02 November 2010 ~ 3 Kommentare

Interessante artikel op die Solidariteit blog

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Afrikanerselfbeskikking en -afskeiding binne die konteks van die internasionale reg
Marieke Ehlers
1 November 2010

Hierdie artikel is die tweede een wat handel oor die internasionale regsimplikasies wat van toepassing is op moontlike Afrikanerselfbeskikking en -afskeiding. Ek beoog ’n verdere artikel oor dieselfde onderwerp wat sal handel oor die praktiese haalbaarheid asook die regsimplikasies daarvan binne ons huidige Grondwet.

Daar is groepe binne bepaalde minderhede in Suid-Afrika wat van mening is dat hulle regte nie voldoende beskerming geniet binne die bepalings van die Grondwet van Suid-Afrika nie. Sowel die Vendas as die Afrikaners het as uitvloeisel hiervan byvoorbeeld gaan registreer by die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO). Die mening bestaan dat die meerderheidsregering onregmatig teen hierdie mindersheidsgroepe diskrimineer op grond van taal, etnisiteit en kultuur, en dat die huidige Grondwet nie voorsiening maak vir doeltreffende minderheidsverteenwoordiging binne bestaande regeringstrukture nie. Hierdie groepe is verder van mening dat afskeiding van die Suid-Afrikaanse eenheidstaat (eksterne selfbeskikking) die enigste blywende oplossing bied vir hulle strewe na selfbeskikking.

In die internasionale gemeenskap bestaan daar allerlei teenstrydighede rondom die legaliteit van eksterne selfbeskikking vir volke of etniese groepe. In terme van die eng betekenis-toepassing van die term “selfbeskikking” argumenteer skrywers dat die reg op selfbeskikking slegs geld in ’n koloniale konteks. In die breër betekenistoepassing van die woord beweer sekere kenners dat die reg op selfbeskikking ook geld vir minderhede wat wil afskei van ‘n bestaande soewereine eenheidstaat. Steven Ratner bespreek hierdie teenstrydighede in ‘Drawing a better line: uti possidetis and the borders of new states’ (1996) en wys daarop dat die menings van besluitnemers in die internasionale gemeenskap met betrekking tot afskeiding dubbelsinnig en inkonsekwent is. Hy wys daarop dat lidstate van die Verenigde Nasies die belangrikheid van die handhawing van eenheidstate beklemtoon, maar dat hulle daarteenoor wel die soewereiniteit erken van sekere state wat afgeskei het van die eenheid-staat en dat die lidstate boonop aandring op die beskerming van minderheidsregte binne eenheidstate.

’n Belangrike regsreël wat dikwels hier ter sprake gebring word, staan bekend as uti possidetis iuris. Die volledige Romeinse regsreël lui: Uti possidetis iuris, ita possideatis, oftewel “Soos wat jy in die reg besit gehad het, so sal jy (in die toekoms) besit hê”. Hierdie regsreël sou deurslaggewend kon wees by die argumentering oor die regsgeldigheid van eksterne selfbeskikking en afskeiding, omdat dit in die verlede die regsbasis gevorm het vir die handhawing van eenheidstate en hul grense binne ‘n (post)koloniale konteks. Sowel Ratner as Helen Ghebrewet (in Identifying units of statehood and determining international boundaries: a revised look at the doctrine of uti possidetis and the principle of self-determination, 2006) bespreek die toepassing van die regsbeginsel van uti possidetis iuris binne ‘n (post)koloniale konteks. In die relevante saak van Burkina-Faso v Mali (1986) plaas die Internasionale Geregshof in Den Haag die toepassing van hierdie regsbeginsel in dieselfde konteks. Myns insiens is dit dus duidelik dat hierdie regsbeginsel deurgaans toegepas word in die (post)koloniale konteks. Waar gemelde regsbeginsel tot op hede van toepassing gemaak is binne so ’n konteks, word die nuwe staat se landsgrense vasgestel soos wat dit was onder koloniale besetting.

Suid-Afrika was teen 1994, toe die huidige Grondwet onderhandel en deurgevoer is, lankal nie meer onder koloniale besetting nie. Daadwerklike koloniale besetting in die Kaap het vir die eerste keer in 1795 plaasgevind; tussen 1652 en 1795 was die Kaap ‘n verversingspos onder beheer van die VOC, ‘n handelsmaatskappy. Die Britse koloniale besetting van die Kaap in 1795 en, na ‘n kortstondige Nederlandse regeringsperiode (1803-1806), weer in 1806 was een van die oorsake vir die Groot Trek in 1835. Teen daardie tyd was die samehorigheidsgevoel onder ‘n groot groep Europese afstammelinge sonder twyfel sterk gevestig. Na die totstandkoming van die Republiek van Natal het Brittanje in 1843 Natal geannekseer, maar in 1852 (Sandrivierkonvensie) en in 1854 (Bloemfonteinkonvensie) wel erkenning gegee aan die soewereiniteit van Transvaal en die Oranje-Vrystaat, net om dit in 1877 ten opsigte van Transvaal te skend deur dit te annekseer. Hierdie anneksasie het op die Eerste Vryheidsoorlog uitgeloop wat deur die Boere gewen is en waardeur Transvaal se volle onafhanklikheid uiteindelik deur die Konvensie van Londen in 1884 herstel is. Daarna is die Vrystaat en Transvaal vir die eerste keer werklik gekoloniseer in 1902 na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog, toe dit onder direkte Britse beheer gekom het. Die mate van self-regering wat in 1910 aan die Unie van Suid-Afrika toegeken is, was egter van so ‘n omvattende aard dat Suid-Afrika beskou is as ‘n volwaardige stigterslid van die destydse Volkebond in 1919. In 1961 het Suid-Afrika ‘n republiek geword wat as sulks erken is deur die inter¬nasionale gemeenskap.

Die besetting van die binneland van Natal, die Vrystaat en Transvaal deur gemelde groep in die 19e eeu waarna vir die doel van hierdie artikel verwys kan word as Boere-Afrikaners, kan nie beskou word as kolonisering nie en is ook nooit so beskou deur die internasionale gemeenskap nie. Die afleiding kan dus gemaak word dat, indien die beginsel van uti possidetis iuris van toepassing sou wees op Suid-Afrika, die grenslyne getrek sal moet word soos wat dit gelyk het voordat Brittanje bogemelde gebiede geannekseer en dus gekoloniseer het.

Patrick Muwanguzi skryf in sy artikel ‘Reconciling Uti Possidetis and Self Determination: The Concept of Interstate Boundary Disputes’ (2007) dat ‘n volk se reg tot selfbeskikking ‘n onvervreembare en universele reg is. Daar bestaan geen verbod in die internasionale reg op eksterne selfbeskikking of afskeiding nie. In die algemeen word in die internasionale reg aanvaar dat aksies wat nie eksplisiet verbode is nie, regsgeldig is en dus toegestaan word. Die enigste regsreël in die internasionale reg wat afskeiding moontlik indirek verbied, is die beginsel van territoriale soewereiniteit. Ghebrewebet (sien hierbo) erken ook dat daar spanning in die internasionale reg bestaan tussen territoriale integriteit of soewereiniteit en die reg van volke op selfbeskikking. Desnieteenstaande neem sy resente staatspraktyk in ag, soos in die geval van die voormalige Joegoeslawië, USSR en Tsjeggo-Slowakye, asook die nuutste verwikkelinge in menseregte. In die onlangse Kosovo-uitspraak (soos uiteengesit in my voorafgaande artikel The independence of Kosovo and the links with South Africa) word dit egter duidelik gemaak dat die kwessie van territoriale integriteit en soewereiniteit slegs van toepassing is op die verhouding tussen state en dat die reg tot eksterne selfbeskikking van ‘n volk binne ‘n eenheidstaat nie daarop inbreuk maak nie. Die internasionale reg is minder gemoeid met grondeise of die verskuiwing van grense en wil eerder vasstel of ‘n nuwe onafhanklike staat tot stand gekom het, aangesien die internasionale reg eerder staatspraktyk reguleer as die optrede van individue of groepe.

Ten spyte van teenstrydige opinies in die internasionale gemeenskap word dit toenemend duidelik dat volke of etniese groepe se onvervreembare reg op selfbeskikking die gees van ons tyd kenmerk. Myns insiens kan die gedagte van moontlike Afrikaner-selfbeskikking en selfs afskeiding dus nie beskou word as in stryd met die internasionale reg nie. Die vraag wat dan bly staan, is of sodanige strewe prakties haalbaar is binne ons Suid-Afrikaanse konteks. Ek hoop om hierdie vraag in ‘n volgende artikel te behandel.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Interessante artikel op die Solidariteit blog”

  1. Philip Nothnagel 4 November 2010 at 11:41 Permalink

    Tydens my studiejare in Pretoria het ek dikwels sommer so alleen museums en plekke van Argitektoniese waarde besoek. Ek is lief vir geskiedenis en mooi geboue en veral die Boere-Afrikaanse nalatenskap in Pretoria was vir my altyd wonderlike besoekpunte gewees.
    So het ek een somermiddag in die laat negentigs in die kar geklim en na die Voortrekker Monument gery. Dit was ‘n pragtige windstil dag en selfs ‘n Vrystater sou tuis gevoel het onder die blou lug. Nadat ek van al my spanning en frustrasie vergeet het was ek weer op pad. Ek was nog besig om my gordel so in die ry vas te maak toe ek twee jongmense met hul duime in die lug gewaar. Hulle was aangetrek soos tipiese toeriste met rugpakke en hul rooi gesigte het my laat dink hulle is nie van hier nie. Hoe kon ek verby hulle ry terwyl hulle in die skadu van my geliefde Voortrekker Monument staan? Baie dankbaar het die lang jongman en sy beeldskone meisie ingeklim, hy het haar voor laat sit terwyl hy agter in die middel met sy twee elmboe op die voorste sitplekleunings ingeskuif het. Van meet af het die twee opgewonde gesels oor Suid Afrika en hoe hulle als geniet. Beide van Rotterdam af, en baie aangenaam, het hulle onophoudelik die een vraag na die ander gevra en gefassineerd my toegelaat om uit te brei oor my land en my mense. Hulle was duidelik nie net hier om leeus te sien nie! Hulle was verstom oor die imposante Unisa gebou teen Muckleneuk en die statige Uniegebou oorkant die Apiesriviervallei. Ek het hulle die hele Pretoria gewys en so op my manier die geboue en besienswaardighede in konteks van die Afrikaanse geskiedenis gelei. Tot my verbasing was hulle soos twee sponse en die vrae het nooit opgehou nie. Die jongman het so ver vorentoe gesit dat sy kop gelyk met myne en sy meisie was! Toe het hy my ‘n baie snaakse ding gevra: “Waarom maak Afrikaners nie aanspraak op Pretoria en eis onafhantlikheid nie?”
    Ek was sprakeloos. Hy dit dit so gemaklik, so uit die aard van die saak gevra, sonder enige aanduiding van sarkasme of ironie, dat ek skuldig gevoel het omdat ek hom nie kon antwoord nie.
    “Dis ingewikkeld”, was al wat ek aan kon dink om te se.
    Die waarheid is dat hierdie ‘n vraag was wat ons in die sewentigs al moes beantwoord het, en dit is as taboe afgemaak. Slegs Prof Carel Boshof en ‘n klein groepie saam met hom het die insig gehad om vir ons mense ‘n selfstandige toekoms te koop. Iets wat nou begin vlamvat onder Afrikaners was so voor die hand liggend vir ‘n Europier dat hy ons passiwiteit en dood-tervredenheid nie kon verstaan nie.
    Ek het hulle afgelaai voor die Uniegebou wat teen die tyd in Meintjieskop se skadu was, min wetende dat my lewe so pas verander het.

  2. Jaco Kleynhans 4 November 2010 at 15:33 Permalink

    Philip,

    Dankie vir ‘n baie mooi storie wat elkeen van ons kan laat dink. Ons geskiedenis veroorsaak dat ons binne ‘n sekere verwysingsraamwerk dink wat ons baie keer verhoed om hierdie soort vrae te vra.

    Groete,
    Jaco

  3. Jean Du Plessis 4 November 2010 at 20:38 Permalink

    Ek onthou nog in 1996, toe ek vir die eerste keer die hele land se demografie geanaliseer het. Pretoria was amper die enigste waarby blanke teen swart verhouding amper gelyk was. Ook in 1994 het ek my Pa nog gevra: hoekom trek ons nie Orania toe nie. Sy antwoord was, dat hy nie ‘n volhoubare toekoms in ‘n semi-ariede area kan sien nie.

    Nou sit ons hier vele jare verder met ons eie gesin en oorweeg die opsies. Eintlik het die opsies al hoe minder geword. Pretoria en sy munisipale bestuur is glad nie meer wat dit was in 1996 nie. Selfs Demografiese syfers dui nou ‘n heel anderse prentjie. Dit het ‘n wêreldse stad geword met die wêreldse dinge en dan Orania….. ek dink as my Pa vandag nog geleef het, sou hy saamstem dat die Pioniers van Orania ‘n dorp gebou het, wat amper die enigste volhoubare soort in Suid-Afrika is.


Lewer Kommentaar

*