08 Oktober 2013 ~ 5 Kommentare

Gibraltar, ‘n doring in die Spaanse vlees

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Aan die suidpunt van Spanje, by die Seestraat van Gibraltar, raak Afrika en Europa amper aan mekaar. Hier, waar die twee vastelande slegs sowat 60 kilometer van mekaar af is, is ook waar desperate mense uit Afrika daagliks per boot probeer om die paradys, Europa, te bereik en dikwels met hulle lewe daarvoor betaal deur te verdrink.

Gibraltar hoofstraat

Volgens ‘n Griekse mite was dit die sterkman Heracles (beter bekend onder die Romeinse naam Herkules) wat die twee vastelande, wat eens aanmekaar vas was en van die Middellandse See ‘n meer gemaak het, uitmekaar gedruk het, waarvan nou twee berge aan weerskante getuig. Een is die bekende rots van Gibraltar en die ander ‘n minder bekende rots in die stad Ceuta, ‘n Spaanse enklawe in Noord-Afrika. Die twee berge vorm die sogenaamde “Suile van Herkules” en het in die antieke tydperk die grense van die bekende wêreld afgemerk. As jy verder wes seil, dan val jy die een of ander tyd van die aardbol af.

Die Britse enklawe, Gibraltar, aan die Europese kant, trek talle toeriste met sy unieke ligging en die rots wat uittroon uit die andersins plat omgewing rondom die stad Algeciras met sy baai. Gibraltar is natuurlik ook ‘n kulturele en politieke aardigheid, ‘n stuk Groot-Brittanje op ‘n smal skiereiland omring deur Spanje. Dié toedrag van sake maak reeds dat ek as Oraniër simpatie met Gibraltar het en nie met sy veel groter buurland Spanje nie, ongeag die feit dat ek dalk meer hou van die Spanjaarde en hulle kultuur as van die Britte. Gibraltar is wel reeds vir 300 jaar, sedert die Verdrag van Utrecht in 1713, deel van Groot-Brittanje. Destyds het Groot-Brittanje in ‘n oorlog tussen verskillende Spaanse koningshuise die kant ondersteun wat sou wen en as prys die strategiese hawestad Gibraltar gekry en daarmee saam die eiland Menorca, wat wel later weer Spaans geword het. Die toegang na die Middellandse See sou daarvandaan beheer kon word en een van die belangrikste seeroetes ter wêreld wees, veral sedert die opening van die Suez-kanaal.

 

Gibraltar in die aandlig.

Vir Spanje is Gibraltar ‘n doring in die vlees en die pogings om Gibraltar terug te wen duur al baie jare. Dit is soms minder en soms meer intens, maar geen Spaanse regering het dit nog ooit oorweeg om af te sien van die rots op sy voorstoep nie. In die 18de eeu is Gibraltar ook verskeie kere onsuksesvol beleër. Dit is tot vandag toe ‘n twisappel tussen die twee lande en is vergelykbaar met die gedurige konflik oor die Falklandeilande tussen Groot-Brittanje en Argentinië. In altwee gevalle laat die bevolking van die omstrede gebiede egter geen twyfel waar hulle lojaliteite lê nie. Gibraltar het in 2002 ‘n referendum oor sy status gehou en 99% van die kiesers (met ‘n 90%-deelname) het gestem vir die inlywing by Groot-Brittanje. Britse vlae, asook die vlag van Gibraltar met die veelseggende leuse “nulli expugnabilis hosti” (deur geen vyand verower nie) word orals vertoon om geen twyfel te laat waar die lojaliteit van Gibraltar se mense lê nie. Die beginsel van territoriale integriteit waarop Spanje aanspraak maak, staan teenoor die beginsel van selfbeskikking, waarop Gibraltar steun.

Die politieke toutrekkery oor Gibraltar is tans weer op ‘n mespunt nadat die regering van Gibraltar in Julie vanjaar sementblokke in die see gegooi het om ‘n kunsmatige rif te skep. Spanje het dit dadelik as ‘n aanval op sy territoriale waters en op sy vissermanne gesien, wie se bedryf dan beperk sou word. Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, sit sedertdien ‘n verbale oorlog op tou en dring by Groot-Brittanje aan om oor die status van Gibraltar te onderhandel, en dit sonder om Gibraltar se regering daarby te betrek. Die status van Gibraltar as tolvrye sone (wat altyd ‘n mate van smokkelary meebring) is verder ook ‘n ergernis vir Spanje.

Spanje het tydens die Tweede Wêreldoorlog ‘n realistiese kans gehad om Gibraltar te herower. Die Duitse diktator Hitler het die Spaanse diktator Francisco Franco Gibraltar as prys aangebied indien Franco aan die kant van Duitsland en Italië tot die Tweede Wereldoorlog sou toetree. Die besit van Gibraltar was strategies uiters belangrik vir seeverkeer en sou in besit van die magte van die As (Duitsland en sy bondgenote) ‘n gevoelige slag vir Brittanje wees. Dit sou wel nie maklik verowerbaar wees nie want die hele rots van Gibraltar was vol verskansings, kanonne, ondergrondse skuilings, ens, maar beslis vir die magtige Duitse Ryk voordelig.  Hulle het pas oor Frankryk geloop en was vol selfvertroue. Franco was egter slim genoeg om te besef dat sy land, na ‘n duur burgeroorlog, beëindig in 1939, nie nog deelname aan die Tweede Wêreldoorlog kon bekostig nie en dat die prys van Gibraltar, en ‘n groter deel van Marokko as kolonie, dit nie sou regverdig nie. Die plan van ‘n verowering is dus laat vaar. Hitler se aandag was in elke geval kort daarna op Rusland gevestig en Gibraltar eers vergete. Later, in 1968, met Franco nog steeds aan bewind, het Spanje wel Gibraltar se enigste toegang tot die land gesluit en die skiereiland beleër. Dit is eers in 1985, onder ‘n demokratiese bewind, opgehef, wat Gibraltar se wil tot weerstand en inlywing by Brittanje net versterk het.

Alhoewel Spanje luidkeels kla oor “die laaste kolonie in Europa”, ‘n anachronisme wat nie meer in die tyd pas nie, is Gibraltar intussen eerder ‘n eie entiteit wat van die reg van assosiasie met Groot-Brittanje gebruik maak eerder as van ‘n Britse kolonie. Die gebied het reeds ‘n groot mate van selfbestuur en het ‘n eie parlement. Groot-Brittanje hanteer slegs die interne veiligheid, verdediging en internasionale verteenwoordiging van Gibraltar. Die Britse regering se houding is dat Gibraltar self oor sy toekoms kan besluit en natuurlik ook kan kies om deel van Spanje te word. Dit is hoogs onwaarskynlik soos die referendum van 2002 bewys. Spanje se gekerm oor Gibraltar se territoriale integriteit is natuurlik ook skynheilig, aangesien Spanje self twee stede, oftewel “kolonies”, in Noord-Afrika besit, Ceuta en Melilla, wat geografies deel van Marokko is en deur die land opgeëis word.

Dit is ook interessant dat die bevolking van Gibraltar geen oorgeplante Engelse is nie, maar reeds ‘n eie volk wat ontstaan het uit mense van Britse, Spaanse, Maltese, Portugese en Italiaanse herkoms. Dit word ook in vanne soos Picardo, Caruana en Bossano weerspieël. Die oorgrote meerderheid is Katolieke soos die Spanjaarde en nie Anglikane soos die meeste Britte nie. Ook hier kan ‘n parallel met die Afrikaners getrek word, wat uit verskeie Europese volke saamgestel is en hulle eie identiteit gevorm het. Kultureel is die Gibraltese wel Brits, soos ‘n mens aan die argitektuur in die ou deel van Gibraltar, aan die “pubs” en natuurlik ook aan die Engelse taal sien, al lyk hulle meesal Meditereens en is die rooikoppe met sproete gewoonlik besoekende toeriste uit Engeland.

Afgesien van die kulturele en geskiedkundige bande bied die inlywing by Groot-Brittanje ook ekonomies groter voordele vir Gibraltar as vir die toevoeging tot Spanje. As ‘n mens van die Spaanse kant by die dorp La Linea na Gibraltar oor die grens stap, dan val dit dadelik op dat alles skoner, meer georden en meer voorspoedig lyk. Jy stap in ‘n sekere sin van ‘n arm Suid-Europa na ‘n welvarende Noordwes-Europa, met die weer wat gelukkig dieselfde bly. Gibraltar se ekonomie is verder veral gebou op toerisme. Toeriste word ook deur die feit gelok dat Gibraltar ‘n geopolitieke en kulturele aardigheid is, iets wat Gibraltar behoorlik benut. Die stad is nogal duur en alle besienswaardighede, soos die rots van die ape met sy grotte en ondergrondse skuilings, jaag ‘n aansienlike klomp geld uit jou sak uit. Slegs die tolvrye produkte soos drank, sigarette en elektronika kan goedkoper verkry word. Die geldeenheid is natuurlik die Britse Pond, waarby ook in Euro (teen ‘n slegte wisselkoers) betaal kan word. Verder is die ekonomie van Gibraltar op hawe en finansiële dienste aangewese. Die eenvoudige werk, soos skoonmaak, bouwerk ens., word wel meestal deur Spaanse gasarbeiders verrig, wat in die oggend oor die grens stap en Gibraltar weer in die aand verlaat. Die regering van Gibraltar waak met ‘n eie identiteitskaart daaroor dat geen stille besetting deur Spanjaarde plaasvind nie. Wat ook in sy guns tel, is dat die skiereiland reeds so dig bevolk is dat daar eintlik nêrens meer plek is vir mense om nog huise te bou nie en dat die pryse vir eiendom besonder hoog en vir Spaanse gasarbeiders moeilik bekostigbaar is. So het daar amper ‘n scenario net soos  in die ou Suid-Afrika in die kleine ontstaan, met die “township” La Linea net anderkant Gibraltar se grens en mense wat elke dag heen en weer pendel tussen werkplek en woonplek.

Gibraltar is slegs 6.5 km2 in omvang en het ‘n bevolking van meer as 28 000 mense, wat ‘n digtheid van 4 400 mense per vierkante kilometer beteken. Voeg daarby dat meer as die helfte van die grondgebied wat uit die rots bestaan, onbewoonbaar is vir mense en die habitat van die beroemde ape is, die enigste vrylewende ape in Europa.

Hier eindig die parallelle met Orania beslis, want ons het waarlik nie ‘n tekort aan plek nie en ons verrig ons arbeid self! Dit is selfbeskikking waarna ons streef en wat klaarblyklik goed vorder op Gibraltar.

Deel/Stuur

5 Reaksies op “Gibraltar, ‘n doring in die Spaanse vlees”

  1. Lance 8 Oktober 2013 at 16:24 Permalink

    Sebastiaan, dit is altyd verbasend om te sien hoe almal, hulle eie kultuur kan “boost”, eie “upliftment” kan doen, selfverbetering, werkskepping, ens kan voorstaan, en ondersteun. Solank jy nie wit is nie. Dit is / was baie interessant, om Orania dop te gehou het oor die laaste 10 / 15 jaar. Van ‘n obskure, bespotte “die ouens van Orania”, tot “In Orania….” Dit mag verregaande klink, maar in my verbeelding, sien ek Orania as ‘n kleine Dubai, Quatar. Iewers waar dinge op ‘n beter manier gedoen word (nie altyd makliker nie), maar beter, Europees, skoon, infrastruktuur wat werk. ‘n plek met ‘n toekoms. Ek kan nie wag vir die dag wat afstigting gaan plaasvind nie. Die vraag is: tenspyte van wereld moonthede en standaarde wat dit “steun”, sal dit ooit toegelaat sal word? Op die koop toe – ons is in Afrika..

  2. Sebastiaan 8 Oktober 2013 at 16:58 Permalink

    Regstelling: in 2002 het die mense van Gibraltar nie gestem vir die inlywing by Groot-Britanje nie, maar vir die behoud van hulle status as deel van die Britse Ryk, en teen gedeelde soewereiniteit met Spanje.

  3. Dante' Strauch 11 Oktober 2013 at 17:02 Permalink

    Interesant. Ek het al die fout gemaak toe ek iemand van Reunion ontmoet te se o ja dis mos ‘n Franse kolonie. Hy het my mooi laat verstaan dis nie kolonie nie maar ‘n Franse gebied. Gibraltar en die Falkland-eilande is, soos jy genoem het, goeie voorbeelde waar die wil van die bevolking swaarder weeg as geografiese ligging. Hoekom in jou opinie Sebastiaan, word ander groepe soos die Baske en vele ander Europese groepe nie daardie voorreg gegun nie? Omdat dit makliker is om grense te hou soos dit is, of tekort aan steun vir selfbeskikking?

  4. Sebastiaan 14 Oktober 2013 at 09:46 Permalink

    Dante, die Baske en Katalane het reeds bewese steun vir selfbeskikking en het ten minste n streeksregering. Katalonie se regering wil juis vir 2014 n referendum loods om steun vir algehele onafhanklikheid te toets. Die Spaanse regering is egter heeltemal daarteen en die Spaanse grondwet maak geen voorsiening vir so iets nie. Anders in Groot-Britanje, waar Eerste Minister Dawid Cameron toestemming gegee het tot n referendum oor Skotse onafhanklikheid, eweneens volgende jaar. Groot-Britanje het n geskiedenis van afwenteling van mag en n proses na selfbestuur vir sy afhanklike gebiede gehad en Suid-Afrika, byvoorbeeld, het ook die stappe van algehele kolonie tot gebied met interne selfbestuur/dominium tot geheel en al onafhanklike republiek deurgegaan.
    Die Spanjaarde en Portugese daarteenoor het hulle kolonies direk bestuur en selfs ten spyte van geografiese afstand as deel van die moederland hanteer. Frankryk het dit aanvanklik ook gedoen maar onder Charles de Gaulle in 1958 het alle kolonies die keuse gekry of hulle algeheel onafhanklik wil word, bande wil behou of deel van Frankryk wil bly met interne selfbestuur. Op die manier kon Frankryk dit regkry om nog heelwat voormalige kolonies (soos Reunion) te behou in n era waar kolonialisme as onaanvaarbaar beskou is. Vir die mense in die gebiede is dit ook voordelig: hulle kan hulle interne dinge self reel, maar Frankryk of Britanje betaal nog steeds die begroting en hanteer die verdediging en die buitelandse verteenwoordiging.
    Wat Spanje betref sou die afskeiding van Katalonie inderdaad die Spanje as staat aantas, want Baske en Katalane woon nie op afgelee eilande nie. En dit kan n presedent skep, want eintlik is Spanje n land wat uit streke met n sterk regionale identiteit bestaan. In die ou einde gaan dan net Kastilie, die kerngebied rondom Madrid, oorbly, want al die ander dele het n streeksidentiteit, eie dialekte en deels ook outonomie.

  5. JH du Toit 18 Oktober 2013 at 06:37 Permalink

    Sebastiaan, pragtig geskryf en baie interessant!


Lewer Kommentaar

*