20 Januarie 2011 ~ 4 Kommentare

Die Stem roep!

Geskryf deur Rozanne Meyer en Quintin Diederichs

Die Stem roep!

deur Rozanne Meyer

“Die Afrikaner-hart is seer en moeg, maar trou nog!” – Jan F.E. Celliers

Hierdie woorde was amper ‘n eeu gelede geuiter deur ‘n kampvegter vir die Afrikanervolk en ons taal. Gesien in konteks van die huidige omstandighede waarin moderne Afrikaners vandag verkeer, dien Celliers se woorde as ‘n inspirasie vir my as jong Afrikaner: die wete dat ons voorvaders soortgelyke uitdagings die hoof gebied het en daarin geslaag het om ons pragtige kultuur, taal en tradisies behoue te laat bly.

Egter is daar ook sg. Afrikaanses vandag soos o.a. Jan-Jan Joubert, Marthinus van Schalkwyk, Leon Wessels,  Max du Preez, Carl Niehaus en Antjie Krog wat nie kan aanspraak maak op ‘n Afrikaner-hart nie. Hul aksies het reeds bepaal hoe hulle deur die nageslag onthou sal word. Trouens, indien hulle enigsins onthou gaan word dan sal dit wees in skerp kontras met hoe ons vandag Celliers, Steyn, Langenhoven, Opperman, Hertzog, Malan en van Wyk Louw eerbiedig. Die lyn is getrek en daar is ‘n groeiende Afrikaner kultuurpolitieke weerstand teen die verraad en galbrakery van die Jan-Jan Jouberts. Hul dae is sowaar getel.

Die Afrikaner-hater en die gif wat hy versprei is nietemin ‘n kenmerkende eienskap van die Nuwe Suid-Afrika. Dit laat my gedagtes dwaal oor wat presies die Nuwe Suid-Afrika dan in werklikheid is. Wees verseker, die land waarin ons vandag woon is hoegenaamd nie dieselfde land waarvoor ons voorvaders geveg het nie. Daardie beloofde land is lankal van ons ontneem, beroof deur die kommunis en sy Afrikaner-hater bondgenote.

Nie net is die Afrikaner se Republiek vernietig nie en die volk óók verraai en vermoor nie maar hierdie sameswering teen ons woed vandag sterker as ooit tevore voort. Die aanvalle op ons, gereeld in ons eie taal, op ons eie mense en op ons kultuur, taal en bestaansreg was nog nooit so groot soos wat dit tans in die Nuwe Suid-Afrika is nie.

Die fantasie van ‘n nie-rassige samelewing waar almal reënboogkinders is word met mening in die jong Afrikaner se keel afgewurg terwyl, in die praktyk, ‘n rassistiese ideologie van swart bemagtiging eintlik met die term “nie-rassigheid” bedoel word. Dis mos maklik vir die jong Afrikaner om aan te pas want ons is jong boompies wat gebuig kan word, gebuig móét word.

Die liberale multikulturele boodskap van TV-programme, nuus, koerante asook die hernoeming van strate, stadia, lughawens en dorpe kan ons mos aanvaar! Ons word vertel dat alles wat met die Afrikaner voor 1994 gebeur het liewers nie onthou moet word nie en by implikasie uit die geskiedenis moet verdwyn sodat ons waarlik deel van ‘n multikulturele reënboognasie kan wees. ‘n Swartreënboognasie, ja. As jy nie weet wie jou voorvaders was nie en wat jou geskiedenis regtig behels nie dan het jy mos niks om voor op te staan of om te probeer beskerm nie.

Verder, wat van die ouer bome – diegene wat geleef het in die dae toe die Afrikaner nog ‘n Republiek gehad het? Al gewonder hoe hierdie mense moet voel nou dat hulle hulself in ‘n swartreënboognasie bevind waar alles waarvoor hulle gewerk en gestry het besig is om tot niet te gaan?

Hulle is die mense wat nog suiwer Afrikaans gepraat het toe hulle jonk was en geleer was om trots op hul Afrikaner-identiteit te wees. Hul wortels was geplant in ‘n land waar orde geseëvier het en Afrikaanse volksliedjies met hartelus om kampvure gesing was maar vandag vang hul takke net die winde van verandering, vernietiging en verbastering. Die Suid-Afrika van gister en die Suid-Afrika van vandag is uiteraard meer as net twee verskillende lande, dit is twee uiteenlopende identiteite. Die resultaat is derduisende gebroke harte.

Nou sit ons almal, jonk en oud, in ‘n land wat deur ons voorvaders gebou was, waarvoor hulle gebloei het en op die ou einde eenvoudig deur die massas onherroeplik oorrompel was. Die kommunis en die Afrikaner-hater het sy oorwinning behaal. Waarin moet opregte Afrikaners dan glo vandag? Waarvoor moet ons dan opstaan? Nie vir Suid-Afrika, d.i. die oue of die nuwe nie, nee – ons moet opstaan vir ons Afrikanerskap, vir ons volk se bestaansreg en ons onbetwiste reg om vry te wees om ons taal, kultuur en tradisies uit te leef in ‘n eie Afrikaner Republiek wat op grond van Christelike waardes en oortuigings opgerig word, deur die Afrikaner vir die Afrikaner. Dit is iets om in te glo!

Ek sal so ver gaan om sê dat die Nuwe Suid-Afrika van die massas en die Afrikaner-haters ‘n samelewing is wat daagliks met ‘n virus ingespuit word. ‘n Epidemie wat sorg dat Afrikaners hulselfAfrikaanses begin noem, op hul knieë gedwing word en sodoende die sataniese omstandighede om hulle aanvaar ter wille van nasiebou. Kyk maar self en sien hoeveel mense se lewens vandag in skerwe is, verveelde ongelowiges en werkloses wat geen ambisie het om stabiliteit en orde te herstel nie. Hulle deel geen liefde vir hul volk nie en hulle het geen wilskrag om die Afrikaner se bestaansreg te verdedig nie.

Laat hulle dan aangaan en verder verdrink in die gif wat die Jan-Jan Jouberts hulle voer. Niemand is so blind soos die wat nie wil sien nie! As Afrikaner-vryheid, ons taal en kultuur vir iemand te veel, of te ekstreem is om voor op te staan dan is ek bevrees dat so ‘n persoon nie verdien om vry te wees nie. Egter is dit ‘n tweesydige swaard want dan kan so ‘n persoon ook nie sy swartreënboognasie se helde soos Mandela eerbiedig nie want ten minste het hy opgestaan vir sy mense se vryheid. Was dit ekstreem van Mandela om teen die NP Regime se rassediskriminasie op te staan? Hoekom is dit dan ekstreem van Afrikaners om teen die ANC Regime se apartheid op te staan?

Die Christen Afrikaner wat weier om verder hierdie gif te sluk moet nou sy huis in orde kry en sy taal suiwer begin praat, sy geloof koester, sy kultuur en identiteit meedoënloos beskerm deur dit op alle terreine uit te lewe. Neem die houding van ons voorvaders in: ons is nie vir onderhorigheid gebore nie!

Gedurende tye soos hierdie is daar altyd twee plekke waar Afrikaners inspirasie sal kry om weer op te staan vir vryheid en vir geregtigheid, d.i. in God se Woord en ons eie Afrikaner volkslied, Die Stem.

Matt. 5:13-14 (1953 vertaling): “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie.”

“Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou. Skenk ook ons die krag, o Here, om te handhaaf en te hou. Dat die erwe van ons vad’re vir ons kinders erwe bly: knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry […] Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer – met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.” – Die Stem (Roep!)

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Die Stem roep!”

  1. Sebastiaan 20 Januarie 2011 at 10:45 Permalink

    Sterk woorde, mej Meyer, en aangrypend en besielend. Ons het weer die woede en ywer van die jong geslag nodig om ‘n nuwe ideaal, naamlik vryheid in ons eie grondgebied waar ons God (nie die duiwel nie) in Afrikaans dien, te verwesenlik.

  2. Sara 22 Januarie 2011 at 09:57 Permalink

    Goed gestel Rozanne. Die subtiele aanslag deur die liberale/humanistiese Afrikaanse pers en die rol wat die sogenaamde Afrikaanse joernaliste speel (waarvan party se skryfvaardigheid ook maar baie middelmatig is) om die selftrots van die Afrikaner af te breek word onderskat. Dit kan amper vergelyk word met die fisiese en ekonomiese volksmoord wat ook subtiel deur die ANK georkestreer word. Ons volkshelde soos Paul Kruger die Voortrekkers word as karikature voorgestel. Die waarheid oor ons geskiedenis en die bydrae wat die Afrikaner gelewer het om hierdie land op te bou word verdraai. Ons is die enigste etniese groep in Afrika wat na baie neerlae ons self as ‘n groep kon ophef en diegene wat saam met ons in hierdie land geleef het ook op te hef sodat op alle gebiede soos gesondheid, onderwys, ens. hulle beter daaraan toe was as enige ander groep in Afrika. Die boek deur Dr. Hermann Basta! is ‘n goeie boek om deur Afrikanerouers om ons kinders weer selftrots te leer.

  3. LangHans 24 Januarie 2011 at 07:20 Permalink

    Kopstuk: die waarheid lê in die stel van die onpartydige saak – goed deurdag, beredeneerd, logies, rasioneel, ens. – noem dit maar die “draad” waarop die “draadsitter” sit. Enige iets aan hierdie kant of aan daardie kant van die draad, is faksioneel. Hoe ver moet daar van die draad af gefunksioneer word? Te ver is ekstremisties en te naby lewer weinig vrug. Dit bly maar ‘n tameletjie.

  4. lukas 21 Maart 2011 at 02:35 Permalink

    ek sou graag orania toe wou trek , maar ek kry die gevoel dat die meerderheid afrikaners nog baie toe kop is as dit kom by verandering. ons mense sal moet leer om oop en eerlik met mekaar te wees oor verskille binne ons boerevolk en mekaar aanvaar en dan sal goeie dinge vir ons volk volg .


Lewer Kommentaar

*