06 Junie 2018 ~ 2 Kommentare

Die Orania Beweging: ’n organisasie sui generis

Geskryf deur Carel Boshoff

Iemand wie se werk dit is om sulke goed te doen, sit onlangs oorkant my en vra: “Maar watse ding ís die Orania Beweging nou eintlik?” ’n Bedrieglik eenvoudige vraag, want ek kon eers met my derde poging om te antwoord regtig koers kry – en toe word dit ’n lang storie, want ek moes dit by SABRA in die 1950’s gaan haal.

My eerste poging was om op die woorde “Orania” en “Beweging” in te gaan: Orania is Orania – eie grond, eie arbeid, eie instellings – en beweging is die teenoorgestelde van stilstand. Dus die Orania Beweging begin by wat ons het en beweeg in die rigting van vryheid.

“Goed, dis wat julle doen, maar wat onderskei julle?” Belangrik om uit te klaar, veral ten aansien van ander Orania-instellings – waarvan daar heelwat is. My tweede poging was gevolglik bietjie van ’n geheuetoets: hoe goed kan ek ons hoofdoel en aanvullende doelstellings uit die vuis onthou en verduidelik?  Vryheid, groeiende selfbeskikking, inligting en navorsing, ontwikkeling, identiteitsbehoud, ordening, selfwerksaamheid, opbouende naasbestaan … waardevol om nou en dan ons grondwet weer te lees.

“Ons kom nader, dankie, maar ek weet nog nie wát julle is nie. Nie in tegniese sin nie – dit interesseer my nie. Hoe sal jy vir ’n nuwe lid, sê maar ’n filosofiedosent, verduidelik by watse ding het hy aangesluit?” Dit is toe dat ek soortvan by die begin probeer begin en ’n lang storie daarvan maak. Langer as wat ek hier kan weergee, want mens moet darem aan jou lesers ook dink …

(Eintlik sou ek graag aan ons lesers en lede ’n omvattende geskiedenisles wou gee, want dit sê nie net waar ons vandaan kom nie, dit sê ook waar ons heen gaan. Dit sal egter ’n boek eerder as ’n kort artiekeltjie moet wees – en eintlik dien Verder as vryheid, waarvan daar nog kopieë beskikbaar is, tot ’n mate dié doel.)

Die punt waarby ek hier wil uitkom en wat my moeisame verduideliking vir myself aan die lig gebring het, is dat die Orania Beweging eiesoortig is – ’n organisasie sui generis. Dit klink natuurlik baie deftig in Latyn en die spesifieke betekenis is iets soos “sonder soort/familie/voorgeslag. Dit kom daarop neer dat mens nie, soos met ander voorbeelde, kan sê: dit is ’n welsynsorganisasie, of: dit is ’n politieke party, of: dit is ’n kerkgenootskap, of: dit is ’n sake onderneming, en dan ’n goeie beeld het van wat ons te doen staan nie.

Ons is ’n vrywillige vereniging ja, wat nie op wins nie, maar op doelstellings afgestem is en wat moet doen wat nodig is om dit te bereik. Ons doelstellings en werksaamhede wentel rondom die herstel en behoud van Afrikanervryheid in ’n eie, demokratiese republiek op Christelike grondslag en met groeiende selfstandigheid en erkenning. Dit is dieselfde as om te sê ons moet ons pad vind deur ’n ongekarteerde landskap en ons moet planne maak om riviere te kruis waar daar geen brûe is nie, en berge waar daar nog geen paaie of passe is nie. Dit terwyl die kranse elke dag hoër en die afgronde gevaarliker word.

Dit beteken uiteraard dat die Beweging tegelyk oor Orania en méér as Orania moet dink en by Orania en méér as Orania betrokke moet wees. Dit beteken egter nie dat ons Orania se bestuur of superbestuur is nie, al neem ons ampsdraers, personeel en lede dikwels in persoonlike hoedanigheid aan Orania se bestuurstrukture deel. Ons put ons energie uit die idee en die verwerkliking van die idee waaruit ons Beweging gebore is, uit vryheid in praktyk. Ons is soos sendelinge wat ons boodskap verkondig aan almal wat ore het om te hoor.

Om die waarheid te sê, die kerk kan dien as voorbeeld om ons sui generis-aard onder oë te kry. Die kerk, die liggaam van Christus, is in ’n nog deurtastender sin ’n eiesoortige “organisasie” en sonder soort of voorbeeld in die wêreld. Daarom dat dit mens so vreemd opval as ’n lidmaat of predikant sy/haar kerk voor ’n wêreldse hof daag – maar dit is natuurlik ’n heel ander onderwerp. Meer ter sake is die kultuurorganisasies wat die laaste eeu of wat so ’n deurslaggewende rol onder Afrikaners gespeel het.

Hoewel Afrikaanse kultuurorganisasies mettertyd ’n herkenbare soort ding of genus geword het, is ek van mening dat hulle ook by oprigting sonder duidelike voorgangers of gelyke was. Ons mense het hulle in ’n nuwe en onvoorsiene omgewing bevind, gekonfronteer met nuwe uitdagings en oënskynlik onoorkomelike probleme, soos versteeliking en armoede.

Drie goed het ons voorgangers gered en verseker dat hulle nakomelinge ’n toekoms sou hê: hulle verbeelding, hulle gesonde verstand en die organisasies wat hulle gevestig het om van hulle drome ’n werklikheid te maak. Dit is wat ons vandag weer, maar opnuut moet doen – op maniere waarvoor daar geen bloudruk op lêer is nie. Daarom is die Orania Beweging se roeping nie net om Orania te sien floreer nie, maar om Afrikaners oor ’n breë front deur en danksy Orania te laat floreer.

Dít is ons uitdaging, en dit is groot.

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Die Orania Beweging: ’n organisasie sui generis”

  1. Hans 7 Junie 2018 at 23:43 Permalink

    Met politieke korrektheid emosionele plakkery oglokrasie tans in Afrikaanse media, word alles wat wettig is, verregs gemaak van ‘n nie-amptelike beleid in wetgewing, van geforseerde etniese amalgamasie. Plato het al duisende jare gelede oor die tirannie van demokrasie van sy stuk Die Republiek, hieroor geskryf.

  2. Rudolf 12 Junie 2018 at 12:58 Permalink

    En hartseer soos dit is, is daar steeds dié wat eerder wil voorskriftelik wees, sonder om eens enige poging aan te wend om op welke wyse ‘n bydrae te lewer.

    Al was hulle dan ook net, in ag genome die noustrop wat almal trek en die min besteebare inkomste waarvan ons almal deeglik bewus is, positiewe vespreiders van die “goeie boodskap” wat die Orania Beweging te vertel het as alternatief to ander roetes gepredik deur die legio ander organisasies vir Afrikanerselfbehoud.


Lewer Kommentaar

*