28 April 2014 ~ 0 Kommentaar

Die Orania Karnaval

Geskryf deur Henri Boshoff

Ek was so ’n paar naweke gelede in Orania vir die jaarlikse karnaval. Hoewel ek al heelwat daar gekuier het, was dit tog vir my ‘n vars blik op die dorp. Daar gebeur dinge wat maar op elke dorp gebeur, of hulle dit nou basaar, of skou, of fees noem.

En dan is daar ook iets anders aan. Dit wat dieselfde is as in elke klein dorpie wat ‘n bymekaarkoms hou, is veral in die sigbare te vind: die springkasteel, vuurwerke, daardie stalletjie wat ‘n aartappel in krulle sny wat ek nog nooit in die gewone lewe gesien het nie, maar wat by elke fees opduik. Ek dink elke basaar en elke skou wat ek nog bygewoon het, het ‘n kerrie en rys-stalletjie en ‘n pannekoekstalletjie en koeksisterverkope gehad. Die skoumyl en die perd-teen-fietsren is vir my nuwes, maar ek is seker ander plekke het dalk ook soiets. Optogte is iets waarvan daar deesdae dalk te veel, eerder as te min is.

Uit bogenoemde sou dit klink of ek glad nie beïndruk was nie. Tog is die teendeel waar. Ek het gaan soek vir redes dat dit so is…

Pioniersdorp

Orania is in wese nog baie jonk, in sy vroeë 20’s. Daar bly nog iets van die opwinding oor van ‘n nuwe begin. Dis anders as die meeste plekke waar ek al by ‘n skou was, én dit wys. Waar ‘n plek met ‘n honderdjaargeskiedenis meer het om na terug te kyk, is daar ook heelwat minder moeite uit die gemeenskap om iets nuuts te skep. Hierdie kreatiwiteit leef nog in Orania.

Daar is ook ‘n gemaklikheid daarmee dat dinge nie perfek gebeur nie. Waar ‘n gevestigde plek gewoond kan raak aan ‘n goeie manier van dinge doen en dan onnodig krities raak as dinge “nie so lekker soos in ’97 is nie”, is die varsheid van die idee iets wat maak dat die maatstaf nog is hoeveel dinge reg geloop het, nie hoeveel verkeerd geloop het nie.

Die feit dat baie van die mense wat deelneem al iets moes reël, of besef dat hulle nog so iets gaan moet reël, beteken dat niemand dink dis ‘n maklike taak nie. Ek is deel van Absa se gradueringsprogram en daar tref ek dikwels ‘n soort naïewe denke aan wat sê ons reël sommer gou-gou ‘n maraton, en wat van een elke maand… Die besef dat om iets te organiseer, selfs iets eenvoudigs, moeilik is, val nie op nie. By mense wat wel hierdie besef het, is daar meer waardering vir wat gedoen word, want hulle weet hoeveel inspanning dit verg. Ek glo dis een van die redes dat daar positiewe terugvoer op inisiatiewe in die dorp is.

Inkoop

“Buy in” is ‘n argument wat op ‘n stadium groot mode was in die Suid-Afrikaanse universiteitedebatte. Die term beskryf eerstens ‘n gelate aanvaar van wat hier (aan my) gedoen word, tweedens ‘n ondersteuning van ‘n inisiatief wat iemand anders dryf en derdens ‘n oortuiging dat dit tot my voordeel sal strek en dat ek wil bydra. Dis die emosionele/sosiale weergawe van wat dit finansieel sou beteken om aandele te koop. Vir sommiges is inkoop om toe te laat dat my pensioenfonds of  spaarplan of wat ook al uit my salaris kom,  ander doen dit omdat hulle dink hier is wins in hierdie maatskappy te maak en die Warren Buffets van die wêreld besef dat jy eienaarskap van ‘n maatskappy kry deur aandele te koop.

Alle vlakke is positief vir ‘n plek/plan/idee, maar ‘n mens verkies natuurlik die eienaarskapweergawe. ‘n Mens sien ook in Orania verskillende vlakke van inkoop. Daar is diegene wat die dorp uit beginsel kom stig het, of wat so sterk daarmee assosieer dat hulle gekies het om in Orania eerder as elders moeite te maak. Daar is ook diegene wat reken dis ‘n groeiende plek wat geleenthede bied en as ‘n plek hierdie sukses begin beleef, is daar ook mense wat nie elders reggekom het nie, wat hulle heenkome kom soek het sonder dat beginselsake noodwendig ‘n rol hoef te speel.

Ander plekke het baie minder van dié soort mense wat uit beginsel by die plek sal bly. In die res van die land gebeur dit omtrent net in gevalle waar ‘n familie nou al ‘n paar generasies in ‘n omgewing bly en deel van die landskap word. Orania se bestaansrede is ‘n beginselbesluit dat die Afrikaner se voortbestaan belangrik genoeg is dat jy daarvoor sal opoffer.

Die omgekeerde reaksie in die vorm van teenstand vir die inisiatief is vir elke nuwe ding ‘n realiteit. Tog blyk dit dat die mense wat kom kyk hoe daar optog gehou word, nêrens negatief reageer nie. Hierdie positiewe milieu maak dat die belewenis van die deelnemers meer positief is as wat apatie of teenkanting sou veroorsaak het. Jy kan dit omtrent nêrens anders verwag nie.

Die karnaval het ‘n inkoop op verskeie vlakke van intensiteit en sonder opposisie wat die naweek wil stopsit. Hierdie feite maak dat dieselfde fisiese gebeure as wat op ‘n honderd ander plekke plaasvind, meer waarde toevoeg as op daardie honderd ander plekke.

Eensgesindheid

Daar was wel twee stalletjies vir die twee skole en die verskillende kerke het verskillende produkte aangebied. Dit sou nie ‘n Afrikanertuiste wees as die mense in een kerk, een skool en een politieke party ingepas het nie. Maar uit ‘n buitestaandersperspektief is daar ‘n lekker samewerking om iets vir die gemene voordeel te doen.

Ek het geen voorbeeld gesien van ‘n prentjie wat al vir my deel van skou was nie. Die prentjie is een waar jy nou pas ‘n vetkoek gekoop het by die plaaslike fietsryklub en jy nou  jou besluit moet verduidelik aan die tannie wat wil weet hoekom jy nie die hardloopklub ondersteun nie. Om op hierdie oomblik ‘n ander oortuiging te hê as dat jy ingedoen is en ook die “hot dog” van die hardloopklub se stalletjie gaan koop waar jy darem waarde vir jou geld sal kry, is om moeilikheid te soek. Hierdie onderlinge dwarstrekkery doen gewoonlik die skouganger se belewenis skade en dis lekker om ‘n slag daarsonder reg te kom.

Sterkmanne daag op en kom tel swaar gewigte op – hulle doen dit oral. Maar op Orania gaan staan die karnaval omtrent stil, soos almal gaan kyk. Dis asof die gebeurtenis vir almal meer van ‘n aardigheid is as elders. Waar ek gewoond is om darem ‘n stewige dosis siniese mense aan te tref wat nou by die fees is, maar besluit om deur niks beïndruk te word nie, was daar ‘n sigbare keuse om te gaan aanskou wat daar te aanskoue is.

Daar is waarskynlik nog baie redes, beide in die oppervlakkige én in die dieperliggende te vind vir hoekom Orania net anders is. Maar vir nou sal ek hierby volstaan. Ek sal hierdie karnaval vir enigeen aanbeveel.

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*