21 Maart 2012 ~ 1 Kommentaar

Ekonomiese vooruitgang sonder politieke beheer – dit is nie moontlik nie

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

‘n Bekende redenasie, wat op die oor af slim klink maar te kort skiet, is dat alles oor die ekonomie gaan en dat politiek eintlik ‘n lastigheid is en heeltemal oorskat word.
In die Westerse wêreld is veral na die einde van kommunisme geredeneer (in lyn met die “Einde van die Geskiedenis” essay van Francis Fukuyama) dat die era van ideologie en groot politieke idees verby is en mense nou hulle kragte ingespan het om welvaart en voorspoed te skep waarby almal sou baat.
Intussen het die optimisme en die geloof in die ekonomie plek gemaak vir ontnugtering en die roep na groter ingryping. Die kamstige magtige ekonomiese leiers is mak soos lammetjies en swig vir die eise van die politieke leiers as dit kom by wette en regulering van die mark.
In Afrika het die blanke minderhede (en ook Indiërs, Libanese en Arabiere) ook die siening gehuldig dat hulle die politiek maar aan die swart meerderheid kon oorlaat solank hulle die ekonomie beheer. Politiek is as’t ware beskou as onskadelike speelgoed vir die onbevoegdes terwyl die kenners hulle besig hou met besigheid.
By uitstek het die siening gegeld in voormalige setlaarskolonies soos Zimbabwe, Kenia en Zambië, waar blankes na onafhanklikheid nie uitgedryf is nie, juis omdat hulle as ekonomiese melkkoei belangrik was. Haatspraak teen blankes deur swart politici is nie ernstig opgeneem nie, want uiteindelik was die swart meerderheid  afhanklik van die minderhede se houvas op die ekonomie.
Ook hier het ontnugtering ingetree, om dit saggies te stel. Ek hoef nie hier weer op te haal wat in Zimbabwe (en in ‘n mindere mate ook in die ander voormalige setlaarskolonies) gebeur het, en natuurlik ook die toenemende inmenging van die politiek in die ekonomie in Suid-Afrika te beskryf nie.
Die lang gekoesterde hoop dat jy as minderheid kan oorleef met ekonomiese krag sonder politieke mag is eenvoudig verkeerd bewys. Politiek bly die kroonrat van die binnewerkinge van ‘n samelewing.
Ook in Suid-Afrika begin die ryk Afrikaners nou agterkom dat hulle welvaart, kundigheid en bates eintlik niks werd is sonder politieke beheer nie. Ekonomiese druk soos die dreigement om jou beleggings te onttrek, te emigreer en werknemers af te dank beïndruk niemand wat volgens sosialistiese logika dink nie, naamlik dat die gans wat die goue eiers lê liewers geslag moet word omdat daar baie goue eiers in sy maag moet wees, nie.
Om die rede het by die volkstaatbeginsel ekonomiese selfstandigheid en politieke beheer altyd hand aan hand geloop. Die stigters van Orania, en diegene wat by hulle oorgeneem het, het besef dat politiek geen luukse is wat aan vreemdelinge oorlaat kan word nie. Die Afrikaner se geskiedenis het ook al genoegsaam bewys dat dit met die ekonomiese voorspoed verby is, as jy politieke beheer verloor.
Die Britse bewind kon of wou die Boere nie beskerm teen die Xhosa-strooptogte aan die Oosgrens nie en groot ekonomiese skade deur gesteelde vee en die vernietiging van plase was die gevolg.
Brittanje het ook besef dat hulle nie die goud van Johannesburg of die diamante van Kimberley na behore kon uitbuit met ‘n Boerebewind oor die gebiede nie, daarom moes hulle politieke beheer kry. Eers deur manipulasie, dan deur ‘n staatsgreeppoging (die Jameson-inval) en laastens deur volskaalse oorlog. Weereens kon politiek en ekonomie nie geskei word nie.
Toe in die tweede helfte van die 20ste eeu Afrikaners eers politieke beheer oor Suid-Afrika en geleidelik ook ekonomiese mag verkry het, kon eintlik niks hulle meer stop nie. Eers die influistering van die NP en die groot maatskappye, dat politiek nie so belangrik is nie en dat dit gerus aan die ANC oorhandig kan word, solank die grondwet die onveranderde ekonomiese besittingstoestand beskerm, het talle Afrikaners oortuig om afstand van die mag te doen. Vir ‘n hele ruk het dit goed gewerk: die ANC-regerings onder Nelson Mandela en die beginjare van die Mbeki-bewind het nie te veel in die ekonomie ingemeng nie of met eienaarskap gepeuter nie en die globalisering van Suid-Afrika het menige geleenthede in handel, vervaardiging en toerisme gebied wat ook Afrikanersakemanne bevoordeel het.
Met die linksswaai onder Zuma (wat eintlik al in die Mbeki-termyn begin het) word meer en meer van die rol gepraat wat die politiek moet speel om die ekonomie “reg te stel” ten einde die doelwitte van die sogenaamde “nasionale demokratiese revolusie” (‘n Orweliaanse term vir ‘n sosialistiese omvorming van die samelewing) te bereik.
Afrikaners se hoop, dat hulle vir die opoffering van politieke mag beloon word deur hulle op die ekonomiese terrein onbelemmerd te verryk, was futiel. Die dispariteit van politieke en ekonomiese elite het nêrens lank gehou nie. Ook die poging om die nuwe swart elite te oortuig dat die ekonomie so ver as moontlik deur die politiek met rus gelaat moet word sodat welvaart vir almal geskep moet word, het nie gewerk nie. Die nuwe swart elite floreer juis besonder goed in die stelsel van politieke inmenging wat die speelveld tot hulle voordeel verander. Die aanneem van Westerse smake en gewoontes het nog lank nie die aanname van Westerse denke meegebring nie.
Afrikaners se uitkoms is daarin geleë om self weer beheer oor die politiek te neem as hulle ekonomiese beheer nie net wil behou nie, maar wil uitbou. Dit is egter ‘n heeltemal ander pad as die een wat tans deur die DA en ander liberale groepe voorgehou word: staan almal saam in een effens meer gematigde opposisieparty, betrek die swart middelklas en dan sal ons beheer oor Suid-Afrika kry en sorg dat daar ‘n redelik vrye ekonomie heringestel gaan word waar wit en swart ongeag velkleur hulle kan verryk en politiek eintlik onnodig raak.
Die pad wat ons moet loop is die van hertoeëiening van plaaslike strukture, polities en ekonomies. Dit is dieselfde idee wat Israel gehad het: beset op ‘n vreedsame manier ‘n stuk grond, bou jou eie ekonomie op en sorg dat jy deur getalleoorheersing (verkieslik sonder vreemdelinge wat nie by jou idee en strewe inval nie) ook politieke beheer kan verseker. Die ekonomie is dan nie ‘n losstaande gebied wat net vir selfverryking bedoel is nie, maar ‘n terrein wat meehelp om die groep te bemagtig. As in die proses enkeles welvarend raak deur harde werk en ondernemerskap is dit goed, maar die hoofdoel is om selfstandigheid te verseker en ‘n toekoms as volk saam te bou, op alle terreine.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Ekonomiese vooruitgang sonder politieke beheer – dit is nie moontlik nie”

  1. Abram F Celliers 21 Maart 2012 at 10:52 Permalink

    Hier word die spyker op die kop geslaan. Die DA en soveel ander probeer die Jode in die VSA en Europa as voorbeelde hou waar dit wel werk. Maar dit is in die VSA en Europa, en dit het ook nie regtig die Jode gehelp onder Hitler se bewind nie. Maar dit sal nooit in Afrika werk nie. Die persoon wat politieke mag het, vat later die ekonomiese mag. Om te stem maak nie die massas se magies vol nie. En om die massas se magies vol te maak, en hulle te beheer, SAL die ekonomiese mag van die blankes gevat word. En as die wet dit keer, SAL die wet verander word. Die ANC praat klaar oor veranderings in die Grondwet. Selfbeskikking is die enigste oplossing.


Lewer Kommentaar

*