond is Scholtz se artikel oor Soedan belangrik.

Daarin verduidelik hy hoe die beginsel van etniese selfbeskikking deur die wêreld en die Volkereg erken word as ’n oplossing vir sekere probleme.

Ek pleit om ’n onemosionele, logiese debat in Suid-Afrika oor al die vorme van selfbeskikking as deel van die langtermynoplossing van
Suid-Afrika se taal- en kultuurverskeidenheid.

Dan kan ons begin debatteer oor provinsies met meer magte, kantons met taalgrense, outonome streke en die verskillende wyses waarop
federalisme vandag gebruik word om taal- en kultuurprobleme op te los.

België, Kanada, Soedan, Nigerië, Suid-Afrika en die geskiedenis bewys dat niks finaal is nie.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Kom ons praat nugter oor selfbeskikking”

  1. PIERRE 26 Januarie 2011 at 12:39 Permalink

    DIE MENSE WAT BELANGSTEL IN GROEN ENERGIE OPWEKKING GAAN NA GREENPOWER
    .COM DIT HET INTRESSANTE ARTKELS OOR STOOMENJINS, OPWEKKING DMV DIE SON. JAMMER OM AF TE WYK VAN JULLE POLITIEKE GESPREK MAAR EK WEET NIE HOE ANDERS OM MY KOMENTAAR TE PLAAS NIE.

  2. Johan van Rooyen 3 Februarie 2011 at 20:09 Permalink

    ORANIA STORIES OOR SELFBESKIKKING

    (ORANIA MITES / ORANIA VALSHEDE*)

    *Die valshede mag vals blyk te wees vir ‘n buitestander, maar is nietemin waarheid in Orania.

    Doelgedrewe maar eintlik Droomgedrewe

    Algemene uitlatings uit verskeie monde van verteenwoordigende Oraniërs, is dat Orania ‘n doelgedrewe dorp is, maar is dit werklik so? Die veronderstelling, die uitgangspunt van die Orania oogmerk is selfbeskikking, ‘n volkstaat vir die Afrikaner.

    Orania is eintlik doelgedrewe om die droom te vewesenlik, ‘n droom wat nie bestaan nie. Die feit dat die doel eintlik nog ‘n droom is bring mee dat Orania se droom verstellings kan ondergaan. Die idee van ‘n Afrikanervolkstaat blyk op die oomblik nie op die voorgrond te wees nie, maar is ‘n Federale oplossing in ‘n Federale Suid-Afrika eerder die gekose uitgangspunt. Hierdie twee oogmerke, die volkstaat of Federale opset word ook uitgeruil, blyk dit, afhangende van die gegewe oomblik en persoon wie die uitlatings maak.

    Groeiende Dorp (Realiteit) teenoor Groeiende Volkstaat/Selfbeskikkingsarea (Mite)

    Wat met bogenoemde droom saamhang is die idee dat die volkstaat besig is om te groei, daar word in werklikheid ‘n ontploffing in groei verwag. Na gelang van hierdie groei word na die twintigjarige fiering van die bestaan van Orania kostelik verwys as “Die droom word waar”. Die ironie van die die stelling is, ja, as die skep van ‘n dorp die droom was, is die droom nou ‘n realiteit, nes die Orania Beweging promosie video dit weergee, “Vandag is dit ‘n lekker plek om in te bly, daar word getimmer, gewerskaf, en gebou.” – of so iets.

    Die realiteit van selfbeskikking is egter steeds nie noemenswaardig nie, dit bestaan nie. Die de facto hangende beslissing oor Orania se status as munisapliteit het ironies alles te doen met sy lewe as dorp en niks te doen met sy bestaan as selfregering/ selfregerende gebied nie.

    Laat dit onomwonde gestel word, vir die laaste twintig jaar was daar hoegenaamd geen oordra van mag om self te regeer vanaf die regering van die republiek van Suid- Akrika na die “regering” of maghebbende gesag in Orania nie. Daar is ook hoegenaamd geen skuif in die groter nasie-staat van Suid-Afrika na ‘n Federale opset nie. Dit gaan ook nie gebeur nie – in Suid-Afrika bestaan Federalisme nie, daar is ook geen Federale tradisie nie. Die sentralistiese aard van die ANC-SAKP-COSATU alliansie sal dit nie vir die huidige eers naastenby oorweeg nie en Pan-Afrikanisme sal eerder sien dat Afrika State Federaliseer in ‘n groot Afrika bond as wat die regering van Suid-Afrika dit sal laat gebeur op plaaslike vlak, veral nie om ‘n wit tuisland te skep vir hulle (die swartes) se tradisonele onderdrukkers wat nou bywonders geword het nie.

    Selfwerksaamheid maar eintlik Klasskepping en die hoeksteen van Orania se Nuwe-Apartheid

    Selfwerksaamheid in Orania dien ‘n tweeledige doel. Die eerste doel wat deurlopend aan die groot klok gehang word is dat selfwerksaamheid ‘n groep, in hierdie geval die inwoners van Orania, toelaat om ‘n gebied te beset waar hulle die meerderheid vorm en nie polities by die stembus oorwin/ uitgestem kan word nie. Dit laat die Afrikaners toe om hul eie regering te kies. By die risiko om die ooglopende te stel: watter gebied en watter regering? Daar bestaan nie ‘n Orania Volkstaat gebied nie en sal indien ekonomies suksesvol onmiddelik verswelg word deur duisende swart immigrante op soek na werk, of indien hulle nie in die denkbeeldige volkstaat toegelaat word nie en watter staat kan tans in isolasie of uitsluiting beweeg of handeldryf?, op die grense saamdrom om wel toegang as migrante werkers te verkry (klink dit nie soos klassieke Apartheid nie?). Daar bestaan ook soos reeds genoem geen vorm van wetlike selfregering nie op Orania.

    Maar selfwerksaamheid het ook ‘n skadukant in Orania. Die een van klasskepping, want wat selfwerksaamheid ook beteken is dat blankes huise / kantoorgeboue, strate en sypaadjies moet skoonhou. Blanke bouspanne moet die huise en ander strukture bou. Ryker Afrikaners maak nie huise of kantore skoon nie, ryker Afrikaners swoeg nie om sypaadjies se bossies in die snikhete temperature van die Karoo te probeer tem nie, ryker Orania bewoners werk nie in bouspanne as bouers nie (en hier word nie bedoel die ontwikkelaars of die bouspan “eienaars” nie). Daar word gereeld eufimisties gesê dat Orania gebou word op die krag van die jongmanne van Orania. Die werklikheid is eerder dat Orania hierdie manne opgebruik, as weinig minder as slawearbeiders behandel en die gevolg is dat meeste jongmanne Orania verlaat. Die persoon wat klasverdeling in Orania misken of dalk miskyk lewe in ‘n waan of wil dalk nie so duidelik sien wat om hom of haar aangaan nie.

    Oraniërs se ideale snoer hulle nie saam nie

    Orania is een van die mees verdeelde gemeenskappe wat ‘n mens maar kan teëkom. Indien Orania ooit ‘n volkstaat sou word, sal dit sekerlik binne die bestek van ‘n paar jaar in hul geledere trekkers gereed hê wat wil uittrek na ‘n volgende beloofde land, in verskeie politieke parteie versplinter en daar sal moontlik ‘n groep wees wat sal agiteer om weer aan te sluit by die res van Suid-Afrika! Orania is tans nie polities geaktiveer nie en dit help Orania ironies op ‘n manier, want die politiek in Orania sou die loop geneem het van die talle kerkgroepe op Orania.

    Orania en Afrikaner kultuur verydeling teenoor Orania as Afrikaner Kultuur Beskermer

    Orania – deur verkeie mondstukke – word voorgehou as ‘n dorp wat die Afrikaner kultuur in beskerming neem. Dit wil egter blyk dat dit nie waar is nie, die teendeel is eintlik waar. Orania is eerstens ‘n gemeenskap wat deelmaak van die populêre kultuur onder Afrikaners en Suid-Afrikaners. Die breër gemeenskap van Orania is nie ingestel op die behoud van die Afrikaner kultuur nie, maar beskou die dorp as ‘n plek waar werk gevind kan word en dus ontsnap kan word van regstellende aksie, of ‘n veilige dorp of ‘n dorp waar daar nie “kaffirs” is nie. Daar is wel ‘n klein groep wat die Afrikaner kultuur as primêre doel voor oë hou, maar die groep misluk klaaglik in hul pogings om die Afrikaner kultuur te handhaaf, wat nog te sê uitbou. Dit kan gesien word in die deurlopende swak mobilisering van die breër gemeenskap om deel te neem aan tradisionele feesdae en die totale afwesigheid van innovasie en dinamika om die Afrikaner kultuur te bemark en uit te bou. Die breër Orania gemeenskap woon net nie fees-en kultuurdae by nie. Daar word wel gesê deur besoekers dis lekker om net Afrikaans te praat en wit gesigte te sien, maar dit is so min kultureel as om orkeslede en instrumente te sien, maar daar word nooit musiek gespeel nie.

    Orania dink nie nuut nie

    Nog ‘n mite of meer konkreet, valsheid, is dat daar in Orania nuut gedink word oor die probleme van Afrikaners. Die res van Suid-Afrika vewerp tans die Orania gedagte en die Orania droom – die jurie is egter uit of honderdeduisende Afrikaners wel dit op ‘n stadium sal aanvaar, ‘n mens is egter bevrees die jurie altyd gaan uitbly en nooit die beslissing bring nie.

    Die eerste instink by baie besoekers, hetsy gewone Afrikaners / Suid-Afrikaners /joernaliste, of die intellektuele is dat Orania Apartheid beoefen. Eerste indrukke is nie altyd reg nie, maar is ook nie altyd verkeerd nie. Orania is besig met Apartheid, dit is ‘n feit soos ‘n koei. Die verskil kom egter in by die feit dat die argitekte van Orania, die nakomelinge van die Argitek van Apartheid, nie die res van die volke in Suid-Afrika in klein state wil verdeel nie (hulle kan in elk geval nie, hulle het geen mag nie), maar wil nou die Afrikaner in ‘n klein (baie klein) volsktaatpuntjie op die groter kaart van Suid-Afrika indruk. Dit moet weereens beklemtoon word dat dit gepoog word sonder enige wetlike erkenning van Orania of die sanksionering van duisende Afrikaners.

    Geskiedenis Mite

    Die aanloop tot die ontstaan van Orania word ook gemitologiseer en word ‘n nuwe storie oor hoe en wanneer die droom van Orania ontstaan het geskep. Met enige droom, soos reeds genoem kan gehandel word en word dieselfde gedoen met Orania se voor-geskiedenis. Die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse Aangeleenthede (SABRA) se rol word heeltemal oorbeklemtoon asook die rol van die Afrikanervolkswag. Miskien reeds omdat prof. Carel Boshoff ‘n leidende rol in albei organisasies gespeel het en Orania einteindelik grootliks deur sy hand tot realiteit gekom het.

    Die feite blyk ooglopend te wees dat die magte en invloed wat SABRA en die Volskwag vandag op aanspraak maak t.o.v. hul verlede net nie bestaan het nie, dat dit relatief klein organisasies was en geen beduidende rol kon speel in die narratief van Afrikander Nasionalisme post Verwoerd om Suid-Afrika in die rigting te stuur wat hulle sou verkies het nie. Dit blyk egter (miskien skep ‘n mens hier ‘n nuwe mite) dat SABRA en Orania later veral by monde van Verwoerd se skoonseun en dogter ‘n abortiewe voortsetting van Apartheidsideologie is terwyl sy meester nie meer daar kon wees nie en die res van die Afrikaner regeerders en beleidmakers in ‘n heel ander koers begin beweeg het. Orania is gebore toe die Apartheidregering op sy rug gelê het. Indien SABRA en die Volkswag nie ‘n voortsetting van Verwoerd se ideale was nie en klinies onafhanklik werksaam was, hoekom het hy nie sy eie navorsingsuitsettings of idees vroeër gevolg nie? Die antwoord is dat Verwoerd dood is in 1966 en Apartheid en sy ideologie eers in die laat tagtigerjare of was dit doodgebore?. Laat daar nie ‘n fout gemaak word nie, by risiko om nog ‘n mite te skep. Die blanke in Suid-Afrika wou nog altyd apart beweeg van die swartes, maar dit is slegs met Verwoerd waar apartheid op die wetboeke geplaas was en Apartheid met ‘n hoofletter geskryf kon word. Die begeertes van die individuele lede van SABRA en die Volkswag het skerlik uitgehou met die pre-1994 regering in die hoop dat dinge tog sal verander en ‘n swart regering nie verwesenlik nie. Toe die vet egter in die vuur was in die aanloop tot 1994 (‘n mens moet in gedagte hou dat die oorgang in aanloop was, ‘n proses was en nie ‘n plotselinge gebeurtenis nie), het individue besluit om die Orania poging van stapel te stuur.

    Wie kan hierdie mites weerlê? Ek sal graag wil sien hoe iemand probeer (en daar sal die wees wat gaan probeer).

    Dr. Johan van Rooyen, Secunda

    • Quintin Diederichs 22 Februarie 2011 at 11:59 Permalink

      Dr. Johan van Rooyen van Secunda, Mpumalanga… as die sg. mites rondom Orania jou so baie pla dat jy dit kon regkry om die verveligste langtand skrywe op te dis wat ek al in my hele lewe gelees het, wil ek graag by jou hoor hoe jy dit oorleef in Secunda? Nee regtig… ek moet net weet!!!

      In Secunda gaan dit onbeskryflik baie erg in vergelyking met alles wat Afrikaners al in Orania vermag het. In Secunda geniet die Afrikaner soveel selfbeskikking as wat ons op die Cookeilande het. Hoe op dees aarde kry jy dit reg om elke oggend op te staan en al die misdaad, korrupsie, plaasmoorde, wanbestuur ens. ens. om jou te sien en dan nog tyd te maak om alles wat Afrikaners in Orania regkry te kritiseer??? HOE?

      Asseblief, doen jouself en ons almal net ‘n guns en gaan slaan tent op iewers op ‘n verlate Wes-Australiese strand waar niemand jou sal kan sien of hoor nie want ‘n galbraker soos jy het hierdie ongelooflike kontinent tog nie nodig nie!


Lewer Kommentaar

*