26 Oktober 2012 ~ 7 Kommentare

Die reg op keuse

Geskryf deur Ebert Terblanche

Selfbeskikking – die reg om inspraak te hê in die besluite wat jou raak – spruit voort uit die beginsels van die klassieke liberalisme.

Dit is egter nie die enigste reg wat daaruit gebore is nie. ‘n Ander, meer kontroversiële reg – wat beskryf word as die reg van ‘n vrou om oor haar eie liggaam te besluit – is weereens ‘n belangrike debatteringspunt in die huidige presidensiële verkiesingsveldtog in die VSA. Dit is die reg op aborsie. In die afgelope paar dae het ‘n Amerikaanse senaatskandidaat groot kritiek ontlok deur sy stelling dat ‘n swangerskap na ‘n verkragting, die wil van God moet wees (seker in ag genome dat baie voornemende ouers sukkel om swanger te raak).

Ook in Suid-Afrika is aborsie wettig. Daar is egter ‘n interessante teoretiese vraag te vra of Afrikaners wat die vermoë het om wette soos hierdie te skryf of te wysig, ook hierdie “vryheid” sal toelaat?

Tydens die korstondige Afrikanerbewind van die vorige eeu was aborsies onwettig, buiten in baie rare gevalle soos waar die moeder se lewe in gevaar gestel is deur komplikasies. So was dobbel ook onwettig.

Tog het tye verander en word die dobbelbedryf in Suid-Afrika in baie gevalle deur Afrikaners ondersteun. So is daar waarskynlik ook baie Afrikaners wat al aborsies gehad het.

In baie gevalle word diegene wat teen aborsie kapsie maak as “ekstremiste” en “fundamentaliste” voorgehou, waar hulle soos in die VSA vergelyk word met voorstaanders van Sharia wetgewing soos deur die Koran voorgeskryf.

Die Christelike posisie ís duidelik en daarom so vatbaar vir die etikette van “ekstremis” of “fundamentalis”. In hierdie bydrae wil ek nie terugval op my Christelike oortuigings en geloof nie, maar eerder my argument vanuit die sekulêre hoek voer. Daarmee voer ek egter nie aan dat die sekulêre wêreldbeskouing altyd die toonaangewende een moet wees nie.

Ek is ‘n voorstaander van vryheid. So is ek ook ‘n voorstaander van verantwoordelikheid en regverdigheid. Ek beskou hierdie as deugde en wil my argumente daarop bou.

As voorstaander van vryheid, glo ek dat elkeen wat ‘n belang by ‘n saak het, die geleentheid moet hê om inspraak te lewer in ‘n besluit wat hom of haar ten nouste raak. Daarom glo ek in selfbeskikking vir minderhede, ook die Afrikaner.

Vroue het die reg om oor hul liggame te besluit. Hulle kan besluit met wie en wanneer hulle intiem wil verkeer en niemand mag ooit daardie reg van hulle vervreem nie.

Die besluit oor ‘n aborsie is egter ‘n eensydige besluit waarby die grootste enkele belanghebbene –die ongebore kind – geen inspraak het nie. ‘n Besluit vir ‘n aborsie raak dus nie net die liggaam van die vrou nie, maar veral ook die liggaam van die ongebore kind.

Daar is sekere gevalle, soos verkragting, wat ‘n grys area bied. Die vraag is egter of dit regverdig is om te verwag dat die ongebore kind die grootste prys vir die afgryslike sonde van sy of haar vader moet betaal?

Ek is vir selfbeskikking – die reg om self te besluit – maar by aborsie het die ongebore kind nie ‘n keuse nie. Daarom kan ek nie ten gunste daarvan wees nie.

Volksmoord word deur die plegers daarvan geregverdig deur die ontmensliking van hul slagoffers. Volgens die VSA se grondwet het alle mense die reg tot lewe. Tog word aborsie geregverdig omdat die ongebore baba nie aan die definisie van ‘n mens voldoen nie. Die vraag is hoe dit nie op ontmensliking neerkom nie? Hoe kan lewe met menslike gene, wat uit mense voortgebring word, dan anders as mens wees? Is hierdie ‘n saak van gerief of ‘n saak van beginsel?

Wat behoort dan te gebeur? In gevalle van ongewenste kinders – en ons kan nie so naïef wees om te dink dat daar nie baie sulke gevalle is nie – moet ‘n gemeenskap wat omgee, vir die swakkes en weerloses intree. Aannemingsprogramme bring baie vreugde vir beide nuwe ouers en kinders.

Dit bring my by my volgende vraag, of die verantwoordelikheid vir – en gevolge van – ‘n aborsie slegs op die skouers van die swanger vrou geplaas kan word? Kan ons nou, soos Farriseërs, ‘n veroordelende vinger wys na diegene wat hulleself deur hierdie proses, wat dikwels traumaties is, sit?

Is ons gemeenskappe – en daarby word elkeen van ons ingesluit – nie medepligtig daarin dat ons ongewenste moeders aanmoedig om die maklike uitweg te kies nie? Moet ons nie daarvoor verantwoordelik gehou word dat die klad van ‘n aborsie makliker weggesteek word (en dus meer aanvaarbaar is) as die klad van ‘n ongewenste kind nie? Is dit ‘n teken van omgee, dat ongewenste kinders ‘n klad is?

Doen ons as Afrikaners genoeg om ons swanger tieners en ongehude moeders te ondersteun sonder verwyt, sodat hulle ook geborge en veilig voel? Is ons gemeenskappe bereid om finansieël op te offer vir sulke kinders? Die karakter van ‘n volk word gemeet aan hoe hy sy swakkes, weerloses en die sonder status behandel.

Die bou van die Nerina woonstelle, wat ook huisvesting vir enkelmoeders bied, is ‘n stap in dieregte rigting deur Orania en die ondersteuners van die Helpsaamfonds.

Hierdie debat is beslis nie ‘n eenvoudige een nie, maar vir die behoud van ons kinders hoop ek dat dit nie ‘n afgehandelde een is nie.

Deel/Stuur

7 Reaksies op “Die reg op keuse”

  1. Gawie Snyman 27 Oktober 2012 at 17:32 Permalink

    Ebert,

    Hier raak jy ‘n paar baie belangrike punte aan. Ek deel jou siening mbt aborsie en jou afkeur in die verguising van enkelmoeders, eerder as om hulle tereg te wys EN te ondersteun. Somtyds maak ons dom foute en somtyds is die gevolge van ons foute groter en meer omvattend as ander kere. So moet ons as Christene ook mekaar regop help en ondersteun deur die gevolge van ons dom foute, of dit nou finansiële of morele foute is.

    Hierdie ondersteuning moet egter met groot omsigtigheid hanteer word. Hier in die VK bv het die destigmatisering van enkelmoederskap asook die finansiële hulp aan en behuising vir enkelmoeders ‘n motivering tot enkelmoederskap geword, wat ook ‘n ontploffing in die getal enkelmoeders beteken het. Baie tienerdogters word nou doelbewus swanger met die uitsluitlike doel om sodoende behuising en finansiële ondersteuning te kry. Daar waar ons tans met ‘n armblankevraagstuk sit, moet ons beslis nie hierdie risiko uit die oog verloor nie.

    Om die balans tussen ondersteuning en selfverantwoordelikheid gesond te hou, sal ek graag aanvoer dat hierdie hulp altyd op ‘n vrywillige basis geskied. Maw die finansiële hulp moet ALTYD op skenkings van individue, kerke en liefdadigheidsorganisasies staatmaak en ons moet nooit in die slaggat trap om ‘n tipe van sosiale belasting teen ons burgers/inwoners of lede te hef nie. Die element van vrywilligheid behoort as ‘n natuurlik “check & balance” te dien deurdat die hulpverskaffingsinstansie (in hierdie geval Nerina) weet dat fondse baie vinnig weerhou sal word sou die geld nie tot opbou van die gemeenskap wees nie.

    Alhoewel Orania nog nie naby aan enige vorm van sosiale belasting is nie en die bestuur glad nie as ‘n oneffektiewe burokrasie bestempel kan word nie, voel ek tog hierdie kwessie is belangrik wanneer instansies soos Nerina sou uitbrei en die aanvraag na fondse vergroot. Ek sou bv argumenteer dat die verhoging van ledegeld om Nerina te befonds as ‘n indirekte sosiale belasting teen die lede van die Beweging beskou kan word, deurdat Lede befondsing aan Nerina slegs sou kon staak deur hul befondsing aan die Beweging te staak. ‘n Maklike oplossing sou wees om voorsiening vir “opt-out” te maak. Dit sal die besluit om die aksie te ondersteun weer vir die donateur los.

    Dit is immers wat jy bepleit – dat meer mense instansies soos Nerina WIL ondersteun en nie net dat hulle maar moet aanvaar dat ‘n deel van hul ledegeld na ongehude moeders sal gaan nie.

    Ek wil net afsluit deur te sê dat ek nie weet hoe Nerina befonds word nie en probeer ek beslis nie suggereer dat die Oraniabeweging se ledegeld verhoog gaan word om Nerina te befonds nie. My argumente is bloot hipoteties van aard om die voordele van vrywillige welwillindheidsbefondsing bo eensydige sosiale belastings uit te wys.

    Gawie

    • E Terblanche 27 Oktober 2012 at 21:43 Permalink

      Gawie,

      Die punt wat jy aanraak is ‘n belangrike een.

      Die aard van “maatskaplike hulp” kan mense ophef of dit kan hulle afhanklikheid verhoog.

      In die moderne sosiale demokrasie het die politieke heersersklas vinnig uitgewerk dat jy stemme kan verseker deur mense afhanklik van welsynstoelaes te maak, en dan te dreig dat hul politieke opponente daardie toelaes sal wegvat.

      In sekere lande word die belastingbetalersklas ten gronde gerig ten behoewe van die politieke aspirasies van ‘n klein minderheid.

      Benewens die sosiale euwels wat jy noem wat daaruit voortspruit, is hierdie afhanklikheidstoelae allermins ‘n resep wat Orania vooruitstrewend sal maak of wat die dorp en sy ondersteuners hoegenaamd kan bekostig.

      Wat belangrik is, is dat niks werklik verniet gegee moet word nie. Die ontvangers van hulp moet self ook moue oprol.

      Wat baie goed tot op hede in Orania gewerk het, is dat hulpbehoewende mense gesubsidieerde behuising ontvang, maar dat hulle self steeds moet werk om daardie behuising te kan kry, want hulle moet self ook ‘n deel bydra in die vorm van ‘n verminderde huur. Beide die werk en die huur wat van hulle verwag word is nie buite hul bereik nie, maar vereis toewyding.

      Hierdie resep moedig selfstandigheid aan, want as jy werk kan jy netsowel werk vir beter.

      Wat die finansiering van projekte soos Nerina op Orania betref, is daar ‘n duidelike onderskeid tussen die Orania Beweging en sy Helpsaamfonds.

      Die Helpsaamfonds het sy eie finansies met sy eie finansiële state wat onafhanklik geoudit word. Die oprigting van Nerina word befonds uit donasies aan die Helpsaamfonds, terwyl die instandhouding van die persele grootliks deur die huur wat die inwoners betaal gefinansier word.

      Niemand word dus gedwing om ‘n bydrae te maak nie, terwyl niemand anders ‘n gratis rit up hul rue kry nie.

      Hopelik kan hierdie vorm van welsyn vorentoe net versterk word. Daarvoor is die vrywillige-bydraer beginsel wat jy bepleit ook ‘n belangrike waghond, want mense sal ophou bydra as die skenkings sosiale verval bevorder.

      Ebert

  2. Anthony Schlemmer 28 Oktober 2012 at 05:11 Permalink

    Ebert, is jy betrokke by die bestuur van die Helpsaamfonds? Ek hoop so, want jy het absoluut die regte konsep en benadering vir hierdie projek.

    Mens is altyd versigtig om groterige bedrae in die fonds in te betaal, juis oor die onsekerheid van die bestuur daarvan !

    • E Terblanche 28 Oktober 2012 at 10:10 Permalink

      Anthony,

      Ek is nie op die oomblik meer naby aan die bestuur van die Helpsaamfonds nie. Die beginsels wat ek hier bo genoem het, is egter die beginsels wat ek by Orania en die Helpsaamfonds geleer het, en wat onverskrokke gevolg is in die 4 jaar wat ek betrokke was.

      Ek is steeds as donateur by die Helpsaamfonds betrokke en het volle vertroue dat hierdie kernbeginsels steeds die leidsmotief vir die fonds vorm.

  3. Gawie Snyman 28 Oktober 2012 at 08:52 Permalink

    Dankie vir jou spoedige terugvoer, Ebert.

    Hoe wonderlik om net weer te sien dat Orania se vryheidsvisie op Christelike waardes, gesonde finansiële en sosiaal verantwoordelike beginsels gebou word.

    Alhoewel so baie teenstanders baie graag verwys na Orania se “gebrekkige” groei oor sowat twintig jaar, wil ek graag aanvoer dat dit deels ook danksy hierdie konstante, volhoubare organiese groei is, dat die fondasies ook vir finansieel volhoubare sisteme en beginsels stewig gelê kon word.

    Vryheid en selfstandigheid begin by selfrespek en die Helpsaamfonds versinnebeeld hierdie waarheid!

    Dankie Orania; dankie Helpsaamfonds!

    Gawie

  4. Charissa 21 September 2015 at 07:18 Permalink

    Dag, Ek wil graag weet ek is n enkel ma met 3 kinders, Sal ek n woonstel kan huur in die Nerina blok as ek verhuis na Orania tot ons n huis kan huur en op ons voete is of hoe werk die proses.

    Laat my asb weet met wie ek in kontak kan kom.


Lewer Kommentaar

*