17 Mei 2018 ~ 12 Kommentare

Emigrasie na Duitsland

Geskryf deur Hennie Conradie

In 2009 is ek ‘n pos aangebied by ‘n Duitse maatskappy naby die Bodensee – op die grens van Switserland, Oostenryk en Duitsland. Ek het gereken dat indien ek SA sou verlaat – dan na die land van ons herkoms – en het die Conradie stamvader nie uit Hessen, Duitsland gekom nie?

Vol hoop en verwagting het ons in Desember 2009 na Duitsland vanaf Orania verhuis. ‘n Nuwe begin is altyd opwindend, en met goeie vooruitsigte het ek, my vrou en twee seuns die skuif aangepak. Europa was aan begin natuurlik wonderskoon. Waar die Karoo se grond skaars genoeg organiese materiaal gehad het om iets te laat groei, was die grond hier ryk en vol humis. Ons was bly oor die reën, die sneeu, die mooi ou dorpe, en die nuwe volksbestaan waarvan ons gehoop het om deel te word. Iets snaaks gebeur egter wanneer ‘n mens geen daadwerklike doelwitte meer het nie – die lewe begin doelloos te voel. In Suid-Afrika het ons ‘n stryd gehad waarvan ons deel was – waarin ons ons energie kon bydrae en waarin ons aandeel erken is.

In enige land waarheen enige iemand migreer is daar ‘n sterk behoefte om aanvaar te word deur die plaaslike bevolking. Soms gaan dit nie eens oor aanvaarding nie – bloot om die behoefte om vriendelik behandel te word. Al staan die Boere kultureel ook na aan die Nederlanders en Duitsers, is daar hemelsbreë kultuurverskille. Die Duitsers is lief daarvoor om werkskontakte en persoonlike kontakte te skei so ver as wat moontlik is. Iewers het ek gelees dat mens die Amerikaners kan vergelyk met ‘n vrug wat sag is aan die buitekant, maar ‘n harde kern het waardeur mens nie sommer dring nie. Waar baie Amerikaners ongelooflik vriendelik aan die buitekant is – is egtheid aan die binnekant iets waarna mens baie lank sal soek. Die Duitsers is die omgekeerde hiervan. Hulle doppe is kliphard en yskoud – maar binnekant is hulle sag en warm. Die ondeurdringbare buitekant is nie heeltemal ondeurdringbaar nie – maar dit gebeur nie oornag nie. Engels is in die grootste dele van Europa ‘n vreemde taal – iets soos Noord-Sotho wat kinders op skool moet leer maar nooit gebruik nie.. en sonder die behoorlike beheersing van die plaaslike taal kom mens nie ver in jou werk of op sosiale vlak nie.

Ek onthou – na ongeveer 6 maande by my nuwe werk – het iemand my een oggend op my naam genoem. Om een of ander rede was ek vreeslik bly – en toe ek mooi daaroor nadink val dit my by dat niemand my op my naam genoem het vir maande nie.. Die blydskap het skielik in ‘n tipe hartseer verander wat moeilik is om te beskryf. Hier was niemand wat vir ons lief was nie, niemand vir wie ons enige iets beteken het nie – en die vriendelikste mense was die gekleurde uitlanders – nie die Duitsers met wie ons gewens het om te integreer nie.

Ek moet byvoeg dat dit geensins ‘n vingerwysing is na die Duitsers nie. As mens byvoorbeeld in die oggend op die bus wag – is dit tipies dat mense wat al jare lank saam met mekaar elke oggend bus ry mekaar nie eens sal groet nie. Ek onthou toe ek eenkeer my seun aangespreek het wat ‘n vreemdeling nie gegroet het nie – sy antwoord na ‘n jaar of wat in Duitsland was dat hy die persoon nie ken nie!! ‘Presies’! – het ek geantwoord – dit is waarom jy hom moet groet sodat jy hom kan leer ken!

Aangesien my Duits aan die begin so sleg was, het baie Duitsers gemeen ek is of ‘n Pool of ‘n Rus – en die houding van mense teenoor my het sterk daarvan afgehang wat hulle gemeen het ek nou eintlik was… Wanneer iemand nou en dan aan my Duitse dialek gemeen het dat ek miskien ‘n Hollander kon wees – was hulle houding teenoor my heeltemal anders. Ten spyte van die liberale politiek wat hier geheers het met die vingerwysing na Suid-Afrika het ek agtergekom dat die volk hier eintlik ook maar net hulle Volkstaat wou behou – ‘n eie bestaan – onbedreig deur vreemdelinge!

Ek het baie teruggedink oor Suid-Afrika – ten spyte van die mooi kant daarvan om vir jouself op te staan en te sorg – was die ‘klein apartheid’ soos die klein wolwe wat die wingerde vernietig het. Enige mens verdien om ten alle tye menswaardig behandel te word – en die veragting en minagting waarmee mense in Suid-Afrika mekaar soms behandel het se impak op ons omstandighede het vir my duideliker geword.

Tot ons groot geluk – het ons met kinders na Duitsland gekom. Kinders help volwassenes om te integreer op maniere wat volwassenes nooit self sou kon regkry nie. Na ongeveer 3 maande kon die seuns reeds Duits praat – en ek het my seun op 5-jarige ouderdom gereeld gebruik om dinge namens my te sê… Daar was natuurlik ook gevalle waar daar op ons kinders gepik is omdat hulle uitlanders was – en die hele oefening van migrasie, om te probeer om aanvaar te word, om ‘n taal te bemeester, het na ‘n futiele oefening gelyk. Terwyl ek nog kontak met mense by die werk gehad het – het my vrou dit waarskynlik nog baie moeiliker as ek gevind.

Ons derde kind is in Duitsland gebore in 2011, en stadig maar seker het ons die taal bemeester, hier en daar vriende begin maak, en baie stadig begin om te integreer. Daar was meer tye as wat ek graag sou wou toegee wanneer trane spontaan oor my wange gerol het – meestal as ek alleen was – of op reis was iewers heen. Kultuur, taal, gewoontes, dit alles bied ‘n tipe van ‘n vesting en fondasie in enige mens se lewe wat hoegenaamd nie raakgesien of geag word tensy jy dit nie meer het nie. As jy maande lank met niemand jou eie taal kan praat nie – dan hoop jou gevoelens in jou op tot dit wil uitbars. As jy nie die fondasie van taal het waarop jy kan staan en terugval nie, dan voel jy ongegrond, en begin jy al meer soos ‘n doellose swerwer voel. Ek vermoed mense wat na Engelssprekende lande migreer het dit minder swaar in hierdie opsig.

Daar was honderde kere wat ek gemeen het ek sal duisend keer eerder voor ‘n vuurpeleton gaan staan as om weer te emigreer. Die prys wat mens betaal is onvoorsienbaar hoog. Net enkele van jou ‘ou’ vriende sal kontak hou, vir die meeste is jy verlore – en jy voel ook verlore. Jou ouers en familie word ook getref – en jou kinders word groot sonder ooms, tannies, neefs, niggies, oumas en oupas. Jy het geen ondersteuning nie – as jy die aand met jou vrou sou wou uitgaan is daar niemand om na die kinders te kyk nie ens. By die konserwatiewe kerk wat jy bywoon word daar paashase op Paasfees in die kerk uitgedeel, iets wat jou oë aan die begin laat rek – en wanneer jy by die openbare swembad in die mans-badkamers gaan stort, skrik jy skielik as ‘n Pa en sy dogter oorkant jou kom stort… Naaktheid is in Europa nie iets waarvoor jy jou moet skaam nie, maar my Boere-klonge maak seker hulle stort nie weer daar nie (lol).

So twee jaar gelede het die groot vloed van vlugtelinge Europa begin binnestroom. Van ons Duitse vriende het ons gewaarsku dat ons ons Duits nog moes verbeter sodat minder mense vermoed ons is uitlanders. Ek het op bloot toevallige wyse van die vlugtelinge uit Afganistan en Pakistan leer ken – en af en toe by hulle gaan kuier. Ek was selde in my lewe so vrygewig verwelkom soos onder hierdie mense wat amper niks gehad het om my aan te bied nie. Ek was natuurlik ’n vurige teenstander van Moslem-migrasie na Europa – terselfdertyd het ek geleer dat medemenslikheid iets is wat alle mense verdien. Van die jongmanne het my die merke aan hulle lywe gewys waar die Taliban se koeëls hulle getref het – hulle het vertel van Amerikaanse Drone wat skoolkinders doodskiet, van hulle lang vlug na Europa en van hulle hoop om geld te stuur aan familielede wat agtergebly het.

Na my eie ervaring in Duitsland het ek al die vlugtelinge aangeraai om terug te gaan na waar hulle vandaan gekom het. Al is die Duitse pers hoe liberaal – daar is bitter min liberale Duitsers wat ek ken wat enigsins uitlandse vriende het. Die uitlanders hier word dikwels beskuldig dat hulle nie integreer nie – die waarheid is die Duitsers wil ook nie met hulle integreer nie – hulle wil – soos die meeste ander volke regoor Europa – ‘n eie voortbestaan verseker.

Die einde van my storie is nie so swartgallig nie 😉

Terwyl die Duitse dop hard en koud is – is dit sag en warm aan die binnekant. As jy eers Duitse vriende gemaak het – dan HET jy vriende gemaak! Hulle sal jou lank uitkyk – maar as hulle jou vat dan vat hulle jou – dan word jy aanvaar en word jy een van hulle. Ek is baie gelukkig om nou 5 baie goeie vriende hier te hê – manne wat my enige tyd van enige dag sal bystaan en ondersteun.

My vroutjie was sosiaal nog altyd beter as ek – alhoewel ek meen ‘n vrou mis familie en vriende nog meer as ‘n man. Vir haar was dit waarskynlik nog moeiliker.

Ons kinders – nou al 8 jaar in Duitsland – blink uit op skool en in sport en min mense sou kon raai waar hulle vandaankom, al is ons openlik trotse ‘Boere’.  Hulle is ten volle deel van die nuwe gemeenskap en vir hulle is Duitsland 100% normaal en die enigste land en kultuur wat hulle regtig ken en verstaan. Ons migrasie na Europa – hoe swaar ook al – was suksesvol.

‚Breek die bande – sny die koord! Dryf die tentwa dieper Noord! (Watermeyer)

Laaste gedagtes:

Wat sou die doel wees van ‘n Appelboom, van ‘n Wilger, van ‘n Leeu? Sou dit nie wees om presies te wees wat dit is nie? Na my mening is elke mens op sy gelukkigste wanneer hy net hyself is – dit is so eenvoudig. Daarmee saam – as jy gekies het om jouself te aanvaar vir wie en wat jy is – en dit uit te leef, moet mens ander gun om presies te wees wat hulle is. Dit geld op persoonlike en op groepsvlak.

Dit is nie verkeerd om wit verf en blou verf te meng nie – maar die mengsel kan nooit weer wit of blou genoem word nie.

Die komponis wat ‘n lied komponeer, gun aan ons die geleentheid om die hele lied te hoor – die begin, afloop asook einde. Die einde opsigself sou geen sin gehad het sonder die res van die musiek nie. Sukses sonder die hele storie wat dit voorafgaan, is sinneloos – die lewe is ‘n lied – en op elke deel daarvan mag ons dans.

Ek het twee stukkies raad vir voornemende immigrante:

  • Ag dit was jy is en het – koester dit – en indien moontlik leef dit uit onder die Suiderkruis.
  • Indien jy migreer – wees jouself – aanvaar jouself – wees trots op jouself – wees lief vir jouself – eers wanneer jy werklik van jouself hou sal ander mense reken jy is die moeite werd om van te hou – dit is so eenvoudig.

 

Deel/Stuur

12 Reaksies op “Emigrasie na Duitsland”

  1. Afrikanus 17 Mei 2018 at 19:56 Permalink

    Ook maar gelukkig. Ek ken ‘n Suid-Afrikaner (eks-Duits-Suidwester, daarso oorlog gemaak, toe SWAPO oorvat trek hy Suid-Afrika toe). Inflarde geskiet op sy plot op Muldersdrift (hy kan nie foets ry nie, sy voet se been is uitmekaargeskiet, dis net vleis wat oorgebly het), werkloos gemaak weens regstellende aksie, kom toe Duitsland toe, kry geen werk nie. September gaan hy sy dak oor sy kop verloor en op straat land as middeljarige man (bo 50) en dan? Vrek? Hy is doodbang oor oudword, wonder wat gaan van hom word. Geen pensioen, niks nie. Niemand wil aan werkloses verhuur nie. Hy hardloop van kerk tot kerk, dis net leee woordjies wat hulle prewel (en vlugtleinge seker op die hande dra). Die situasie is so erg met blyplek dat ‘n werklose vroutjie met drie kinders na die koerante toe gehardloop het om hulp, want sy gaan ook haar woonstel verloor.

    Ek ken nog Suid-Afrikaners. Sommiges was gelukkig. Dan weer ‘n Suidwestertjie (vroutjie) met ‘n Stellenbosch Bcomm. Sy kry nie werk nie. Moes al deurwag speel, mielielande gaan grawe, ens.

    Bodensee. Ek ken van. Ek bly noord van Freiburg. Groete. Eks 1 SDB kannonier, ook in Suid-Afrika my hele lewe lank gebly totdat regstellende aksie my amper in ‘n plakker verander het.

    • Sebastiaan Biehl 18 Mei 2018 at 10:11 Permalink

      Om jou eie mense te verraai en te verfoei om punte te wen by vreemdes is iets wat Duitsers en Afrikaners (of meer spesifiek, die leiers) in gemeen het.

      • Sebastiaan Biehl 18 Mei 2018 at 10:13 Permalink

        Nog meer spesifiek: sekere leiers en meningsvormers, die “establishemnt” of “elite”.

  2. Theuns 17 Mei 2018 at 22:59 Permalink

    Ek is jammer om te hoor van die probleme. Dalk sou ‘n skuif na Orania in plaas van oorsee baie beter wees tussen jou eie mense…jammer mense is te bang om Orania te kies met sy uitdagings. Met dit in gedgate, hoop nader maak nike ook dieselfde “aamvaarbare ” keuse nie.

    • Rudolf 23 Mei 2018 at 08:48 Permalink

      Dagsê Theuns,

      Hennie Conradie het juis vandaar soontoe immigreer.

      “Vol hoop en verwagting het ons in Desember 2009 na Duitsland vanaf Orania verhuis.”

      Gaan lees weer die eerste sin van die tweede paragraaf…

      Lekker dag!

  3. Tian 18 Mei 2018 at 08:20 Permalink

    Baie dankie vir die goeie artikel Hennie. Ek kan bevestig dat dit wat jy oor die duitsers skryf baie akkuraat is, aangesien my vrou ‘n Duitser is. Sy kom van Hildesheim en het ongeveer 10 jaar gelede Suid-Afrika toe verhuis. Ons het toe ontmoet toe ons vir dieselfde maatskappy gewerk het. Sy het aanvanklik ook die tipiese liberale Europese siening oor SA gehad, maar na 10 jaar het haar hele siening verander. Ons besoek nog gereeld haar ma in Duitsland, en elke keer wat ek daar is kan mens duidelik die alleenheid voel waarvan jy in jou artikel praat, alhoewel Duitsland ‘n baie mooi land is.

    Ek en my vrou wil graag volgende jaar Orania besoek.

    • Rudolf 23 Mei 2018 at 08:49 Permalink

      Dagsê Theuns,

      Hennie Conradie het juis vandaar soontoe immigreer.

      “Vol hoop en verwagting het ons in Desember 2009 na Duitsland vanaf Orania verhuis.”

      Gaan lees weer die eerste sin van die tweede paragraaf…

      Lekker dag!

  4. Afrikanus 18 Mei 2018 at 09:20 Permalink

    Tussen mens se eie mense – hoe? Vertel dit vir ‘n vriend in Suid-Afrika van my – eks-IT-hoofbestuurder (op daardie vlak kan jy nie meer programmeer nie, net hoeevlak vaardighede, en jy is te senior vir ander poste – mense voel ongemaklik met jou), meestersgraad in inligtingstegnologie, vroeg afgele, as blanke loop hy vas in geslote deure. Dag en nag lees mens van die groot kundigheidstekorte. Dit is soos ‘n klap in die gesig van so ‘n persoon.

    Hy moes sy huisverband verhoog sodat sy familie kan eet. Sy reserwes raak op. En daarna? Verhonger of selfmoord? Ek is groot bekommerd, dit was huisvriende met wie mens in beter dae lekker gekuier het.

    Die grap is sy voorouers was Berlynse sendelinge, Duitsland sal hom nie vat nie (tensy hy soos ‘n Groenewald lyk – die man daarbo wat so geskiet was, het vertel hoe die Duitse konsulaat in Suid-Afrika links en regs Duitse burgerskap soos koekies aan hulle uitgedeel het, maar sy Duitse paspoort wou hulle nie hernu nie, totdat hy direk Duitsland gekontakteer het. Dis wat hy my vertel het – ek kan dit nie nagaan nie), want hulle het mos nou S.A. burgers geraak (weet nie of jy in Oom Paul Kruger se dae moes aansoek doen, of sommer net genaturaliseer was nie). Die geskiedenis het so uitgewerk.

    Orania sal nie vir sekere persone uitwerk as daar nog nie die nodige infrastruktuur bestaan nie. Mense met sekere gestremdhede, terminale siektes en ander probleme waar jy die onmiddelike nabyigheid van spesialiste moet he. Sekere beroepsgroepe sal ook nie daarso kan oorlewe todat die plek meer gevestig is nie. Orania kan op hierdie stadium van die geveg nie alles vir almal wees nie.

  5. Andries Maritz 22 Mei 2018 at 06:10 Permalink

    Dag Hennie Conradie, 22 Mei 2018

    Komplimente met jou juiste beskrywing van die emosies wat mens met ‘n verskuiwing uit Suid-Afrika kan ervaar. Dit is goed dat jy dit geplaas het en is goeie inigting vir voornemende immigrante, selfs al sal dit by sommiges, straks nog meer onsekerheid skep tesame met alles wat hulle oor moet besluit, maar hulle moet jou artikel as goeie hulpmiddel en nie afskrikmiddel aanvaar.

    Ek is in SA gebore maar vanaf so 3 jaar oud, in ou Suidwes-Afrika (Namibië) groot geword en 1961 in WHS (Hoërskool Windhoek) matrikuleer. Ja ek is ‘n ou hond (75) en op 59 (2001) na Nieu Seeland immigreer. So met my aankoms hier het my droom vir ‘n nuwe begin in ‘n nagmerrie ontaard met ‘n egskeiding wat my totaal op my eie in ‘n vreemde land gelaat het, so baie emosies in oorstreffende trap. (Ek het vooruit in Augustus 2001 met 2 hektaar oop grond begin waar ek ‘n woonhuis laat bou het en ‘n olyfboord gevesteg het om teen Desember 2001 reg te wees vir die wat sou volg. Alles was reg en teen 30 November 2001 gedoen toe die bom ontplof.) Dit net as agtergrond om by jou artikel aan te sluit van die impak van emosies wat mens nie eintlik van bewus is, wanneer jy immigreer nie.

    Wat jy van Amerikaners noem, kan ek gedeeltelik bevestig, want ek het 1977 in Irvine, wat Suid van Los Angeles, VSA is, op ‘n enorme projek gewerk en kan nie van een Amerikaner onthou wat my na sy/haar huis genooi het nie, maar baie vriendelik by die werk en soms saam gholf gespeel, of werkverwante etes en dis dit. Is snaaks genoeg na die jaar 1977 daar, nou ongeveer 5 jaar gelede, het 2 Amerikaanse kollegas my weer op Face Book opgespoor.

    Ek moet byvoeg, dat as mens in die buiteland beland en met mens se Boeregewoonte, verwag jy dat jou nuwe bure jou eerste gaan oornooi, werk nie altyd so nie, maar mens moet jouself dan afvra of jy nie hulle eerste moes oornooi nie.

    Sover so goed en lekker bly in Duitsland en eet ‘n eisbein en ‘n lang bier, vir my part ook.
    Vriendelike groete,
    Andries.

  6. Chris 22 Mei 2018 at 09:46 Permalink

    Dis eintlik hartverskeurend dat ons volkie nie meer tuis voel in ons eie land nie en maar besluit om te emigreer. Dit laat mens met n wrok teen diegene wat ons in hierdie situasie laat beland het. Ekself is al n tyd lank in China, waar dit as buitelander onmoontlik is om heeltemaal te integreer, maar hier is ten minstewerrk en mense behandel jou met respek.

  7. Jean 22 Mei 2018 at 11:27 Permalink

    Dankie Hennie. Ek het al baie keer vir oorsee-se vriende en familie gevra hoe dit daar gaan ens. ens. en telke male kry mens daai doodse stilte, of ‘n ligte antwoord, maar dis eintlik nie ‘n antwoord nie….. Deur jou stuk te lees bevestig dit my vermoedens en is ek bly dat ek al 2009 besluit het om altyd hier in die land te bly.

    • Afrikanus 26 Mei 2018 at 10:25 Permalink

      As mens in die geskiedenis lees, sal die eerste en partykeer ook die tweede en soms ook die derde geslag as pioniers die pad moet oopmaak in die nuwe land, sodat hulle nageslag dit eenkeer kan beter he.

      Mens moet nie vergeet nie. “Oorsee” was tweehonderd jare gelede ‘n harde plek om in te lewe vir die massas. Daar was nie al die luukses van vandag se beskawing nie. Nes in Suid-Afrika destyds. Die lewe was oms baie ongenaakbaar. Dit is hoekom ons Europese voorvaders Europa vir Amerika en Afrika verlaat het. Ook om ‘n beter lewe te soek. Nie net om ontdekkingsreisigers te word nie.

      Vandag is die oorsese lande beskaafder as in vroeere eeue, maar dit beteken nog steeds nie dat hulle die rooi tapyt vir jou sal ooprol om aan te pas nie. Jy sal die rooi tapyt self moet saamvat oorsee. Jy het ‘n sekere bringskuld teenoor hulle, as hulle jou nie uitgenooi het nie. As jy meegveol en begrip verwag, dan moet jy dit in sulke kringe soek waar die kognitiewe elite tuis is wat verby landsgrense kan dink. Dit is ‘n baie klein minderheid uit die aard van die saak. Jy moet nie begrip by die massas probeer soek nie. Hulle weerkou bloot dit wat hulle in die media gehoor en gelees het, en dink dit is hulle eie opinie.

      Sekere mense met spesiale vaardighede het dit makliker, maar dit is die uitsondering, nie die reel nie.


Lewer Kommentaar

*