25 April 2012 ~ 3 Kommentare

Erfgeld en swerfgeld – voorwaardes vir volhoubare welvaart

Geskryf deur Ebert Terblanche

Geld laat nie die wêreld draai nie, so hoor ek, maar dit maak glo beslis die lewe makliker. Ander apologete van wat sommige Mammon sal noem, wys uit dat diegene wat reken dat geld nie geluk kan koop nie, nog nie honger en sonder ʼn dak oor die kop gaan slaap het nie.

Afrikaners het oor die jare heen wisselende voorspoed geniet. Ons geskiedenis wys ook uit dat welvaart nie iets is wat uit die lug uit val of soos ʼn onverwagse skip inkom hawe toe nie. In baie gevalle moet die genade van bo en die geluk van onder mekaar ontmoet in die derde geslag van harde werkers om by aardse rykdom uit te kom.

Daar is egter ook uiters belangrike onderliggende ekonomiese redes waarom samelewings soos in dele van die VSA en Duitsland kop en skouers uitstaan bo die res wat welvaartskepping betref. Dit behels onder meer dat daar van vroeg af beleggings gemaak word in die stelsels wat welstand toeganklik en haalbaar maak vir sy bevolking, en dat daardie stelsels ongeag terugslae soos oorloë en volksverskuiwings, in stand gehou moet word om vrug te dra.

Afrikaners moes ook die offers bring wat toekomstige welvaart moontlik sou maak.

In ons eie verlede is die Vryburgers verhoed om markwaarde vir hul produkte te kry en Adam Tas is tronk toe in sy poging om daardie ongeregtigheid te oorkom.

Die Oosgrensboere kon nie onder die voortdurende aanslag van Xhosa plunderaars en gebrekkige koloniale beskerming hul weg oop sien om daar ʼn beter toekoms vir hul kinders te skep nie en het met die publikasie van Piet Retief se manifes die binneland ingetrek op soek na grond wat hulle self kon beveilig.

Na die mislukkings van die tweede Engelse oorlog en die rebellie (en ook weer na die terugslag van die groot depressie) het ons weer en weer die boom geskraap en is daar besef dat welvaart in die moderne wêreld vereis ook toegang tot kwaliteit onderwys, finansiële markte en vervaardiging. Die Helpmekaarkongres sou uitloop op die Helpmekaarbeweging wat, aangevuur deur die Afrikanerpers soos Die Burger en Die Huisgenoot (hoe het tye nie verander nie?), bedrywe soos Sanlam, Federale Volksbeleggings, Volkskas bank (vandag Absa Bank), Yskor (vandag Mittal),Perskor ens. voortgebring wat uiteindelik ʼn groot rol gespeel het om ʼn hele geslag Afrikaners op te hef uit armoede.

Die pendulum swaai egter weer. Die fondamente waarop die vorige geslag se rykdom gebou is, word ondergrawe en weggekalwe. Afrikaanse skole en universiteite verengels. Grond word onveilig. Afrikaans en die Afrikaner word uit die sakewêreld geboender. Beurse, werksgeleenthede, lenings, waagkapitaal, tenders en staatskontrakte word ons ontsê.

Waarskynlik die slegste van hierdie proses, is dat dit gelei word deur die einste mense wat uit die vorige bedeling die middele ontvang het wat hulle in staat gestel het om vandag leiersposisies in politieke partye, groot maatskappye, professionele firmas en mediahuise te beklee.

In ʼn poging om aan die bates vas te klou wat ʼn vorige geslag Afrikaners moontlik gemaak het, is ʼn huidige geslag Afrikaners te gelukkig om die volgende geslag Afrikaners uit te verkoop deur die stelsels wat rykdom skep te verteer en te transformeer.

Hierdie tendens is duidelik sigbaar in emigrasiestatistieke, of die inverse daarvan, die bevolkingspiramide van Afrikaners in Suid-Afrika. Skool- en universiteitsverlaters vlug in swerms die land uit op soek na daardie geleenthede waar hulle in Suid-Afrika gestuit of onregverdig teen gediskrimineer word, terwyl die groep ouer as 45 jaar in baie gevalle nog op die geleenthede wat die vorige geslag vir hulle moontlik gemaak het, kan teer.

Hoe kan hierdie situasie omgekeer word? Die kortste antwoord is dat daar weer in die stelsels belê moet word wat vir die volgende geslag Afrikaners geleenthede sal bied:
• Ons moet belê in grond wat deur ons beveilig kan word.
• Ons moet op daardie grond skole, tegniese kolleges, technikons en universiteite bou
• Ons moet finansiële instellings, vervaardigingsaanlegte en alle ander sake vanaf daardie grond bedryf
• Ons moet toegang tot markte bewerkstellig deur handelsnetwerke en reputasie vir kwaliteit
• Ons moet hierdie stelsels vir ons nageslag beveilig deur volhoubare selfregering

Hierdie stelsels is geïntegreerd en die een is nie volhoubaar sonder die ander nie. ‘n Fabriek is nie volhoubaar nie wanneer hy uitgelewer is aan gebrekkige kragtoevoer. ‘n Kampus is onvolhoubaar wanneer sy studente en dosente se huise onveilig is en sy gekwalifiseerdes landuit moet gaan om hul potensiaal te verwesenlik. Huise is slegs aantreklik totdat riool in die strate afloop.

Orania wys reeds hoe ‘n volhoubare toekoms geskep kan word.

Die vraag is of die res van ons ooit uit die hangkas gaan klim en by die program gaan aansluit, of gaan erfgeld maar net swerfgeld bly?

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Erfgeld en swerfgeld – voorwaardes vir volhoubare welvaart”

  1. Sebastiaan 25 April 2012 at 14:55 Permalink

    Baie goeie en relevante stuk, Ebert. Iets wat ek ook voel maar wat jy uitstekend verwoord het.

  2. Simon 27 April 2012 at 14:37 Permalink

    Die onderstaande is baie waar en versuur my ook.

    “Waarskynlik die slegste van hierdie proses, is dat dit gelei word deur die einste mense wat uit die vorige bedeling die middele ontvang het wat hulle in staat gestel het om vandag leiersposisies in politieke partye, groot maatskappye, professionele firmas en mediahuise te beklee.”

    Ironies glo ek ook baie van die b.g. sulkes negatief teenoor Orania aan die een kant staan en dit terwyl hul, hul SEB (BEE) aan die ander kant toepas.

    Ek glo dit is ook baie belangrik om die keer (sou ons weer ‘n kans kry) ook seker te maak dat net Afrikaners vir wie die Afrikaner en sy voortbestaan belangrik is betrek word om die volgende te bereik:

    “Ons moet hierdie stelsels vir ons nageslag beveilig deur volhoubare selfregering”

    Anders sit ‘n mens dalk weer met ‘n Sanlam ens. wat op die rug van die Afrikaner gebou is maar wie se (Afrikaner) bestuur nie skroom om die Afrikaner uit te verkoop ter wille van verder wins en nie veel belang stel in die toekoms van die Afrikaner nie.

  3. سسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسسس 23 April 2013 at 12:51 Permalink

    سسسس


Lewer Kommentaar

*