13 Mei 2011 ~ 2 Kommentare

Kandidate vir uitwoner-verkiesing van Orania Verteenwoordigende Raad

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Orania hou volgende week sy eie verkiesing. Die Orania Verteenwoordigende Raad bestaan uit 8 lede waarvan 7 deur inwoners en 1 deur uitwoners verkies word. Sowat 5900 uitwoners het vir die verkiesing geregistreer. Die twee “Uitwoner” kandidate waaruit een deur geregistreerde uitwoners (per internet) gekies word is:

 

 

 

Jaco Mulder

Jaco Mulder is gebore te Krugersdorp. Hy matrikuleer in 1981 aan die Hoërskool Monument te Krugersdorp. Daarna studeer hy in die regte by RAU en later by TUKS vanaf 1982 tot 1985.

Hy dien as lid van die voormalige SA polisiemag vanaf 1985 tot 1989. Daarna betree hy die sakewêreld te Maxi versekeringskonsultante en later SANLAM. In 1992 vestig hy ‘n intelligensieagentskap en bedryf dit tot 2004.

Jaco is vanaf 2004 ‘n lid van die Gauteng Wetgewer.

Hy is sedert 1989 getroud met Lynette Mulder, ‘n fisioterapeut en het twee seuns, Adriaan 19 en Daniel 17. Jaco is lid van die Nederduitch Hervormde Kerk.

In sy vrye tyd is hy ‘n klassieke kitaarspeler, wynmaker en geniet hy veldry, jag en natuurbewaring.

Jaco was vanaf 1974 tot 1981 ‘n lid van die Voortrekkerbeweging en vorder tot Baasverkenner. Hy was ook lid van RAUPOLS, ‘n studente politieke organisasie te RAU. Voorts was hy sedert 1982 ‘n aktiewe lid van die Konserwatiewe party en voorsitter van die Afrikaner Volksfront, Wesrand streek vanaf 1993 tot 1994.

Hy is tans leier van die Vryheidsfront Plus in Gauteng. Hy is betrokke in Orania sedert 1996 en is die eienaar van sake-ondernemings in Orania. Jaco dien ook op die Uitvoerende Raad van die Orania Beweging.

Albert van Zyl

Albert van Zyl matrikuleer aan die Hoërskool Reivilo in 1993.

Hy verwerf die graad B. Com (Regte) in 1996 en ‘n LL. B aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in 1999, asook ‘n Sertifikaat in die Beheer van Geldwassery aan die Randse Afrikaanse Universiteit.

As student word hy verkies as Onder-Primarius van Huis Abraham Fischer, Vise-President van die Here XVII en Onder-Voorsitter van die Studenteraad, maar het veral die toestand “ewige student” gedenk as Praeses van die Custos Amicitiae Cantusgilde. Hy was betrokke by die kommersialisering van Huis Abraham Fischer en dien tot 2006 op die direksie van die Artikel 21-maatskappy wat die koshuis beheer en bestuur.

Albert is ‘n toegelate prokureur van die Hooggeregshof van Suid-Afrika en het as prokureur gepraktiseer in Bloemfontein, alvorens hy by een van die sogenaamde ‘groot vier’ ouditeursfirmas aangesluit het as konsultant en later as assistent-bestuurder in die Forensiese Rekeningkundige Dienste afdeling.

Sedert 2006 is hy senior lektor in Forensiese Rekenmeesterskap aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.  Hy is tans voorsitter van die Ouditkomitee van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein en lid van die direksie en ouditkomitee van Solidariteit Helpende Hand.

Albert is getroud met Lucien.

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Kandidate vir uitwoner-verkiesing van Orania Verteenwoordigende Raad”

  1. Sebastiaan 13 Mei 2011 at 13:31 Permalink

    Twee uitstekende kandidate. Die keuse sal moeilik wees. Ek wens ons kon altwee verkies. As ek die kieser was sou ek ‘n muntstuk moes opskiet !-)

  2. Fanie Nieuwoudt 17 Mei 2011 at 11:58 Permalink

    Alhoewel dit ‘n moeilike keuse sal wees want ek ken nie een van die twee nie, maar het ek ‘n goeie gevoel vir Albert van Zyl


Lewer Kommentaar

*