03 Desember 2010 ~ 9 Kommentare

Jy kan nie die beste van albei wêrelde wil hê nie

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Die ou Suid-Afrika, wat in 1994 finaal ten gronde gegaan het (al weier sekere mense om dit te glo), was een van die min lande wat die beste van die eerste en die derde wêreld met mekaar verbind het: Eerste wêreldse hoë standaarde, goeie onderwys, top gehalte universiteite en hospitale, ‘n goeie en werkende infrastruktuur, relatiewe stabiliteit, ‘n lae werkloosheidsyfer, ‘n betroubare en werkende staatsdiens, beskikbaarheid van dienste en produkte op feitlik alle dorpe, ens.

Dit het saamgegaan met die beste van die Derde Wêreld: sonskyn, ‘n ontspanne gesindheid van mense, min wette en regulering, ongerepte natuurskoon, relatiewe lae pryse vir behuising of vakansieverblyf en veral lae lone vir ongeskoolde arbeid weens ‘n magdom werksoekers.

Mense uit die Eerste Wêreld, wat in ‘n land van die Derde Wêreld vir ‘n tyd werksaam is, het juis daardie voordele om te geniet, soos ‘n eie motorbestuurder, tuinier, kinderoppasser en skoonmaker, lae pryse vir kos en inheemse produkte en daarby ‘n groot huis en opwindende vakansiebestemmings net om die draai. Maar hulle moet ook die keersy verdra: ‘n hoë misdaadsyfer, swak mediese dienste, ‘n korrupte burokrasie, ‘n verbrokkelende infrastruktuur en die gebrek aan ‘n verskeidenheid verbruikersgoedere.

Die kombinasie van die beste van beide wêrelde was die rede hoekom die ou Suid-Afrika so ‘n fantastiese land was om in te lewe, altans vir die witmense. Nie verniet was die leuse van Suid-Afrika se toerismebemarking altyd: “Die wêreld in een land”. Ons is seker almal deeglik daarvan bewus dat Suid-Afrika vandag al hoe meer in die rigting van ‘n Derde wêreld land beweeg, en as iets van die Eerste Wêreld oorgeneem word, dan gewoonlik minder aangename dinge soos die beheptheid om alles wat werk met wette te wil reguleer en te belas.

Dit bring ons by Orania: vir ‘n beduidende getal mense is Orania ‘n soort nostalgiese kyk op hulle kinderdae in die ou Suid-Afrika: alles is wit en Afrikaans, kinders kan nog in die strate speel en fiets ry, die skole is van hoogstaande gehalte, die infrastruktuur werk en die administrasie is tot diens van die inwoners, en op Sondae is (amper) alle winkels gesluit en die strate is rustig. Maar wat mense dikwels nie besef nie is dat dit teen ‘n prys kom. Orania streef daarna om ‘n eerste wêreldse samelewing te wees, maar ons kan dit nie wees nie as mense verwag dat ons, soos in die ou Suid-Afrika, die aangename dinge van die Derde Wêreld ook moet bied, naamlik lae pryse en lae lone en ‘n oorskot aan ongeskoolde werkers wat op ‘n dagloonbasis in diens geneem kan word en in die aand weer anderkant die bult verdwyn.

Die eerste wêreldse standaarde wat ons na strewe (al is ons nog nie daar nie) kos ‘n prys, nie net in terme van geld nie, maar ook en veral in terme van geld: heffings is aansienlik hoër as elders in die platteland, so ook koste vir eiendom en vir produkte. Natuurlik kan ‘n mens goedkoper koop by ‘n tipiese Afrika-mark met sy talle stalletjies as in ‘n netjiese, geklimatiseerde en skoon supermark met opgeleide personeel. Of jy kan ‘n pragtige 5 slaapkamer-steenhuis koop in ‘n dorp waar riool in die strate loop en die krag meer af as aan is teen die prys van ‘n klein opslaanwoonstel in Orania.

Dis nie om mense te beboet wat in Orania wil bly nie, maar dit is eenvoudig die koste om ‘n samelewing met hoë standaarde in stand te hou. Behalwe vir hoër koste is selfwerksaamheid natuurlik die ander prys wat vir ‘n eerste wêreldse lewe betaal moet word. ‘n Eerste wêreldse samelewing word ook daardeur gekenmerk dat geld wat gespandeer word help om hoër standaarde te bou en in stand te hou. As die wet vereis dat ‘n geregistreerde en verantwoordelike tuindiens met versekering vir sy werknemers en goeie toerusting gebruik word vir tuindienste, eerder as om iemand langs die pad op te lei wat sy dagloon waarskynlik by die naaste sjebien uitgee, dan word verseker dat die geld terugvloei om ‘n volhoubare ekonomie aan die gang te hou. ‘n Werknemer wat ordentlik betaal word en die voorbeeld van hoë standaarde sien, sal daarna streef om self vir hom ‘n beter lewe op te bou pleks om net sy karige dagloon te verkwansel.

Een van die belangrikste voorvereistes vir relatiewe vrede en stabiliteit in die Eerste Wêreld was en is dat werkers ‘n lewensvatbare salaris verdien wat dit vir hulle moontlik maak om ‘n beter lewe te bou. Dit het gekeer dat woede teen die werkgewers opgebou het, en soos ons vandag weet, het kommunistiese revolusies juis nie in die Eerste Wêreld plaasgevind nie, maar daar waar Eerste en Derde Wêreld op mekaar tref. Mense wat dus wil deel in die voordele van ‘n eerste wêreldse dorp soos Orania moet ook daartoe bydra. Dit is nie bevorderlik om Orania se geriewe te gebruik maar om dan ter wille van ‘n paar sente wat jy dalk spaar elders te koop en elders te laat werk.

Deel/Stuur

9 Reaksies op “Jy kan nie die beste van albei wêrelde wil hê nie”

  1. Willem 3 Desember 2010 at 09:23 Permalink

    Regoor die 1ste wêreld is dienste en goedere duur en gewoonlik van ‘n hoër gehalte. Maar baie mense begin eerder op koste fokus in pleks van kwaliteit. Dit is ook die rede dat geen van die lande met Sjina of Indië kan kompeteer nie. Kyk wat het dit in ons eie land al gedoen. Die tekstiel bedryf is ‘n goeie voorbeeld.

    Verder is ons nie in ‘n volhoubare ekonomie nie. Ek is seker dat die grootste deel van ons mense sukkel om kop bo water te hou en verder is daar meer as 800 duisend blanke mense wat erg verarm is. Hulle het nie geld om vir dienste of goedere te betaal nie.

    My vraag is: wat is ons doel met plekke soos Orania? Wil ons ons nasie weer opbou of is ons besig om ‘n eksklusiewe klub te skep waar, sekerlik, die grootste deel van die Afrikaners en Boere uitgesluit gaan word.

    Hier is niks normaal in Suid-Afrika nie, om nou te wil voorgee dat ons ‘n “normale” ekonomie kan bedryf is effens vergesog.

    Maar net my opinie…..

  2. Reint Dykema 3 Desember 2010 at 12:44 Permalink

    Net toe die mense op my blog begin baklei dink ek om die antwoord hier te kom soek. Lekker om die inskrywing te lees en te sien jy blog.

  3. Riaan V 3 Desember 2010 at 13:49 Permalink

    Jammer Reint nou baklei ek hier verder, egter jou skuld jy het my gelok met jou link. :) Daar is baie verwysings v bloggers v oral na Oranië en wat daar aangaan, hoe dinge werk, aandeleskemas ens. Alles is egter met ompaaie, Boshoff junior was ook een aand op (ek dink Rian se geselsprogram), tipies Rian se programme was dit oppervlakkige skinderstorietjies,sonder veel substansie. Kan iemand nie in plein Afrikaans skryf wat die doelstellings,werking, verwagtings, metodiek ens is nie?? Ek het beplan om gedurende my Desembervakansie daar om te ry en te kyk en te vra, maar dis blerrie vêr uit my roete vir ‘n blote “fishing expedition”. Geen ideologiese, dogmatiese retoriek nie asb. Kan Sebastiaan se artikel nie as ‘n gasbydraer op SOL se blog geplaas word nie, ek dink net dat dit daar dalk meer kommentaar vanuit ‘n wyer “gehoor” sal ontlok??

  4. Jaco Kleynhans 3 Desember 2010 at 14:06 Permalink

    Beste Riaan

    Ek geniet baie van jou kommentaar op die Solidariteit-blad. Dit beteken natuurlik nie dat ek altyd saamstem nie, maar goeie debat is beter as die kokonrepublieke wat soveel Afrikaners vandag vir hulself bou.

    En dit bring my by jou vraag oor Orania. Ons probeer hier presies die teenoorgestelde te doen. Orania is ‘n Afrikanergemeenskap, maar verteenwoordigend van Afrikanerdiversiteit waar ons, onsself kan wees vir onsself en teen niemand nie.

    In Orania gaan dit oor die voortbestaan van die Afrikaner se kultuur, taal en tradisies. Ons doen dit met eie arbeid, eie inisiatief en eie kapitaal. Orania hou dus voordele in vir die mense wat hier bly sowel as vir die groter geheel.

    Ons het egter lankal besef dat Afrikanerskap nie ‘n toekoms het indien ons dit nie op hierdie manier doen nie.

    Ek sal nog bladsye kan skryf, maar ek hoop dit beantwoord jou vraag darem so ‘n bietjie.

    • Willem 3 Desember 2010 at 18:25 Permalink

      Daar is iets anders wat ek oor wonder; Almal praat van volkseie arbeid gebruik, maar wat beteken dit nou eintlik?

      Ek kry partykeer die indruk dat niks regtig verander het van hoe meeste mense in die NSA tans lewe nie. Ons het slegs ons swart diensknegte verruil vir wittes. Is die volkseie arbeid deel van die Afrikaner kultuur of gaan hulle maar, soos nou, elke aan terug na hulle “township” toe, terwyl die Afrikaners hulle kultuur uit lewe?

      • Sebastiaan 4 Desember 2010 at 07:41 Permalink

        Beste Willem,

        lees my blog van gister “nie ‘n klassesamelewing nie maar ‘n volk met al sy dele”, dit sal jou vraag hopelik beantwoord.
        Die verskil is juis dat ons nie ‘n “township” het nie maar dat die werkers langs en tussen die middelklasmense bly. My buurman se probleme raak my dus ook en daarom werk ons daaraan om ook vir die werkers ‘n menswaardige en stabiele lewe te help opbou deur hulle deel van die gemeenskap te maak nie.
        Totale gelykheid sal ons nie hê nie en dit is ook nie gesond nie, maar ons het beslis nie klasse-apartheid nie.

    • Riaan V 4 Desember 2010 at 16:36 Permalink

      Dankie Jaco,maar ek weet nie hoe die eie ekonomie gestimuleer kan word nie, ek besef mens moet iewers begin, ek kan egter nie my besigheid daarheen skuif nie, en dis vir meeste v ons so. Is die werking v Orania nie maar soos die v ‘n plaasboer met ‘n massiewe groot plaas nie? Hy en sy talle bestuurders bestuur deur afwenteling na voormanne wat weer aan arbeiders delegeer, daar is ‘n plaas- skooltjie(ek weet op Orania is die skole wel v hoë standaard) ‘n plaaswinkel ens. DWS daar is ‘n redelike mate v selfsorg en stimulasie vd plaasekonomie. In die verlede was myndorpe ook in ‘n groot mate so.

      Ek mag verkeerd wees maar ek glo Orania kan net werk as die regering selfbeskikking aan Orania gee, sodat belastinggeld wat tans na die regering gaan daar aangewend kan word.

      • Allas 9 Desember 2010 at 06:38 Permalink

        Riaan,

        Orania vorder wel self belastings in, al is dit op hierdie stadium slegs munisipale belasting. Plaasboere is in hierde opsig slegter af.

        Die ideaal met selfbeskikking is natuurlik op uiteindelik ook nasionale belasting te kan invorder soos BTW en Inkomstebelasting, maar daarvoor is nasionale erkenning en veral die vermoë om jouself internasionaal te kan verteenwoordig en verdedig noodsaaklik.

        Orania is op hierdie stadium nog te klein om nasionale aansprake te maak, maar soos wat hy groei sal die geleenthede al meer word. Dit is ‘n noodwendige gevolg.

        Die vraag is of jy deel wil wees van die bouproses?

  5. Riaan V 20 Desember 2010 at 19:12 Permalink

    Allas, jou vraag mbt deel vd bouproses is nie so eenvoudig om te antwoord nie.

    Eerstens hoor ek wat jy sê vd belastings maar dis my probleem # 1, die ANC skep reeds 50% + v alles wat ek verdien, en ek kry absoluut niks terug vir my geld nie, met dit wat oorbly moet ek skool/mediesefonds, sekuriteitsonderneming ens betaal(wat ek MOES kry in ruil vir belastinggeld). Sou Orania selfbeskikking kry kan DAARDIE 50%+ daar aangewend word, as my deel vd bouproses, nou is dit nie moontlik nie.

    Tweedens kan ek nie net oppak en loop nie, my besigheid(vervoer v sand, klip ens) het ‘n relatief groot area nodig om ‘n behoorlike bestaan te kan maak, tans bedien ons ‘n radius van ongeveer 100 Km en daar is letterlik honderde boere, en 7 myne binne hierdie area, plus natuurlik die man op straat en besighede in en om die dorp. Ek sien nie daardie tipe potensiaal in Orania nie. Sou ek nie al oor die 50 gewees het nie kon ek nog sê kom ons vat ‘n kans en probeer voor begin, maar nou???


Lewer Kommentaar

*