11 Junie 2018 ~ 1 Kommentaar

Die vryheid om te mag behoort

Geskryf deur Pieter Krige

Jare gelede, gaan ek saam met drie skoolvriende op ‘n tipiese standerd 9 vakansie. Ek, wat my meermale aan die kunstekant van die kulturele spektrum bevind het en my vriende meer aan die sportlike kant, het uiteraard verskillende belangstellings gehad. Aangesien ek, tiperend aan die kunste, in die minderheid was, en ons ‘n demokrasie-in-die-kleine nagestreef het, moes ek maar saam na die eerste gholfbaan ploeter. My drie vriende, welbekend met die gholfkultuur en kranige spelers, het so onderlangs gegiggel soos ons die oggend in die bakkie klim, ek sê ons, maar meer ek. Die rede vir die vrolikheid, was die opgewondenheid oor die gholf, maar ook, soos ek later besef, my dragkode. Ek het uiteraard sommer my somervakansie kort-langbroek, Nirvana T-hemp en visplakkies gekies, omrede dit eintlik al is wat ek gepak het vir die vakansie. Lang storie kort, ek het nie die keuring by die gholfklub se ingang gehaal nie. Nou, so om en by 21 jaar later, het hierdie herinnering in my mondig geword. Ek het nie by die gholfklub behoort nie. Ek sou kon toegang kry tot die klub, mits ek by die klubkultuur sou inpas. Ek sou kon klere leen, en aanpas, en toegang kry, maar vandag oordeel ek, dat selfs na hierdie veranderinge, ek nie sou behoort nie. Vir die drie vriende was die kode, ‘n erekode, dit was vrywilliglik, vir my was dit dwang.

Onlangs reis een van my vriende deur Thailand en vertel my dat die tempels daar, soortgelyke beperkinge op toegang het. Dames se skouers moet bedek wees. Ook in Israel is daar beperkinge op toegang tot sinagoges, so ook op ander dele na moskees. Daar is restaurante selfs met ‘n toegankskode, as voorbeeld, ‘n baadjie ens.

Hierdie werklikhede, gepaard met my mondige herinnering van ‘n vakansie wat toe heelwat meer gholf ingesluit het as wat vooraf verklaar is, bring my by die idee van vryheid. Wat is vryheid?

Vir die ultra-individualis, wat waarskynlik vandag die groepering is wat die hardste skreeu oor menseregte, is vryheid elke individu se onvervreembare reg om te gaan waar hy/sy wil, en basies daar te maak soos hy/sy wil. Ek wonder egter of hierdie tipe vryheid die tipe vryheid is wat mens gelukkig maak? Ek waag om in die negatiewe te antwoord.

Ek oordeel ware vryheid, was nie my toelating, onder dwang en verandering van myself, tot die gholfklub nie, maar die drie vriende se behoort. Ook die opregte Jood wat vrywilliglik inkoop in die reëlings van die sinagoge omdat dit juis sy eie reëlings en oortuigings is, eerder as die toeris wat maar inval. Ek was ‘n buitestaander, hulle was deel. Ek was vreemd, hulle was vertroud. Hulle het behoort, ek het nie.

My punt vanoggend is, dat ware vryheid, nie daaroor gaan dat jy mag gaan en doen en maak wat jy wil nie, maar ware vryheid is om juis ‘n plek te kan hê, waar jy behoort.

Om so vry te wees dat jy êrens kan behoort.

 

 

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Die vryheid om te mag behoort”

  1. Rudolf 12 Junie 2018 at 13:41 Permalink

    Baie mooi verelyking deur eie ervaring Pieter.

    Ek sien jy het ‘n foto van Maorikrygers aangeheg. (As ek dit reg identifiseer.)

    Die Haka kreet, wêreldbekend gemaak deur hul nasionale All Blacks rugbyspan, staan beslis uit as kultuurgoedere daar.

    Ek het al so paar videos op Youtube gesien waar selfs burgers van Europese herkoms dit 100% ken en meedoen daaraan as eerbewys aan andere.

    Dan natuurlik is daar diegene wat, weens onkunde, hulle beskuldig van duiwelbesetenheid en wie weet wat nog alles…

    Dankie vir ‘n stukkie wyse perspektief so relevant tot Orania en dan diegene wat kies om deel daarvan te wil wees.


Lewer Kommentaar

*