05 Oktober 2017 ~ 2 Kommentare

Die situasie van die Afrikaner in die nuwe Suid-Afrika – ‘n Duitse perspektief

Geskryf deur Klaus Baron Von der Ropp

(Toespraak gehou tydens die ledevergadering van die Suid-Tiroolse vriendekring van die Afrikaner te Bozen/Suid-Tirole op 27 Augustus 2017).

Uit Duits vertaal deur Sebastiaan Biehl

 

Ek wil u hartlik bedank vir u uitnodiging om die huidige ledevergadering toe te spreek.

In Duitsland het die belangstelling in die problematiese gebeure in Suid-Afrika feitlik verdwyn. Wel lewer die “Informationsstelle südliches Afrika“ nog steeds gereeld verslag in hulle tydskrif, wat sedert die magsoorname in 1994 nogal heel insiggewend geword het. Maar selfs daardie nuusbron berig selde oor die minderheid van die Afrikaners wat in hulle bestaan bedreig is. Anders is dit die geval met die blykbaar nog steeds bestaande, verregse en apartheid ondersteunende tak in Coburg van die (intussen ontbinde) Deutsch-Südafrikanische Gesellschaft (Duits-Suid-Afrikaanse Assosiasie), van wie egter niks na buite dring nie.

Die media, die politieke partye, die Protestantse (Lutherse) kerke, die politieke stigtings, hulle almal het die ontsettende uitdagings met die hervorming van Suid-Afrika in die 1970’s, 1980’s en vroeë 1990’s eenvoudig vir hulle eie doeleindes misbruik. Die duidelikste kon dit gesien word in die Duitse Departement van Buitelandse Sake: Hans-Dietrich Genscher, wat vir 18 jaar lank minister van buitelandse sake was, was onder kansellier Helmut Schmidt (1974-1982) nie veel meer as ‘n arme vent nie. Met lekeakteurs as raadgewers kon hy hom na buite slegs met die state suid van die Sahara bemoei, daaronder veral die deur “rassistiese minderhede” regeerde Suid-Afrika en Namibië. Met die verandering van die regeringskoalisie in 1982 (Genscher se Vrydemokratiese Party het voortaan met die Christen-Demokrate (CDU/CSU) van Helmut Kohl regeer) het Genscher die alles oorheersende persoon in die Duitse kabinet geword. Omdat die destydse Suid-Afrikaanse Minister van Buitelandse Sake, Pik Botha, Genscher in teenwoordigheid van sy amtskollegas Dawid Owen (Groot-Brittanje) en Cyrus Vance (VSA) op 17 Oktober 1978 uitgelag het en Vance en Owen, pleks om Genscher te verdedig, hom uit alle onderhandelinge oor die toekoms van Namibië (en Suid-Afrika) uitgesluit het, het Genscher die Afrikaner sedertdien gehaat. In ‘n wegdraai van alles, wat CDU/CSU tot dusvêr oor die herskikking van die magsorde in Namibië en Suid-Afrika uitgewerk het, het hulle nou met die verkiesing van Helmut Kohl tot bondskanselier in 1982 op die opportunistiese en dilettantiese koers van Genscher ingedraai. Dit was deel van die prys wat vir die nuwe CDU/CSU/FDP koalisie (1982-1998) betaal moes word.

Tot en met die einde van die Koue Oorlog het die oorkoming van die apartheid-bestel in Suid-Afrika en Namibië een van die gevaarlikste brandpunte van die internasionale stelsel geword. In ‘n onderhoud met die koerant Deutsches Allgemeines Sonntagsblatt (Hamburg, 10.07.1977) (wat nie juis konserwatief was nie) het die sekretaris-generaal van die Sosiaal-Demokrate (SPD), Egon Bahr, gewaarsku voor die gevare van ‘n derde wêreldoorlog. Hy het ‘n nuwe Suid-Afrika bepleit met een tot dusvêr onbekende model van ‘n gelyke saambestaan met spesiale beskerming vir minderhede. Uitdruklik het hy teen ‘n stelsel van “een mens- een stem” geargumenteer, want dit sou eenvoudig magsomkeer van die wit minderheid na die swart meerderheid beteken. Met een uitsondering het almal die stellings van Bahr misgekyk. Die uitsondering was die leidende liberale politikus Otto Graf Lambsdorff, wat in die tydskrif Quick (München, 31.07.1986) voorgestel het om ‘n waarskynlik in die Wes-Kaap geleë Afrikaner-Israel te skep, ‘n selfstandige staat, wat vir die wit en bruin minderheid as toevlugsoord sal dien vir die geval dat hulle in ‘n swart oorheersde Suid-Afrika geen toekoms meer vir hulle sien nie. Terloops, Lambsdorff was deel van dieselfde Balties-Duitse minderheid in Kurland (vandag Lettland) as die outeur, wat by tye sy medewerker was. Die Duitse minderheid is in Oktober 1939 gedwonge verskuif oftewel gedeporteer na Siberië.

Die onttrekking uit Namibië en die daarop volgende wegbeweeg van apartheid in Suid-Afrika self is in die laat 1980’s en vroeë 1990’s deur die regerings in Londen en Washington asook, nou die ander twee ondersteunend, deur die Sowjet-Unie oftewel Rusland afgedwing. Die doel van die sowel geniale asook brutale Britse ambassadeur Sir Robin Renwick („Sir Robin – His Excellent Excellency“) bepaalde intervensionistiese diplomasie was om die regering van die laaste wit staatspresident (FW de Klerk) te beweeg om met die opposisiepartye, veral met die African National Congress (ANC) ‘n nuwe grondwet te onderhandel. Die doel was wel nie, soos wat Genscher en die meeste ander rolspelers dit geëis het, ‘n kapitulasie van die regering van die Afrikaners nie. Dat laasgenoemde wel in 1993 gebeur het, was veral toe te skryf aan die swakheid van de Klerk en sy span. De Klerk, ‘n deur en deur konserwatiewe politikus, was glad nie op die onderhandelinge voorbereid nie. Hy het dus aan homself misluk, het skaars nog aan die onderhandelinge deelgeneem en pleks daarvan gekonsentreer op ‘n herskikking van sy huwelikslewe. Die gevolg was dat die partye tot die onderhandeling op ‘n grondwet ooreengekom het wat sterk leun op die Duitse Grondwet. Daarvoor het die talle Duitse grondwetkenners, wat alle rolspelers geadviseer het en wat deur Groot-Brittanje nou weer toegelaat is, gesorg.

Ook die Duitse raadgewers het nie die voor die hand liggende vraag geopper, naamlik hoe die oordrag van die Duitse Grondwet op ‘n land met ‘n oneindig diep verdeelde bevolking, wat boonop nie oor ‘n regstaatlike en demokratiese kultuur beskik het nie, suksesvol kan wees. Nog ‘n keer sou daar waarskynlik in die Britse Foreign and Commonwealth Office, soos reeds met die verwydering van Genscher op 17 Oktober 1978, gespot word: ”We were not always happy with what the Germans said“.

Met die magsverandering van die basis reaksionêre swakkeling FW de Klerk tot die “verlosser” Mandela in Mei 1994 het die Afrikaners hulle prominente posisie verloor. Sedert die middel van die 17de eeu het hulle soms alleen, soms met ander wit Suid-Afrikaners die land regeer. Nou was hulle, in ‘n land met meer as 50 miljoen inwoners, slegs nog ‘n polities magtelose minderheid van 5%. Van die ander etniese groepe is 80% swart, 9% gekleurde, 3% Indiese en omtrent 4% Engels- Portugees- of Duitssprekende Suid-Afrikaners.

Met die magsoorname van 1994 het die ANC ‘n taak op sy skouers geneem wat seker ook enige ander party in enige denkbare land op aarde sou ooreis het. Die ANC het daaraan nie net misluk nie, hy het klaaglik misluk. Mede-verantwoordelik is egter ook veral die Westerse rolspelers, wat die seëvierende ANC nog steeds met ‘n oormaat van politieke korrektheid hanteer het. Een voorbeeld is die (mislukte) poging van die destydse Duitse ambassadeur van 1992-1994, Hans-Christian Ueberschaer, om vir die ANC waarnemerstatus by die Europese Volksparty (EVP) te beding. Die EVP, terloops, is die samesluiting van die konserwatiewe en Christen-demokratiese partye in die Europese Parlement.

Die nuwe Suid-Afrika het na dekades van stryd die kans tot ‘n nuwe begin nie aangegryp nie! Behalwe vir ‘n klein, swart elite wat hulleself drasties verryk, het alle etniese groepe verloor! Seker die grootste skade wat die beleid van die ANC veroorsaak het, is die “regstellende aksie”, waarvolgens alle poste in die staatsdiens op alle vlakke (insluitend nuwe aanstellings) volgens die bevolkingsamestelling moet geskied. Dit het beteken dat talle Afrikaanssprekende amptenare so vinnig as moontlik afgedank moes word, sonder dat gekwalifiseerde opvolgers beskikbaar was. In die Suid-Afrika van die apartheid-era is hulle veral in alle tegniese areas nie opgelei nie. En die eenvoudig katastrofale agteruitgang van die hele skoolstelsel, waarvoor alleen die ANC en sy alliansievennote SACP (South African Communist Party) en die vakverbond Cosatu (Congress of South African Trade Unions) verantwoordelik is, het gekeer dat die agterstand van dekades ingehaal kan word, byvoorbeeld by polisie, grensbeheer, doeane, in die weermag, by die universiteite, in die mediese sektor en by munisipale dienste. In sommige gevalle kon die skade beheer word deurdat reeds afgedankte staatsamptenare teen betaling van ‘n tweede salaris vir die nuwe aanstellings as raadgewers dien. Nogtans is die verliese aan kundigheid in feitlik alle vertakkings van die openbare sektor katastrofies. Die bekendste voorbeeld daarvoor is die polisie. Die steeds verbasend vrye media se berigte lees soos misdaadstatistieke: moorde (insluitende moorde op boeregesinne en hulle werkers), motorkapings, verkragtings, roof, inbrake met verswarende omstandighede en ander ernstige geweld. Dit alles gaan dikwels met uiterste en sinnelose geweld gepaard. Die onvermoë van die polisie, openbare vervolging en howe, of korrupsie lei dikwels daartoe dat talle oortredings nie gestraf word nie.

Talle staatsmaatskappye soos EVKOM, TRANSNET, SAL en ander is hopeloos in die skuld, nadat hulle nuwe direkteurs en bestuurders reuse bedrae verduister of andersins laat wegraak het.

Sovêr toon die private ekonomie ‘n relatief geringe terugsakking. En waar dit wel gebeur het, tref dit die Afrikaners nie so erg nie. Dit is deels daaraan te danke dat, anders as in die openbare sektor, die beleid van regstellende aksie met inagneming van binnelandse en buitelandse beleggers in die ekonomie nog nie so drasties voltrek is nie. Nogtans is dit vandag selfs vir ‘n hoogs gekwalifiseerde manlike Afrikaanssprekende skool- of universiteitsverlater moeilik om ‘n gepaste aanstelling te kry.

Erg is verder die bloeddorstige misdaad op die ongeveer nog 20 000 groot kommersiële plase. In die laaste jare kom daagliks gewapende aanvalle en meer as een keer per week ‘n moord op boere, hulle gesinne of arbeiders voor. In baie gevalle word die slagoffers eers sinneloos en barbaars gemartel. Die aantal misdade sou nog hoër wees as die boere hulleself nie deur private veiligheidsdienste sou beskerm nie. Talle van die aktiwiteite word deur die groeiende burgerregteorganisasie Afriforum (omtrent 200 000 lede) of deur die boereverenigings gekoördineer. Nie net in Duitsland nie keer opportunisme en hulpeloosheid om te erken dat hier ‘n katastrofe dreig. Boonop hang die herhaaldelik geuiterde dreigement van radikale kringe binne die ANC asook van die ANC-afsplitsing EFF (Economic Freedom Fighters), om die plase na die voorbeeld van Zimbabwe sonder vergoeding te onteien, bo die boere se koppe.

Terloops, van die eens suksesvolle omtrent 4000 plase in die noordelike buurstaat Zimbabwe bestaan vandag nog slegs 400, wat beteken dat 90% van die Zimbabwiese kommersiële plase in die laaste 20 jaar tot wildernis verval het. Een groot verskil sal daar in Suid-Afrika wel wees, indien ook hier ‘n radikale grondhervorming deurgevoer word: die Suid-Afrikaanse boere sal hulle besittings nie sonder verset opgee nie. Ook hier kan die van die digter en langjarige politieke gevangene Breyten Breytenbach gevreesde “ontelbare weergawes van barbarisme” hulle begin maak. Hierdie gevaar word egter nie net deur die Duitse media grootliks geïgnoreer.

In voortsetting van hulle intussen honderdjarige stryd teen wit oorheersing, ongeag of dit nou Engels- of Afrikaanssprekend is, is militante subgroepe van die ANC besig om die invloed van Afrikaans as “wit koloniale taal” terug te dwing, want daarin word ‘n oorblyfsel van die koloniale/apartheidsera gesien. Dit het duidelik geword in spesifiek die laaste maande van die jaar 2016, toe studente en nie-studerende aktiviste die onderrig aan alle Suid-Afrikaanse universiteite lamgelê het. Talle van die aksies herinner aan die Sjinese kulturele revolusie van die vorige eeu! Egter beskik Suid-Afrika nie naastenby oor die vakmanne nie, waaroor Sjina ryklik beskik, om dit wat vernietig is, te herbou.

Besonder pynlik was dit vir die Afrikaners, ongeag hulle politieke uitgangspunt, dat hulle taal Afrikaans vervolgens selfs aan die Universiteit van Stellenbosch, voorheen intellektuele bastion van die Afrikanerdom, verwyder is. Pleks in Afrikaans, word alle lesings ens. nou by alle universiteite (met uitsondering van Potchefstroom) in Engels aangebied. Vooruitlopende onderdanigheid van die universiteitsbestuur het die eise van die rebelse aktiviste net versterk. Naas Afrikaans is natuurlik ook Engels die taal van die wit onderdrukker. Nogtans eis selfs die mees militante betogers nie die verwydering van Engels nie. Want Engels is, anders as Afrikaans, een van die min wêreldtale en daarom onmisbaar.

Reeds sedert Mei 1994 het Afrikaans in skole op alle vlakke en in die omgang met departemente ‘n toenemende agteruitgang ten gunste van Engels ervaar. So loop die taal van die Afrikaners gevaar om van ‘n lewendige taal van die 21ste eeu tot ‘n kombuistaal te kwyn. Hier word besonder duidelik dat die Afrikaner na 350 jaar in Suid-Afrika vreemdelinge in hulle eie land geword het.

Al die voorafgaande verduidelik hoekom in April 2017 twee van die groot Amerikaanse graderingsagentskappe, Standard&Poor en dan ook Fitch die kredietwaardigheid van Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer het. Daarvoor was dit genoeg dat die in die buiteland hooggeskatte minister van finansies Pravin Gordhan (ANC) weereens deur president Zuma afgedank is.

Die onderwerp van my voordrag en die tyd wat ons inhaal laat my nie toe nie om saam met u na maniere te soek om die ondergang van ‘n hele volk te keer. Pleks daarvan verwys ek u na my ope brief aan die, in die beste sin van die woord konserwatiewe en enkele jare gelede oorlede Carel Boshoff snr. U sal dit vind in Afrikaans en Duits in die nuusbrief van die Orania Beweging van 20 Maart 2017 (Het Orania ‘n kans?) en op die Oraniablog (http://www.oraniablog.co.za/ope-brief-aan-n-oorlede-vriend-het-orania-n-kans/), saam met die inleiding deur my vriend generaal Constand Viljoen.

Foto: Dr. Baron von der Ropp (regs) saam met Otto Graf Lambsdorff

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Die situasie van die Afrikaner in die nuwe Suid-Afrika – ‘n Duitse perspektief”

  1. Piet Potgieter 7 Oktober 2017 at 09:52 Permalink

    Die vertaling van hierdie goeie uiteensetting oor die Afrikaner kon beter gewees het.
    Von der Ropp, wat bekendheid verwerf het toe hy in die sewentigerjare amper van dors omgekom het in die Namib, het verskeie artikels in die tydskrif Echo (Weskaap) gepubliseer, en is een van die Afrikaner se beste en invloedrykste vriende in Europa.

  2. Andries Maritz 17 Oktober 2017 at 02:35 Permalink

    Dag Sebastiaan,

    BAIE dankie vir die moeite wat jy met die vertaling gedoen het en ek, op 74, vind dit goed en waardevol vir bewaring deur ons nakomelinge, want dit verduidelik die spesifiede deel van ons geskiedenis goed en al het ons daardeur geleef, het mens nie altyd ook van sulke sienings kennis geneem nie.

    Ek is saam met julle trots op wat julle in Orania vermag en volg dit vanaf voor 2001 toe ek na New Zealand gekom het.

    Baie groete ook aan Carel en die res van die span.
    Andries.


Lewer Kommentaar

*