25 September 2017 ~ 6 Kommentare

Duitsland: skok-verkiesingsuitslag.

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Die verkiesing vir die Duitse parlement het toe in ʼn taamlike aarskudding ontaard. Nog met die aanloop is aanvaar dat dinge op die voorspelbare, vervelige trant sal voortgaan, met mev. Merkel as kansellier van ʼn sentrum-linkse “groot koalisie” uit haar Christen-Demokrate (CDU) en die Sosiaal-Demokrate (SPD).

Die CDU se veldtog was uit en uit toegespits op mev. Merkel en haar suksesse en ʼn boodskap van “meer van dieselfde, want dit werk”. Teen alle verwagting in het die CDU egter ernstige verliese gelei. Hulle het terug gesak na 33% (-9%), die tweede slegste resultaat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Ook die koalisievennoot, die SPD, het sleg verloor en het die swakste ooit in ʼn nasionale verkiesing na 1945 gevaar, naamlik 20% (-5%). Dit nadat nog 4 maande gelede hulle kandidaat vir kansellier, Martin Schulz, volgens meningspeilings ʼn kop-aan-kop stryd met Merkel gehad het en selfs gespekuleer is dat hy kansellier kan word met ʼn linkse koalisie. As reaksie op die swak vertoning van die SPD het Schulz reeds kort na die uitslag aangekondig dat die SPD nie meer deel van die regering gaan wees nie, maar in die opposisie hulleself wil herstel.

Die groot sensasie was die sukses van die konserwatief-nasionalistiese Alternative für Deutschland (AfD), wat 13% van die stemme gekry het en die eerste keer ooit in die nasionale parlement verteenwoordig is (hulle is reeds in meeste provinsiale parlemente verteenwoordig). Die AfD was die enigste party wat mev. Merkel se beleid, veral ten opsigte van die massa-immigrasie en die daarmee gepaardgaande styging in misdaad, vierkantig aangevat het. Anders as die media en die elite dit wou hê, voel groot getalle Duitsers wel daardeur bedreig. Die AfD se sukses het die ander partye behoorlik soos hoenders laat rondskarrel. Alhoewel dit vir Duitsland ʼn eerste is dat ʼn party regs van die CDU parlement toe gaan, volg Duitsland amper as laaste land in Europa die tendens na wat al lankal in die ander lande gevestig is, naamlik dat die tradisionele twee groot partye links en regs van die middel versplinter in ʼn wye spektrum van partye van verlinks tot verregs. Dit is die skuld van die CDU dat die AfD ontstaan het, omdat die CDU onder Merkel meer en meer ononderskeibaar van die SPD en selfs Groenparty geword het en linkse beleid uitgevoer het (soos die massa-immigrasie, opgee van nasionale grense en soewereiniteit, gay-huwelik, regulering, ophoop van skuld, uitbou van die welsynstaat ens.). Die AfD se kiesers is veral voormalige CDU-ondersteuners, maar ook mense wat nie vantevore gestem het nie, en kom selfs in aansienlike getalle van die SPD en Linksparty. ʼn Potensiële probleem vir die AfD is dat hulle veral as protes- en anti-establishmentparty waargeneem word en eers ʼn stabiele ondersteunersbasis (en eensgesindheid) moet opbou as hulle nie weer wil verdwyn nie.

Die ander oorwinnaar is die klassiek-liberale Vry-Demokratiese Party (FDP), wat al ʼn ou party is, maar vir die laaste termyn nie in die parlement verteenwoordig was nie, en nou met 10% terug gekeer het. Die twee partye aan die uiterste linkerkant, Groenparty en Linksparty, het al twee min of meer dieselfde gekry as laas (9%).

Die Duitse parlement het nou 6 partye pleks van 4, wat regeringsvorming moeiliker maak. Die groot koalisie, waarvoor die burgers duidelik moeg is, is verby, die SPD wil beslis nie weer saam regeer en daardeur verder opgebruik word nie. Die enigste moontlikheid (aangesien niemand met die AfD wil saamwerk nie) is nou die sogenaamde Jamaika-koalisie (vernoem na die kleurkombinasie van die CDU, Groenes en FDP, swart, groen, geel van Jamaika se vlag). Dit gaan egter moeilik wees om die twee sentristiese partye CDU en FDP en die linkse Groenes, wat in talle punte aansienlik verskil, saam in een koalisie in te bring. Indien hulle dit nie regkry nie, is ʼn herkiesing of selfs ʼn minderheidsregering met wisselende meerderhede die enigste opsie. Wat ook al gebeur, die Duitse politiek sal minder stabiel wees en meer interessant en onvoorspelbaar raak as in die verlede. Terwyl tot dusvêr in amper alle punte die groot konsensus geheers het, kan daar nou weer lewendige en aggressiewe debat verwag word, sowel van ʼn AfD wat sy reputasie as alternatief gestand moet doen, asook van ‘n SPD wat nou alles moet doen om homself van die regering te onderskei.

 

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Duitsland: skok-verkiesingsuitslag.”

  1. Wakker akker 25 September 2017 at 14:37 Permalink

    Persoonlik glo ek nie dat daar is n politieke oplossing is vir die probleme wat Duitsland, en die res van Europa, tans ondervind nie. Massa immigrasie, linkse propoganda is kwessies wat deur die EU afgedwing word op alles Europeuse lande. Lande soos Poland, wat grootliks weier om immigrante in te laat, word met sanksies gedreig deur die EU. Sodra die EU versplinter.. staan die lande in Europe nog n kans om hul grense te behou. Die Duitsers leef met skuldgevoel wat Adolf Hitler gedoen het, en die media se linkse propoganda gooi nog meer petrol op die vuur. Die Duiste regering het selfs videos op youtube gesit wat vir immigrante leer hoe om geslagsomgang met duitse vroue te he. Die Elites beheer die EU en die Media. Kyk rondom jou.. Gemengde rasse verhoudings, ” tolerance ” teenoor ander mense , en iewe skielik is jy ” ilamophobic ” as jy die fiete oor Islam uitwys en die gevare wat dit vir die Westerse samelewing inhou.

  2. Boerseun 25 September 2017 at 15:39 Permalink

    Die Duistsers word wakker!

  3. Juan Olivier 25 September 2017 at 16:35 Permalink

    Dis nogal ʼn skok vir die linkses. Hulle het altyd 100% beheer gehad oor die Bundestag en nou moet hulle dit deel met ʼn regse party. Duitsland beweeg nou uiteindelik in die regte rigting om die linkse kanker af te skud.

  4. Anton 2 Oktober 2017 at 15:02 Permalink

    Baie bly hul is besig om te ontwaak

  5. Dr. Wynand de Beer 2 Oktober 2017 at 21:06 Permalink

    Goeie artikel oor ‘n verblydende wending in Duitsland, maar dis ‘n jammerte dat die skrywer die links-liberale term ‘gay huwelik’ gebruik. Die korrekte term is natuurlik homoseksuele huwelik, wat per definisie anti-Christelik en strydig met die natuurwette is.

    • Sebastiaan Biehl 3 Oktober 2017 at 14:20 Permalink

      Dit was nie my bedoeling om die term enigsins positief of in die links-liberale gees te gebruik nie, aangesien ek self sterk teen sulke “huwelike” gekant is. Goed dan, ek sal voortaan van “Homoseksuele huwelik” praat.


Lewer Kommentaar

*