24 April 2018 ~ 8 Kommentare

Inleiding tot die spesiale sitting van die Burgerraad. 21 April 2018.

Geskryf deur Carel Boshoff

Geagte voorsitter en lede van die Burgerraad

Ek wil my waardering vir lede van die Burgerraad se deelname aan hierdie Burgerraadsitting betoon by wyse van ’n kort en saaklike inleiding wat meer eerder as minder ruimte vir beredenering en debat skep. Daarom wil ek ’n kort perspektief op ons huidige situasie gee en dan ’n paar heel konkrete sake wat aandag verdien opper. Miskien oordeel u dat daartoe bygevoeg of daarvan weggeneem moet word en miskien help u om prioritiete te bepaal of inhoud te gee sodat die Uitvoerende Raad en kantoor met ’n sterk en duidelike mandaat kan reageer op wat ek as drukkende omstandighede beskou.

Maar eers wil ek darem bewys hoe ’n belese ou ek is. Ek verwys na die Engele skrywer PL Travers se bekende werk oor die onvergelyklike vroeë twintigste eeuse figuur Mary Poppins. Waarna ek wil verwys, word besonder goed uitgebeeld in die 1964 film onder regie van Robert Stevenson met Julie Andrews in die titelrol (dit was haar debuut as filmaktrise) en handel oor die afloop van die storie. Mary Poppins kom vervul hierdoe wonderbaarlike rol in die Banks-huishouding waar sy vir Jane en Michael oppas terwyl Mr Banks hom met belangrike banksake besig hou en Mss Banks haar vir vrouestemreg beywer. Nou wil ek vra wie weet hoe die storie eindig – of meer akkuraat, aan die einde van die storie vertrek Mary Poppins so onverwags en onverklaarbaar as wat sy aangekom het, maar hoe weet sy om te vertrek? Sy weet … want die wind het gedraai.

My punt is, en dit is waarom ons vandag hier bymekaar is, die wind het gedraai. En as mens die beeldspraak ’n stap verder wil vat: hoe weet mens wanneer die wind draai? Nie wanneer dit klaar gedraai het en die onweerswolke klaar opgesteek het nie, hoe weet mens die onweer gaan kom? Twee goed: fyn waarneming en ’n sin vir struktuur – of eintlik eers ’n sin vir struktuur en dan fyn waarneming, veral as ons nou maar van die weer-beeld afstap en oor ons politieke situasie dink.

Toe die Afrikanervryheidstigting in Maart 1988 in Pretoria opgerig is, was dit op sterkte van sulke struktuurdenke en met ’n duidelike besef dat politieke, sosiale, ekonomiese verhoudings in Suid-Afrika onvolhoubaar was. Die verwagting was dat die verandering wat sou volg met die Suid-Afrikaanse demografie sou verbandhou, meer spesifiek dat as daar nie besondere wysheid aan die dag gelê sou word nie, die nuwe magsverhoudings ’n eenvoudige weerspieëling van die Suid-Afrikaanse demografie sou wees. Vandag weet ons dat dié wysheid uitgebly het, in besonder die eenvoudige insig dat mag en grond nie van mekaar te skei is nie – selfs daardie ikoon van Suid-Afrikaanse liberale geskiedskrywing en politieke kommentator, Bill Johnson, het dit onlangs gesê. Die punt is: ons het verandering verwag en die verandering het gekom, maar tog ietwat anders as wat ons verwag het.

Sonder dat ons leiers ooit doemprofete was, selfs met hulle bydrae daartoe, het 1994 se oorgang meer as wat die meeste mense verwag het in die teken van versoening gestaan – of is dit ten minste so voorgehou. Anders as wat die destydse hoofstroomleiers egter geglo het, is die toekoms nooit, en ook nie in hierdie geval deur blote goeie gesindheid bepaal nie, maar deur strukturele kragte wat die samelewingsorde onderlê: deur bevolkingsgetalle, bevolkingsverspreiding, ekonomiese ontwikkeling, rykdom en armoede, arbeidsmag, politieke inspraak. In die euforie van versoening en verskoning het my pa meer as een maal opgemerk dat die swart meerderheid nie daarmee tevrede sal bly om die land te hê, maar nie die grond nie. Daarom die behoefte aan ’n volkstaat.

Terwyl Orania se stem dus onverpoosd opgegaan het vir selfstandigheid in ’n eie gebied as grondslag vir ons volk se toekomstige veiligheid en voorspoed en terwyl ons mense onverpoosd uit die ekonomie gedruk is, op plase en in dorpe en stede aangeval is, en in groot getalle die land verlaat het, het dit alles op ’n manier nog onder die vaandel van “versoening” plaasgevind. Iets soos Mandela se figuur in ’n groen rugbytrui met ’n 6 agterop het soos goedkoop dekor wat op lap geverf is en op die kante begin uitrafel het, agter ons in die wind geflapper en die werklikheid probeer versteek.

Op 27 Februarie vanjaar is die vals fassade afgeruk toe die Suid-Afrikaanse Parlement met ’n groot meerderheid besluit het dat grondbesit op die koloniale patroon deur onteiening sonder vergoeding reggestel moet kan word. In die oproep tot hierdie vergadering het ek gesê dat die poging om soveel moontlik aandag te vestig op die bedreiging van onteiening sonder vergoeding, nie net van grond nie, maar van alle vorme van eiendom, ’n ander en meer grondliggende kant van die saak versluier. Deur die sosialistiese aanslag slegs op ekonomiese terrein te beklemtoon en die anti-kolonialistiese sentiment waarop dit gebou is se bevolkingsimplikasies te vermy, kan ons ’n bepaalde persepsierisiko verklein, maar die fisiese risiko van uitdrywing en uitwissing vergroot. Ons moet die in die oë kyk.

Ek wil uit dieselfde brief aanhaal: Hoewel die mosie implikasies kan hê op eiendomsreg in die algemeen, verdien dit oorweeg te word dat daar net na “land” verwys word, en wel teen die agtergrond van die koloniale verowering daarvan. Die boodskap is eenvoudig en opgesluit in ’n frase van Malema se motivering tydens die debat: Mens koop nie gesteelde goed van ’n dief nie! Blankes, Afrikaners inkluis, is volgens hierdie vertolking niks anders as gronddiewe nie en ongeag of onteiening sonder vergoeding op groot skaal, selfs hoegenaamd gaan plaasvind, is dít die boodskap wat die mosie verkondig.

Nou kan ons dit as ’n “valse narratief in ’n vyandige diskoers” beskou – dit sou heeltemaal waar wees – maar ons sal ’n fout maak om in die proses nie van ten minste drie onomstootlike werklikhede kennis te neem nie.

• Die eerste is dat hierdie “narratief” op 27 Februarie die stempel van Suid-Afrika se hoogste wetgewende gesag ontvang het, en dit met ’n groot meerderheid. Dit is nie meer net die haatspraak van ekstremiste nie, dit het onbetwisbaar hoofstroomdenke geword. Soos een van die deelnemers aan die debat gesê het: die tyd vir versoening is nou verby …
• Die tweede is dat hierdie uitbeelding van Blanke Suid-Afrikaners en Afrikaners in besonder, resoneer met ou beelde van ons wat histories, ekonomies en sosiaal in die wêreld gevestig is. Ons kan dit nou oor die boeg van dreigende nasionalisering gooi en ons wen hopelik in die proses simpatie, maar ons kan nie bekostig om die sentimente wat teen ons ingespan word te onderskat nie.
• Die derde is in ’n sin die samevatting van die eerste twee, naamlik dat ons status in Suid-Afrika – nie net ons beeld of populariteit nie, maar ons status in hierdie proses verander het. Die Parlementêre besluit het die kroon gespan oor ’n lang proses van diskreditering en as ons realisties moet wees, kan ons nie anders nie as om te aanvaar dat die erkenning wat ons as inheemse volk geniet het in belangrike geledere verval het.

Volksmoord en uitdrywing word voorafgegaan deur mensontwaardigende taalgebruik; Tutsi’s word “kokkorotte” genoem – en dan “doodgetrap”. In Suid-Afrika is “gronddiewe” reeds besig om nie hulle straf vry te spring nie. Al is dit nie aan die hand van die regstaat nie, is dit nie vergesog om te dink dat verwikkelinge soos hierdie verder tot plaasaanvalle, haatmisdaad en anti-blanke terrorisme sal bydra nie.

Vir bespreking vandag moet ons dus aan die volgende aandag gee:

• Veiligheid en moontlike noodsituasies waarop Orania voorbereid moet wees en die rol wat ons met betrekking tot Afrikaners in die algemeen se veiligheid kan speel;
• Orania en die Orania Beweging se rol in breër Afrikanerverband, ons uitreik na en skakeling met mede-Afrikaners wat Orania nog nie ondersteun nie en die formalisering van samewerking met ander rolspelers en vennote;
• Orania en die Orania Beweging se skakeling met politieke rolspelers in Suid-Afrika, veral in ag genome die vervlegtheid van simbole en persepsies in swart Suid-Afrikaners se gemoed (bv. Afriforum vs Malema vs Orania);
• Skakeling met ons – Orania in besonder en Afrikaners in die algemeen – se vriende in die buiteland (stamlande en verwante volke) met die oog op bewustheid, posisionering en ondersteuning;
• Die monstering van institusionele ondersteuning vanuit die buiteland, van goedgesinde of simpatieke groeperings, partye en selfs regerings;
• Oordeelkundige posisionering in die huidige, post-koloniale diskoers en strategiese skakeling met rolspelers in Afrika waarby ons aansluiting kan vind.

Deel/Stuur

8 Reaksies op “Inleiding tot die spesiale sitting van die Burgerraad. 21 April 2018.”

  1. Retah Schreiber 24 April 2018 at 15:55 Permalink

    Dankie Carel Boshoff

    Ons beweeg saam vorentoe !
    Eendrag maak Mag !

    Groete

    Retah

  2. Stephan 24 April 2018 at 17:28 Permalink

    Mag ons iets te hore of te lese kry wat toe bespreek is en tot watter gevolgtrekkings daar op die vergadering gekom is?

    • Sebastiaan 26 April 2018 at 10:15 Permalink

      Ja. Sal binnekort terugvoering gee oor spesifieke besluite.

    • Sebastiaan Biehl 27 April 2018 at 16:26 Permalink

      1. Verhoog Orania en die Orania Beweging se sigbaarheid onder Afrikaners
      2. Beter samewerking tussen Orania Beweging en ander Afrikanerorganisasies
      3. Ondersoek ‘n volskaalse projek vir buitelandse skakeling met die oog op begrip vir ons situasie en ondersteuning vir ons werksaamhede en doelstellings
      4. Konferensie/s en geleenthede saam met ander rolspelers insake selfbeskikking, gemeenskapsontwikkeling, ens.
      5. Die Oraniagedagte in streeksperspektief
      6. Voorlegging aan die Parlementêre komitee wat ondersoek instel na die wysiging van die Grondwet met die oog op onteiening sonder vergoeding
      7. Ontwikkeling en vestiging van ‘n toepaslike arbeidskultuur onder Afrikaners in die algemeen en Oraniërs in die besonder
      8. Skakeling met regeringsinstellings op verskillende vlakke
      9. Voortgesette idee-ontwikkeling en opvoeding binne Orania

      • Ebert Terblanche 1 Mei 2018 at 22:53 Permalink

        Dankie Sebastiaan. Met die VSA wat dreig om humanitêre hulp aan Suid-Afrika te staak weens SA se stemrekord in die VN, is daar dalk geleentheid om die aktiwiteite rondom punt 3 uit te brei om die VSA in te sluit. Dalk kan ons “lobby” vir ontwikkelingshulp.

        https://mg.co.za/article/2018-04-30-us-threatens-to-cut-funding-to-south-africa

        • Ryno Brand 9 Mei 2018 at 10:51 Permalink

          Ek is self nie n inwoner van Orania nie, maar as iemand wat vir die SANDF se buitelandse sake divisie gewerk het, bikaterlare samesprekings gereel het en op dit ingesit het, kan ek nie genoeg beklemtoon hoe belangrik buitelandse steun is nie. As mens die regte groepe in die regte lande identifiseer kan Orania met daardie steun net vooruitgaan

      • Rudolf 23 Mei 2018 at 09:25 Permalink

        Dagsê Sebastiaan,

        Hoe beïnvloed die volgende punt:

        “6. Voorlegging aan die Parlementêre komitee wat ondersoek instel na die wysiging van die Grondwet met die oog op onteiening sonder vergoeding”

        ….Orania se “volhoubaarheid”, sou daar weer besluit word eise teen Orania in te stel?

        Ek begryp punt 6 is ‘n voorlegging aan die komitee wat die wysiging van die Grondwet moet ondersoek, maar wat is die nhoud van die voorlegging?

        Watter “waarborge” kan daar verwag word en wat is die negatiewe vir Orania wat hieruit kan voortspruit?

        Groete,
        Rudolf

  3. Ryno Brand 9 Mei 2018 at 21:20 Permalink

    Ek en my gesin brand om ons in Orania te vestig. Ek glo as hardwerkende Afrikaners wat gatvol is vir swak dienslewering en swakbestuur in alle sfere hier in Bloem klink Orania na die oase in die dorre woestyn van treurmare in die land. Hoop om dit binnekort te kan doen met die vaardighede wat ons het.


Lewer Kommentaar

*