12 Augustus 2013 ~ 3 Kommentare

Finansiële geletterdheid

Geskryf deur Ebert Terblanche

Die boekie “The richest man in Babylon” is ‘n stukkie klassieke literatuur wat reeds in 1926 gepubliseer is. Dit maak gebruik van vergelykings en ‘n verhalende trant om belangrike finansiële lesse te verduidelik en vas te lê waarsonder volhoubare welvaart sekerlik nie moontlik is nie.

Die aard daarvan maak dit ook baie nuttig om aan kinders die beginsels van gesonde finansiële bestuur oor te dra en behoort myns insiens as voorgeskrewe werk deur elke tiener op skool of tuisskool behandel en beredeneer te word. Verder het die outeursregte op die boekie verstryk en kan dit sonder enige koste versprei en gedupliseer word.

In die Bybel leer ons dat ons nie God en Mammon tegelykertyd kan dien nie. Die boekie voed egter nie die verbruikersmentaliteit wat die begeerte na groot rykdom onderlê nie, maar stel juis ‘n gesonde verhouding met geld voor; een waarin geld nie jou meester is nie, waar finansiële sekuriteit moontlik word deur spaarsamigheid, dissipline en ‘n gesonde, produktiewe lewe (wat insluit om tyd en geld aan God, liefdadigheid en familie af te staan).

Die verhaal in die boekie speel af in antieke Babilonië. Dat daardie stad en beskawing vandag nie meer bestaan nie, is self ook ‘n les wat as deel van die lees van die boekie ondersoek behoort te word. (Moenie die voorwoord oorslaan nie.)

Wat is die betrekking hiervan op Orania? Wel, ‘n voorspoedige stad of land is slegs moontlik indien die grootste deel van sy inwoners voorspoedig is. Natuurlik is daardie voorspoed nie alleen finansiëel van aard nie, maar sonder middele is dit ook maar ‘n opdraende stryd.

Die skakel na die boekie is as volg (en kan maklik in ‘n agtermiddag kafgedraf word): http://thediamondsmine.com/files/Ebooks/Clason-RichestManInBabylon.pdf

Lekker lees en laat weet gerus wat julle daarvan dink.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Finansiële geletterdheid”

  1. Anthony Schlemmer 13 Augustus 2013 at 09:10 Permalink

    Ek het al hierdie boekie gelees. Basiese beginsels wat lewenslank toegepas moet word.

    Finansiele welstand moet ‘n verpligte vak op skool wees. Veral in ‘n vryemark stelsel.

    • Lientjie 27 Augustus 2013 at 20:57 Permalink

      Anthony, Ek stem saam, as finansiële adviseur is ek besig om inligting bymekaar te maak om die matrieks met die skool se goedkeuring toe te spreek oor basiese beginsels. As enige iemand dalk inligting het kan julle my gerus kontak.

  2. Dante' Strauch 14 Augustus 2013 at 11:23 Permalink

    Dankie Ebert dit was noggal ‘n lekker lees boekie. Alhoewel ek dink nie op hierdie stadium van my lewe laat my bankbalans dit toe vir my om ‘n resensie oor ‘n finansiele publikasie te regverdig nie! Die ooglopende ooreenkoms tussen Babilon en Orania is natuurlik die omgewing: droog maar met genoeg water in die standhoudende rivier. Dit is baie werd vir die wat weet hoe om dit te benut, maar nutteloos vir ander. Dink maar aan die Orania area in die pre-koloniale tyd. Een van die goed wat vir my uitgestaan het in die boek is dat herverdeling, ‘redistribution’ ‘n onvolhoubare en ongewenste praktyk is. “…the soul of the free man sees life as a series of problems to be solved and solves them, while the soul of a slave whines” bl 96.


Lewer Kommentaar

*