12 Augustus 2013 ~ 24 Kommentare

Hoe kan Orania se relevansie verhoog word?

Geskryf deur Wynand Boshoff

Dat Orania ’n interessante, selfs relevante verskynsel is, is duidelik aan die aandag wat hierdie klein nedersetting ontvang. Nie alle aandag is goedgesind nie en sommige probeer juis irrelevansie bewys. Hoe sleg die herhaling van negatiewe opvattings oor Orania ook al is, stilswye sou erger wees. Nogtans moet ons vra hoe ons méér relevant kan wees.

Orania is hoogstens so relevant wees as die ideaal waarvoor ons staan. Dit is selfbeskikking, herwinning van Afrikanervryheid, die volkstaat, watter omskrywing ook al. Orania is nie in die eerste plek ’n ekonomiese projek, ’n karoodorp of ’n model van goeie plaaslike bestuur nie. Dit is die embrio van groeiende Afrikanervryheid. As Afrikaners geen belang daarby het nie, is Orania irrelevant. Die noodsaak van vryheid moet dus sentraal staan.

Orania staan ook nie vir enige soort vryheid nie. Tevore het Afrikaners geïntegreerd met ander mense geleef, maar die politieke en sosiale gevolge daarvan probeer omseil. Twee maal het dit skouspelagtig misluk: In 1902 en in 1994. Herwonne vryheid mag nie weer ander se burgerregte ontken nie. Of Afrikaners daarvan oortuig kan word, bepaal Orania se relevansie verder.

Selfbeskikking klink abstrak, maar kry in konkrete gestalte sy volle betekenis. Dit is die bestaansrede vir Orania. Daardie gestalte moet so wees dat dit oortuig. Hoe makliker dit vir Afrikaners is om in Orania te hervestig, hoe meer relevant raak ons. Tans is die ekonomiese skaal so beperk, dat Engeland, Kanada, Australië of Nieu-Seeland vir honderdduisende Afrikaners meer relevant as Orania is. Dit moet stelselmatig omgekeer word.

Vir Orania is dit belangrik dat ander Afrikanerinstansies ook suksesvol sal wees. Burgerlike organisasies wat hulle vir Afrikanerbelange beywer, deel nie noodwendig Orania se toewyding aan selfbeskikking nie. Tog verseker party byvoorbeeld die voortgang van kuns, onderwys of wetenskap in Afrikaans. Ander gebruik die howe en ander instrumente om onwettige benadeling te voorkom. Daarsonder boer Afrikanerskap steeds agteruit en word Orania minder relevant.

Dieselfde geld vir politieke partye wat selfbeskikking steun. Suid-Afrika is ’n regstaat wat amptelik slegs uit indiwidue bestaan. Die regerende party probeer swart Suid-Afrikaners aktief bevoordeel, terwyl die sterkste opposisiepartye slegs op konsekwente uitvoering van die regstaat aandring. Slegs een geregistreerde politieke party beywer hom vir Afrikaners se selfbeskikking. Waarnemers meet die steun vir selfbeskikking aan die aantal stemme wat dié party trek. Hoe groter die steun, hoe groter die relevansie van Orania as beliggaming van selfbeskikking – selfs al steun elke ondersteuner van die party nie ook vir Orania nie.

Orania se relevansie word deur die sekondêre dinge waarmee ons besig is, beïnvloed. Ons onderwys, boerdery, bouprojekte, ontspanning, georganiseerde kultuurlewe, interne regering, of watter aspek ook al, is in diens van die sentrale ideaal. Tog dui dit op gehalte – of gebrek daaraan. En gehalte verhoog altyd relevansie.

Kortweg: Orania se relevansie kan verhoog word deur aan te toon dat Afrikaners Orania nodig het en dat Orania Afrikaners trots kan maak.

* Dr Wynand Boshoff is ‘n plaaslike navorser en entrepreneur.

 

Deel/Stuur

24 Reaksies op “Hoe kan Orania se relevansie verhoog word?”

  1. Simon 13 Augustus 2013 at 01:24 Permalink

    Hallo Wynand

    ‘n Skynbare teenstrydigheid in die skrifstuk en moontlik ook ‘n gedeeltelike antwoord op die onderwerp-vraag:

    “Orania is nie in die eerste plek ’n ekonomiese projek,….”

    Teenoor

    “Hoe makliker dit vir Afrikaners is om in Orania te hervestig, hoe meer relevant raak ons. Tans is die ekonomiese skaal so beperk, dat Engeland, Kanada, Australië of Nieu-Seeland vir honderdduisende Afrikaners meer relevant as Orania is. Dit moet stelselmatig omgekeer word.”

    • Quintin Diederichs 13 Augustus 2013 at 12:38 Permalink

      Simon, ek sien geen teenstrydigheid hier nie. “Orania is nie IN DIE EERSTE PLEK ‘n ekonomiese projek nie”.

      Dis feitlik korrek. As ons in die eerste plek net ‘n sterk ekonomie wou skep, dan sou ons waarskynlik beter gedoen het om in 1991 China of Indie toe te gaan.

      Ons is in die EERSTE PLEK ‘n volkstaatgroeipunt vir Afrikaners wat die beginsels van selfbestuur en eie arbeid as ononderhandelbare vereistes vir ons oorlewing beskou. Daarna volg aspekte soos ekonomiese ontwikkeling, onderwys, interne bestuur ens. Die sekondere aspekte is ongelooflik belangrik, maar dis nie waaarom ons in die EERSTE PLEK hier is nie.

      • Simon 13 Augustus 2013 at 23:19 Permalink

        Quintin ek stem saam met jou standpunt en (Wynand se skrywe) dat Orania eerste ‘n volkstaatgroeipunt is en ook daarom ook dat ek dit ‘n OENSKYNLIKKE teenstrydigheid noem.

        Jy noem ook, “die sekondêre aspekte is ongelooflik belangrik”, en ek sal verder wil gaan om te se dat die sekondêre aspekte en spesifiek ook ‘n Afrikaner ekonomie die middel tot die doel (Afrikaner selfbeskikking binne ‘n volkstaat) is en dat daarsonder die doel nie bereik kan word nie.

        Interessant, verder noem jy ook:

        “As ons in die eerste plek net ‘n sterk ekonomie wou skep, dan sou ons waarskynlik beter gedoen het om in 1991 China of Indie toe te gaan.”

        Alhoewel Orania ‘n fisiese groeipunt is hoef ‘n Afrikaner ekonomie nie geografies gebonde te wees nie wat beteken dat dit teoreties ook tentakels in “Engeland, Kanada, Australië of Nieu-Seeland” kan hê maar wel gewortel is in die Volkstaat en ook daar sal bydra tot werk skepping wat dan ook die gedeeltelike antwoord is op die vraag oor “Hoe kan Orania se relevansie verhoog word?”.

  2. Dante' Strauch 13 Augustus 2013 at 09:14 Permalink

    Wynand, moenie vergeet van die Orania beweging lede nie! Dat daar ‘n paar duisend mense elke maand ‘n klein fooi betaal verhoog sekerlik die relevansie. Maar dit kan baie meer wees!

    • Jaco Kleynhans 13 Augustus 2013 at 10:14 Permalink

      Dante. Ek stem saam met jou. Elke lid van die Orania Beweging is ‘n ambassadeur en indien elke lid vir net twee of drie ander mense van Orania en ons visie vertel het ons al heelwat gevorder.

  3. Anthony Schlemmer 15 Augustus 2013 at 09:39 Permalink

    Orania sal baie relevant raak as daar tien tot twintig duisend mense woonagtig is. En dit dan ‘n impak het op die stembus…..

    Dit gaan gebeur, net ‘n kwessie van tyd!

  4. Frits 15 Augustus 2013 at 20:19 Permalink

    Orania sal ook meer en meer relevant word soos dinge verswak in SA, en Afrikaners genoodsaak word om n alternatief te kies.

  5. Andries Vorster 16 Augustus 2013 at 13:03 Permalink

    Ek stem 100% met Wynand saam dat Orania Afrikaners moet trots maak. Dit beteken almal vanaf die ongeskoolde arbeider tot die hoogsgeskoolde.

    So byvoorbeeld: telkens wanneer ongeskooldes handearbied verrig in Oranie (en hopelik in die groeiende volkstaat gebied) moet werkgewers en ander toeskouers hulle aanprys en waardering uitspreek vir hulle aandeel in ‘n suksesvolle gehalte gedrewe gemeenskap. Daar moet gewaak word om nie swak abeidspraktyke (‘n geskree en geskel, wat in elk geval nie tuishoort by ‘n Christelike gemeenskap) daar te herhaal nie. Dit hartseer maar waar dat mens moet hoor van sulke onbehoorlike hantering van arbeiders op Orania. Dit maak my nie trots nie, en verseker ook nie vir die werker wat so behandel word nie. Ek weet daar is seker twee kante tot die storie, maar kom ons as werkgewers hou ons kant skoon.

    Voorts is die ook jammer om op die poslys te lees van swakgehalte dienslewering deur kontrakteurs in Orania. Ek vra nie vir ‘n gehaltebeheerraad nie, ek doen ‘n beroep om almal wat dienslewing verrig in Orania om selfverantwoordelikheid te neem en vir gebruikers (hetsy besoekers of inwoners) om swak diens uit te wys en aan te spreek, natuurlik op ‘n positiewe en opbouende wyse. Kom ons help mekaar om gehalte te verbeter en so kan almal in- en uitwoners meer trots wees op Orania. Ons wil meer relavant raak omdat ons dinge beter doen op Orania, nie omdat dinge verswak in die res van SA nie.

    Genoeg negatiewe insette van my kant ook, kom ons wees positief en kyk hoe ons die jeug kan trots maak op Orania en die volkstaatgedagte.

    Nog iets wat ons moet doen is om meer inligting oor Orania en ook die voorgestelde volkstaatgebied beskikbaar te stel op die webwerf. Oraniabeweginglede moet toegerus word met inligting ten einde effektiewe ambassadeurs vir die volkstaatgedagte te kan wees. Nie net akademiese en intelektuele gesprekke nie, net bloot nuuswaardige gebeure op ‘n daaglikse basis wat onsself opgewonde hou die volkstaat ook genoeg ‘materiaal/aanknopingspunte’ gee om oor te praat rondom ‘n braaivleisvuur.

    Daar is vele van ons wat nie so gereeld op Orania kan kom nie en elke slag as ons daar was het ek vir die volgende paar weke so baie om oor te praat met vriende en kollegas, maar soos die tyd verbygaan kry ek nie genoeg nuwe inligting/nuuswaardighede om met die vriende te deel nie en dus koel die gesprekke af. Met ‘n konstante vloei van inligting kan ons beter en trotse ambassadeurs wees.

  6. Simon 17 Augustus 2013 at 02:50 Permalink

    Andries nou praat jy:

    “Nog iets wat ons moet doen is om meer inligting oor Orania en ook die voorgestelde volkstaatgebied beskikbaar te stel op die webwerf. Oraniabeweginglede moet toegerus word met inligting ten einde effektiewe ambassadeurs vir die volkstaatgedagte te kan wees. Nie net akademiese en intelektuele gesprekke nie, net bloot nuuswaardige gebeure op ‘n daaglikse basis wat onsself opgewonde hou die volkstaat ook genoeg ‘materiaal/aanknopingspunte’ gee om oor te praat rondom ‘n braaivleisvuur.”

    Wynaand sê “Dit (Orania) is die embrio van groeiende Afrikanervryheid” ek wil verder gaan om te se Orania is reeds die hartklop van Afrikanervryheid en van die volkstaat en daar moet hard begin werk word aan die liggaam van die volkstaat. In retrospeksie kan geargumenteer word dat die hart reeds sy funksie (‘n baie belangrikke funksie) het en dat dit dan sin maak rondom die argument van b.g. skrywe dat die hart nie ander funksies kan verrig nie. In dieselfde asem het die hart ook die res van die liggaam nodig vir sy oorlewing.

    Wil nie verder rond foeter as dit ‘n sensitiewe kwessie is nie maar staan die voorgestelde grense van Avstig steeds? Kan mens daarom praat en dalk self beplan om die braaivleis vure soos Andries sê?

  7. Gustaaf Jonker 19 Augustus 2013 at 15:16 Permalink

    Relevansie is ‘n relatiewe begrip, ‘n mens kan tereg vrae wat is relevant? – ‘n Edel saak soos bv. selfbeskikking vir die Afrikaner OF die geleentheid vir die individu om ‘n vet salaris elke maand huis toe te vat, ‘n luukse voertuig te besit of om ‘n goeie wins te maak uit sy / haar besigheid.

    Vir my is die eersgenoemde relevant, vir baie van my mede volksgenote egter is die laasgenoemde relevant.

    Ons kan nie die liberaal-invidualistiese tydsgees waarin baie van ons mede volksgenote in vasgevang is ontken nie. Dit is simptomaties van ‘n volk wat verveemd voel in sy eie land en wat soeke is na ‘n herkoms om dan daai lee gevoel te vul met stof en materie.

    Dit is ook onaanvegbare bewyse dat die wereld vandag in materialisme verval het wat die gevolg is van die humanistiese religieuse grondmotief.

    Die pad na relevansie vir Orania is dalk nie so eenvoudig nie, dalk is die pad en van baie wee wat gevolg moet word om die doelwit van relevansie te bereik.

    Ons kan dalk gerus dink aan ‘n manier om die produk van selfbeskikking so te verpak dat dit juis die man wat ‘n opbrengs soek kan beloon, omdat Afrikaner-selfbeskikking tot ongekende voorspoed sal lei. Die geskiedenis het dit reeds bewys.

    Die beginsel van selfbeskikking is tog versoenbaar met ekonomiese voorspoed, inteendeel dit is ‘n waarborg tot ekonomiese voorspoed!

    Vir my is selfbeskikking juis nodig om ‘n ekonomiese haalbare toekom vir my en my kinders te waarbord, vir ander is ekonomiese haalbaarheid die eerste vereiste voordat hulle sal inkoop in selfbeskikking.

    So dis maar net die volgorde wat verskil, dit kom op dieselfde neer.

    SELFBESKIKKING EN EKONOMIESE VOLHOUBAARHEID

  8. Andries Vorster 19 Augustus 2013 at 16:21 Permalink

    Ek wil van Simon verskil: Ek wil rondfoeter selfs al is dit ‘n sensitiewe kwessie. Ons kan nie wegskram van sensiteiwe kwessies nie, ons moet dit beetpak en deurtrap.

    Kom ons gaan kyk weer na die oorspronklike voorgestelde volkstaatgebied, en kom ons evalueer krities of dit nog haalbaar is en of ons die grense moet aanpas of dalk heeltemal terugtrek tot rondom Orania?

    Daar is natuurlik vele ander moeiliker kwessies wat dan ook hanteer moet word, wat van volksvreemdes en hoe hulle hanteer moet word binne die voorgestelde gebied, tydens die besettingsfase maar ook nadat onafhanklikheid verkry is.

    Nog moeiliker kwessies sal wees die uitlewing van vryheid op alle lewensterreine. Ons Afrikanervolk het verslaafgeraak aan stelsels en strukture en ons moet eers daarvan bevry word anders sal ons net slawe van ‘n Afrikanerregering word, wat op die langduur geen blywende vryheid vir die Afrikaner nageslag sal bied nie.

  9. Johan Conradie 21 Augustus 2013 at 19:56 Permalink

    Andries, jou skrywe waarin jy opper dat sensitiewe kwessies nie geïgnoreer moet word nie, is so net so belangrik soos wat Orania bewys het dat Afrikaners self volhoubaar kan werk en kon oorleef.
    Die groter prentjie of kaart vir uitkoms (buite Orania) – moet spoedig voorgestel word waar moontlike duisende Afrikaners hulself kan gaan vestig vir uiteindelike meerderheidsbesetting. Mense moet solank hulself vergewis van hierdie gebied en waar om te vestig uit eie voorkeur – Afrikaners kom toenemend tot die besef dat hul verblyf in die gemengde burgerstaat niks anders is, as ‘n vals gevoel van lewensbestaan.
    Geluide uit Swartmense se geledere is ‘n voorbode dat geleenthede in hul land, hoofsaaklik vir Swartmense se voordeel gaan wees. Dit sou darem wonderlik wees indien Malema eerste tot die besef gaan kom dat die oprigting van ‘n “plek” vir Afrikaners die oplossing is dat Swartmense uiteindelik, waarlik vry sal wees. Die uitspraak dat vaardighede oorgedra moet word voordat jy in die pad kom, kan dalk vir almal funksioneel wees soos wat die oprigting vorder.

  10. Johan 23 Augustus 2013 at 18:20 Permalink

    Ek het die bydraes gelees en is weereens onder die indruk gelaat dat idee van ‘n Volkstaat/Tuisland of wat ons dit ook al wil noem, nie werklik van die grond af gaan kom nie voordat daar duidelikheid is oor onder andere die volgende aksies, persepsie verandering en/of onderhandelings nie:

    Die algemene Suid Afrikaner, Wit/Swart/Indier of gekleurde plaas reg of verkeerd die mantel van ‘n groep mense wat terug wil keer na Apartheid om die skouers van Oraniers, Kleinfonteiners ens.

    Daar is geen werklike grondgebied wat Afrikaners kan na verhuis nie wat “amptelik” deur die ANC regering of die amptelike oposisie die DA erken word nie. Die grondwet maak voorsiening vir die konsep wat onderhandel kan word, maar ons neem nie werklik die projek op nie.

    Ons Volk se mense is tans nie bereid om weg te beweeg van dit wat hulle besit en bewerk in Suid Afrika nie. Ek dink hier aan die onlangse berigte van talle wit plakkers kampe waar baie Afrikaners in haaglike omstandighede ‘n bestaan probeer maak. As die geleentheid daar was dat baie van die mense in ‘n Volkstaat kan kom werk en ‘n bydrae daar kan maak, is die groei onmidelik daar. Die wrede waarheid is egter dat daar nie die fondse, ondersteuning en lewens ruimte bestaan wat dit kan moontlik maak nie.

    Ons lees gereeld van wie die rykste mense in Suid Afrika is, en daar is talle Afrikaners in daardie geledere. Feit bly staan dat daar nie ‘n wesenlike bydrae deur sulke mense aan Orania of Kleinfontein ens gemaak word nie, want hulle ondersteun nie die Volkstaat gedagte nie. (My opinie en ek sal graag verkeerd bewys wil word).

    Op politieke vlak is ons totaal ontmagtig en bestaan daar nie ‘n Politieke Party ingeslote die VF+ wat werklik die passie en ondersteuning by ons mense kan wakker maak nie. (Ek doen geensins afbreek aan die goeie werk wat die VF+ binne hulle beperkte vermoe binne die parlement en op ander plekke doen nie). Indien daar ‘n Leier of Leiers was wat se maar 500 000 Afrikaners kan oortuig van ons saak en hulle stem vir die Party in 2014, dink net watter invloed so ‘n groep kan uitoefen op verskeie areas in Suid Afrika. Feit is dat die meeste Afrikaners vir die DA stem!

    Ek hoop regtig nie dat ek oordrewe pesimisties oorkom nie want dit was beslis nie my doel nie, maar indien ons nie die sensitiewe aspekte van ons strewe tussen ons self kan bespreek en ‘n algemene fokus kan bewerkstellig nie, hoe gaan ons andere oortuig om te luister na ons en ons te ondersteun?

    Baie dankie aan Wynand vir ‘n baie relevante berig.

  11. André van Vuuren 2 September 2013 at 14:38 Permalink

    Dankie Johan vir die besonderse manier waarop jy die saak hanteer, en ek glo sonder om iemand “seer” te maak. Ek is nou al n senior burger, ex weermag offisier, en ek glo dat mooi dinge kan gestalte kry uit die absolute bewusmaking van die strewe tot selfbeskiking.
    Met my hele wese smag ek daarna om te kon skuif na Orania, en sou ek die finansies gehad het van n miljoener sou ek nou maksimaal in Orania belê het, maar dit is my weliswaar nie beskore nie.
    Ek is egter aan Orania n besoek skuldig, en wil dit met eerste beste geleentheid wat hom voordoen dit uitvoer.
    Ek het die gedagte al menigmaal met my vrou gedeel dat ek so graag wou sien dat ons saam met al my kinders en kleinkinders verhuis na Orania. My kinders is almal harde werkers en sou n groot bydrae kon lewer by Orania, maar dit is nie so maklik om net n hele familie op te pak en te trek nie.
    Baie dankie Wynand vir jou berig, en veral die besonderse menings wat rondom dit ontstaan het.

  12. Johan Viljee 16 Januarie 2014 at 23:11 Permalink

    Orania kan met rasse skrede vooruitgaan as daar werk geskep word.

    Waar Secunda vandag is, was eens op ‘n tyd net veld, Toe word daar werk geskep en vandag is dit ‘n stad met ‘n totale infrastruktuur.

    Word daar eksplorasiewerk in en Orania gedoen? Gaan kyk wat die Baske vermag het en leer. Dis tyd vir Nuwe Denke.

    Waarde lê in die toekoms. Om dit te laat realiser is Moremense nodig!

    • Jaco Kleynhans 17 Januarie 2014 at 16:36 Permalink

      Johan. Dankie. Ons sien uit na jou bydrae in werkskepping in Orania! Onthou Orania het nie ‘n regering wat ‘n Sasol kan bou nie. Gewone Afrikaners moet in groter getalle hier betrokke raak sodat meer poste geskep kan word. Ons probleem is ook dat Afrikaners regoor Suid-Afrika verspreid woon en dat ons nie soos die Baske gekonsentreerd in een streek is nie. Ons moet genoeg mense in Orania hervestig sodat ons hier die voordele van konsentrasie kan ervaar.

      • Johan Viljee 17 Januarie 2014 at 21:41 Permalink

        Moenie my op my ouderdom uitdaag om werk te skep nie. Die bal is nou in julle jonger manne se kant.

        Hoekom is daar nie genoeg mense (teen hierdie tyd) in Orania nie? Eenvoudig, omdat dit geen heenkome bied nie. Mense trek agter werk aan.

        Alles hang af van ‘n besluit wat geneem moet word… ‘n besluit om werk te skep. Dan begin die legkaart vorm kry.

        Neem al die kerke in SA as voorbeeld. Eers was daar ‘n klein gemeente. Sommige het in ‘n huis begin, ander in ‘n motorhuis, ander in gehuurde lokale.

        Vir elkeen het dag van besluitneming aangebreek: Om ‘n predikant te beroep, om ‘n kerkgebou op te rig, om ‘n saal aan te bou. Die besluite was geneem sonder dat daar geld beskikbaar was. Vandag het almal predikante en geboue. Dit het alles by ‘n eenvoudige besluit en vertroue begin. Praatjies kan nie baar nie, maar ‘n besluit kan baar.

        Gaan kyk na al Orania se mislukkings en begin dink. Adam en Eva is nie uit die Paradys gesit omdat hulle verkeerd gedoen het nie, maar omdat hulle nie wou bely nie. Hulle het mekaar die skuld gegee… Adam vir Eva en Eva vir die slang.

        As julle gaan wag totdat daar genoeg mense is, of genoeg geld, sal Orania nie vorder nie. Julle probeer vanuit die staanspoor om mense na Orania te lok en dit gebeur nie.

        Kom met ‘n Groot Trek van Nuwe Denke! Mondragon het met ‘n eenvoudige primus begin.

        • Ebert 19 Januarie 2014 at 09:55 Permalink

          Johan, jou kritiek is geldig, maar die probleem wat jy uitwys is iets warmee Orania en sy ondersteuners daagliks worstel.

          Ekonomiese ontwikkeling het sy uitdagings en dit is nie asof Orania net terugsit en nie probeer nie. Orania se mislukkings is bekend, soos die melkery, meule en landbou implementvervaardiging. Ander bedrywe is weer ‘n sukses, soos die pekanneutbedryf, toerisme, onderwys, finansiële dienste en eiendomsontwikkeling. Die jurie is nog uit op ander, soos aluminiumvervaardiging.

          Orania word ernstig uitgedaag op 3 van die 4 produksiefaktore. Kapitaal, arbeid en ondernemerskap is skaars. Dit is net grond wat in oorvloed is. Afstande na markte en internasionale kompetisie, veral in vervaardigde goedere is ook uitdagend. Daarmee is dit internasionaal bekend dat slegs 1 uit elke 10 nuwe ondernemings langer as 5 jaar oorleef en is Orania se mislukkings nie buitengewoon in hierdie konteks nie.

          Orania se steun bly egter groei en daarmee kan hy al groter projekte aanpak en daarmee word die lesse uit die mislukkings ook baie waardevol.

          Hoe meer Afrikaners bydra deur Orania te besoek, geld daar te spaar en te belê en goedere en dienste van Orania af te koop, hoe vinniger sal die ekonomie vorder en daar meer geleenthede vir almal is.

          Dit is ons as volk wat ook die sprong in geloof moet neem om Orania te ondersteun.

          • Johan Viljee 19 Januarie 2014 at 13:48 Permalink

            Ebert, dis nie as kritiek bedoel nie, maar jy raak aan die antwoorde.

            Daar is baie grond… wat, wat mee gemaak word? Kan julle self lusern plant en verkoop, of kan mens die grond aan boere verhuur wat lusern wil plant… op die grondslag wat die pekaneut-stelsel werk? SA is ‘n land van droogtes en boere soek gedurig veevoer. Oorweeg ‘n kontrak met ‘n voorste ko-op. Hulle sit die skure op en julle plant en besproei dat dit bars. Lusern word self uitgevoer, dis hoekom hier te min is.

            Het julle al dadel- en olyf-plantasies bedink. Julle doen die werk en laat die mense van buite belê… aandele, ens. Sorg dat dit Upington/Pofadder dadels is. Voer ook uit.

            Julle het mos meer as genoeg water boonop!

            Soos wat die goed ontwikkel sal meer mense ook daar kom werk, veral jongmense wat juis nie werk kan kry nie.

            Skep die goed wat die volk sal wil ondersteun.

            Is daar ‘n wynkenner sodat julle ‘n bottelary kan begin. Douglas Green het nie een wingerstok in die grond nie. Hulle koop ander se wyn in vate aan, versnit dit en bemark dit onder hul eie naam. (Daar is ‘n kennis in die Kaap wat vrou-alleen presies dieselfde doen en groei)

            Moenie wyn as moontlikheid miskyk nie. Daar is ‘m hengse aanvraag voor, veral uit Sjina. Vervhuurook van daai baie grond aan boere om wingerde op te plant.

            Daar is ondernemings wat blikkieskos in SA verkoop en geen fabriek het nie. Mens gaan na bestaande ondernemings, sluit kontrakte dat hulle alle soorte ingelegde vrugte en groente aan julle verskaf met jul eie etiket op en bemark dat dit bars, veral oorsee. (Orania: Met Trots)

            Ek koop nou onlangs growwe sout. Dit kom van ‘n plaas naby Nieu Bethesda as ek reg onthou. Dis nie of hulle sout galore het nie, maar dit word in hul eie besondere verpakking en etiket verkoop.

            In die Vrystaat het baie boere las van miershope. Almal wil die miere vernietig. Kan die miere nie as protiëne geblik en aan bv aan Sjina verkoop word nie?

            En wat van erdwurms?

            Later kan julle ‘n eie motor ontwerp en in Orania aanmekaar sit. Al die komponentevervaardigers is in SA. Daar is ‘n pa en twee seuns in Namibi1ë wat dit doen.

            Dit gaan meer geld en groter insette kos, so plaas dit op ‘n toekomslys. Lees ook die verhaal op: http://en.wikipedia.org/wiki/Uri-Automobile

            Wat van gesuiwerde gebotteleerde Oranjierivier water?

            Maak dit onmoontlik vir mense om nie daar te belê nie en vir die media om nie oor Orania se welslaes te rapporteur nie.

            En vertrou 100% op God vir wysheid.

            Net goedheid en guns volg julle!

          • Ebert 20 Januarie 2014 at 05:33 Permalink

            Johan, dankie vir jou steun in die vorm van idees oor hoe om Orania meer suksesvol te maak.

            Ons sal al baie bereik het indien ‘n meerderheid Afrikaners begin droom oor die moontlikhede wat Orania se ideaal inhou.

            Lusern is tans Orania se grootste uitvoerproduk. Veral van die kinders van Orania se pioniersinwoners is besig om baie sukses met hierdie bedryf te behaal.

            Orania het inderdaad ook ‘n klompie olyfboorde en ‘n amandelboord. Gemengde sukses in met die olywe behaal, met een groot boord wat nou vir ‘n paar jaar kommersieël produseer. Die amandels word na my wete nog op klein skaal bedryf. Net soos met die pekans neem dit eksperimentering of vas te stel watte variëtyte die beste op Orania aard.

            Ek dink dit is veilig om te sê dat Orania se landbougrond tot baie naby aan volle potensiaal benut word. Grond wat tans onderbenut lê, is grond wat nie geskik is vir landbou nie en gesoneer is vir dorpsontwikkeling. Dit sluit in nywerhede, kommersiële en residensiële grond.

            Bedrywe soos die bottel van water, vervaardiging van voertuie, boer met insekte, ens. bied potensiaal en behoort verder ondersoek te word. Die vermoë om hierdie aanvoorwerk te doen is egter afhanklik van die hoeveelheid ondernemers en beleggers wat betrokke is by Orania en wat kans sien om hierdie geleenthede te benut.

            Die Orania Beweging fasiliteer die uitbou van hierdie tipe geleenthede deur die werk wat die Orania Groeifonds doen, wat dit vir beleggers moontlik maak om in projekte in Orania te belê en ook vir ondernemers van advies te bedien rakende die geleenthede wat hulle aanpak.

  13. Johan Viljee 20 Januarie 2014 at 15:41 Permalink

    Ebert, Die Volkstaat nagmerrie kom al sedert die dae van Morgenzon sowat 34 jaar gelede. Dit werk nie, nie as droom nie.

    Orania is net ‘n gewone dorpie. Probeer dit as gewone dorp bemark.

    Die ENIGSTE wyse waarop ons gaan bewys dat ons ‘n magsfaktor is, is om ‘n gebied te beset en dit de facto te “UDI”.

    Enige ander speel met woorde of stemtotale is akademies, en dra geen
    gesag by enigiemand nie. Maar 200,000 mense op een plek, sê maar Orania, wat dan weier om enigiets met die sentrale staat te doen hê, is ‘n faktor: daarin lê ons heil en nie in nuttelose debatte en vergaderings nie.

    Wat bied Orania? Waarom sou mense hulle huidige werk (wat skaars is) los, en Orania toe trek? Julle sal baie groter moet dink hoe om mense en geld daarheen te lok. Om pensioenarisse te lok is futiel. Ons bly in die stede naby spesialiste en hospitale, veral wanneer mense al 16 hartaanvalle oorleef het en jy al geleer het wat Genadetyd is.

    Baie van ons oues woon by die see want hier is boonop meer suurstof en skoner lug.

    • Ebert 21 Januarie 2014 at 01:09 Permalink

      In die Engelse sakewêreld het ek die gesegde geleer dat ‘n klein handeling meer impak het as die beste bedoeling.

      Die ongelukkige werklikheid is dat die bietjie skokterapie en paar beledigings wat Johan opgedis het, nie Orania se vermoë om te handel met een enkele joule vermeerder het nie.

      Orania het, op plekke soos die Oraniagesprek e-poskring, ‘n stortvloed van idees wat aangebied en gedebatteer word. Die argiewe daarvan wat sover as 2005 terugstrek is vir ieder en elk beskikbaar op Yahoogroups. Orania is ook besaai met suksesvolle en minder suksesvolle idees (klein en groot) wat tot uitvoering gebring is. Daarom is die stelling dat Orania se vordering traag is weens ‘n gebrek aan idees of beperkte denkwyse, ten beste naïef.

      Indien die reis waarop Orania vertrek het dan werklik ‘n nagmerrie is (soos vir ‘n kind wat regdeur die reis by sy ouers neul: “is ons al daar?”), is daar ‘n eenvoudige manier om die nagmerrie te ontsnap: stap weg en geniet die seelug op jou oudag.

  14. Wynand 20 Januarie 2014 at 16:15 Permalink

    Ek dink Oom Johan maak n paar goeie punte, wat ons as Oraniërs nie goedsmoeds moet wegpraat nie. Ek wil twee teenstellende punte maak, waarvan ek dink dat albei geldig is.

    Die een is dat dit werklik bietjie moeiliker is om n ekonomie van die grond af op te bou as wat n mens mag dink. Wat ons in Orania doen, het meer met Derdewêreld ontwikkeling te doen as wat dalk by ons selfbeeld pas. Iemand wat neerhalend na Orania kyk en sê: “Is dit maar al wat julle in 20 jaar kon doen?” onderskat dalk die uitdagings wat reeds te bowe gekom is. Boonop het die projekte wat nie uitgewerk het nie, op baie mense die uitwerking van “once bitten twice shy”. Daar word met geldigheid gesê die klein skaal van ons ontwikkeling is sleg vir ons beeld, maar grandiose projekte wat nie opstyg nie, is nog slegter.

    Die teenoorgestelde punt is dat Oraniërs (as ek soos n buitestaander probeer kyk) negatief op advies of wenke reageer. Jy kan amper niks vir n Oraniër voorstel nie, of hy sê: “Ons het dit al probeer en dit werk nie.” My eerste reaksie op Oom Johan se bydraes was amper iets in dié lyn. Toe sien ek hy stel goed voor wat nog nie gedoen is nie en mens nogal opgewonde kan maak. Die Douglas Green-voorbeeld, om maar een te vat. Dis n skitterende idee waarvan n loodsprojek al met sukses uitgevoer is. Jaco Mulder het n paar honderd (duisend) bottels uitstekende Bordeaux-versnit van Noord-Kaapse wyne gemaak. Nie een korrel is in Orania gepluk nie, maar die werk wat minder arbeid en meer kundigheid verg, is hier gedoen. Jaco kon weens werksverpligtinge dit nie herhaal nie, maar hoekom doen niemand anders dit nie?

    Die ander voorbeelde wat Oom Johan noem, het my oortuig dat ons minder eiewys moet wees as mense voorstelle maak. Hier is wel nie Oraniërs wat los rondloop en sulke goed kan aanpak nie, maar ek het nog nooit gehoor dat Orania-instellings sulke projekte aan voornemende intrekkers voorlê nie.

    Eerlik beoordeel, ek dink ons is bietjie selftevrede. Ja, ons het veel bereik. Nee, ons is nie naby daaraan om vir tienduisende of honderdduisende Afrikaners n kompeterende alternatief te bied nie. Daaroor behoort ons in die nagte wakker te lê.

  15. Johan Viljee 21 Januarie 2014 at 14:39 Permalink

    Wynand, kan jy my asb kontak by Viljee7@gmail.com


Lewer Kommentaar

*