03 Junie 2014 ~ 0 Kommentaar

Europese verkiesing bied hoop

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Onlangs was die verkiesing tot die Europese Parlement gewees.  Die Europese Parlement is die liggaam waar al die lidlande van die Europese Unie, wat die meeste lande van Europa bevat, hulle afgevaardigdes heen stuur. Die verskillende nasionale partye se afgevaardigdes vorm saam faksies volgens breë politieke oriëntering, soos Christen-Demokrate, Sosiaal-Demokrate, Liberales, Verlinkses, ens. Die parlement het geen wetgewende gesag nie, maar kan wel aanbevelings maak. In die verlede het verkiesings vir die Europese Parlement min aandag getrek en die deelname het keer op keer verswak en was laas net ‘n rapsie meer as 40%. Maar na die afgelope paar jaar se woelinge rondom die Euro en die dreigende bankrotskap van ‘n hele paar lidlande en groeiende ontevredenheid oor die Europese instellings se inmenging in mense se lewens en die uitkalwing van nasionale soewereiniteit, is hierdie verkiesing met belangstelling dopgehou.

Die verkiesingsuitslag het inderdaad skokgolwe deur Europa gestuur. Nog nooit het die groep partye wat as regs, nasionalisties of euroskepties beskryf word, so goed gevaar soos hierdie keer nie. In die tweede en derde grootste lidlande, Frankryk en Groot-Brittanje, het partye wat teen die idee van ‘n verenigde Europa gekant is en die nasionale staat se belange voorop stel, die meeste steun getrek. In Frankryk het Front Nasionaal (FN) 26% gekry en UKIP (United Kingdom Independence Party) het in Brittanje 27% gekry. Ook in talle ander lande, by name Italië, Denemarke, Hongarye, Swede, Pole, Finland, Griekeland en selfs in die pro-EU Duitsland het partye wat anti-EU gekant is, goed gevaar. Kommentators het gepraat van ‘n “aardbewing”, veral met die oog op Frankryk en Brittanje.

Daar is egter ‘n paar woorde ter versombering: die oorgrote meerderheid van die verkose verteenwoordigers behoort nog steeds aan partye wat meer en vinniger Europese vereniging voorstaan. Die verskeidenheid nasionalistiese en eurokritiese partye vorm nie ‘n eenvormige blok nie, wat hulle invloed beperk. Die suksesse wat behaal is deur partye soos die FN en UKIP behoort nie noodwendig in nasionale verkiesings herhaal te word nie want kiesers is in Europese verkiesings geneig om “roekeloos” te stem omdat die Europese parlement min direkte invloed het. Verder sit sowel Frankryk asook Groot-Brittanje met die kiesafdelingstelsel, wat beteken dat in uitklopverkiesings die ander partye saamstaan teen die FN en UKIP en die partye min setels in die nasionale parlemente kry. UKIP het tans nie een setel in die Britse Laerhuis nie en die FN, ten spyte van ‘n goeie vertoning persentasiegewys, het net enkele setels in die Franse Parlement. Daar is ook geensins ‘n natuurlike bondgenootskap tussen al die euroskeptiese partye nie. Dié wat gematig regs is, probeer so ver as moontlik afstand kry van diegene wat uitgesproke verregs is. Daar is ook ‘n hele paar linksradikale anti-EU-partye wat aan die ander kant van die spektrum sit en ook geen blok met regse partye sal vorm nie.

Vir ons as Oraniërs was dit veral jammer dat die partye met wie ons sterk bande het en persoonlike vriendskappe deel, die Vlaams Belang (VB) in België en die Partij van de Vrijheid (PVV) in Nederland, swak vertoon het.

Ongeag daarvan was die onlangse Europese verkiesing ‘n aardskudding en het hard en duidelik die boodskap oorgedra dat Europese kiesers nie meer nie, maar minder van ‘n Europa wil sien en nie bereid is om hulle nasionale soewereiniteit in die hande van ‘n internasionale, onverkose kliek te oorhandig nie. Selfs al is dit onwaarskynlik dat die nasionalistiese en euroskeptiese partye in die volgende verkiesings in hulle lande die beheer oorneem, het hulle sukses gemaak dat hoofstroom konserwatiewe partye en selfs sosialistiese partye nou meer euroskepties en versigtiger vir onbeheerde immigrasie raak. Die aandrang op nasionale referendums oor die voortbestaan van die Euro en oor verdere oordra van magte na Brussels sal nou stukrag kry. In Frankryk het die sosialistiese regering as reaksie op die goeie vertoning van die FN afstand gedoen van die beoogde wet wat uitlanders uit nie-EU lande (veral mense uit Noord-Afrika) stemreg op munisipale vlak gee. Veral iemand soos die Britse Eerste Minister, Dawid Cameron, sal nou ‘n sterker argument hê teen die voorskriftelikheid en inmenging van die Europese Kommissie in Brittanje se interne sake en die aandrang op ‘n vervroegde referendum, wat reeds in die vooruitsig gestel is, sal sterker word. Dit is bemoedigend dat nasionale identiteit nog lewendig is en volke nie bereid is om in ‘n anonieme verbond op te gaan nie wat rondom niksseggende frases wat tot “Europese waardes” opgehemel word, gebou is.

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*