30 April 2014 ~ 7 Kommentare

Kan jy gelukkig wees sonder ‘n trots op jou herkoms?

Geskryf deur Jaco Kleynhans

StedelijkMuseum

Een van die mees besoekte plekke in Nederland is Museumplein in Amsterdam. Die plein het sy naam te danke aan die Rijksmuseum wat in 1885 geopen het. Vandag vind ‘n mens ook die Van Gogh Museum, die Stedelijk Museum en die Koninklijk Concertgebouw langs die groengordel van die plein met sy grasperke, boomlanings en meer.

Die Rijksmuseum is ‘n toonbeeld van Nederlanders se argitektoniese vermoë uit die negentiende eeu. Die imposante gebou is een van die mees gefotografeerde geboue in Nederland. Ook die inhoud van die museum vertel die verhaal van ‘n era toe Nederlandse kunstenaars soos Rembrandt en Johannes Vermeer as van die beste in die wêreld beskou is.

Die Koninkliljk Concertgebouw is ‘n ‘n pragtstuk uit die laat negentiende eeu met sterk klassieke en neo-renaissance argitektoniese elemente.

Die Stedelijk Museum open in 1895 ook ‘n in besonderse gebou wat weer ‘n toonbeeld van sestiende eeuse Nederlandse argitektuur en boukuns is.

Tot laat in die twintigste eeu het die geboue van die Rijksmuseum, Koninklijk Concertgebou en die Stedelijk Museum die unieke aard van Nederlandse argitektuur en kultuur op Museumplein uitgebeeld.

Hierdie skoonheid en bewys van Nederlandse kultuur en vermoëns kon egter nie staande bly teen die na-oorlogse verligtingsdenke nie.

In 1973 open die Van Gogh Museum in ‘n moderne gebou wat juis daarop uit is om niks van die unieke Nederlandse kultuur te wys nie.

Gedurende die 1980’s loop die Koninklijk Concertgebouw deur met die aanbou van ‘n lelike, moderne nuwe ingang wat juis die klassieke aansig van die gebou wegsteek.

‘n Paar jaar later spreek die munisipaliteit van Amsterdam sy kommer uit oor die Museumplein en dat dit nie die beeld van ‘n moderne wêreldstad uitbeeld nie. ‘n Groot parkeerarea en winkelsentrum word onder die grasperk van die plein aangelê.

Volgende op die lys was die Stedelijk Museum. ‘n Nuwe gebou wat wegdoen met die “outydse” en tipies Nederlandse boustyl moes die Museumplein ‘n nuwe moderne era inneem. Die argitekfirma Benthem Crouwel is in 2004 aangewys om ‘n nuwe gebou te ontwerp. Hul doel was om spesifiek iets te ontwerp wat nie mooi is nie omdat soos hulle dit beskryf het, argitektuur nie mooi hoef te wees nie.

Tipies aan die moderne denke in kuns en argitektuur moes die konsep vreemd en so eenvoudig wees dat die eenvoud juis mense moes aangryp. Daar is besluit op ‘n gebou wat soos ‘n badkamerbad lyk. Blykbaar was die rede hiervoor dat mense in Amsterdam weens beperkte leefruimtes baddens met storte vervang het. Die badgebou moes dus ‘n soort ode aan die bad wees.

Vandag staan die nuwe lelike gebou op die plein, waar daar voorheen gras was en waar jy voorheen ‘n mooi sig op die pragtige gebou van die Stedelijk Museum kon kry. Stukkie vir stukkie word Nederlandse kultuur en geskiedenis deur modernisme afgebreek.

Die rede hiervoor lê in die drang na integrasie. Europese volkere soos die Nederlanders wil tog so graag geglobaliseerde individue wees. Niks meer kultuur, geskiedenis en tradisies. ‘n Swewende individu sonder herkoms. Dit moet egter nog bewys word dat die mens sonder kultuur en tradisie ‘n gelukkige wese kan wees.

Deel/Stuur

7 Reaksies op “Kan jy gelukkig wees sonder ‘n trots op jou herkoms?”

  1. Jan Boons (Vlaanderen) 30 April 2014 at 09:20 Permalink

    “Europese volkere soos die Nederlanders wil tog so graag geglobaliseerde individue wees. Niks meer kultuur, geskiedenis en tradisies.”

    Het zijn de meeste “leiders” die zo iets willen, maar niet het gewone volk ! ! Het gewone volk keert die politici de rug toe… maar laat ze daarbij wel aan de macht :-( Ongeacht de uitslag bij nationale verkiezingen, het blijft steeds dezelfde “elite” die kan regeren! En bij die “elite” is de drang naar zelfdestructie, volksdestructie onnoemelijk groot !

    • Jaco Kleynhans 30 April 2014 at 10:24 Permalink

      Jan,

      Ek stem met jou saam! Die probleem lê by die politieke elite. Ongelukkig stem die meerderheid van die gewone volk elke keer weer vir hierdie elite.

  2. Sebastiaan 30 April 2014 at 13:06 Permalink

    Die wasbak voor die Stedelijk Museum simboliseer seker dat in Europa alles met die drein afgaan.

  3. Sebastiaan 30 April 2014 at 13:12 Permalink

    Daar is orals oor europa sulke skryende argitektuur-sondes wat die tydsgees van nihilisme, haat op die eie en op die geskiedenis uitbeeld. Ek dink byvoorbeeld aan die Centre Pompidou, wat ook ‘n bewustelike kontras teen die grootburgerlike huise in ou Parys was, of die glaspiramiede reg voor die 18de eeu se Louvre-paleis. Ook in ander Europese lande is talle voorbeelde van hoe dit wat die Tweede Wêreldoorlog oorleef het, deur nuwe argitektuur verkleineer en verneder moes word. Dit is die houding van die gees wat ook verklaar hoekom Nederlanders, Duitsers en ander Europeërs hulle Afrikaanse broedervolk haat en beveg, pleks om saam met hulle in solidariteit te staan.

  4. Sebastiaan 30 April 2014 at 13:18 Permalink

    Die vraag wat in die opskrif gevra word, is nogal tersaaklik. Dit verklaar waarom lande soos Nederland, wat volgens enige aanwysers alles het wat nodig is vir ‘n ryk en vol lewe, nog steeds so veel siniese en ongelukkige mense oplewer wat doelloos deur die lewe strompel. Sonder geloof in ‘n groter doel (en ‘n Skepper) en ‘n besef dat jy ‘n lang geskiedenis het, is die lewe inderdaad sonder betekenis. Pleks van ‘n teruggaan na dit wat in die verlede dalk wel goed en reg was, word enige snert en vreemde godsdienste aangegryp. Soos AK Chesterton gesê het: Wie nie aan God glo nie, glo nie aan niks nie, maar aan alle moontlike snert.

  5. Ebert 1 Mei 2014 at 00:04 Permalink

    Die modernistiese argitektuur is ‘n natuurlike verlenging van die kille argitekuur van die Nazis en Sowjet behuisingskemas en openbaar die kille hart van sosialisme.

  6. Dante' Strauch 2 Mei 2014 at 19:53 Permalink

    Ek weet niks van argitektuur nie maar hierdie skrywe laat my dink aan die dame van huigenoot wat saam met jou Jaco aan die gesprek op kyknet deelgeneem het. Sy is afrikaans maar voel ongemaklik om as Afrikaner bekend te staan. Die probleem met mense (veral lyk dit vir my blankes) in Europa of SA wat hul kultuur en eintlik hul etnisiteit prysgee is dat ander etnisiteite dit nie doen nie en dat hul kultuur dan baie maklik dominant raak…


Lewer Kommentaar

*