15 Junie 2018 ~ 1 Kommentaar

Die skulpe op die strand

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Verbeel jou jy stap op ʼn breë en lang sandstrand met miljarde sandkorreltjies en jy soek skulpe. So nou en dan, elke 5 of 10 treë, sien jy een en jy is verheug, jy kyk daarna en tel dit op, maar jy vat dit nie saam nie. Jy soek ʼn spesifieke en skaars skulp, die kourieskulp. Daar is net een kourieskulp vir honderde ander skulpe, en skulpe is reeds yl gesaai op die strand. Jy stap van die oggend tot die aand, heen en weer, en as jy ʼn kourieskulp vind, verbly dit jou en jy sit dit in ʼn sak. Na ʼn paar dae se wandel op die strand het jy ʼn sak vol opgetel en jy sit dit in ʼn bak en bewonder dit. Na ʼn ruk begin jy egter om die skulpe meer krities te bekyk: een is al verblyk, die ander een effens gekraak, nog een ʼn bietjie klein. Jy weens jy het net mooies gehad en die onegaligheid pla jou nou. Hoe kan dit wees dat dieselfde skulp wat op die strand ʼn kosbare fonds was, nou skielik krities en selfs met afkeur bekyk word? Jy het die perspektief vergeet. Op die strand was hulle iets besonders teenoor sand en ander, meer gewone skulpe, maar as hulle almal saam van dieselfde soort in die bak is, word hulle net met mekaar vergelyk en word skielik die verskille en tekortkomings sigbaar.

Wat wil ek hiermee sê? Kom ons kyk na Suid-Afrika as ʼn geheel: tussen 50 miljoen of meer mense is daar hoogstens 2.5 miljoen Afrikaners, of 5%. Onder hulle is die wat kultuurvas en behoudend is en met wie jy as volkstaat-gesinde Afrikaner kan vereenselwig nog veel minder. Die wat bereid is om ter wille van hulle oortuigings daadwerklike stappe te neem soos om na Orania of ʼn ander Afrikanervestiging te trek, of om hulle eie skole en organisasies te begin, is baie min. In die groter konteks is jy net te dankbaar as jy iewers in ʼn multi-kulturele stad nog ʼn Afrikaner sien, wat nog as dit iemand is met wie jy oortuigings deel. Sit jy hulle egter almal bymekaar, soos in Orania of soos in ʼn spesifieke Afrikanergroep, -kerk of skool, dan sien jy net die gebreke en dit wat jou irriteer raak en jy het vergeet hoe skaars en hoe spesiaal hulle (vir jou as Afrikaner) is.

Laat ons nie vergeet nie hoe lank dit gevat het om uit alle oorde van die land 1400 Afrikaners op een plek bymekaar te kry. Of hoeveel opofferings dit selfs net geverg het om bestaande strukture soos ʼn gevestigde skool of kerk wat nie meer jou waardes verteenwoordig nie, op te gee en weer van voor af te begin? Laat ons aanvaar dat nie almal, soos die kourieskulpe, ewe mooi en egalig is nie, maar nogtans van dieselfde soort en in die groter konteks, skaars en spesiaal. Ook buite Orania moet ons ons mede-Afrikaner meer waardeer en mekaar nie alewig kritiseer oor effens ander beskouings of effens ander omstandighede nie.

Laat ons dus ons mede-Afrikaner koester en onthou watter opofferings gemaak is om in Orania te vestig (of om by ʼn organsiasie wat stroomop swem betrokke te raak). Verstrooid op die strand word ons weggespoel of stukkend getrap, saam veilig in ʼn bak bymekaar pronk ons, elkeen op sy manier, maar nog steeds van dieselfde soort.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Die skulpe op die strand”

  1. Dr Andries Maritz 19 Junie 2018 at 06:35 Permalink

    Dag Sebastiaan,

    Pragtig geskrywe en mooi bewoord maak vir ‘n nodige riglyn wat verdere sukses onderskraag.

    Mooiloop,
    Andries.


Lewer Kommentaar

*