15 Julie 2013 ~ 4 Kommentare

Kom ons fokus eerder op Orania se trekfaktore

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Afrikaners wat na selfbeskikking binne ‘n eie demografiese gebied strewe, insluitende baie Oraniërs, maak gereeld die fout om te veel op die stoot- eerder as trekfaktore te fokus wanneer hulle mense probeer oortuig om hierheen te trek.

Ons weet almal hoe sleg dit op sekere terreine in Suid-Afrika gaan. Plaasmoorde en misdaad in die algemeen is ‘n enorme probleem. Diskriminasie teen Afrikaners in die werkplek, maar ook op taal- en kulturele vlak neem voortdurend toe. Daar is sekerlik baie rede om te glo, soos wat ons tereg glo, dat daar geen toekoms vir Afrikaners in die Suid-Afrika van vandag is nie. Dit beteken egter nie dat Suid-Afrika moet misluk vir Orania om te slaag nie. Om die waarheid te sê Orania sal beter daaraan toe wees indien Orania en Suid-Afrika kan slaag.

Ten spyte van korrupsie, misdaad en diskriminasie is daar steeds baie goeie dinge in Suid-Afrika. Ek het onlangs na ons Europese toer nuwe respek gekry vir Suid-Afrika se lughawens en lugdienste. Suid-Afrika is ‘n mooi land en ons almal geniet die wildtuine, die see en al die bekoring wat die land vir ons inhou. Ons almal is afhanklik van produkte en dienste wat slegs gelewer kan word indien Suid-Afrika se infrastruktuur in plek is. Vroeër vanjaar was ek verras deur die effektiewe diens van die Departement van Binnelandse Sake se kantore in De Aar en Kimberley. In Kimberley is dit byna so maklik om jou bestuurslisensie te gaan hernu as wat dit is om ‘n brood of melk te gaan koop.

Wat probeer ek hierdeur sê? Probeer ek sê dat dit eintlik beter gaan in Suid-Afrika as wat ons vermoed dit wel gaan? Nee, nie noodwendig nie. Wat ek eerder probeer sê is dat ‘n volhoubare en groeiende Orania afhanklik is van mense wat hierheen trek omdat hulle ‘n toekoms vir die Afrikaner se taal, kultuur, geloof en tradisies aan die suidpunt van Afrika wil verseker, eerder as mense wat hierheen vlug weens woede oor al die slegte dinge in Suid-Afrika.

Wat ek ook probeer sê is dat Orania sal sukkel as Suid-Afrika misluk. In Europa het ek gesien hoe suksesvol ‘n land of selfs net ‘n semi-outonome streek is, indien die Grootboet darem nog op sy bene kan staan. Die Duitse minderheid bestaande uit 77 000 mense in die suidooste van België is ‘n goeie voorbeeld. Hulle het ‘n groot mate van eie regering, maar is tog steeds afhanklik van België vir sommige dienste en infrastruktuur. Liechtenstein is ‘n klein staatjie langs Switserland. Dié land is ook baie suksesvol, maar sal sukkel om sonder die dienste van Switserland te funksioneer. Daardeur sê ek nie dat Orania nie êrens in die toekoms op sy eie sal kan staan nie, maar dat ‘n mens volgens jou vermoëns realisties moet wees. ‘n Orania van 77 000 mense sal homself ook omtrent 90% kan regeer, maar indien die hele Suid-Afrika om hom misluk, sal hy probleme kry met telekommunikasie- en posdienste, aflewering van produkte, uitreik van reisdokumente en die lewering van diplomatieke dienste aan sy inwoners. ‘n Orania van 250 000 inwoners mag dalk ‘n ander saak wees.

In Orania glo ons in groeiende selfbeskikking waar ons in vreedsame naasbestaan ‘n toekoms vir ons mense in ‘n eie gebied probeer uitkerf. Ons moet moeite doen om Afrikaners daarbuite eerder te oortuig om positief saam te kom bou aan ‘n nuwe toekoms as om in negatiwiteit na Orania te vlug.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Kom ons fokus eerder op Orania se trekfaktore”

  1. Du Toit Maritz 15 Julie 2013 at 17:28 Permalink

    Jaco, baie dankie vir die perspektief.

    Miskien kan mens selfs verder gaan en sê dat dit met Afrikaners (binne en buite Orania) nie goed sal gaan as dit sleg gaan met die ander nasies en rasse om ons nie.

    Die punt is dat ons ekonomie baie geïntergreerd is, en in die toekoms nog meer sal intergreer: maar binne die geïntegreerde ekonomie is daar heelwat ruimte vir gemeenskappe, en vir gemeenskaps-ekonomie.

  2. Eugene 16 Julie 2013 at 10:26 Permalink

    ‘n Baie positiewe artikel wat uiteindelik verder gaan as die lawwe idee dat selfbeskikking die einde van die Afrikaner se probleme gaan wees. Selfbeskikking is ook anderbeskikking in ‘n beperkte geografiese ruimte en goeie buurmanskap gaan baie help om juis die stootfaktore te verminder. Mag hierdie debat veel verder gevoer word!

  3. Driessen 22 Julie 2013 at 14:21 Permalink

    Jaco Kleinhans is absoluut in die kol wanneer hy in die nuutste nuusbrief die balans in perpektief probeer stel . Ek se probeer want perspektief is voortdurend aan die verander . Ek hou van die klemverskuiwing en stem saam dat dit trek- en stootkragte is wat mense nader aan ‘n universele “Utopia” sal laat beweeg . Ons soek idenditiet en aanvaarding daarvan maar telsefdertyd is ons as mens vasgevang in dieselfde “oseaan ” .Daarom moet die hele oseaan “skoongehou” word en dit is almal ,elke groep ietwat afsonderlik soms, maar altyd in simbiose , se plig om dit te probeer verstaan en uitleef ! Anders is die moontlike gevolge ‘n angswekkende gedagte .

    Goed gedoen Jaco …hou so aan .

    Driessen

  4. Andries Maritz, New Zealand 11 Augustus 2013 at 05:52 Permalink

    Goeiedag en geluk met ‘n objektiewe siening. So ook aan die 3 voorafgaande reaksies.

    Binne Oranie self, sal julle hierdie sienswyse/realistiese benadering GOED/SUKSEVOL moet vestig om te verseker dat alle inwoners dit besef en die noodsaaklikheid van interafhanklikhede met die res van RSA met wysheid hanteer.

    Dit is gegewe dat baie indien nie almal, wat na Orania verhuis, “kwaad en oorlopens vol van ontevredenheid is vir die toestande van RSA” en dat hulle Orania as suksesvolle ontvlugting daarvan wil beleef.

    Op nasionale en internasionale vlak/interafhanklikheid sal hierdie siening van julle ook uitgedra moet word om te verhoed dat Orania nie as “vyand” gesien word nie.

    Sterkte met wat julle te doen staan en mag julle net positief voorbestaan en dit geniet.

    Baie groete.
    Andries.
    NZ


Lewer Kommentaar

*