28 Januarie 2013 ~ 1 Kommentaar

Die tweede rewolusie en Orania

Geskryf deur Carel Boshoff

“Marikana” en “De Doorns” is name wat die afgelope tyd deur Suid-Afrika en die wêreld ge-eggo het. Sommige het dit as ’n tweede rewolusie beskryf, ander as die voltooiing van die eerste. Nogal ’n interessante vraag watter een van die twee dit is, want hoewel dit in die verlengde van die ANC se oorname en transformasie van Suid-Afrika staan, lyk dit asof daar in die ANC-regering groot ongemak daar is. Die wetteloosheid en geweld waarmee dit gepaardgaan, kan geen regering rustig laat slaap nie. Dit spreek immers van ’n onvermoë om, met al die magsmiddele tot sy beskikking, sosiale misstande en ekonomiese verwagtings doeltreffend by te lê.

Al die rewolusionêre energie waarmee die ANC aan bewind gekom het, word kennelik nie deur sy pogings om ’n nuwe orde in Suid-Afrika te vestig, benut nie en die indruk ontstaan dat die swart elite in die regering en die ekonomie ’n gemaksone betree het wat hulle ook op ’n gevaarlike afstand van die breë bevolking se verwagtings plaas – verwagtings wat hulle self help skep het. Daar is kommentators wat tong in die kies na hierdie klas swartmense as die “new Whites” verwys omdat hulle in ’n soortgelyke posisie van mag, bevoorregting en bedreiging as witmense onder apartheid verkeer.

Dit plaas die ANC se retoriek rakende ’n nasionale demokratiese rewolusie, die “NDR” natuurlik in ’n nuwe lig. Aan die een kant word dit voorgehou as die ANC se ware, rewolusionêre agenda, aan die ander kant is dit dalk juis die ANC se poging om ’n rewolusionêrklinkende uitlaatklep vir die werklike rewolusionêre kragte in die huidige Suid-Afrika te skep – ’n poging wat nie besig is om te slaag nie. Maar hoe ookal, leiers om aan die voorpunt van sulke ontevrede skares te staan, sal daar altyd wees en hulle sal weldra die regering se politieke agenda help bepaal, van binne óf van buite.

Kyk ‘n mens na die drie strategiese terreine waarop aksies die afgelope tyd gefokus is, is dit ten nouste met Afrikaners se belange verweef. Mynbou verseker die ekonomiese welvaart waaraan Afrikaners hulle middelklasbestaan die afgelope dekades te danke het, al is die nie ’n sektor wat tipies deur Afrikaners oorheers word nie. Landbou, daarenteen, word deur Afrikaners oorheers, maar verteenwoordig ook ’n groot oorblyfsel van Afrikaners se beheer oor die Suid-Afrikaanse grondgebied en skep onder baie van ons mense nog ’n valse gevoel van bestaansveiligheid vir ons volk.

Die Wes-Kaap is weer die enigste provinsie wat nie onder ANC-beheer is nie en gevolglik as ongetransformeer beskou word, ongeag hoe hard die DA juis die transformasie-agenda haar eie maak. Wie ookal dit uiteindelik is wat die Wes-Kaap transformeer, dit verydel daardie oerdroom onder Afrikaners van ’n rustige aftrede by die see of in die Boland. Vir hoeveel was dit nie die “volkstaat” om van te droom nie? Idilliese natuurskoon, relatiewe welvaart, goeie dienslewering en werkers wat Afrikaanse grappies maak en liedjies sing! Ongeag of die geweld dus van buite aangeblaas word, bly dit ’n ewe ontnugterende ervaring en dit is geen wonder dat ’n nuwe vlaag van emigrasie, veral onder jongmense, weer posvat nie.

Die punt is dat Orania se boodskap nog nooit toepasliker was as nou nie. Uit Afrikaners se oogpunt maak dit eintlik geen verskil of die volgende vlaag van rewolusionêre optrede uit die ANC of sy kompetisie se geledere kom nie, dit is in die struktuur van die Suid-Afrikaanse samelewing opgesluit, in die gapende afgrond tussen ryk en arm en die voortgesette gevoel van onmag wat swartmense teister. Die spanning is dus nie by te lê sonder die soort transformasie wat Afrikaners nie net op die kantlyn plaas nie, maar regstreeks gaan benadeel, selfs tot sondebokke van ekonomiese en sosiale misstande maak.

Wie hierdie bedreiging nie gesamentlik en vanuit ’n gebied onder hulle eie beheer tegemoet wil gaan nie, hou nie rekening met die erns daarvan nie. En vir ons wat ons reeds daarmee besig hou, gaan dit eise stel waaraan ons net met die grootste toewyding, selfs opoffering en verbeeldingskrag sal kan voldoen. Ook ons moet ons daaroor deeglik verantwoord.

Carel Boshoff
President: Orania Beweging

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Die tweede rewolusie en Orania”

  1. Benjamin 16 Februarie 2013 at 06:05 Permalink

    As die meerderheid van die inwoners in die Noordkaap Afrkaanssprekend is, waarom is dit so moeilik om hulle polities saam te snoer? En dan dink ek aan die CDU in Duitsland: hoe het hulle daarin geslaag om aan bewind te kom?

    As die arbeiders aangemoedig word om aan te teel soos konyne gaan werkloosheid net meer en meer word en die gaping tussen ryk en arm nog groter. Afrikaners sal moet steun op hulle kennis en hulle beskaafde vermoe tot oortuiging; eers dan sal die vloek van klein apartheid vernietig kan word en mense hulle natuurlike leiersposisie in ‘n breer Suid-Afrikaanse samelewing kan inneem.

    Waarom is onderrig in Afrikaans op tersiere vlak so ‘n kwessie by Afrikaanse universiteite? Was daar in die verlede nooit genoeg Afrikaanssprekende studente in betrokke gebiede nie, en waarom moet dit ‘n rol speel hoeveel van watter kultuur in ‘n metropool en omgewing woon? As swart politici dan ontevrede is met Afrikaans by universiteite omdat hulle ‘n minderheidsgroep in bv. Johannesburg is, hoekom bou hulle dan nie nog universiteite vir hulself nie? Is die Afrikaners nie te papbroekig nie en staan nie sterk genoeg op hul regte wat deur die grondwet beskerm behoort te word nie?

    Ek dink dit was al die jare te lekker met die ousie in die kombuis en nou het ousie die parlement oorgeneem…


Lewer Kommentaar

*