23 Oktober 2017 ~ 18 Kommentare

Hoekom kan Orania nie vir almal wees nie?

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Orania is sinoniem met uitsluiting en diskriminasie, so hoor ons dikwels, veral in die media, omdat ons onomwonde sê ons is ʼn Afrikanergemeenskap met ʼn Christelike grondslag wat volkseie arbeid gebruik en strewe na selfbeskikking, en dus sluit ons nie almal by ons gemeenskap in nie. “Kan ek as iemand wat ʼn probleem met bogenoemde het of nie een daarvan is nie Orania toe kom?” word dikwels gevra. Jy kan soos almal aansoek doen, maar hoekom wil jy deel van ʼn gemeenskap wees waar jy nie inpas nie en as die grondbeginsels jou pla? Dit wat almal eerste aantrek, naamlik veiligheid, het nie so seer te doen met goeie veiligheidsdienste (dit wel ook) of hoë heinings nie (wat ons nie het nie), maar met die homogene aard van ons gemeenskap, waar mense mekaar ken en mekaar vertrou en waar nuwe intrekkers eers verblyfreg moet kry, en les bes, met volkseie arbeid. Veiligheid is ook nie die primêre rede vir Orania se bestaan nie, maar die bewaring en uitbou van ʼn volk in bedreiging.

Carel Boshoff, die president van die Orania Beweging, het dit nogal goed beskryf: Orania is soos ʼn koekresep: as jy hou van die koek en dit wil bak, dan moet jy hou by die resep. Dit help nie jy besluit jy los sekere bestanddele uit en sit ander by, dan het jy ʼn heel ander koek wat heel waarskynlik nie meer so lekker gaan smaak nie.

Orania se bestanddele, wat deel uitmaak van ons sukses, is Afrikaans, Christenskap, eie arbeid, lokalisme, gemeenskap, gesinswaardes. As daar nou ʼn persoon kom en sê: ek hou van Orania, maar ek is Engels, word asseblief Engels ter wille van my, of ʼn ander een sê: ek hou van Orania, maar laat vaar asseblief die eie arbeid want ek wil my bediende saambring, of nog iemand sê: ek is ʼn ateïs, so doen asseblief weg met julle klem op Christenskap, dan is Orania net nie meer Orania nie, maar ʼn plek soos enige ander een ook.

Ons kan tereg vra: hoekom wil jy dan in Orania bly as dit op ander voorwaardes is? Hoekom voel jy as Engelssprekende/sekulêre/multi-kulturele persoon dan nie tuis waar jy is nie en waar jy dit alles het? Dalk omdat jy nie bereid is om die nadele wat met so ʼn opset saamgaan te aanvaar nie, naamlik vervreemding, hoë misdaad, morele verval? As jy in Orania wil bly dan pas jy aan by die gemeenskap en hulle waardes, nie andersom nie.

Dit is moeilik verstaanbaar in ʼn era waar die regte van die kleinste subgroep of sogenaamde minderheid uitgelig word en waar daar onder geen omstandighede teen iemand “gediskrimineer” moet word nie (al word daar weer diskriminasie van ‘na der soort toegepas). Alles gee vir iemand aanstoot en moet verwyder word, en wat oorbly is ʼn van alle geskiedenis, sin en betekenis gestroopte globalistiese verbruikerssamelewing. Dieselfde mense wat so ʼn samelewing afgedwing het, kom nou agter dat dit in ʼn nagmerrie ontaard het. Nou soek hulle die idilliese, veilige Orania, maar op hulle voorwaardes.

Ons in Orania was en is nog steeds bereid om die prys te betaal wat saamgaan met ons opset wat ons verkies, naamlik om gereeld gespot te word of deur joernaliste soos ʼn eksotiese spesie hanteer te word, om ekonomies minder welvarend te wees, om baie tyd en energie in te sit in gemeenskapsprojekte om mense op te hef, om beperk te wees wat gerief en goedkoop arbeid betref. Dit is egter deel van die wenresep, wat ʼn baie lekker koek maak, en daarom gaan ons nie daaraan torring nie.

Bygesê, anders as wat die persepsie is, is ons ook met die spesifieke “bestanddele” ʼn redelik diverse gemeenskap en is dit geen maklike taak nie om almal tevrede te stel en by die gemeenskap te laat inskakel. Mense kom uit alle oorde van die land, uit alle klasse, hier is oud, middeljarig en jonk, van nominale Christene wat selde kerk toe gaan tot baie toegewydes, feitlik alle denominasies, hoogs geleerdes en ongeskooldes ensovoorts. ʼn Aftreeoord of golflandgoed, al is dit oop vir “alle rasse, kleure, gelowe ens” solank dit net ʼn sekere ouderdoms- of inkomstegroep is, is baie meer homogeen as Orania. Die “alles vir almal/gelukkige multi-kulturele samelewing” is in elk geval ʼn fantasie wat nêrens werklik bestaan nie. Kies vir jou ʼn plek waar jy inpas, maar moenie dit wil verander wat die wese van so ʼn plek uitmaak nie.

 

Deel/Stuur

18 Reaksies op “Hoekom kan Orania nie vir almal wees nie?”

  1. Johan 23 Oktober 2017 at 17:38 Permalink

    Sebastiaan, ek lees gereeld julle blog en moet se dat ek soms baie verskil met die inhoud van sommige artikels. Ek het die een terdee geniet en stem volkome met jou saam! Dankie vir ‘n nugter uitkyk op die moeilike onderwerp. Groete, Johan.

    • Sebastiaan Biehl 24 Oktober 2017 at 08:41 Permalink

      Dankie, ek waardeer die terugvoering.

  2. Francois 23 Oktober 2017 at 17:55 Permalink

    Beste Jaco

    Dis die beste artikel wat ek ooit gelees het van Orania. As julle die resep verander, gaan Orania nie meer my bestemming wees nie. Hou so aan. Hou baie van hoe julle dink en doen!

    • Francois 23 Oktober 2017 at 22:11 Permalink

      Jammer, Sebastiaan. E-pos kom van Jaco af, daarom die fout.

      • Sebastiaan Biehl 24 Oktober 2017 at 08:41 Permalink

        Alles reg. Dankie Francois.

  3. Boerseun 23 Oktober 2017 at 18:16 Permalink

    Sebastiaan.
    Ek het jou ontmoet toe ek in Orania was tydens die Junie vakansie. Jy is n wel gesproke, slim en wyse man. Dankie vir wat jy doen.
    ” Dieselfde mense wat so ʼn samelewing afgedwing het, kom nou agter dat dit in ʼn nagmerrie ontaard het. Nou soek hulle die idilliese, veilige Orania, maar op hulle voorwaardes. ” – Dit is waar, maar daar is nog vele liberale wat nie wil ontwaak nie, en glo die fout le by hulle en nie by die Marxistiese ideologie nie. Sommige mense kan jy net die verander nie, en word weg tussen die massas. Goeie artikel, hou aan bou Orania en moenie die resep verander nie!

    • Sebastiaan Biehl 24 Oktober 2017 at 08:42 Permalink

      Dankie vir die kompliment en besoek ons gerus weer.

  4. Pieter van Niekerk 23 Oktober 2017 at 19:50 Permalink

    Sebastiaan, daar word dikwels verwys na ‘n “rassistiese Orania” omdat ander rasse as blankes uitgesluit word. Maar hoe lyk dit elders in die sogenaamde reenboog samelewing van Suid-Afrika?

    Voorbeeld 1
    Die organisasie BLA (Black Lawyers Association) is aanvaarbaar. Maar moet tog om hemelsnaam nie ‘n WLA (White Lawyers Association) stig nie. Jy sal in die sterkste taal veroordeel word omdat jy ‘n rassistiese organisasie stig. Dalk sal jy ook hof toe gesleep word.

    Voorbeeld 2
    In 2015 het Regter Desai ten opsigte van die MM Hattingh beurs wat aanvanklik slegs vir blanke studende geoormerk was, die woord “wit” is as ongeldig verklaar. Stellenbosch Universiteit was soos volg in die pers aangehaal: “….It (Stellenbosch) did not discriminate on the basis of race, gender, religion, culture or language.”

    Die universiteit gaan verder en verklaar swart op wit in die Stellenbosch Universiteit jaarboek 2017:Inklusiwiteit soos volg: “Die Universiteit diskrimineer nie op grond van ras by die uitvoering van sy beurs- en leningsprogramme nie.”

    Maar dan laat die universiteit steeds beurse toe wat uitsluitlik vir studente van ‘n spesefieke bevolkingsgroep beskikbaar is. Twee van ‘n aantal voorbeelde is die volgende:

    Rodney Africa-beurs
    Wie kwalifiseer? Voorgraadse bruin en swart studente.

    Amicus/Aall Foundation-beurse
    Wie kwalifiseer? Behoeftige regstudente in enige jaargang behalwe die eerste jaar. Beperk tot studente afkomstig uit histories benadeelde gemeenskappe

    Dus, toe die MM Hattingh beurs slegs vir wit kinders geoormerk was en ander rasse uitgesluit het, was dit diskriminasie in die ergste graad en het ‘n regter die woord “wit” uit die beursvoorwaardes verwyder. As Rodney Africa beurs wit kinders uitsluit is dit egter glad nie diskriminasie teen wit kinders nie en is dit geheel en al aanvaarbaar.

    Dit is ‘n tipiese voorbeeld van die dubbele standaarde waarmee ons moet saamleef. Jy kan op 100 verskillende wyses blankes uitsluit en dan is dit steeds aanvaarbaar. Moet tog net nie ander rasse uitsluit nie. DAN is dit diskriminasie!

    Dus, Orania is vir wit Afrikaners en ons hoef nie hiervoor skaam te wees nie

    • Paul 30 Oktober 2017 at 19:32 Permalink

      Ek dink dit het tyd geword dat ons sulke sienswyses loof vir wat dit is.

      Ek stem 100% saam met hierdie kommentaar, nie uit haat vir ander mense nie, maar omdat ek glo ons ook ‘n waardige plek onder die son verdien.

      As ons goeie waardes en liefde vir ons eie wil koester, moet ons ook leer om vir onsself op te staan en die prys van selfbeskikking te betaal.

      My eie is vir my mooi en dit is die moeite werd om daarvoor te veg.

      Liefde groete

  5. Ernst Marais 23 Oktober 2017 at 21:20 Permalink

    ‘n Baie goeie artikel wat Orania se standpunt duidelik stel.
    Dit omvat by verre die meerderheid van diegene wat hulself as Afrikaners beskou.
    Ek stem ook saam dat daar nie aan die resep getorring moet word nie.

    Insgelyks moet die hoofstroom Afrikaners besef dat daar ook mense is wat hulself as Afrikaners beskou maar buite die hoofstroom val.
    So is daar byvoorbeeld ateïste, kommuniste en selfs nasionalistiese Duitsers maar hulle is nog steeds Duitsers.

    Dit is onwaarskynlik dat diegene buite die hoofstroom hul ooit in Orania sal vestig en/ of bereid sal wees om te lieg vir aanvaarding maar dit beteken nie dat hulle nie ook baie van die sentimente van Oraniërs deel nie.
    Dit beteken ook nie dat Oraniërs nie goeie bande met hulle en groepe soos byvoorbeeld die Rehoboth Basters kan sluit nie.
    Sulke groepe behou hul identiteit en bly waar hulle gemaklik is.

    Miskien is ons op pad om na ‘n Switserse kanton stelsel met unieke streke

  6. bgj van der westhuizen 24 Oktober 2017 at 07:35 Permalink

    hou by besluit moet nie verander nie daar is genoeg mense wat dit onder steen al kan hulle dalk nie bekostig om na orania toe te trek nie

  7. Eralda 24 Oktober 2017 at 17:03 Permalink

    10 uit 10! Dis duidelik dat Orania n groot sukses is en die resep werk…en daarom moet daar nie daaraan gekarring word nie. Hier praat ons ons taal: AFRIKAANS. Hier het ALMAL werk: eie arbeid. Hier kan ek my Godsdiens vrylik geniet: Christenskap. Hier onthou ons wat ons voorvaders alles opgeoffer het: Kultuur. Ons gedenk vakansiedae wat belangrik vir ons kultuur is en deel is van ons geskiedenis.

  8. Tiaan 29 Oktober 2017 at 10:22 Permalink

    Iemand maak nou die dag n opmerking teenoor my dat die prys van eksklusiewe denke te hoog is om te betaal en die moderne Afrikaners vervreem.
    My vraag aan hom was of die koste berekening vir inklusiewe denke al ooit gemaak is?
    Die wêreld bestaan uit eksklusiewe plekke, dit hang net af waarop jy jou eksklusiwiteit begrond. Meeste welvarende Afrikaners vandag is gemaklik daarmee om hul eksklusiwiteit te begrond op die dikte van hul beursies. Wat my aanbetref is daar min dinge meer imoreel en Bybels onregverdigbaar as dit. Nee kom ons begrond ons eksklusiwiteit op ons identiteit, slegs dit is volhoubaar en wenslik. Dankie Sabastiaan ek het dit geniet!

  9. Marcel 30 Oktober 2017 at 22:40 Permalink

    Uitstekend, Sebastiaan! Jy sit hiermee die “kersie op die koek”!

  10. Johannes Spies 1 November 2017 at 19:42 Permalink

    Dit is met trots en n warmte in die hart dat ek dit van Orania lees.
    Stuur asseblief vir my die vereistes wat aan voldoen noet word na my e-pos, sal dit waardeer.
    Ek beplan om om Orania toe te trek.
    Groete
    Johan Spies

  11. Jim 2 November 2017 at 10:51 Permalink

    Uitstekende artikel! Ek was al twee keer op julle pragtige dorp en n mens kom onmiddelik agter dat dit veilig is. Ek is opgewonde vir julle part deurdat julle so uitbrei en beplan om n stad te word. Moet asseblief nie aan julle wenresep verander nie!!!

  12. Herman Fyfer 2 November 2017 at 22:22 Permalink

    Dankie Sebastiaan,ek verstaan dit ook so en hou dit so asb.
    Groete

    • Sebastiaan Biehl 3 November 2017 at 12:47 Permalink

      Ons maak so. Dankie vir die ondersteuning al vir baie jare.


Lewer Kommentaar

*