24 Julie 2018 ~ 15 Kommentare

Keuse vir die Afrikaner

Geskryf deur Johann Dannhauser

Vergun my die volgende kommentaar puntsgewys op die artikel Skotland en ‘n Afrikaner “vrystad” deur Flip Buys:

  • Soewereiniteit is nie deelbaar nie. Soewereiniteit in die volkereg beteken staatkundige / politieke onafhanklikheid. Binne erkende landsgrense kan daar net een soewereiniteit wees, gesetel in die verkose sentrale regering.
    So bv., hoewel die Amerikaanse deelstaat Kalifornië die sewende grootste ekonomie ter wêreld het, is dit nie soewerein nie – dié berus by die Amerikaanse federale regering. Onder sekere omstandighede kan ‘n gedeelte van ‘n land of staat wel afskei, soos bv. Suid-Soedan van Soedan en indien dan aan bepaalde vereistes voldoen word, word ‘n splinternuwe staat gevorm met sy eie soewereiniteit – terwyl die moederstaat sy/haar eie soewereiniteit behou.
  • Die term selfbeskikking is nie altyd duidelik omlyn nie, maar verwys meesal na ‘n volk om seggenskap oor homself te hê – dus eintlik word bedoel verwesenliking van eie soewereiniteit. Daaraan gekoppel is die term vryheid – in hoogste vorm behels dit die situasie waar ‘n volk op eie grondgebied demokraties oor sy eie lot beslis – dus weereens verwesenliking van soewereiniteit.
  • Vryheid is in die gene van die Afrikaner. Dit word bewys uit sy geskiedenis. In die boek Offerland van FA Venter word verhaal dat die dag toe die Voortrekkers opgepak het om terug oor die Drakensberge weer die binneland in te trek, het die karakter Meester as meereisende onderwyser, voor die klas gestaan en die swartbord skoongevee. Hy draai toe om na die kinders en sê vir hulle: “Vergeet alles wat ek julle ooit geleer het. Onthou net hierdie een ding.” Hy draai toe na die bord en skryf daarop in groot letters: “Vryheid”.
  • Die konsep van volk. Uit die Woord is dit duidelik dat bepaalde samelewingsverbande die wil van God is – huwelike tussen man en vrou, gesinne met ouers en kinders, families met voorgeslagte en volke volgens hul geskape etnisiteite. Hieruit kry ook die Afrikaner as volk sy beslag – ‘n konsep wat egter in ons dag deur die Bose so ver as moontlik afgetakel word.
    Daarom is dit nodig, meer as ooit, dat die Afrikaner weer sy volkskap ontdek, daarvan eienaarskap neem en dit met trots uitdra. Dit het niks met diskriminasie te doen nie, maar is bloot erkenning van die geskape werklikheid. Ander etnisiteite word gerespekteer en terwyl elkeen sy plek in die son gegun word, eis die Afrikaner ook syne op.
  • In die lig van die voorafgaande is dit duidelik dat daar vandag ‘n skeidslyn loop deur die Afrikaner as volk: Aan die een kant diegene wat steeds glo hul heil en toekoms lê in die groot bont sg. “reënboog” Suid-Afrika. Dit is egter die SA wat vandag lyk soos dit lyk.
    Aan die ander kant is daar diegene wat glo dat selfbeskikking, uiteindelik in ‘n soewereine, selfstandige en volhoubare Afrikanerstaat die enigste opsie is vir oorlewing en uitlewing van Afrikanervolkskap. Vir hierdie doel sal daar noodwendig op regmatige grondgebied gekonsolideer en uitgebou moet word – laertrek as jy wil.
    Dit is die onontwykbare keuse wat elke Afrikaner vandag in die gesig staar. Daar is nie iets soos “kulturele selfbeskikking” of “vry” tussen aanhalingstekens nie.
  • Onverklaarde burgeroorlog. Sedert 1994 is in SA regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kwotas, plaasmoorde, terroristiese aanvalle, ‘n hemelhoë stapel diskriminerende wetgewing om die swart meerderheid teen die blanke minderheid te beskerm, niks anders as onverklaarde burgeroorlog teen blankes / die Afrikaner nie.
    Dít gesien tesame met toenemende swart politieke radikalisme, ongelooflike korrupsie en die verval van infrastruktuur tot menslik-gesproke onredbaar – wie sien nog in die huidige SA ‘n rooskleurige toekoms vir die Afrikaner?
  • Wat grond betref, is, eerstens grondgryp gronddiefstal. Punt. Daarmee saam moet egter realisties besef word dat vir sy voortbestaan as volk, die Afrikaner êrens op een stuk grondgebied sal moet konsolideer. Dít kan verkry word uit onderhandeling met die regering van die dag, met dien verstande dat die Afrikaner ‘n onvervreembare reg het op ‘n gedeelte van SA as hul vaderland. In hierdie opsig leen die Noordwes-Kaap onder die omstandighede sigself die beste.
    Te Orania en die omliggende aangekoopte grond, beskik die Afrikaner de jure en de facto reeds oor eie grondgebied wat as ononderhandelbare basis kan dien.
  • Emigrasie is nie die antwoord nie. Die Afrikaner het geskiedkundig, juridies en prakties ‘n onvervreembare reg op SA of dan ‘n gedeelte daarvan as hul vaderland. Daarby is daar emigrasie sonder prysgawe van volkskap nie.
    Hoekom regeer die ANC vandag oor die Afrikaner? Net een rede: Getalsoorwig. Hulle is nie beter nie en verdien dit nie op meriete nie. Die ANC is Godloos, korrup tot in die kern en in wese terroristies. Volgens die Woord sal die goddelose nie wen nie, maar wel die gelowiges.
    Dus hoekom padgee uit SA?
  • Daar is ‘n wesentlike verskil tussen stadsbou en staatsontwikkeling. ‘n Stad fokus op plaaslike dienste – munisipale sake – en bly te alle tye onderhorig aan die (soewereine) sentrale regering. ‘n Staat daarenteen vereis ander organe, soos demokrasie, trias politica, burgerskap, toegangsbeheer, wet en orde, arbeidsreëlings, ekonomiese ontwikkeling, eksterne verhoudinge, ens. en beweeg hierin aan na uiteindelik soewereiniteit.

Om saam te vat, die Afrikaner is huidig by ‘n kruispad soos nog nooit in sy geskiedenis nie. Wat dit betref, is uit die voorafgaande die vraag eenvoudig: Is daar ‘n beter keuse as konsolidasie en ontwikkeling te Orania en omliggende gebied tot ‘n soewereine, vrye, suksesvolle en volhoubare volkstaat?   

So ‘n volkstaat is moontlik indien dit in geloof gegrond word op al die beloftes in Gods Woord, een waarvan vervat is in Jesaja 43:18-19: Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.  

Deel/Stuur

15 Reaksies op “Keuse vir die Afrikaner”

  1. Jj 25 Julie 2018 at 10:49 Permalink

    Vryheid deur eie grond gebied en eie arbeid om te verseker ons kinders erf ons vryheid. Ek stem 100% saam die artikel

  2. Tobie Klarens 26 Julie 2018 at 07:52 Permalink

    Net een vraag om vas te stel of Orania n eiendomsontwikkelingsprojek is of n konstitusionele oplossing ?Sal julle alle Afrikaners onvoorwaardelik aanvaar, ongeag hulle finansiele posisie ?Julle kommentaar oor emigrasie, maak absoluut geen sin nie. Miskien moet julle n blad soos ” Aussiekaners ” besoek en die kommentare daar lees van SAs wie reeds daar is.En as julle dink dat julle in julle klein enklawe, n onvermeidelike ekonomiese ineenstorting in die “groter ” SA sal vryspring, dan wag daar vir julle, n onaangename verrassing. Gaan voort met Orania, maar wees eerlik. Bied dit aan as n tweede of derde opsie vir diegene wie nie KAN emigreer nie, vir watter rede ookal. Maar hou om vadersnaam op om veral jong mense te mislei deur dit voor te hou as n konstitusionele alternatief

    • Johann Dannhauser 26 Julie 2018 at 12:44 Permalink

      Orania is basies albei – eiendomsontwikkeling op groot skaal en grondwetlike oplossing. Albei is nodig vir die ontwikkeling van ‘n Afrikanervolkstaat.

      Finansiële status is nie ‘n kriterium vir verblyfreg in Orania nie. Ale ekonomiese stande is welkom. Daar word wel gekyk na vereistes soos Afrikaner-aanpasbaarheid, misdaadrekord, dwelmrisiko, ens.

      Orania is vir Afrikaners verseker ‘n alternatief tot die vervalle toestand waarin Suid-Afrika tans is.

      In Orania werk ons daarna om aansluiting te vind by die diaspora in die buiteland wat belangstel.

  3. Tobie Klarens 26 Julie 2018 at 15:27 Permalink

    Dan net vervolgens n eenvoudige vragie. Wat se aksie is tans aan die gang om die duisende witmense in plakkerskampe, te hervestig in Orania ?

  4. Johann Dannhauser 26 Julie 2018 at 16:25 Permalink

    In beginsel ‘n goeie vraag, maar hipoteties op hierdie stadium. Wie sê hulle wil almal kom? Een van die redes vir die sukses van Orania tot nou, is dat Orania nie ‘n blanke plakkerskamp is nie. As jy in Orania wil vestig, moet jy jouself finansieel kan dra en jy moet huisvesting hê.

    Ander basiese vereistes is dat jy binne die wet en orde van die dorp moet bly en jouself uitdruklik vereenselwig met Afrikanerskap. Daarom is hier noodwendig ‘n keuringsproses, wat ons inklusief eerder as eksklusief maak.

    Hervestiging van assimileerbare Afrikaners op groot skaal in Orania is ‘n reuse uitdaging, een wat tot dusver nog nie daadwerklike aandag geniet het nie, maar een wat nou met GROOT DINK aangespreek sal moet word. Dit gaan oor die heropbou van die Afrikanervolk en die ontwikkeling van ‘n soewereine Afrikanervolkstaat – Boerevolkstaat as jy wil.

    Dit moet ook beklemtoon word dat dit gaan, naas die vereistes van Christenskap, oor volk en nie per se oor blanke vel nie. ‘n Volk het in die volkereg ‘n onvervreembare reg op selfbeskikking en nie ‘n ras nie.Vgl. art 2(7) van die VN Handves. Dat die Afrikaner in sy wese blank is, is sekondêr, nie primêr nie. Dit is die beginselstandpunt en ek gaan nie hier daaroor in enige moontlike twisgesprek tree nie.

    Die feit van die saak is die Afrikaner moet tans en is gedwing daartoe om vir homself dringend en daadwerklik in die vorm van ‘n regmatige, geloofwaardige, volhoubare en soewereine volkstaat ‘n alternatief te skep vir die Suid-Afrika waaruit hy d.m.v.’n burgeroorlog gedryf word.

  5. Hanno Visagie 27 Julie 2018 at 06:48 Permalink

    Staan op die waarheid dat die Afrikanervolk hoofsaaklik van Europese (hoofsaaklik Nederlandse, Duitse en Franse) afkoms is en wil bly, Christene is en Afrikaans as huistaal praat. Hoewel die Afrikanervolk graag met ander groepe aan gemeenskaplike belange saamwerk, is mense van ander etniese bevolkingsgroepe soos die Khoi-San / bruines / kleurlinge, en nie-Christene en huistaal-nie-Afrikaanssprekers nie terselfdertyd ook Afrikanervolksgenote nie. Enigiets waarna die Afrikanervolk streef, gun hy in gelyke mate vir ander.

  6. Jj 27 Julie 2018 at 15:57 Permalink

    Ek ook al gedink dat om die wit plakkers daar te vestig sal goeie idee wees maar toe ek begin somme maak het ek besef dis ekonomies onprakties. Ek iewers gehoor daar 400 000 afrikaaners in plakkers kampe en orania inwooners is om en by 1500, dit beteken orania kan nie n tipe “welfare system” word vir hulle nie want elke 1 orania inwooner gaan moet sorg vir 266 plakker en dis onmoontlik.

    Ek dink eerder die vraag moet nie wees wat doen orania nie maar eerder wat gaan ek en jy doen om die plakkers te leer om vir hulle self te sorg wanneer hulle in orania vestig en dan so ook werk kan skep vir ander?

    By gese orania doen klaar so veel as moontlik om die haweloose mense wat daar opdaag net met hul klere aan hulle lyf te akomedeer en help werk soek.

    • Johann Dannhauser 30 Julie 2018 at 11:31 Permalink

      Orania blog

      Hoogs aktuele aspekte geopper, soveel so dat dit toekomsdenke vereis. Natuurlik behoort nie slegs gefokus te word op probleme nie, maar ook op die oplossings.

      Eers net: Enkele jare gelede reeds is die totale getal blankes, van wie die meeste Afrikaners, in armoede in SA – nie net in plakkerskampe nie, maar ook op allerhande ander plekke – geraam op ongeveer 800 000. Miskien kan veiligheidshalwe gepraat word van minstens sowat 600 000.

      In elk geval; die volgende relevante punte kan uitgelig word – en ek kan net vir myself praat en my persoonlike mening gee:

      • As die Afrikaner wil oorleef, sal dit, menslik gesproke, net eenvoudig as ‘n volk kan wees. Ons sal dus moet bymekaar kom soos waarskynlik nooit tevore in die geskiedenis nie. ‘n Vorige Amerikaanse president in die vroeë 20ste eeu, Teddy Roosevelt, het vir sy mense gesê: “If we don’t hang together, we’ll all hang separately” en dit geld ook die Afrikaner van vandag.

      • Ja, ons moet politieke leierskap kry wat ons vorentoe kan neem, maar daar sal ook ‘n massiewe maatskaplike opheffingsprogram vir die Afrikaner moet kom. Oor die wie, wat en hoe kan ons praat, maar die alternatief daarvan is geleidelike verdwyning van die Afrikanerdom.

      • Saam met maatskaplike opheffing, behoort drastiese ekonomiese bemagtiging van die Afrikaner te geskied. Afrikanerbesighede sal mekaar moet begin ondersteun, ook as teenvoeter vir SEB wat daarop gemik is om ons heeltemal uit die hoofstroom ekonomie te druk. Moderne tegnologie en digitale kommunikasie bied ontsaglike moontlikhede vir ekonomiese bemagtiging.

      • Kortom, daar moet heropbou van die Afrikaner as volk kom sonder presedent in die wêreld. Waar daarmee begin moet word, is veral in die huidige blanke plakkerskampe. ‘n Probleem, soos wat in Orania ervaar word, is dat ons mense grootliks God-loos geraak het.

      Daarom behoort begin te word deur mense te lei na Christus as persoonlike Verlosser. Dit is iets basies, maar daar is geen plaasvervanger voor nie.

      Voorts, soos wat die ervaring ook in Orania geleer het, behoort programme t.o.v. huwelike, gesinne, leefstyl, vaardigheidsontwikkeling en entrepreneurskap geïmplementeer te word.

      • Dan behoort ook prakties gekyk te word na grootskaalse hervestiging van Afrikaners op eie grondgebied en hiervoor bied Orania ‘n uitstekende basis. Orania as dorp met hoewes beslaan sowat 1 400 ha en dan is daar aanliggend sowat 5 600 ha plaasgrond aangekoop deur eienaars wat Orania goedgesind is.

      Op 7 000 ha kan met unieke en verbeeldingryke stads- en streeksbeplanning tienduisende mense gevestig word en dit kan uitgebrei word na meer grond en selfs honderdeduisende. Dit kan ontwikkel word in ‘n stadstaat na die voorbeeld van Singapoer. Daar is ook elders in die wêreld voorbeelde van omvattende geïntegreerde stedelike komplekse met woon-, werk-, nywerheids- en maatskaplike komponente.

      Een aspek wat hier nie uit die oog verloor moet word, is grootskaalse intensiewe voedselproduksie ter ondersteuning van selfstandigheid.

      Daarmee is enkele riglyne getrek vir wat geglo word die enigste opsie is vir ‘n volhoubare Afrikaner-toekoms. Pypdroom? As jou droom jou nie bang maak nie, is dit nie die moeite werd nie.

      Afrika is nie vir sissies nie. Die Afrikaner het al telkens in die verlede die toets geslaag – ons kan hierdie enorme uitdaging, met geloof in God, ook te bowe kom.

  7. Rudolf 2 Augustus 2018 at 12:03 Permalink

    “In die boek Offerland van FA Venter word verhaal dat die dag toe die Voortrekkers opgepak het om terug oor die Drakensberge weer die binneland in te trek…”

    Dit was dan ook spesifiek hierdie boeke van FA Venter wat my my eie indentiteit laat besef het as laerskoolseun reeds.

    Die voordeel toe was dat ons voorouers wel kon trek en ‘n nuwe tuiste uit niks uit skep waaroor geen moondheid destyds seggenskap gehad het nie.

    Die nadeel tans, ons is vasgevang onder die heerskapy van tans se regering en daar is nêrens meer oor om heen te trek nie, aangesien alle grense tans getrek is. Geen nuwe lande oor om te ontdek nie…

    Ek stem heelhartig saam met jou slot: “Om saam te vat, die Afrikaner is huidig by ‘n kruispad soos nog nooit in sy geskiedenis nie.”

    Wat die twee kampe onder Afrikaners betref dink ek tog wel dat die grootste groep wat steeds nou se kookpot aanhang sal oorloop na die ander groep namate alles faal.

    Ons vergeet soms dat onteiening steeds ‘n onuitgevoerde fokuspunt van die ANC se NDR is en bly en daar ook verskeie ander NDR punte is wat onder tans se leier tot uitvoer gebring sal word.

    Ons kan onsself regmaak vir ‘n rowwe paar jar wat voorlê…

    Ek hoop en bid wel dat dit nooit sal eskaleer tot die punt waar ons seuns en dogters weer die hoogste prys sal moet betaal nie!

    • Johann Dannhauser 6 Augustus 2018 at 08:53 Permalink

      • In Gelofteland, die boek voor Offerland, wat aanloop tot Slag van Bloedrivier en die Slag self dek, drie lesse vir vandag: 1. Vermy ten alle koste dat soos destyds te Weenen en Bloukrans, veral kinders en vroue onbeskerm en sorgeloos teen barbare wees. 2. Gegee die omstandighede het Andries Pretorius wat die leierskap opgeneem het, nie een keer vrede met Dingaan probeer maak nie, maar net krygsvoorbereidings getref. 3. Vir die slag self – biddende ootmoed, proaktief en hoogs paraat.

      • Daar lê wel weer ‘n Groot Trek voor: Na Afrikaner-volkskonsolidasie op grondgebied – dringende debat nodig oor waar. Orania goeie opsie, mits dit homself in rat kan kry.

      • Kom ons wees eerlik ter wille van oorlewing: Die Afrikaner het spoedig eie weermag nodig – nie vir loopgrawe nie, maar met tegnologie, laser en hommeltuig. Die verliese moet aan vyandskant wees.

      Hierdie vra groot spronge, maar gegee die realiteite, wat is die alternatief?

      • Rudolf 17 Augustus 2018 at 13:03 Permalink

        Ditto!

        My gunsteling wysheid uit die verlede deur die Romeine:

        “Si vis pacem, para bellum…”

        Om vrede te hê, berei voor vir oorlog…

        Die Engelsman sê dit ook mooi:

        “Rather have it and not need it, than need it and not have it…”

        Die punt verwysende na “Afrikaner-volkskonsolidasie op grondgebied” is tans nog ons grootste probleem.

  8. Johann Dannhauser 6 Augustus 2018 at 08:53 Permalink

    • In Gelofteland, die boek voor Offerland, wat aanloop tot Slag van Bloedrivier en die Slag self dek, drie lesse vir vandag: 1. Vermy ten alle koste dat soos destyds te Weenen en Bloukrans, veral kinders en vroue onbeskerm en sorgeloos teen barbare wees. 2. Gegee die omstandighede het Andries Pretorius wat die leierskap opgeneem het, nie een keer vrede met Dingaan probeer maak nie, maar net krygsvoorbereidings getref. 3. Vir die slag self – biddende ootmoed, proaktief en hoogs paraat.

    • Daar lê wel weer ‘n Groot Trek voor: Na Afrikaner-volkskonsolidasie op grondgebied – dringende debat nodig oor waar. Orania goeie opsie, mits dit homself in rat kan kry.

    • Kom ons wees eerlik ter wille van oorlewing: Die Afrikaner het spoedig eie weermag nodig – nie vir loopgrawe nie, maar met tegnologie, laser en hommeltuig. Die verliese moet aan vyandskant wees.

    Hierdie vra groot spronge, maar gegee die realiteite, wat is die alternatief?

  9. JJ Klopper 9 Augustus 2018 at 21:27 Permalink

    Net een vraag. Gaan Orania weg breuk van wat oor is van Suid Afrika en ń onafhanklike staat vorm?

  10. Johann Dannhauser 15 Augustus 2018 at 08:15 Permalink

    In antwoord op hierdie vraag kan ek op hierdie blog net namens myself, maar ook as inwoner van Orania, praat

    My antwoord op die vraag is: Ons werk na ‘n onafhanklike staat op sy eie – indien moontlik, in goeie verhoudinge mat al ons bure. Ons hoef nie noodwendig “weg te breek” nie – terwyl ons tans besig is om Orania so vinnig moontlik so goed as moontlik te ontwikkel imn die rigting van ‘n Afrikanervolkstaat, volg ons die korrekte grondwetlike en volkeregtelike pad.

    In die proses wil ons in samewerkende onderhandeling met die SA regering bly, met die verstandhouding dat ons uiteindelike vryheid ononderhandelbaar is. Wat in die proses belangrikste en noodsaaklik is, is wat is die wil van die Here?

    Ons moet biddend-vraend voor Hom bly. Hy sal ons die pad wys en as ons dit loop, kan ons staatmaak op Sy almagtige hulp. Daarom vrees ons geen mens of mag nie.

    As dit op stuk van sake kom en ons moet veg vir wat reg en wat ons vryheid is, sal ons dit doen met die doel oorwinning en geen of minimum verliese aan ons kant. Vir dit moet ons sorg dat ons gerat is.

    So ja, ons glo ons gaan by ‘n eie onafhanklike Boerevolkstaat uitkom.


Lewer Kommentaar

*