28 September 2011 ~ 4 Kommentare

Ek is ‘n Afrikaner, dan die res!

Geskryf deur Jaco Kleynhans

In sy onlangse bitsige aanval op AfriForum skryf Adriaan Basson, die assistentredakteur van City Press, dat hy net soos Kallie Kriel, aan wie die opebrief gerig is, ‘n wit Afrikaner van Afrika is. Hy gaan voort om te sê: “Ek dink egter ons interpretasies oor wat dit beteken om ’n Afrikaan-Afrikaner in Suid-Afrika te wees, verskil wêrelde, so ook ons menings oor die plek van Afrikaners in 2011.”

Verlede Saterdag sit en luister ek na dr Christoph Von Ach, voorsitter van ‘n Orania-ondersteuningsgroep in Suid-Tirool, ‘n grotendeels outonome provinsie in die noorde van Italië, tydens die Orania Beweging se jaarlikse Burgervergadering. Dr Von Ach vertel van die pad wat sy minderheid, die Duitssprekende mense van die provinsie Suid-Tirool, sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog geloop het om deur groter selfbeskikking beheer oor hul eie lot te kon bekom.

Die mense van Suid-Tirool beskou hulself eerstens as Suid-Tirolers. Hul identiteit as Italianers is ‘n geografiese toevalligheid. Tog beskou niemand in Europa hierdie minderheid van sowat 500 000 mense as ‘n groep wat in die pad van ‘n beter Italië of selfs ‘n sterker Europa staan nie.

Na die Eerste Wêreldoorlog is Suid-Tirool by Italië ingelyf en is die Duitssprekende minderheid se taal en kultuur vir dekades deur die Fascistiese regering onderdruk. Suid-Tirool het eers vanaf die 1970’s daarin geslaag om groter beheer oor sy eie instellings en regering te kry.

Tog het die taal en kultuur van die mense van Suid-Tirool sterk gebly. Dr Von Ach skryf dit toe aan ‘n sterk samehorigheid van dié minderheidsgemeenskap na die Eerste Wêreldoorlog. Ten spyte van al die pogings van Italië om Suid-Tirolers van hul taal en kultuur te ontneem, het die teenoorgestelde gebeur en het Suid-Tirolers saamgestaan en moeite gedoen om hul taal en kultuur uit te bou en te bevorder.

Indien jy vir die meeste mense in Suid-Tirool sal vra wie hy is, sal die antwoord vinnig en maklik kom: Südtiroler! Regoor die wêreld is daar vandag minderhede wat stoei met die vraag oor identiteit. Die Baske en Kataloniërs in Spanje, die Franssprekende bevolking in Kanada, die Samis van Skandinawië, die Hongaarse minderheid in Roemenië, die Mapuche-minderheid in Chili en baie ander word almal uitgedaag met die vraag oor watter identiteit eerste gestel moet word.

Daar is toenemend ‘n tendens dat minderheidsgroepe ‘n veelvoudigheid van identiteite erken, maar hul voortbestaan direk koppel aan die belang van die posisie van hul volksidentiteit.

‘n Professor van die Universiteit van Pretoria, en groot ondersteuner van Orania, noem die afgelope naweek tydens ‘n werkswinkel in Orania, dat Afrikaners juis vir lank teen die idee van ‘n nasionale identiteit gestry het. Vroeë Afrikaners was in hul wese teen kolonialisme en latere Suid-Afrikaanse nasionalisme. Juis daarom was die twee Boererepublieke sterk libertyns van aard en het baie Boere steeds nie van die klein juk van ‘n regering gehou nie! Eers na Uniewording het Afrikaners die Suid-Afrikaanse identiteit opgeneem en juis in die hoop om daardeur weer beheer oor hul eie lot te verkry, soos wat dan ook die geval was tydens die twee periodes van Afrikanerregering wat in 1994 tot ‘n einde geloop het.

Wat egter nie in 1994 gebeur het nie, was ‘n verlies aan juis daardie nasionale identiteit onder Afrikaners. Dit is dan ook hier waar Afrikaners in ‘n ander rigting as die mense van Suid-Tirool beweeg, want toe Suid-Tirool in 1918 deel van Italië geword het, het sy mense geweier om Italianers te word. Toe Afrikaners egter in 1910 deel van ‘n nuwe Suid-Afrika geword het, het hulle die identiteit van Suid-Afrikaners hul eie gemaak en ten spyte van ‘n verlies aan die beheer oor hul eie lot het hulle selfs na 1994 daardie identiteit grootliks behou.

Dit bring my terug by Adriaan Basson se brief aan Kallie Kriel. Daar is ‘n sterk stroming van Afrikaners wat hul Afrikaneridentiteit erken, nie omdat hulle dit wil behou of bevorder nie, maar wel vanuit ‘n posisie van skulderkenning en selfbejammering. Dit is ook die groep mense wat oordrewe uitdrukking aan hul Suid-Afrikaanse identiteit wil gee deur die Suid-Afrikaanse vlag op hul motors te vertoon en tydens rugbywedstryde op hul voorkoppe te laat verf. Dit is ook dié groep mense wat soos Basson hulself Afrikaan-Afrikaners noem. Hul liefde vir die nasiestaat en die Afrikakontinent moet opmaak vir die las van Afrikanerskap.

Ek weier om toe te sien hoe my Afrikanerskap as ‘n soort van simbool van selfmarteling gebruik word. Ek sê dit dus hard en duidelik: Ek is ‘n Afrikaner! En ja ek is ook ‘n Suid-Afrikaner en Afrikaan, maar nie omdat dit my wese vorm nie, maar omdat ek noodgedwonge in Suid-Afrika en op die Afrika-kontinent woon.

Basson se verstaan van waar Afrikaners in 2011 moet staan – in diens van die nuwe nasiestaat wat assimilasie van minderhede as voorwaarde vir voortbestaan vooropstel – is dus iets waarin ek nie belangstel nie. Die kamma-identiteit van Afrikaan-Afrikaner staan my nog minder aan. Dit beteken egter glad nie dat ek minder lief is vir hierdie grond en hierdie plek as enige ander groep in hierdie land en op hierdie kontinent nie. Dit beteken ook nie dat ek minder omgee vir die lot van die res van Afrika en Suid-Afrika se mense nie.

Die Afrikaner sal net ‘n toekoms hê as ons, onsself kan begin losmaak van ons groot liefde vir die nasiestaat en as ons, ons eie identiteit eerste kan stel. En laat ek dit duidelik stel: Dit het niks met velkleur te doen nie, want jou identiteit word nie deur jou velkleur gevorm nie, maar deur jou verbintenis aan ‘n geskiedenis, kultuur, taal en tradisies wat oor eeue hier aan die suidpunt van Afrika gevorm is.

 

Hierdie artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Ek is ‘n Afrikaner, dan die res!”

  1. Annatjie sandrock 28 September 2011 at 14:10 Permalink

    baie goed gestel. Iets wat ek met rustigheid kan lees en onderskryf. So baie maal is verdedigingvan Afrikaner wees in ‘n aanvallende trant geskryf of neerhalend van aard {na beide kante}, maar hier kon ek lekker lees en een voel.

    Nogmaals dankie.

  2. Johannes Meintjes 3 Oktober 2011 at 13:52 Permalink

    Sedert 1984 is ek met Suider-Afrika gemoeid. Eers in Staasdiens, later in klein-besigheid en later in Christen-uitreikwerk. Dinge het egter so versleg wat werkloosheid en die sending-hart van die Kerk betref, dat ek eers weer my sending-stuurbasis in die RSA moes kom ondersoek. Ek vind 70 of meer blanke plakkers-kampe om Pretoria en sien in die Landbouweekblad dat tot 59% van die RSA se volwassenes werkloos of met te min inkomste moet klaarkom, terwyl net 2 uit 10 mense in die RSA belasting betaal. Mettertyd kom ek toe agter dat die Afrikaner besef dat sy Volks-identiteit en ‘n Kerk van integriteit en vry van misleiding en geestelike bedrog tog ‘n baie wesenlike en groot rol speel. Ek begryp meer en meer waarom daar verskeie Afrikaner-belangegroepe ontstaan om elke sosiale vlak en denke-groep te probeer huisves. Dit lyk beslis vir my asof ons minder moet kibbel en dasadwerklik moet saamstaan as blankes en Afrikaners. ‘n Volks-identiteit blyk vir my ‘n belangrike rol as fondasie tot hoop, visie, ontwikkeling, groei en vooruitgang te speel.

  3. Tertius Theron 7 Oktober 2011 at 13:45 Permalink

    …vergeet van Basson, nog ‘n skewe stem of safari-soeker in die bosse van Afrika,…ek erken my etnisiteit, my Afrikanerskap, my Christenskap, my voorgeslagte, my geskiedenis en my reg om as deel van die Afrikaner volk te bestaan en basta met Suid-Afrika se multikulturele goddelose reenboognasie, voorts is ek verseker nie ‘n Suid-Afrikaner nie, maar ‘n Vrystater in murg en been al woon ek tans in die Westelike Provinsie…my vlag is die ou Vrystaatse vierkleur, my volkslied is die ou Vrystaatse volkslied en nie die huidige vadoekvlag of die vorige vlag met die union jack daarin nie…so kan ek aangaan…ek hoop dat die Vrystaat eendag weer die Oranje Vrystaat sal heet waar ek ‘n vrede kan woon en boer as Afrikaner met al die voorregte en regte daaraan verbonde en deur my eie mense regeer word…en alles in my eie taal sal kan doen…boeremusiek geniet en pap en vleis kan eet…

  4. Theo Goddefroy 17 Desember 2011 at 06:21 Permalink

    “Ek weier om toe te sien hoe my Afrikanerskap as ‘n soort van simbool van selfmarteling gebruik word. Ek sê dit dus hard en duidelik: Ek is ‘n Afrikaner! En ja ek is ook ‘n Suid-Afrikaner en Afrikaan, maar nie omdat dit my wese vorm nie, maar omdat ek noodgedwonge in Suid-Afrika en op die Afrika-kontinent woon.”

    Bo genoemde aanhaling is soos ek ook voel.

    Dankie vir die volle boodskap


Lewer Kommentaar

*