12 Oktober 2011 ~ 2 Kommentare

Jong Leeus

Geskryf deur Rozanne Meyer en Quintin Diederichs

Wanneer mens dorpe soos Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet besoek, let jy op dat iets besonders in suidelike Afrika gebeur het gedurende die 17de en 18de eeue. Die geboorte van ’n nuwe volk word nie net versinnebeeld deur die skepping van ’n nuwe taal en kultuur nie maar ook tasbare en sigbare werklikhede soos nuwe monumente, geboue en selfs dorpe.

Waar daar vroeër niks was nie, is daar nou iets wat ons herinner aan mense wat eeue voor ons gelewe het. Mense wat ook uitdagings moes oorkom in hul stryd om oorlewing in ons pragtige, maar donker kontinent. Hul intelligente besluite en harde werk het immers vooruitgang vir die nageslag moontlik gemaak. Wanneer ’n mens besef dat jy ’n afstammeling van hierdie mense is dan weet jy dat jy  ook deel is van ’n storie wat nooit geskryf sou wees indien elke generasie wat voor jou gelewe het nie verantwoordelikheid vir sy eie tyd geneem het nie.

Wanneer jou gedagtes verder wandel dan tref dit jou dat hierdie einste voorvaders van jou dapper helde opgelewer het waaroor vandag nog gepraat en gesing word. Jy kan die storie inkleur met ware karakters soos o.a. Jan van Riebeeck, Andries Pretorius, Marthinus Steyn, Paul Kruger, Christiaan de Wet, Koos de la Rey, Barry Hertzog, Hendrik Verwoerd en Carel Boshoff. Elkeen van hierdie mense het twee dinge in gemeen: hulle is deel van die heldedom waarmee Afrikaners identifiseer en hulle het verantwoordelikheid vir hul eie tyd geneem. Is hulle nie juis deel van die Afrikanervolk se heldedom omrede hulle verantwoordelikheid vir hul eie tyd geneem het nie?

Iets besonders is in die 21ste eeu weer besig om in suidelike Afrika plaas te vind. Te midde van die ‘scramble out of Africa’ staan die kern van een besonderse volk rotsvas in die grond waarop die grootste hoofstukke van sy bestaan geskryf is. Eerder as om te vlug of om hul taal, kultuur, erfenis, geloof en heldedom op die altaar van nasiebou te offer, swem hierdie kern stroomop in ’n tyd wat daar doelbewus afstand geneem word van volkstrots, tradisie en selfs Christenskap.

Weereens kom ons in aanraking met tasbare en sigbare werklikhede. Nuwe monumente, kerke, skole en selfs dorpe word gebou. ’n Dawerende kreet word in die steen en sement van hierdie werklikhede opgesluit: DIE AFRIKANER SAL NOOIT OPGEE NIE! Hoe vinniger diegene wat ons smaad dit verstaan, hoe beter vir hulle.

Wanneer mens ’n dorp soos Orania besoek sal jy oplet dat die Afrikaner onder geen omstandighede ses voet onder is nie. Geen volk wat besig is om uit te sterf bou nuwe skole waarin sy moedertaal bevorder word nie, bou nuwe kerke waaruit die geloof waaraan ons almal van kindsbeen gekoppel is verkondig word nie en rig nuwe monumente en standbeelde van sy heldedom op nie. ’n Volk wat lewe doen al hierdie dinge – en wat meer is, hy doen dit met sy eie arbeid want hy kán!

’n Beroep word vandag op die Afrikanerjeug gedoen om op te staan en saam te bou aan die toekoms van ons mense. Elke jongman en -vrou wat voel dat daar nie vir hom of haar plek in Afrika is nie, voel so omdat hulle nog nie verantwoordelikheid vir hul eie tyd geneem het nie. Dis die skole, kerke, volksmedia en -organisasies se plig om vandag vir die Afrikanerjeug ’n gemeenskaplike toekomsvisie te gee. Indien hulle nie bereid is om uiting te gee aan hierdie plig nie dan gaan hulle tot orde geroep word en sal die elemente wat nie in staat is om die beste belange van die Afrikaner te bevorder nie eenvoudig en eenparig vervang word met mense wat kan.

Ware leiers kan nou gerus na vore tree en hulself skaar by die groeiende kern wat vanuit Orania besig is om tasbare en sigbare werklikhede van nuuts uit die grond uit op te bou. Dis hoe ons onsself op vreedsame, volhoubare en intelligente wyse van ’n toekoms verseker – ons doen dit uit liefde en respek vir ons eie, nie uit haat of vrees vir ander nie. Wees maar seker dat met sterk leierskap en ’n eendragtige toekomsvisie die jong Afrikaner daarbuite ’n impak sal maak wat kristalhelder deur die eeue gaan weergalm.

Laat die nageslag ons ken as die generasie jong leeus wat verset teen ongeregtigheid gebied het en ’n werklikheid van ons onstuitbare drang vir vryheid in ons eie tyd gemaak het.

Quintin Diederichs
VF Plus NK Jeugleier

 

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Jong Leeus”

  1. Paul Franssen 12 Oktober 2011 at 13:25 Permalink

    Zeer opjektie en natuurlik getrouwe dits artiekels baie vir lekker vir soals ek is vir ‘n nederlander eerbetoon !!!!!!

  2. Andrew 23 Oktober 2011 at 19:54 Permalink

    You should make a blog in English. People support you from different countries. And the first step you need to get them interested in your web-site and your movement is make page in understandable language all over the world. After they can learn the Afrikaans.
    With best regards, Andrew.


Lewer Kommentaar

*