09 Januarie 2012 ~ 12 Kommentare

Grootste groeijaar nog vir Orania

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Orania se twintigste bestaansjaar was nie net ‘n geleentheid om dit wat die afgelope twee dekades hier langs die Oranjerivier in die Bo-Karoo vermag is te herdenk nie, maar was ook ‘n historiese jaar van groei en ontwikkeling.

Orania se strategie om groter selfbeskikking vir die Afrikaner aan die suidpunt van Afrika  te verseker is een een van geduld, harde werk, deursettingsvermoë, opofferings en nuutskepping. Terwyl baie Afrikaners graag selfbeskikking in hul eie woonbuurte sou wou hê, het die Orania-ideeal lank reeds bepaal dat die demografiese werklikheid van Suid-Afrika ons sal dwing om nuut te begin in ‘n deel van die land met ‘n klein bevolking.

Die afgelope twintig jaar is daar bewys dat Orania nie net ‘n droom is nie, maar dat die droom stadig maar seker verwesenlik kan word. Daar is nuwe instellings geskep waaroor ons self beheer het, arbeid is slegs deur Afrikaners gelewer (iets waaraan Afrikaners nie gewoond was nie en wat vir lank ons toekomssekerheid ondermyn het) en ons eie grond is stukkie vir stukkie aangekoop en ontwikkel om vir meer en meer Afrikaners ‘n tuiste te kon verseker.

Vandag het Orania beheer oor sy eie grond, instellings en arbeidsvermoë – drie dinge wat nie twintig jaar gelede die geval was nie. Orania se instellings word al sterker en die Orania Dorpsraad het gedurende 2011 sy vermoë drasties uitgebrei om dienste aan ‘n groterwordende Orania te lewer. Dieselfde geld vir Orania se skole, museums, maatskaplike organisasies en ander instellings.

Wat arbeid betref het Orania vandag ‘n groot en sterk Afrikanerarbeidkorps wat alles doen wat ons gemeenskap nodig het, insluitende landbouaktiwiteite, huise bou, munisipale infrastruktuurontwikkeling en produktevervaardiging.

Dit is egter ook nodig om Orania se grondgebied uit te brei. Sedert die dorp van sowat 380 hektaar in 1991 aangekoop is, is ‘n paar nuwe plase bygekoop en staan Orania se grondgebied vandag op meer as 7000 hektaar. Dan is daar ook toenemend boere in die omgewing wat met Orania en sy ideale assosieer.

Gedurende 2011 het Orania se grondgebied potensieel nog verder uitgebrei met die pragtige Vluytjeskraal-Noordplaas wat aangekoop is. Dié plaas, wat direk noord van Orania geleë is, vergroot Orania se landbougrond, maar skep ook geleenthede vir nuwe oewer- en ander residensiële ontwikkelings. Meer as 150 nuwe erwe word op die grond beplan, terwyl die bestaande landbouaktiwiteite nie versteur word nie en normaalweg voortgaan.

Erwe word beplan op die oewer van die Oranjerivier, op grond aangrensend aan die Orania Oewerpark en aan die voet van die pragtige koppie wat ‘n baken in die omgewing is. Die pragtige koppie word al lankal die Orania-koppie genoem, hoewel dit nou vir die eerste keer aan Orania sal behoort.

Nog ‘n groep ondersteuners van Orania het ook ‘n stuk grond van meer as 2000 hektaar aan die Weskus bekom. Die idee is om die grond ook by Orania te laat inskakel.

Drie inwoners van Orania het onlangs ‘n aansoek ingedien om drie kleinhoewes oos van Orania by die aandeleblokmaatskappy te laat inlyf met die doel om ‘n residensiële ontwikkeling op die grond te doen. ‘n Pragtige wildpark met wooneenhede word beplan.

Nog twee mooi ontwikkelings word tans naby die Oranjerivier beplan en erwe sal reeds gedurende 2012 beskikbaar wees. Meer as 40 nuwe erwe sal ook binnekort by Kleingeluk ontwikkel word.

Die totale aantal nuwe erwe wat tans in Orania ontwikkel word en binnekort ontwikkel gaan word, is meer as die aantal erwe wat tans in die dorp bewoon word. Dit is tekenend van die geweldige vraag na goeie erwe vir mense wat graag Orania toe wil trek of vakansieverblyf hier wil ontwikkel.

Die afgelope jaar was ‘n jaar van ongelooflike groei vir Orania. Terwyl Orania se grondgebied uitbrei, is sy instellings sterker as ooit vantevore en slaag ons daarin om deur die gebruik van ons eie arbeid ons droom van meerderheidsbesetting moontlik te maak.

Deel/Stuur

12 Reaksies op “Grootste groeijaar nog vir Orania”

  1. Du Toit Maritz, Johannesburg 9 Januarie 2012 at 19:03 Permalink

    Dankie vir die interessante inligting oor Orania.

    Onlangs het iemand (wat eintlik van beter behoort te weet) die opmerking gemaak dat hy twyfel of die Orania-eksperiment gaan slaag.

    Dit lyk vir my of julle in ‘n sekere sin reeds geslaag het. Julle is verby die eksperimentele fase : trouens, die res van die land is dalk eerder in ‘n eksperiment wat kan slaag of misluk.

    Hou so aan!

  2. Frits 11 Januarie 2012 at 08:55 Permalink

    Uitsteekend! Orania gaan van krag tot krag…

  3. Hannodb 12 Januarie 2012 at 19:25 Permalink

    Ek is besonder opgewonde oor die uitbreiding van Vluytjieskraal Noord. Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat Orania meer as 1000 inwoners het, ‘n sielkundige mylpaal!

    Ek dink ons staan op die punt van baie opwindende tye, as Orania eers begin uitbrei, sal dit al hoe meer mense se verbeelding aangryp.

    Hoog die vryheidsvlag!

  4. Arnold de Beer 14 Januarie 2012 at 08:29 Permalink

    Ek het reeds al ‘n skrywe op ‘n ander storie geplaas, maar gaan dit ook weer hier herhaal.
    Baie mense sal Orania toe verhuis as grond teen ‘n redelikke prys aangekoop kan word.
    Het Orania ‘n vorm van hulpverlening in die verband?
    Is finansiering daarvoor beskikbaar?
    Min mense het die nodige kapitaal om so ‘n groot skuif te bekostig.
    Veral nou, en die tekens is dat dit nog erger gaan word.
    En al hou meer Afrikaners verlaat die land.
    Orania het nie meer nodig om homself te bewys nie.
    Die Afrikaners wat dit vermag het, sal nog baie meer kan doen en in minder tyd, as daar genoeg Afrikaners daarheen kan verhuis.
    Met so baie onbewoonde grond (7000+) kan daar tydelikke woonerwe beskikbaar gestel word teen geen koste.
    Laat die nuwe intrekkers self die nodige infrastruktuur skep.
    Ons voorsate het dit ook gedoen met groot sukses.
    Die vermoeëns van die Afrikaner is legendaries.
    Ons kan dit weer op Orania bewys.

  5. Anthony Schlemmer 16 Januarie 2012 at 08:02 Permalink

    Ons het Orania onlangs ook besoek en soos talle besoekers by Aan die Oewer gebly. Vroegaand is dit pragtig langs die rivier. Orania is definitief besig om die laaste paar jaar goed te groei ,en dit maak ‘n boerehart baie trots.Dit sonder enige staatshulp of die baie ryk Afrikaners daar buite !

  6. T. Viljoen 4 Februarie 2012 at 12:53 Permalink

    Bou eerder die erwe weg van die rivier af en hou die rivier-oewer as ontspanningsterrein.

    As daar op die rivieroewer gebou en erwe uitgesit word, sit Orania met niks, net nog ‘n klomp huise en niks meer.

    Hou ook die koppies oop en plant bome sodat daar natuur rondom die plek kan wees. Niemand wil in ‘n dorp bly waar jy net in huise vaskyk en jy nerens kan gaan stap nie, dit kan ons reeds in die res van die land doen.

    Almal weet dit is lekker op die oewer en om in die koppies rond te stap, maar as dit eers toegebou is, is dit vir altyd weg.

    Ek hoop dat u hierdie waarskuwing ter harte sal neem.

    Voorspoed met al u harde werk en dankie daarvoor.

    T. Viljoen

    • Jaco Kleynhans 6 Februarie 2012 at 07:59 Permalink

      Beste T. Viljoen

      ‘n Groot deel van die oewer en die koppie gaan nie ontwikkel word nie. Dankie vir u verdere sinvolle voorstelle. Dit sal oorgedra word!

      • Louis Marais 10 Februarie 2012 at 10:46 Permalink

        Goeie dag Jaco,

        Die 2000 hektar wat by die weskus gekoop is, gaan daar ontwikkeling plaasvind, of le die grond daar todat die grense kruis?

        Dankie,

        • Jaco Kleynhans 10 Februarie 2012 at 10:52 Permalink

          Louis,

          Daar word 20 voetspoorerwe beplan. Dus ‘n klein ontwikkeling wat waarskynlik aanvanklik net vakansiehuise sal hê.

  7. BJ de Jager 22 Junie 2012 at 12:30 Permalink

    http://www.afsaal-op-orania.co.za

  8. BJ de Jager 22 Junie 2012 at 12:48 Permalink

    WAAR IS DIE GROENRIVIERMOND GROEIPUNT EN HOE VER VAN ORANIA?

    130 Km suid van Springbok en 700 Km soos die kraai vlieg van Orania.

    Namakwaland

    Namakwaland is ‘n distrik in die Noord-Kaap in die mees noord-westelike hoek van die land, antikloksgewys begrens deur die Atlantiese Oseaan, die Noordweste, Boesmanland en Namibië. Die hoofdorp is Springbok en ander vername dorpe is Garies, Port Nolloth, Kamieskroon, Alexanderbaai, Steinkopf, Hondeklipbaai en Leliefontein. Gebiede ten Suide van Namakwaland word dikwels verkeerdelik by die distrik ingesluit. Die dorpies Bitterfontein en Nuwerus is byvoorbeeld die mees noordelike nedersettings in die Noordweste, terwyl Pofadder in die Ooste die hoofdorp van Boesmanland is. Die N7 nasionale pad gaan regdeur die Namakwaland.
    Die bevolking word geraam op sowat 70 000, waarvan die meeste sogenaamde bruin mense is, met ‘n minderheid wit en swart. Mense is egter een van Namakwaland se grootste uitvoerprodukte sodat die bevolking dekades lank al redelik konstant is. Daar is betreklike groot gemeenskappe van oud-Namakwalanders aan die Kaapse Weskus en ook in Kaapstad. ‘n Eiesoortige karaktertrek van alle gebore Namakwalanders is hulle kenmerkende uitspraak en idio-matiese taalgebruik. Omdat die gebied altyd ylbevolk was en die inwoners ongeag ras op mekaar aangewese was, is daar min verskille tussen die uitspraak van die bruin en wit mense. Baie van die bruin Namakwalanders is afstammelinge van die inheemse Namas. Hulle is kenmerkend lig van kleur en redelik kort.
    Die grootste bevolkingskonsentrasies is op en om die hoofdorp, Springbok. Van die omliggende gemeenskappe met beduidende inwonerstalle is Nababeep, Okiep, Carolusberg en Concordia. Verder noord is die eertydse geskiedkundige sendingstasie Steinkopf ‘n redelike groot dorp, met ‘n bevolking wat so te sê geheel en al uit bruin mense bestaan. Port Nolloth en Alexanderbaai is die vernaamste kusdorpe, met Kleinsee, ‘n myndorp verder suid, wat ook ‘n redelike groot inwonertal het. Daar is in die suide kleiner gereedskappies op Garies, Kamieskroon en die die omliggende nedersettings. Weens die aard van Namakwalandse landbou woon daar nie groot bevolkings op die plase nie, omdat skaapboerdery nie veel werksgeleenthede bied nie.
    Die ligging van NG gemeentes is ‘n goeie aanduiding van waar wit Namakwalanders hulle gevestig het, omdat die wit bevolking byna uitsluitlik Afrikaanssprekend is. Op Springbok is daar twee gemeentes, met die res van die dorpe wat een elk het: Alexanderbaai, Port Nolloth, Kleinsee (die gemeente heet Grootmist), Nababeep (die gemeente heet Simon van der Stel), Kamieskroon en Garies. Vir die administrasie doeleindes van die NG Kerk, val Pofadder, Aggeneys en Oranjemund net noord van die monding van die Oranjerivier by Alexanderbaai, ook binne die ring van Namakwaland, wat deel is van die Wes-en-Suid-Kaaplandse Sinode. Die totale getal (doop- en belydende) lidmate was in 2006 net 4 724, vergeleke met 6 500 in 1994.
    Daar is gemeentes van die Verenigde Gereformeerde Kerk (in chronologiese volgorde van stigting) op Steinkopf, Concordia, Komaggas, Garies-Kamieskroon (gekombineerd), Kuboes, Springbok, Port Nolloth, Okiep en Nababeep. Die VG gemeente Pofadder is ook deel van die ring van Steinkopf. Bruin Namakwalanders behoort ook in groot getalle aan die Anglikaanse Kerk en in ‘n mindere mate aan die Rooms-Katolieke Kerk.
    Die vernaamste bedrywe is die ontginning van alluviale diamante aan die kus, kopermynbou rondom Okiep en Nababeep en skaapboerdery. Die afwenteling van provinsiale regeringsdienste het in die laaste jare baie tot ‘n ekonomiese oplewing op Springbok bygedra. Nuwe mynboumoontlikhede het ook ‘n ekonomiese inspuiting vir die dorp meegebring. Springbok oorheers die ekonomie van Namakwaland in vele opsigte, aangesien dit die hoofdienssentrum vir die uitgestrekte distrik is en die enigste dorp met ‘n hoogs ontwikkelde, eerste-wêreldse ekonomie wat byvoorbeeld kan spog met takke van talle nasionale kleinhandelsgroepe. Die enigste noemenswaardige nywerhede is ook op en om Springbok gevestig.
    Die distrik is in 1685 deur goewerneur Simon van der Stel en sy ekspedisie op soek na koper verken. Die eerste VG kerk is in 1819 op Steinkopf gestig en die eerste NG kerk in 1850 op Bo wes dorp, net noord van Kamieskroon, nadat verskeie Sendinggenootskappe lank reeds hier bedrywig was.


Lewer Kommentaar

*