18 November 2010 ~ 4 Kommentare

Hoe lyk ‘n Orania-mens?

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Jy moet in Orania bly om die wese van ‘n Oraniër te verstaan. Dit het ek die afgelope drie maande besef.

Wanneer Orania se inwoners in die media beskryf word, probeer joernaliste altyd ‘n vergelyking met die Afrikaner van ‘n paar dekades gelede maak. Een joernalis wat Orania onlangs besoek het, het spesifieke foto-geleenthede waar mans vuurwapens vashou en vrouens lang Voortrekker-rokke dra, versoek.

Hoewel ons hier in Orania baie trots op ons geskiedenis, kultuur en tradisies is en dinge soos volkspele, Cantus en ons feesdae soos Geloftedag koester, is ons ook ‘n moderne, aanpasbare gemeenskap waar die inwoners oor die afgelope 19 jaar unieke eienskappe begin ontwikkel het.

Die een ding wat my opgeval het is dat ons inwoners minder rasbehep is as die meeste Afrikaners daarbuite. Wanneer jy in Pretoria tussen vriende en familie kuier word ras gou deel van die gesprek omdat mense met goeie rede frustreerd is met misdaad, swart taxi-bestuurders, regstellende aksie en swak regering om maar ‘n paar voorbeelde te noem. In Orania praat ons oor hoe ons, ons kultuur beter kan beoefen, meer inwoners by kultuurdae kan betrek, beter groentetuine kan aanplant, energie kan bespaar, minder huishoudelike afval kan genereer en die voor en nadele van sonkrag.

Die Orania-mens is dus iemand wat naby aan die natuur en nog nader aan sy kultuur leef. In Orania is mense saans besig om in die permakultuur-tradisie tuin te maak terwyl hul na Radio Orania luister. Ons haal die heinings om ons erwe af en kuier saans by ons bure. Ons plant vrugtebome en roei indringer uitheemse plante uit. Ons debateer oor watter gras om aan te plant en hoe om ‘n mooi Karoo-tuin te vestig. Gesprekke oor die vrugbaarheid van ons grond en hoe ons self grond kan ‘maak’ (Orania se grond is maar vlak en relatief swak) hou ons oor naweke besig wanneer ons by vriende kuier. Ons verf almal ons huise se dakke wit omdat dit baie warm in die somer word. Die afgelope 19 jaar het daar ‘n unieke Orania-kultuur ontstaan en jy kan dit net ten volle beleef wanneer jy self ‘n Oraniër word.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Hoe lyk ‘n Orania-mens?”

  1. Ben 19 November 2010 at 04:27 Permalink

    ‘n Ander wereld,’n wereld met uitdagings! In die NSA is ons hande afgekap en al wat oorgebly het is kla.Orania is net die regte medisyne met die regte uitdagings.Niks beter as dit om ‘n positiewe gesindheid te skep nie.

  2. Gert Botha 19 November 2010 at 09:52 Permalink

    Dit klink soos die paradys.Om jouself met die positiewe dinge waarvan jy praat besig te hou.En om hierdie ras ding uit jou gedagtes uit te kry!Orania is die oplossing!

  3. Cesar Ferreira 22 November 2010 at 15:31 Permalink

    Orania, die land is die gewone Suid-Afrika.

  4. Francois van Zyl 28 November 2010 at 14:16 Permalink

    Dit klink werklik soos Hemel op aarde.Dalk moet julle die beleggings moontlikhede meer beskikbaar stel,as dit eenigsins moontlik is !!!!


Lewer Kommentaar

*