08 Desember 2010 ~ 6 Kommentare

Hoekom is outentiekheid so aanstootlik (as dit Afrikaans is)?

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Ons is nou al vir jare gewoond aan hatige en snedige artikels of opmerkings oor Orania, gewoonlik komende van joernaliste en mense wat hulself graag as “geglobaliseerd” beskou, nogal heelwat van hulle Afrikaners (of Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, om hulle eie polities korrekte term te gebruik).

Daar is gewoonlik 3 hoofbeskuldigings teen Orania: Die eerste beskuldiging is die van “rassisme”. Daar is al deur Jaco Kleynhans en ander breedvoerig en treffend op geantwoord. Die tweede is gewoonlik “isolasie”, ook dit is al bespreek en as belaglik bewys.

‘n Derde beskuldiging wat effens moeiliker verstaanbaar is en nog meer irrasioneel as die bogenoemde twee is, is die beskuldiging van outentiekheid. Dit kom vreemd voor, want anders as rassisme en isolasie wat as negatief beskou word, is outentiekheid eintlik iets wat gewoonlik positief oorkom. Nogtans is daar menige joernaliste of selfaangestelde stormtroepe van die reënboognasie wat met sadistiese genot relase skryf oor hoekom hulle nie in ‘n plek wil bly waar “ou ooms met kakiebroeke en tannies met Voortrekkerrokke koffie op die stoep drink en koeksisters eet, Sondag almal kerk toe gaan en die enigste vermaak volkspele en jukskei speel is,” woorde met veragting uitgespoeg asof hulle afstootlik is.

Daardie globaliste verag duidelik dit wat eie is en bewonder dit wat vreemd is. Die ironie daarvan is egter dat hulle outentieke of eertyds outentieke dinge en gewoontes uit Europa of die Verre Ooste oorneem in die soeke na ‘n opgelapte “wêreldsheid”, soos sushi of latte macchiato of chai tee.

Wat sou daardie globaliste sê as Japanners skielik voel dat sushi outyds is en skielik begin om koeksisters en gaargebraaide skaapribbetjies te eet om te wys hoe globaal hulle is? Of die Indiërs wat hulle “chai” verag en nou almal rooibostee wil drink omdat dit “modern” is. Dit klink absurd en nogtans is dit presies wat die globaliste doen. Rooibos het, interessant genoeg, in Europa en die VSA die groot mode geword vir ‘n jaar of twee (soos enige mode, van korte duur), dieselfde rooibos wat deur die globaliste seker ook verag is as “outydse plaastannietee”. En as die globaliste besef dat koeksisters oorspronklik uit “eksotiese” Indonesië kom, sou hulle dit miskien skielik met nuwe belangstelling en bewondering bejeën.

Hoe kan volkspele “outyds” wees as Keltiese danse, wat baie ouer is, nou skielik en vogue is?

Die absurditeit gaan selfs verder. Dieselfde globaliste wat dit wat outentiek aan hulle eie kultuur is verag, reis die hele wêreld vol op die soeke na outentiekheid van volke: Tuareg-kultuurfeeste in Mali,  Ovahimbas in hulle krale in Namibië, Tibettaanse monnike in die Himalajas, Hindu-priesters in Indië, ‘n tradisionele koffieseremonie in Ethiopië, buikdansvertonings in Arabië, Skotse hooglandspele ens. In Naspers-bydrae word dit simpatiek beskryf. Om byvoorbeeld ‘n Tuareg-kultuurfees as “verstok, agter die klip, in weerstand teen die multi-kulturele samelewing, diskriminerend teen nie-Tuareg, uit tred met die tyd ens” te beskryf sou bykans ondenkbaar wees. Hoe kan jy die outentieke soek en bewonder by ander volke en dit gelyktydig verag in jou eie volk?

Is dit nie juis ‘n teken van ‘n leegheid, as jy geen eie volksidentiteit meer het nie en dit moet vervang deur ‘n oppervlakkige mengelmoes-identiteit van enkele aspekte van ander volke se gewoontes? Ek het nie ‘n antwoord nie, dalk kan ‘n sielkundige dit verduidelik.

Moontlik is dit ten dele ‘n oorkompensasie van die Afrikaner-globaliste wat in die 1970’s grootgeword het onder Christelik-nasionale onderwys en sanksies, om nou uit ‘n soort vertraagde rebellie alles te bewonder wat van buite kom en die eie te verag en dit op Orania uit te haal as die verbeelde verteenwoordiger van hulle gehate eie verlede.

Dit is vir my baie meer voor die hand liggend om jou eie volksidentiteit en outentiekheid uit te leef en te vier en om daarom juis respek en waardering vir ander volke se outentiekheid te hê.

Op Orania doen ons dit en moedig ontstamde Afrikaners wat hier aankom aan om dit ook te doen, op ‘n kontemporêre wyse, maar sonder om die uniekheid en die oorgelewerde gebruike weg te gooi.

As jy die verlore kulturele gewoontes van jou volk weer herontdek en op ‘n hedendaagse manier uitleef, dan vervul dit jou nie net as mens en bou ‘n band met jou volksgenote nie, maar dit gee jou ook opnuut waardering vir ander volke wat dieselfde doen.

Ons staan glad nie alleen in die herontdekking van die outentieke nie. Alle volke het dit deurgemaak en is in verskillende stadiums: eers die tradisionele stadium, waarin sekere pre-moderne kulture nog verkeer, wat dit doen omdat hulle dit so ken en geen toegang tot die globale mark het nie. Dan die reaksie daarteen, om jou eie te verag en alles wat anders is en van buite kom, te omhels. Baie lande, veral in die semi-gemoderniseerde oorgangsamelewings soos Suid-Afrika, waar tradisionele en modern direk langs mekaar lê, is tans in die fase (“Coke is beter as bokmelkjogurt”) en ook ons eie Afrikaner-globaliste. Daarna volg as derde stadium die herontdekking van die eie en outentieke van jou kultuur wat as ‘t ware herskep word. Sekere Europese minderheidsvolke is daarmee besig want hulle het besef dat die omhelsing van die globalisering hulle kultuur vernietig. Die gewildheid van volksdanse, kunshandwerk en selfs die aanleer van dialekte en streektale wat bykans uitgesterf het soos Oksitaans of Gallis, is uitdrukkings daarvan.

Die derde Afrikaner wat ons graag in Orania wil vestig en laat ontstaan, gaan saam met die derde stadium. Die globale sal altyd daar wees en min mense wil of kan daarsonder regkom, maar dit moet aangevul word deur dit wat eie aan ons is: daar is verpakte en behandelde melk by die supermark, maar ook plaaslike melk direk van die koei af; produkte wat jy orals kry en tuisgemaakte produkte wat jy net op Orania kry; DSTV en toneelstukke; globale trefferliedjies in die diskoteek en volkspele met tradisionele klere.

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Hoekom is outentiekheid so aanstootlik (as dit Afrikaans is)?”

  1. LangHans 18 Januarie 2011 at 11:42 Permalink

    Ons is almal maar reisigers en dít wat ons ervaar, ervaar ons as toeriste. As jy “eiegoed” kan beskou as daardie enkele bestemming wat ‘n sagte plek in jou hart het en wat jy moet koester, eerder as ‘n fort wat ten alle koste beskerm moet word, spreek dit van ‘n grootgeestigheid waaraan ons deesdae so gebrekkig is – dalk in teenreaksie, maar nogtans gebrekkig.

  2. BB 19 Januarie 2011 at 12:12 Permalink

    Lanklaas so ‘n groot waarheid raakgelees!

  3. Marius 3 Februarie 2011 at 09:43 Permalink

    As ons net dit kan regkry om ons Afrikanerkultuur deel te maak van net 50% van ons Afrikaner jeug, het die Afrikaner die stryd alreeds gewen!!
    Dankie vir so brief! My raad aan u is om die selfde brief aan al die Afrikaanse koerante in die land te stuur!

  4. Jan van Rensburg 27 Februarie 2013 at 07:14 Permalink

    Verstaan nie die koppe van Orania nie. Sal graag meer wil weet.

  5. Sebastiaan 9 Maart 2013 at 08:35 Permalink

    Beste Jan,

    wat verstaan jy nie en waarvan sal jy graag meer wil weet?

    • Werner Heyns 12 Maart 2013 at 15:38 Permalink

      Middag Sabastiaan , ek stem volkome saam met wat jy se , dit is reguit op die punt af , as jy jouself n’ Afrikaner ag tree dan op soos n Afrikaner !!

      Sterte in Orania sien julle binnekort weer .

      Groetnes

      Werner


Lewer Kommentaar

*